Jy en die wêreld – Jy in die wêreld

MAANDAG 7 APRIL 2025

Ek dink vanaand: Wat verbind al die aktiwiteite waarmee ek my dae en nagte gevul het die afgelope dertig jaar? Dit wil sê, al die stukke wat ek geskryf het vanaf my vroeë twintigs – noukeurig versamel in ’n paar bundels, en my English teaching, en al die materiaal wat ek skep vir student – ongeag of daar ’n mark is vir die spesifieke materiaal.

Soos ek in ’n klaskamer staan vanaand wagtende vir my klas om te begin, besef ek wat alles verbind, is die individu se verhouding met sy of haar wêreld – wie jy is en wil wees, hoe jy in verhouding staan met ander mense en met die wêreld om jou, hoe jy ontdek of definieer waar jou plek in die wêreld is, hoe jy jou verhouding met ander mense kan verbeter, hoe jy jou posisie in die wêreld kan aanpas om beter te kan funksioneer, en uiteindelik beter resultate te kan produseer.

“Jy en die wêreld,” som ek dit toe op.

En ’n sekonde later voeg ek by: “Jy in die wêreld.”

Meeste van my skryfwerk het gegaan oor my stryd om uit te vind wie ek is, wie ek wil wees, wat my verhouding met die wêreld is, hoe ek ’n min of meer gelukkige lewe kan lei, hoe ek ’n beter lewe kan lei as die een wat op daai betrokke oomblik my realiteit was, en dalk, hoe ek ’n rol kan speel – ongeag hoe beskeie, om mense te bring tot beter insigte oor hulle eie lewens, en hoe hulle dalk net húlle lewens kan verander om beter resultate te kan bewerkstellig, met ’n gepaardgaande bewussyn dat ook húlle lewens die moeite werd is.

My werk as Engelse onderwyser gaan daaroor om mense te help om te kommunikeer met die wêreld buite hulle gemeenskap (en soms met buitelanders wat woon in hulle gemeenskap). En ek praat nie net van witgesigte van Europa of Amerika of Kanada nie – as ’n Taiwannese ou wil kommunikeer met ’n Japannese ou en hulle kan nie mekaar se tale praat nie, slaan hulle oor na Engels toe, al is dit nie in vlot sinne met akademiese-vlak woordeskat nie.

Die materiaal wat ek skep vir studente van Engels poog ook om die student voor te berei om met selfvertroue te kan omgaan met mense van ander lande. Ek het lesse uitgewerk onder die titel, “Countries of the World”. Die idee is dat studente ’n beter begrip sal ontwikkel van ander lande en ander kulture. En wanneer daar in die nuus verwys word na ’n sekere stad of besienswaardigheid, sal dit dalk ’n klokkie lui. Hulle sal hopelik ook onthou hoe om die name van die plekke min of meer korrek uit te spreek in gesprekke met buitelanders.

Ek hoop om ESL studente wat oor my pad kom, te minste effens by te staan in hulle proses om hulleself te posisioneer in die wêreld, en om die wêreld met ’n bietjie meer selfvertroue aan te durf.

Ek het ook al materiaal ontwikkel vir studente van Mandaryn – elementêre sinstrukture en woordeskat. Die idee is dieselfde: Fasiliteer die proses waarin buitelanders hulleself beter kan aanwend in die Chinese wêreld, met hopelik beter resultate, en ’n gelukkiger en meer produktiewe lewe.

______________________