Crazy Bitches en Psycho Muthafuckers

MAANDAG 24 MAART 2025

Ek druk vanaand materiaal uit op die 7-Eleven se drukker in die verste hoek van die kassiere af, langs die stoorkamer. Soos ek kassiere toe stap, sien ek ’n groterige ou met sy rug na my toe staan by die toonbank. Tussen die rakke wat uitloop op die toonbank, staan ’n vrou en wag om ook te betaal. Ek sien uit die hoek van my oog hy wys vir haar om vorentoe te stap en te betaal. Ek neem aan hy staan en wag vir kos om uit die mikrogolfoond te kom. Nog ’n ou stap in by die deur. Ek reken ek moet agter die vrou gaan staan anders gaan die nuwe ou aanneem dis waar die ry is en self stelling inneem agter die vrou. Toe die vrou klaar betaal het, wag ek vir bevestiging van die groot ou dat hy óf moet betaal, óf dat hy nog wag. Hy roer nie. Die kassiere sê ook niks. Ek stap vorentoe, en sit my papiertjie van die drukker en my NT$12 op die toonbank.

Die volgende oomblik praat die ou met my – in Chinees. Kortom: “Wat de fokken fok dink jy doen jy … jou fokken … Dit was my beurt! Fok jou ma …”

Ek ignoreer hom. Die kassiere skrik.

Hy skree weer. Kliphard.

Ek dink nie ek oordryf as ek sê die dak het gelig en die yskaste se deure het in hulle rame geskud nie. My ore tuit omtrent.

Ek besef natuurlik dat hy van sy kop af is, en dat die feit dat ek vorentoe gestap het toe hy gereken het dis sy beurt, ’n vrag emosies laat kantel het. En nou lê die twee-ton vrag beesmis op die vloer en stink.

My kwitansie kan nie vinnig genoeg kom nie. Ek verwag enige oomblik ’n dodelike aanval.

Ek maak spore die oomblik toe die senuweeagtige kassiere vir my die stukkie papier gee.

Op pad huis toe loer ek elke paar meter agter my om seker te maak ek word nie bestorm nie.

Dit herinner my natuurlik aan die vrou van ’n paar jaar gelede toe ek ook mos hol vir my lewe toe my pad onverwags gekruis het met ’n onstabiele persoon.

Les geleer vir nie die eerste keer in my lewe nie: Die wêreld is nie noodwendig vol van hulle nie, maar dis definitief wys om altyd op die uitkyk te wees vir Crazy Bitches en Psycho Muthafuckers. Jou lewe mag dalk net afhang daarvan.

______________________