Gunsteling winkel, die Ngo-broers, oorlogdokumentêre, en ’n paar ander gedagtes

Week 22, 2020

MAANDAG 25 MEI 2020

Ek gee nie juis om vir IKEA meubels en ander huishoudelike items nie. Dis oukei – ek sal iets koop as ek dit nodig het. Wat my aantrek – en, moet ek tot my verleentheid erken, ’n paar keer elke maand, is die gevoel dat ek in ’n ander land is.

Orals op die mure en op die plakkate sien jy onuitspreekbare vreemde woorde. Al die produkte het Sweedse name. Die meubels word vertoon in hoekies wat net sowel ’n sitkamer of slaapkamer kon wees in ’n woonstel in Stockholm.

Dan is daar die kafeteria: slaaie, ’n verskeidenheid soet terte, frikkadelle, braaihoender, visvingers, lasagne, dik sop.

En net voor jy uitstap by die plek, is daar een laaste geleentheid om jouself te verbeel jy’s in Europa: die supermark met vars brood, koffiebone, gevriesde heel stukke groente, soet lekkers, koekies wat jy in geen supermark in Taiwan sal vind nie.

Om opgewonde daaroor te wees om IKEA toe te gaan, is seker so gesofistikeerd soos iemand wat gretig is om aandete by McDonald’s te gaan eet. Ten minste een persoon het al hulle neus opgetrek toe ek erken dat dit een van my gunsteling dinge is om te doen op ’n naweek. Maar nou ja – sekerlik het almal ’n reg tot ’n paar swakhede, of hoe?

DINSDAG 26 MEI 2020

Die Ngo broers – die president, Ngo Dinh Diem, en sy broer, Ngo Dinh Nhu – wat Suid-Viëtnam regeer het tussen 1955 en 1963 is ’n goeie voorbeeld van wat uitgerig kan word as jy selfvertroue het. Hulle het geglo hulle kan die agterlike voormalige kolonie van Suid-Viëtnam transformeer in ’n moderne staat – sekerlik nie demokraties nie, en kapitalisties solank hulle en hulle bondgenote kon ryk word daaruit.

Punt is, hulle het geglo in hulle vermoë om hierdie transformasie deur te voer van ’n staat met ’n bevolking van ongeveer twaalf miljoen mense. En hulle het elke dag werk gemaak daarvan om dit ’n realiteit te maak. Hulle was suksesvol genoeg in hierdie ambisie om hulle posisies van aansienlike mag te bekom, én om daaraan vas te klou vir amper ’n dekade.

’n Oorsigtelike studie van die broers se bewind maak dit duidelik dat hulle sonder genade regeer het, en dat hulle nie twee keer gedink het om een mens, dosyne mense, of duisende mense uit te wis wat hulle posisies bedreig het nie. Om te sê dat hulle talle vyande gemaak het, is om dit sagkens te stel. Die twee broers was vol selfvertroue, maar hulle het hulle hand oorspeel. Hulle was soos twee spelers in ’n hoë-risiko pokerspel wat speel met geld wat hulle geleen het by die gevaarlikste rampokker in die stad. Solank hulle gelukkig was, slim gespeel het, en bly wen het, was alles reg. Sou hulle een fout maak, was hulle dood.

En een fout is wat hulle gemaak het in Oktober en die begin van November 1963. Hulle het geweet van verwikkelinge om van hulle ontslae te raak in ’n staatsgreep. Hulle het gedink hulle kan weer mense vertrou wat hulle voorheen vertrou het. En toe, op die aand van 1 November en die oggend van 2 November 1963, het die aaklige realiteit wat hulle geskep het, hulle ingehaal. Enkele dae tevore het hulle nog gedink en geglo aan hulle persoonlike mag om mense te hiet en gebied. Op Saterdagoggend 2 November, met hulle hande geboei agter hulle rûe, sittende op lae bankies agter in ’n gepantserde personeeldraer, is hulle gekonfronteer met die anderkant van die wraaksugtige, wrede realiteit wat hulle geskep het.

