Ontsluit jou nuwe realiteit

SATERDAG 4 JANUARIE 2020

Ek is verveeld met die hele idee van, “Maar ek is nie ’n entrepreneur of besigheidspersoon nie! Sê nou maar ek doen iets verkeerd?”

Mens voel amper lus om vir so ’n persoon te sê: “Sê jou wat? Neem net hierdie een klein stappie. Jy hoef niks anders te doen nie.”

Toekomstige-suksesvolle-entrepreneur vat een klein stappie.

Wow, what do you know?” reageer jy. “Jou kop het nie ontplof nie! Oukei, vat nog een klein stappie. Nou, om eerlik te wees, jou kop mag dalk ontplof met hierdie een, so ek gaan ’n klein bietjie terugstaan …”

Toekomstige-suksesvolle-entrepreneur aarsel eers, en vat dan nog ’n klein stappie.

Wow!” roep jy weereens uit. “Jy’s so te sê ’n entrepreneur! En kyk! Jou kop is nog in een stuk!”

MAANDAG 13 JANUARIE 2020

My woord van die week: Ontsluit.

Om die potensiaal te kan ontsluit om iets te wees, of om iets te doen, is dit ’n voorvereiste om te glo daar is potensiaal agter die slot – andersins hoekom die moeite doen?

Dan vereis dit doodgewoon ’n beperkte stel aksies: Vind die regte sleutel; druk die sleutel in die slot in; draai die sleutel – na die regte kant toe! – en maak oop die deur.

En daar het jy dit: Jou nuwe realiteit.

WOENSDAG 22 JANUARIE 2020

Soms onseker oor ’n nuwe realiteit?

Maak net toe jou oë.

“Maar wat as ek …” protesteer jy.

Maak toe jou oë.

“Maar ek is …”

Toe!

“Ek …”

Maak toe!

’n Paar sekondes later: Oukei, maak oop jou oë. Hoe voel dit?

“Wel …” begin jy.

Gee dit ’n paar dae.

* * *

’n Paar dae later.

Hoe voel die nuwe realiteit nou?

“Heel orraait,” kom jou repliek. “Ek het gedink dit sal meer van ’n aanpassing wees, maar weet jy wat?”

Jy’s klaar gewoond daaraan?

______________________