Die lus om te skryf kom en gaan

DONDERDAG 7 DESEMBER 2017

Ek is besig om deur 1500 bladsye se aantekeninge, opstelle, en ander stukke teks te gaan in ’n poging om ’n paar bundels te vul met materiaal wat oor bepaalde temas handel. Die proses het sover tot ’n paar interessante insigte gelei – vir my in elk geval.

Een voorbeeld: In 2001 het ek, benewens ander werk – soos ’n projek wat ’n EFL-hulpbron geword het, en ’n projek wat ’n boekie met Engels-Chinese frases geword het, heelwat geskryf oor skryfwerk, en my strewe om my lewe op so ’n wyse in te rig dat ek meeste van my tyd kan spandeer aan literêre projekte. Daai jaar het ’n paar van my persoonlike gunsteling stukke opgelewer: “Die doel van my lewe”, “Ballingskap nege”, en “Om oor God te praat”.

Hier’s die interessante deel: die volgende jaar, 2002, het ek die ongelooflike klein somtotaal van 200 woorde geproduseer wat ek later bruikbaar genoeg geag het om in te sluit in ’n projek. Twee honderd woorde! (Ek het wel twee ander stukke geskryf – een oor hoe ek min of meer vrede gemaak het met die middelklas, en ’n ander een oor my planne vir die volgende jaar, maar ek het besluit om dit eerder nie te gebruik vir enige projek nie.)

So, die jaar nadat ek soveel te sê gehad het oor hoe graag ek wil skryf, en hoe belangrik dit is vir my identiteit en selfs vir die doel van my bestaan en die betekenis van my lewe, het ek twee kort stukkies geproduseer van skaars honderd woorde elk.

En toe kom 2003, en ’n absolute ontploffing van kreatiwiteit, obsessies, vrese, hoop, drome, teorieë, en opinies. Die jaar het meer as sestig stukke opgelewer. In September 2003 alleen het ek meer as twintig stukke geskryf. Die pas het kwalik verslap oor die volgende twee jaar. Hoewel ek vanaf 2006 hard aan die misluk was in talle pogings om meer geld te maak, het ek steeds genoeg geskryf om ’n netjiese bundel saam te stel.

Maar 2002? Twee honderd woorde.

Wys jou net: Ook inspirasie, en lus om te skryf, kom en gaan. En kom weer terug.

VRYDAG 8 DESEMBER 2017

Ek het weer gaan ondersoek instel, en afgekom op nog 471 woorde wat ek geskryf het in 2002 wat ek dalk kan inwerk in ’n projek. Dit bring die totaal vir daai jaar darem te staan op amper 700 woorde.

______________________