Gifplantjie in die Tuin van jou Gedagtes

(Inleiding)

Ek maak al geld vandag ek vyftien jaar oud was – en met geldmaak bedoel ek iets anders as sakgeld verdien omdat ek die gras gesny het. Ek het begin deur koerante af te lewer in die middestad van Pretoria vir Nasionale Pers; die volgende jaar het ek vir dieselfde maatskappy intekenaars gewerf. In my tweede jaar op universiteit het ek in ’n mansgeskenkwinkel gewerk, en twee jaar daarna as ’n assistent by die Godsdienskundedepartement. Die jaar voordat ek gegradueer het, het ek kos afgelewer vir plaaslike restaurante, en agtien maande na universiteit het ek begin werk as ’n Engelse onderwyser.

Al hierdie werk kan gesorteer word onder die kategorie van iemand het vir my gevra of ek iets kan doen; ek het ingestem; ek het dit gedoen, en hulle het my betaal.

Ek het ook oor die jare ’n klein bietjie geld gemaak deur items te verkoop – ’n paar goed wat spasie opgevul het in my woonstel wat ek geadverteer het, maar ook boeke wat ek geskryf en self gepubliseer het, en materiaal wat mense kon gebruik om hulle taalvaardighede te verbeter, of wat hulle kon help om ander mense te help om dit te doen.

En dan het ek ook al gemengde sukses gehad daarmee om te woeker met geld; om iets te koop teen prys X en dit later te verkoop teen prys Y.

Siende dat ek al geld maak vir meer as dertig jaar lank, en op verskeie maniere geld gemaak het, wat presies bedoel ek as ek skryf dat ek ’n historiese probleem het – of gehad het daarmee – om geld te maak? Is dit die manier van geldmaak – oukei as iemand vir my sê/vra om iets te doen, nie oukei as ek inisiatief moet neem nie? Is die probleem om geld te waag om geld te maak? Het ek ’n probleem daarmee om ’n mark te identifiseer en vorendag te kom met ’n produk of diens om in ’n spesifieke behoefte te voorsien?

Lang storie kort, ek dink nie een van hierdie dinge is ’n probleem nie, hoewel dit sekerlik makliker sal wees om X-hoeveelheid geld te maak met een metode eerder as ’n ander een.

(Einde van die inleiding)

SATERDAG 19 JANUARIE 2019

Ek kan goeie klere hê, en goeie skoene, goeie sonbrille, ’n goeie gehalte pet, goeie gehalte digitale toestelle en hoë kwaliteit oorfone. Ek kan ’n debietkaart met geld in die bank hê. Ek het ook geen probleem daarmee om op ’n goeie fiets rond te ry nie. Ek kan ’n lekker ete by ’n goeie restaurant geniet, en selfs geld vir iemand anders gee as die geleentheid homself voordoen. Met al hierdie dinge ondervind ek geen weerstand van problematiese programmering nie.

Waar programmering steeds klippe in my pad rol, is met my wat dinge doen en ’n klomp geld daarvoor kry. Of eerder, ek kan dinge doen en geld ontvang – solank dit net genoeg is om my lewendig te hou.

En tog het ek nie ’n probleem daarmee om geld te besit nie. Ek weet ek kan geld goed bestuur. Wanneer ek geld het, weet ek hoe om te werk te gaan daarmee – om dit te geniet, maar ook om dit nie te mors nie.

Die probleem is om myself ontvanklik te maak daarvoor om tien keer, honderd keer, duisend keer meer geld te ontvang as wat ek nodig het om kos te koop, huur te betaal, en oor die algemeen ’n eenvoudige lewe te leef. Dat ek die ontvanger van ’n miljoen dollar kan wees … dat ek dinge kan doen en dan duisende of tienduisende dollars kan ontvang – dit is waar ek nog ’n paar planke nodig het om die brug te voltooi wat ek moet oorsteek om die ander kant te bereik.

Maandag 15 April 2019

Mens wonder tog: Hoekom meer geld maak as wat jy nodig het om ’n eenvoudige lewe te leef? Een rede is omdat dinge vinnig kan verander – jy kan jou bestaande werk verloor, jy kan siek raak, ’n oorlog kan uitbreek in die land waar jy jouself tuis gemaak het. Ek begeer dus nie geld om spandabelrig te kan leef nie. Ek begeer net meer sekerheid as wat ons tans geniet. En om sommige dinge te kan doen en te kan geniet wat ons nie tans kan bekostig om te doen nie.