St. Francis Xavier Katolieke Kerk, waar die president en sy broer gearresteer is op 2 November 1963
Die lyk van Ngo Dinh Diem agter in die gepantserde personeeldraer

* * *

Ek wou eers sê, hulle het gedink hulle kon hierdie groot ding doen, maar hulle was verkeerd. Maar dis die verkeerder manier om daarna te kyk. Hulle het geglo hulle kan ’n reuse projek suksesvol behartig. Hulle het skynbaar nie twee keer gedink aan die gevolge van die metodes wat hulle gevolg het nie. Of hulle het, maar hulle het gedink hulle kan tot die suksesvolle afhandeling van hulle projek al die magte wat saamsweer teen hulle, ondermyn en uitoorlê. In daai opsig het hulle hul vermoëns oorskat. Maar hulle het ook misreken watse realiteit hulle besig was om te skep met die aansienlike magte en talente wat hulle wel gehad het.

WOENSDAG 27 MEI 2020 @ 13:19

Vir lesers met ’n belangstelling in die Viëtnam Oorlog, kan ek twee dokumentêre films aanbeveel.

Die eerste is ’n 1974-produksie getiteld, Hearts and Minds. Die film het die Oscar gewen in 1975 in die kategorie vir Beste Dokumentêre Films. Wat ek persoonlik interessant vind, is die feit dat die film gemaak is in 1974 – die jaar nadat Amerika onttrek het uit Suid-Viëtnam, maar ’n jaar vóór die oorlog tot ’n einde gekom het met die val van die Suid-Viëtnam regering. Daar was dus nog nie veel tyd om die impak te oorweeg wat die oorlog gehad het, en nog sou hê, op die psige van jong mans wat betrokke was in die oorlog, en op die psige van die Amerikaanse nasie nie. Onderhoude is gevoer met soldate wat aanvanklik geglo het in wat die regering hulle vertel het, maar wat sedertdien tot ander insigte gekom het. Daar is ook onderhoude met soldate en regeringsamptenare wat steeds geglo het in die saak, en probeer het om te verduidelik hoekom al die opoffering en lyding geregverdig was.

’n Volle weergawe van die film is beskikbaar op Youtube:

Die tweede film is ’n reeks van tien episodes op Netflix met die titel, The Vietnam War. Die episodes is tussen negentig minute en twee ure lank – wat jou gee meer as vyftien ure se filmmateriaal en onderhoude oor die oorlog. Die reeks dek alles van Frankryk se nederlaag by Dien Bien Phu in 1954, tot by Amerikaanse veterane wat jare na die oorlog terugkeer na Viëtnam om brood te breek met ou vyande. Verskillende aspekte van die oorlog en die historiese periode word gedek, en talle onderhoude word gevoer met Amerikaanse veterane, oud-joernaliste, mense wat betrokke was aan regeringskant, en met Viëtnamese wat gewone soldate of offisiere was aan beide kante van die oorlog.

Indien jy inteken op Netflix, is dit beslis die moeite werd om te kyk.

DONDERDAG 28 MEI 2020

Twee gedagtes:

Die omgewing waarin jy jou bestaan voer; stres by die huis, by die werk, en in ander areas van jou lewe; wát jy inneem as spys en drank, en die hoeveelheid daarvan. En terloops, dit gaan nie daaroor om noodwendig te leef tot 80 eerder as 65 nie. Dit gaan oor die kwaliteit van jou lewe. Al leef ek net tot op 65-jarige ouderdom, maar ek is in relatief goeie gesondheid tot dan, sal dit beter wees as om te leef tot 80, maar die laaste 30 jare is vol kwale en skete.

* * *

Hoekom wil soveel mense leef in 1970’s Tsjeggo-Slowakye, of nog erger, in Stalin se Sowjet-Unie? Omdat hierdie mense die sekerheid van reëls en regulasies begeer. Hulle wil weet wat hulle mag en nie mag sê nie. Hulle wil ook baas kan speel oor ander mense, en vir daai mense kan voorskryf – met die steun van die staat – wat húlle mag en nie mag sê nie. Daar is ook mense wat graag hallusineer dat hulle doen wat hulle doen ter wille van minderbevoorregtes en “underdogs”, dit terwyl hulle kwesbare mense se lewens verwoes omdat hierdie mense kwansuis teen die “rewolusie” is.

VRYDAG 29 MEI 2020

Besluit jy’s gelukkig, en neem aksies om dit werklik te maak – elke dag.

______________________

Snaakse mense, lewe in Taiwan, volle weergawe van jouself, droomtonele, en ou foto’s van my buurt

Week 21, 2020

MAANDAG 18 MEI 2020

Die komediante en akteurs, Jerry Stiller (gebore 1927) en Fred Willard (gebore 1939) het onlangs gesterf. Ek het beide hierdie akteurs persoonlik snaaks gevind. Ek het ook gesien wat ander mense oor hulle geskryf het.

