Week 17, 2020
MAANDAG 20 APRIL 2020
Hierdie week sien ’n nuwe projek: ’n Weeklikse stuk op my twee joernaalwerwe (hierdie een en AssortedNotes).
Ek beplan om elke dag iets by te voeg – hopelik interessant of bruikbaar, of dalk opvoedkundig.
Teen die einde van hierdie week sal my gereelde lesers (kug-kug, ek is seker daarvan daar is van hulle; nie al my lesers kan bots wees van Oekraïne of Rusland nie) dus óf iets nuuts kan geniet, óf ek sal sonder seremonie hierdie post verander na “Draft” of “Under review”, en dit na ’n paar weke heeltemal skrap.
Dis dan dit, siende dat dit eintlik alreeds Dinsdagoggend is, om 43 minute oor middernag.
DINSDAG 21 APRIL 2020
Wat het my besiel (vra ek alreeds op maar net die tweede dag van my nuutste projek)? Hier sit ek en tik onwaar dat dit nog Dinsdag 21 April is, terwyl die stilte in die stegie bevestig wat die horlosie in die regterkantse hoek van my rekenaarskerm sê: dat dit reeds Woensdag is, en reeds amper ’n goeie kwartier ná een … en ek het ure gelede al amper aan die slaap geraak op die trein op pad huis toe.
Ek beplan om in hierdie weeklikse “nuusbriewe” ook kurator te speel en melding te maak van goeie inhoud wat ek in ander hoeke van die Internet raakgeloop het tussen Maandagoggend en Sondagnag. Een of twee brokkies teks op Twitter het al my aandag getrek, maar die nuttigste video wat ek sover gekyk het, was een van net oor die twee ure lank – ’n lesing van ’n voormalige handelaar by Goldman Sachs oor die slaggate waarin negentig persent van mense trap as hulle probeer om geld van die huis af te verdien deur te verhandel op die finansiële en aandelemarkte. Baie interessant. Moet dit nog klaar kyk – die berg groente waarna ek verwys as my aandete was nie gisteraand massief genoeg dat ek die hele video kon klaar kyk in een sitting nie.
Elk geval, ek lê al so te sê met my gesig op die sleutelbord, so ek maak vir eers klaar.
WOENSDAG 22 APRIL 2020
[Die volgende stuk is in Engels, want ek sal eers deur al my kopieë van Finweek moet werk met ’n Afrikaans-Engelse woordeboek voordat die teks sal lyk asof ’n mens en nie Google Translate dit geskryf het nie.]
Before I started looking into trading on Forex and other markets, I had spent some years learning sports betting – waging money in calculated risks, aiming for a slight profit margin.
My way of trading is similar to sports betting in that I use small stakes, with limited exposure. I don’t buy and hold shares before I sell them. I enter buy or sell contracts before exiting the trade after some period of time (could be thirty minutes later, or two weeks later). I wage money on a calculated risk that a particular price is going to go up or down, based on certain criteria. I don’t know that a price is going to go up or down, and I don’t predict that it will do this or that. Because I don’t predict, and I don’t make public any opinion, I won’t feel embarrassed if it goes the wrong way. I won’t feel like a fool for making a certain prediction. I therefore won’t feel like the market “owes” me something, or that I need to get back at it for taking something from me.
I understand that I take calculated risks. I know before I enter a trade what the maximum risk is that I am willing to take. In some cases I also know where I would likely be getting out.
Is this what professional traders do at hedge funds and investment banks? Not sure. I’ve never sat down with one for a chat. I am definitely curious to know what they do and how they manage their portfolios. Maybe after watching more videos like the one about Anton Kreil “annihilating” retail brokers and “trading educators”, I might change how I trade. He does strike one as the proverbial “real deal”, and I am certainly always open to learning and improving what I do.
So, here’s a link to what I already predict would be my video of the week (it was either this or an animated video about how long people stayed alive after being guillotined). It is a seminar by the aforementioned Anton Kreil, of the Institute of Trading and Portfolio Management:
It’s slightly over two hours long, so I suggest, if you are interested in this, to make some time to watch it with the attention it deserves.
DONDERDAG 23 APRIL 2020
13:04
Ek dink vanoggend terwyl ek ontbyt maak daaroor dat ek en N. binne die volgende twee jaar ons paspoorte moet hernu. Toe dink ek aan Taiwannese burgerskap. Die volgende gedagte was oor een van die vereistes waaraan ’n buitelander moet voldoen voor hy of sy kan aansoek doen vir Taiwannese burgerskap, naamlik om ’n Chinese naam te hê.