MAANDAG 18 MAART 2019

In die stort dink ek aan twee domeinname wat ek besit, en hoe ek uiteindelik besluit het dat ek hulle nooit verkoop gaan kry nie. Ek dink aan geld maak oor die algemeen, en aan finansiële markte. Ek dink hoe ek reeds struikelblokke in my programmering gedeaktiveer het. Ek dink aan hoe vinnig dit gebeur/Hoe vinnig gebeur dit? Dink aan godsdiens, hoe ek vir twintig-plus jare geprogrammeer was in ’n bepaalde godsdienstige tradisie en gepaardgaande mitologie, en hoe dit tot ’n kritiese mate gedeaktiveer is in ’n kwessie van niks meer as twee jaar nie. Dink ook dat dit nie net die akademiese kursus was wat ek gestudeer het nie; dat ander mense saam met my in dieselfde klasse gesit het en dieselfde materiaal bestudeer het, en hulle religieuse affiliasie min of meer ongeskaad aan die ander kant uitgekom het. Dink weer aan die navorsing wat ek nou doen op die aandele-indekse, en hoe dit aan die einde blyk nie te moeilik te wees om geld te maak nie, maar ook nie te maklik nie. “Wat is moeilik, en wat is maklik?” wonder ek. Dink weer aan wat ek nog die heeltyd gedink het my slegte/gebrekkige programmering was, of programmering wat ek opgetel het, want sekerlik het my ouers nie bedoel om my op ’n manier te programmeer wat dit moeiliker vir my sal maak om te oorleef en geluk te vind in die wêreld nie. Dink weer dat die gebrekkige programmering was dat ek gedink het dit moeilik moet wees om geld te maak: Dit moet ’n struggle wees. “Struggle ek steeds?” wonder ek. Nie regtig nie, dink ek. “Trading” is ’n bietjie moeiliker as wat ek op ’n stadium gedink het dit sou wees, of dit vat ’n bietjie langer om deur al die opsies te werk, maar ek het reeds heelwat gevorder, selfs in terme van wins en verlies. “Maar wat is maklik, en wat is moeilik?” kom die vraag weer. Ek weet dit is belangrik om dit te beantwoord, want vir dekades het ek geglo dit moet moeilik wees om geld te maak, om suksesvol te wees, om jou drome te realiseer. Dit moet ’n stryd wees. Maar hóé moeilik? Wanneer het ’n mens genoeg gesukkel?

“Die antwoord waarna jy soek al het jy nie die regte vraag gevra nie,” kom die gedagte uit die deel van my brein wat nie aktief aan die praat was in die stort nie, “is dat jy dit nooit sal maak nie. You’ll never make it. That was your actual programming. Die ‘struggle’ deel is net omdat jy iets moet doen. Jy moet probeer. Andersins, wat doen jy met jou lewe?”

In werklikheid was die somtotaal van die lesse wat ek in my ouers se lewens gesien het, en van die lesse uit die kerk, en van Radio Kansel, en van Job se gesukkel wat opgehou het na sewe maer jare maar my ouers se gesukkel was nimmereindigend – al was daar tye van hoop tussen in wat mens amper laat glo het die gesukkel is verby, was dat dit nooit gaan gebeur nie.

Is dit hoekom ook ék etlike kere al naby gekom het … net om elke keer terug te trek, vir redes wat ek nooit heeltemal kon verduidelik eens aan myself nie? Is dit omdat daar diep binne my die oortuiging was nie net dat ek moet sukkel nie, maar dat dit nooit sal gebeur vir my nie? Dat ek nooit suksesvol sal wees nie. Dat ek nooit finansieel gemaklik sal wees nie. Dat ek altyd sal sukkel – omdat dit so geskryf gestaan het lank voor ek geweet het wat óm my en binne my aangaan.

Natuurlik is dit ’n oppervlakkige wêreldbeeld. Natuurlik is dit niks meer as die resultaat van ’n kind wat die wêreld van volwassenes waargeneem het en veronderstellings gemaak het oor hoe die lewe werk, en hierdie veronderstellings wat verskans geraak het in sy gedagtes nie. Want dit hoef nie so te wees nie. Maar as die saad geplant is in jou brein dat dit so is, en so moet wees, en jy nie die gifplantjie vroeg genoeg in jou volwasse lewe uitruk nie, sal dit altyd bly groei, en uiteindelik die dominante plant word in die Tuin van jou Gedagtes, wat bepaal hoe jy dink oor dinge, hoe jy praat, hoe jy optree, hoe jy droom, hoe jy planne maak, hoe jy geld maak, en geld spandeer in die hoop dat jy meer geld sal maak, en hoe jy tyd spandeer in die hoop dat jy beter sal doen – eendag.

“Is dit maklik om geld te maak?” is die verkeerde vraag. “Is dit moeilik om geld te maak?” is uit die aard van die saak ook die verkeerde vraag. “Moet ’n mens sukkel?” is nie soseer die verkeerde vraag, as dat dit ’n simpel vraag is nie.

Die doek is skoon. Die verfblikkies is vol ryk skakerings uit my verlede, en uit my verbeelding, en uit wat ander mense jou leer as jy jouself oopmaak daarvoor.

Gaan finansiële onafhanklikheid ooit vir my gebeur? Feit is, dit het jare gelede al begin om vir my te gebeur – ek het myself net elke keer blind gehou daarvoor, en weggedraai daarvan. En dit gemaak op ander maniere, en in ander areas wat niks te make gehad het met geld nie.

______________________

Een gedagte op “Gifplantjie in die Tuin van jou Gedagtes”

Kommentaar is gesluit.