Dog toe hoe kosbaar hulle nalatenskap is.

Kan jy jouself voorstel dit is wat uiteindelik op jou grafsteen staan, of in jou doodsberig:

“Hy’t geleef. Hy was ’n gawe man – en regtig snaaks! Toe sterf hy.”

DINSDAG 19 MEI 2020

Daar is redes hoekom ons ’n beter lewe sou gehad het as ons in Suid-Afrika gewoon het eerder as Taiwan. Familie en ou vriende, braaivleis, dosyne produkte wat ’n mens in die plaaslike supermark of bakkery of tuisnywerheid kry wat ’n mens nie in Taiwan kry nie, ’n groter verskeidenheid van natuurskoon in Suid-Afrika, ’n groter verskeidenheid restaurante, beter pizza …

Een rede hoekom lewe in Taiwan – veral in die stad – egter honderd keer beter is as stadslewe in Suid-Afrika, is vervoer, en die feit dat ’n mens nie vasgevang is in ’n woonbuurt gestroop van besighede nie. Ek ry per fiets tien minute van die huis af om vir my ’n bak gekookte kos te gaan koop. Wanneer ek laat middag moet gaan vir my klasse, ry ek twaalf minute na ’n metro-stasie, en sit en lees op die trein vir twintig minute. Die supermark is tien minute se stap van ons woonstel af; die bank sewe minute se fietsry. Daar’s etlike ander eetplekke en koffiewinkels minder as tien minute se stap van ons woonstel af. Wil ons op ’n naweek êrens heen gaan, ry ons met my vrou se bromponie. Wil ons ’n buurstad besoek, vat ons die moltrein, en dan die gewone trein. En wil ons Taipei toe gaan – ’n afstand van 350 kilometer, vat dit ons net ’n uur en ’n half op die hoëspoedtrein.

Vergelyk dit met Suid-Afrika – bygesê, as jy so gelukkig is om in ’n middelklas woonbuurt te woon. Jy maak die yskas oop, sien daar’s geen melk nie. Oukei, kry die motorsleutels, trek ’n broek en ’n hemp en skoene aan, en stap uit na die motorhuis. Trek die kar uit. Maak die hek oop en hoop niemand spring agter ’n bos uit om jou kar te steel nie. Maak die hek toe. Begin winkel toe ry. Stop. Ry. Stop. Ry. Draai links. Stop. Wag. Ry. Stop. Ry. Stop. Ry. Stop en wag en sê nee vir mense wat goed aan jou wil verkoop. Ry ’n honderd of twee honderd meter. Stop. Wag. Ry. Uiteindelik is jy by die winkelsentrum. Soek parkering. Sluit jou kar. Stap die winkel binne, kry jou melk, betaal, en stap uit. Gee vir die ou wat sê hy’t jou kar opgepas ’n paar rand, klim in ry dieselfde pad terug huis toe. Stop … wag … ry … stop …

Na al die jare is daar steeds dinge wat ek mis aan Suid-Afrika, benewens my familie. Maar ek twyfel of ek ooit gewoond sal raak aan daai aspek van stedelike bestaan. Nee, sou ons ooit teruggaan Suid-Afrika toe, is dit óf platteland vir ons, óf ’n koei in die agterplaas. En ’n groentetuin.

WOENSDAG 20 MEI 2020

Nou die dag gesosialiseer met ’n hot shot Taiwannese besigheidsman. Hy’s ’n hele paar jaar jonger as ek, ry ’n luukse sportmotor, en sy beursie staan bult van al die kontant (toevallig gesien). Hy’t ons uitgevat vir ete na ’n plek wat geruik het na duur parfuum, en waar ’n mens lekker happies kos afsluk met eksotiese mengeldrankies.

Nou, ek moet nog dinge leer van geldmaak en besigheid wat hy al vergeet het. Maar ek het agtergekom hy was stillerig as die onderwerp nie oor geld of besigheid gegaan het nie. Hy het ook belanggestel wanneer ek gepraat het oor geskiedenis, en het my gevra oor musiek en films.

Besef ek vanoggend dat iemand – dalk soos hy; ek ken hom nie goed genoeg om te kan sê nie – waarskynlik op ’n stadium sal kyk na homself en sal besef dat hy dit “gemaak” het – op ’n terrein waar meeste droom om dit eendag te maak. Nog ’n paar jaar van sukses soos die laaste paar jaar, en hy hoef nooit in sy lewe weer te werk nie.