Die manier hoe ’n mens besluit op ’n naam, is gewoonlik om deur Chinese woorde en vanne te gaan, en dan ’n drie-karakter kombinasie te kies wat oukei klink, met ’n betekenis as alles saamgegooi word wat nie ’n bankklerk of ’n polisieman sal laat uitbars van die lag as jy vir hom of haar moet sê wat jou plaaslike naam is nie.
Nou, ek het oor die jare rondgespeel met een of twee name – ek was al op ’n stadium ’n Mr. Chen en ’n Mr. Bu. Laasgenoemde was afgelei uit my noemnaam, “Brand”, wat in Chinees uitgespreek word as “Bu-lan-de”.
Nietemin, ek dink toe vanoggend aan ’n naam wat eerder afgelei sal word van my eerste doopnaam: Barend.
Na ’n oorsig in die Far East 3000 Chinese Character Dictionary, het ek voorlopig besluit op …
Redelik maklik om te skryf; die “Ba” is ’n obskure Chinese van, en “Ren-de” beteken iets in die lyn van liefdadigheid of welwillendheid.
’n Vinnige Google soektog lewer drie voorbeelde op van die gebruik van hierdie drie karakters as ’n naam. Een is ’n dorp in Nederland met die naam, Barendrecht. Die tweede geval is van ’n man genaamd “Barende” wat nie na sy oupa wou luister nie, en die derde vertaal losweg soos volg: “When I came to Barende’s house again, his family was waiting there, and several monks were chanting. Seeing me coming, his family’s eyes were full of hostility. Angry, they also punched my child.”
Dis dan dit, voorlopig. Ek sal myself eers as “Mr. Ba” moet voorstel aan ’n paar mense in die publiek. Solank hulle nie oombliklik histeries aan die lag gaan nie – of dalk erger, het ek ’n wenner.
14:18
Terloops, soos ek vanoggend my daaglikse dosis van syfers en opinie inneem oor die virus, dink ek aan die kindertyd-rympie, “Ring-a-ring-a-roses”. Ek dink toe weer hoe interessant dit is dat die rympie, volgens oorlewering, al oorgedra word van een geslag na die volgende vir amper 700 jaar – sedert die Swart Dood in die veertiende eeu.
Sekondes later is ek op Wikipedia, waar ek ingelig word dat die Middeleeuse oorsprong volgens kenners heel waarskynlik nonsens is.
Verskeie redes word aangevoer teen die idee dat die rympie dateer uit die veertiende, of die sewentiende eeu, insluitende dat die storie oor die vroeër oorsprong eers na die Tweede Wêreldoorlog die rondtes begin maak het, dat die simptome beskryf in die rympie – soos die ring op die vel – blykbaar nie lekker strook met die simptome van die Plaag nie, en dat Europese en negentiende-eeuse weergawes van die rympie voorstel dat die “val” in die laaste reël nie ’n letterlike val was nie, maar ’n buiging, wat algemeen was in ander dramatiese sangspeletjies.
Nou ja, so byt nog ’n ou oortuiging stof.
VRYDAG 24 APRIL 2020
Nuutste episode van die herhalende droom (“Betyds, maar ek kon nie bewys wie ek was nie”; “Om my bagasie uit te sorteer”): Ek is weereens in ’n huis in Suid-Afrika, besig om te pak om die volgende dag terug te kom Taiwan toe. Ek kyk rond in die vertrek: te veel koffers wat rondstaan; te veel houers wat gevul moet word (of wat gevul kan word). Nog ’n probleem is met my klere. Ek het dit pas gewas, so dis nog nie droog nie. Ek dink ook daaraan dat ek nog nie “Suid-Afrikaanse kruideniersware” gekoop het nie, en die tyd raak min.
Dan is daar die jong ou wat vir my sy portefeulje wys met ontwerpe. Ek kyk beleefd daarna, en maak positiewe opmerkings, maar hyself toon ’n gebrek aan respek deur sy voete op die tafel te sit waar ek besig is om na sy werk te kyk. In my gedagtes, in die droom, dink ek: “What’s the point anyway? Die ou gaan in elk geval net ’n kantoor-job kry.”
Wat beteken dit? Ek het wel ’n idee die “nat wasgoed” verwys na hierdie nuwe projek van my waar ek teks publiseer vir almal om te sien voor ek dit ’n dosyn keer deurgegaan het.
* * *
VOLGENDE WEEK: My opinie oor die virus, die bly-by-die-huis-bevel, en ’n lys van artikels en ander stukke inhoud wat sedert Februarie my opinie gevorm het oor die onderwerp.
* * * * * * * * * * *