En dan, by een skemerkelkie geleentheid, tref dit jou: Om net ’n klomp geld te hê, is nie genoeg nie – nie as almal in die vertrek rondstap met dik beursies nie. Jy kom agter mense gesels oor kuns, films, ander lande, geskiedenis, godsdiens, politiek. En nie op pseudo-intellektuele wyses nie. Jy kry die sterk idee die mense is werklik geïnteresseerd in die onderwerpe. Dis dan wanneer jy besef dat geld net een manifestasie is van die proses om ’n voller weergawe te word van jouself – net een deel is van die strewe na jou volle potensiaal.

DONDERDAG 21 MEI 2020

Ek droom gisteraand (eintlik vanoggend siende dat ek na 02:00 eers bed toe gaan) ’n ietwat surrealistiese skildery.

Die toneel is ’n skool, met ’n groot oop area voor skoolgeboue wat lyk soos die Uniegeboue in Pretoria. Orals stap rye leerlinge in ligblou uniforms.

In die voorgrond (ek, die dromer, sit skynbaar op ’n bankie op die rand van die skildery) speel twee tonele af. Een is ’n film wat gemaak word oor die lewe van Marlon Brando. ’n Belangrike aspek van die storie is dat Brando ’n suiplap en ’n rebel was. Verskillende akteurs (een wat ek herken het, was Albert Finney) vertolk die verskillende toestande van Marlon Brando se dronkenskap.

Die ander toneel in die voorgrond is rye soldate in Eerste Wêreldoorlog-styl kakie-uniforms wat marsjeer na ’n slagveld.

Op die horison verskyn ’n reusagtige ballon in die vorm van die Aarde. Net soos almal se aandag op die ballon is, verdwyn dit – let wel, dit ontplof nie; dis net weg.

Die laaste toneel is soldate wat terugkom van ’n slagveld af. Van hulle dra gewonde soldate op draagbare. Een soldaat het sy gewonde – of gestorwe – kameraad, om die skouer. Soos die aandag vir die oomblik op hierdie soldaat is, maak iemand ’n opmerking: “Jy kan nie vashou aan jou eerste dood nie.”

En toe’s ek wakker.

VRYDAG 22 MEI 2020

Teen die einde van my eerste jaar in Taiwan, in November 1999, het ek vir my ’n duur Japannese kamera gekoop – as vergoeding dat ek van soggens tot laat-aand gewerk het, en omdat ek gedink het ek minder arm sou lyk wanneer ek die volgende maand Suid-Afrika toe gaan.

Maart 2000 moes ek weer Suid-Afrika toe, dié keer vir my jonger suster se troue. Om vir die familie meer te wys van hoe my buurt lyk, het ek ’n klomp foto’s geneem. En omdat ek gedink het dit sal kunsagtig wees, het ek ’n swart-en-wit film gekoop vir die stel foto’s.

Lang storie kort, hier’s ’n paar van die foto’s:

My eerste woonstel, met die bromponie wat my minder as drie jaar gehou het voor ek dit geruil het vir ‘n fiets
Een van die enigste vroeg-negentiende eeuse hekke na die ou Fengshan wat nog staan
Straat in my buurt
Tempel agter ’n oop stuk grond
“Spookgeld” brander
Fengshan se hoofstraat
Huise langs die rivier so ’n klipgooi van my woonstel af

______________________

Simulasie, dinge verander, twee broers, selfvertroue, en ’n boereoorlog

Week 20, 2020

MAANDAG 11 MEI 2020

Daar’s hierdie teorie wat al vir jare rond sweef in slim en verbeeldingryke mense se koppe, naamlik dat ons en die wêreld wat ons bewoon, deel is van ’n kunsmatige simulasie – soos in ’n video-speletjie, of soos in die film, The Matrix.

RedPilledAmerica.com beskryf hulleself as ’n potgooi-reeks wat fokus op stories. Die idee is dat elke episode ’n vraag stel, en dat die antwoord dan gesoek word in die stories van alledaagse mense. In Episode 62, getiteld, “Let There Be Light” vra hulle die vraag of wetenskapfiksie ons nader aan God kan bring.

Die episode is omtrent sestig minute lank, en werklik werd om te luister. Die simulasie teorie word uiteengesit, en daar word verwys na stellings gemaak deur mense soos Richard Dawkins, Elon Musk, en Scott Adams. Die wetenskapfiksieskrywer, Philip K. Dick, wie se kortverhale Hollywood films soos Blade Runner (1982), Total Recall (1990, 2012), Minority Report (2002), en The Adjustment Bureau (2011) geïnspireer het, kry ook spesiale vermelding.

Wat is my opinie oor die idee dat ons dalk in ’n kunsmatige simulasie woon? Dit sal verduidelik hoekom ons woon in ’n wêreld waar alles beplan blyk te wees – die oë van die vlieg, die stert van die luiperd, die manier hoe sommige seekatte van kleur verander. Goed, wetenskaplikes verduidelik dit met die konsep van ewolusie, maar steeds – daar is duisende voorbeelde wat ’n mens kan noem waar ontwerp, ten minste in die oë van die gemiddelde nie-wetenskaplike persoon, na die meer waarskynlike verduideliking lyk. Beteken dit dat gelowiges reg is oor ’n godheid? Dis nie ’n eenvoudige vraag nie: Daar is immers ’n wye golf tussen die idee van ’n skepper, of skeppers van die simulasie, en die spesifieke mitologie agter verskillende gode. Sal ’n simulasie beteken dat daar tog ’n beplande doel is agter ons bestaan? Die moontlikheid is sekerlik daar. Sal dit steeds beteken dat ons vrye wil het, dat ons steeds skeppers van ons eie lewens is, of sal dit beteken dat ons lewens uitgewerk en vooruit beplan is deur die skeppers van die program? Na hierdie vraag toe sal ek moet terugkom.

DINSDAG 12 MEI 2020

Voel dit vir jou ook asof hierdie jaar stadiger verbygaan as ander jare? Ek is elke keer verbaas daaroor as ek dink hoeveel weke of maande van hierdie jaar nou maar agter ons lê.

Dat die wêreld wat ons geken het, tot ’n einde gekom het, het sekerlik iets daarmee te make.

’n Kort vier en ’n halwe maande gelede het miljoene mense immers nog planne gemaak om na ander lande te reis om plekke en kulture te ontdek, of om te gaan studeer in wat ’n ervaring sou gewees het wat hulle sou gevorm het vir die res van hulle lewens. Nou het weke al verbygegaan sedert miljoene kinders laas in ’n klaskamer gesit het. Die olie-prys het geval tot ’n negatiewe syfer, onder andere omdat die aanvraag na brandstof geval het na ’n fraksie van wat dit was verlede jaar. Dit beteken jy kon nou jou kar vol maak en ’n paar dae deur die platteland gaan ry – as jy toegelaat word om jou huis te verlaat. Dit behoort ook te beteken dat vliegtuigkaartjies goedkoper moet wees as wat dit was in jare, so jy kon dalk uiteindelik daai reis vat waarvoor jy al vir jare droom … net jammer dosyne lande het hulle grense gesluit vir buitelandse besoekers. In duisende stede in die wêreld is winkels, haarsalonne en restaurante gesluit. Mense word deur die polisie verjaag uit openbare parke omdat die regering hulle beveel het om by die huis wees.

In die noordelike halfrond maak mense gereed vir ’n paar maande van warmer weer en sonskyn. In die suidelike halfrond is die komberse en jasse en serpe klaar uit. Tyd stap aan, stadig.

En tog, hoe vinnig verander dinge nie.

WOENSDAG 13 MEI 2020

Gabriel Voisin is gebore op 5 Februarie 1880 in Belleville-sur-Saône, Frankryk. Sy broer, Charles, is gebore twee jaar later. Toe hulle pa hulle verlaat, het hul ma, Amélie, met hulle getrek na Neuville-sur-Saône, waar hulle oupa ’n fabriek gehad het.

Die twee broers het die buitemuurse lewe geniet – hulle het ekspedisies langs die rivier onderneem, vis gevang, en allerhande toestelle gebou.

As jong man het Gabriel industriële ontwerp studeer, en saam het die twee broers nog meer geëksperimenteer – onder andere ’n geweer gebou, ’n stoomboot, en ’n tipe motorkar.

Gabriel, met die hulp van sy broer Charles, was verantwoordelik vir die ontwerp en bou van die eerste Europese bemande, enjin-aangedrewe, swaarder-as-lug vliegtuig wat ’n volgehoue, sirkelvormige beheerde vlug kon handhaaf vir ten minste een kilometer. Die historiese vlug was op 13 Januarie 1908.

Na ’n lang en welvarende lewe het Gabriel op die ouderdom van tagtig afgetree na sy huis op die platteland, en sy memoirs geskryf. Hy is oorlede op Kersdag 1973 op die ouderdom van 93.

Sy jonger broer het ’n aansienlik korter, en minder welvarende lewe gehad. ’n Paar jaar na die historiese vlug, op 26 September 1912, het Charles Voisin gesterf in ’n motorongeluk. Hy was dertig jaar oud.

DONDERDAG 14 MEI 2020

Naby die vegetariese buffet plek, in ’n stegie agter die afdelingswinkel, staan ’n afleweringstrok. Besig om die aflaai te behartig, is ’n man in ’n skelrooi T-hemp met, op die voorkant, die woorde:

“Born to be Top Gun”

Ek het nie ’n probleem met somtyds absurde vlakke van selfvertroue nie, dink ek. Mens kan selfs argumenteer dat dit sin maak in ’n wêreld met soveel onsekerhede.

Tien minute later ry ek dieselfde pad terug huis toe. Die trok staan steeds in die pad. Die man staan nou ’n sigaret en rook. Dié keer vang ek die agterkant van sy rooi T-hemp:

“Never give up until the end of the world”

’n Redelike sentiment, dink ek dié keer.

VRYDAG 15 MEI 2020

Nodig om te noem dat die Slag van Frankenhuisen plaasgevind het op hierdie dag, 495 jaar gelede.

Op 15 Mei 1525 het ’n paar duisend swak gewapende kleinboere en dorpsburgers onder leiding van die prediker en radikale teoloog, Thomas Müntzer, ’n leër van paar duisend professionele huursoldate onder leiding van Philip van Hesse, en George die Bebaarde van Sakse, ontmoet op die slagveld in Thuringia, in sentraal-Duitsland.

In sy pamflet, Teen die Moorddadige, Rowende Hordes Kleinboere, het Martin Luther die adellikes aangemoedig om die rebelse kleinboere te vernietig met spoed en geweld. Hy’t onder andere geskryf dat die kleinboere “opgesny, verwurg, en gesteek moet word, beide in die geheim en in die openbaar, deur enige een wat die vermoë het om dit te doen, soos een moet doen met ’n siek hond”.

Met sulke aanmoediging kon die kleinboere seker nie veel genade verwag het op die dag nie. Duisende van hulle is afgemaai, en hulle leier is gevange geneem, gemartel, en tereggestel. Onder die professionele leërs van die adellikes was daar slegs ses ongevalle, waarvan twee slegs gewond was.

Teen September 1525 het militêre konflik en strafekspedisies tot ’n einde gekom. Die Duitse Boereoorlog was verby.

Die teregstelling van “Kleine Jack” Rohrbach, een van die leiers van die kleinboere gedurende die oorlog. “Kleine Jack” was die leier tydens die Slagting van Weisberg, toe die kleinboere dosyne adellikes vermoor het. Dit was blykbaar hierdie gebeurtenis wat Luther geïnspireer het om sy pamflet, Teen die Moorddadige, Rowende Hordes Kleinboere, te skryf.

____________________

Te dom of te slim, argumente, ou stede, swaar gedagtes, en die virus leeslys

Week 19, 2020

MAANDAG 4 MEI 2020

“We don’t have time for all this,” sê Bran Stark blykbaar in die agste seisoen van Game of Thrones. “The Night King has your dragon. He’s one of them now. The Wall has fallen. The dead march south.”

Oukei.

Vandat ek op hoërskool was, het ek gedink dis die toppunt van diep om Filosofie te leer – op universiteit. “Is dit nie waarvoor mense al vir 1 000 jaar lank universiteite bywoon nie?” het ek gedink. “Om te leer van Waarheid en Betekenis en Doel van Bestaan!” Dat mense universiteit toe gaan om te leer hoe om rekenmeesters te wees, of ingenieurs of tandartse is eenvoudig nie reg nie. Dis mos goed wat jy kan leer deur vir sewe jaar in die diens te wees van ’n rekenmeester of ingenieur of tandarts, soos hulle gedoen het in die Middeleeue.

Siende dat ek myself in my laat tienerjare al geag het as ernstig oor dinge soos Waarheid en Doel van Bestaan, wou ek natuurlik Filosofie gaan studeer, of dan ten minste Teologie. Vinnig genoeg het dit deurgedring dat die enigste mense wat Filosofie kon studeer, studente was met ouers ryk genoeg dat hulle nie nodig gehad het om vakke te vat wat vir hulle ’n beroep kon verseker na universiteit nie.

Na universiteit het ek my eie opvoeding voortgesit. Geskiedenis van elke windrigting, taal, Aardrykskunde, Ekonomie, selfs genoeg Biologie om te verstaan hoe selle werk. Maar Filosofie het meestal misterieus gebly. Oor die jare het ’n handvol boeke oor Filosofie wel in my boekrak opgestapel. En ek het so een of twee keer genoeg van iets verstaan om dit in my eie skryfwerk in te werk (weet nie of ek die konsepte heeltemal reg verstaan het nie, maar dit het nietemin handig te pas gekom).

Een van vele filosowe oor wie jy nooit ’n intelligente gesprek met my moet probeer aanknoop nie, is Georg Wilhelm Friedrich Hegel (1770-1831). Dis nou waar die aanhaling van Game of Thrones inkom. Om met my te praat oor Hegel se filosofie is soos om met my te gesels oor die populêre TV-reeks. Ek het tot op hede seker net een minuut van een episode gesien. Wat ek weet is opgetel uit wat ander mense opgewonde met mekaar deel binne hoorafstand. As die gesprek gaan oor Game of Thrones, is ek die een wat met ’n mond vol tande staan. Selfde met Star Trek, Star Wars, Dungeons and Dragons, of Lord of the Rings.

Om intelligent deel te kan neem aan ’n gesprek oor Hegel, het jy nodig om vlot Hegeliaans te kan praat. Soos met Star Trek en ander TV-reekse of films met ’n kultiese aanhang, sal jy binne ’n minuut uitgevang word as jy probeer saam praat as jy nie een van die geïnisieerdes is nie. Op Hegel se Wikipedia-blad lees jy byvoorbeeld: “Hegel’s principal achievement was his development of a distinctive articulation of idealism, sometimes termed absolute idealism, in which the dualisms of, for instance, mind and nature and subject and object are overcome.”

Say what?

Die beskrywing gaan voort soos volg: “Of special importance is his concept of spirit (Geist, sometimes also translated as ‘mind’) as the historical manifestation of the logical concept – and the ‘sublation’ (Aufhebung, integration without elimination or reduction) – of seemingly contradictory or opposing factors: examples include the apparent opposition between necessity and freedom and between immanence and transcendence. Hegel has been seen in the twentieth century as the originator of the thesis, antithesis, synthesis triad.”

Nou kyk, ek het geen rede om te twyfel dat mense wat Hegel ag as ’n invloedryke denker regtig verstaan waarvan hy gepraat het nie. As ek ooit so ver kon kom om Hegel te ontsyfer, sou dit inderdaad ’n geliefkoosde tydverdryf gewees het om vals Hegel-aanhangers bloot te stel. Ek sien myself byvoorbeeld by ’n braai met ’n drankie in die een hand en ’n vurk vol aartappelslaai in die ander, terwyl ek vir ’n pretensieuse siel vra: “So, watter een van Phänomenologie des Geistes of Wissenschaft der Logik ag jy as Hegel se beste vroeë werk?”

En as ek my huiswerk behoorlik gedoen het, sou ek die aartappelslaai nie op my skoen laat val het nie as iemand dan nader stap en meewarig vir my vra: “Do you agree with Maurice Merleau-Ponty who wrote that the philosophies of Marx and Nietzsche, phenomenology, German existentialism, and psychoanalysis all had their beginnings in Hegel?”

DINSDAG 5 MEI 2020

Debat is een van die hoekstene van ’n vrye, demokratiese samelewing. Aan die een kant van die spektrum is daar behoorlik georganiseerde kompetisie tussen twee opponente, of tussen twee spanne, met reëls, konvensies, en selfs ’n skeidsregter wat ’n klokkie lui. Aan die ander kant is daar Twitter of Facebook, gesprekke langs ’n braaivleisvuur of in ’n kroeg wat opeindig met ten minste een persoon in die swembad of in die tronk, en besprekings tussen vriende en familie wat die vredemakers in die kombuis of sitkamer erg gespanne maak.

Soveel soos wat ek hou van ’n lekker warm argument, moet ek erken dat die Wille-Weste-aspek van redeneer oor politiek of godsdiens my al vir jare lank irriteer. Ek kan ’n perfekte logiese argument formuleer, maar omdat die ander persoon se stem hoër is as myne, word hulle onlogiese gebrabbel beter gehoor as my logiese gemompel. En as my opponent slaag daarin om eerste ’n lighartige opmerking te maak en daardeur ’n bietjie guns wen onder die gehoor, kan ek net sowel die handdoek ingooi.

Met politiek is dit deesdae amper erger as met godsdiens. Mense sorteer hulleself in kampe, en weë jou as jy nie die regte woordeskat gebruik oor die regte onderwerp nie – en geen draadsitters word toegelaat nie! Wil nog vrae vra oor klimaatsverandering? Daar’s nie tyd nie, Ontkenner! Die wêreld is reguit op pad Hel toe oor mense soos jý wat hulle nie wil onderwerp aan Wetenskaplike Konsensus nie! Wil voorstel dat Trump dalk nié letterlik Hitler is nie? Weet jy nie dat jy die Oranje Boosheid bemagtig met jou middel-van-die-pad rasionele benadering nie!

En op die onderwerp van Trump – roer sake aan soos Rusland en Poetin, of onwettige immigrasie, of beleid jeens China of die Europese Unie of NATO, of die Kavanaugh-sage, of die storie oor korrupsie in Oekraïne, of die wettigheid van die FBI se aksies jeens Trump en die mense wat vir hom gewerk het, en jy betree ’n heelal waar daar blykbaar geen dokumentêre bewyse is van ’n gekonkelry teen Trump of oortredings deur sy opponente nie, geen epos of teksboodskap rekord nie, geen enkelstandaard wat op almal toegepas word nie, geen feite nie. Al wat saak maak, is wat jy glo, en met hoeveel emosie jy jou oortuigings kan kommunikeer. Glo jy X met genoeg emosie, moet dit waar wees. Dit móét eenvoudig waar wees. Die teenoorgestelde kán eenvoudig nie waar wees nie. Ons kant kan eenvoudig nie verkeerd wees nie. Die blote moontlikheid is te pynvol …

Wat het geword van reëls? Wat het geword van, “Kom ons kyk soos rasionele, kalm volwassenes hierna”? Wat het geword van “O, ek het nie geweet daarvan nie. As dit so is, is ek verkeerd”?

Van wanneer af het politiek fundamentalistiese godsdiens geraak?

Dit alles maak amper dat ’n mens wil sê: Moenie politiek met my praat nie, want jy aanvaar nie die reëls van die spel nie.

“Reëls van die spel?” vra jy dalk.

Ja, sal ek antwoord. Die reëls wat sê, as ek bo redelike twyfel kan bewys met datums en verwysings en logiese afleidings dat X, X is, jy nie mag wegstap en sê dit maak nie saak nie.

Nog iets: Net omdat ek nie saam in ’n spesifieke koor sing nie, en skepties is en vrae vra, beteken nie jy kan ’n bord om my nek hang wat sê “ABC-XYZ Denier” of meer afstootlike etikette nie. Ek vra weer: Wanneer het hierdie virus van godsdienstige fundamentalisme soveel mense wat voorheen redelik was, se koppe binnegedring?

Laaste punt: Ek het die afgelope paar maande nog ’n tendens opgetel. Iemand sal ’n goeie punt maak. Enige redelike mens sal daarna luister, en óf saamstem, óf iets sê soos, “Jy maak ’n goeie punt, maar ek verskil steeds van jou vanweë die volgende redes …” Die tendens nou is om uit te wys dat die goeie, redelike punt wat die een persoon gemaak het, ’n sogenaamde “talking point” is van die Euwel-Geïnkarneerde Ewige Vyand (voorheen bekend as politieke opponente). Omdat dit dan geïdentifiseer is as ’n “talking point” van Groen, kan Rooi dit uit die vuis verwerp, of omdat dit ’n “favourite talking point” is van Pampoeneters, is daar geen rede hoekom Worteleters dit eens hoef te oorweeg nie.

Hallo? Is daar nog iets oor in jou kop van die tyd toe jy ’n redelike, denkende persoon was? Net omdat Groen of Rooi of Pampoen of Wortel gereeld die punt vermeld in besprekings op TV, maak dit nie ’n ongeldige punt nie!

Oor enige warm onderwerp van die dag, hetsy persoon of vraagstuk, kan ek insien dat ek verkeerd kan wees. As jy feite op die tafel lê wat my kennis weerspreek, met behoorlike verwysings, en jy gebruik logiese redenasie, sal ek enige tyd die spreekwoordelike swaard neerlê en erken dat jý reg is, en ek verkeerd. As jy eerlik met jouself moet wees, kan jy?

WOENSDAG 6 MEI 2020

Ek het ’n basiese idee van die geskiedenis van die Filippyne: die oorspronklike bewoners van die eilande, die Spaanse oorname in die sestiende eeu, die uiteindelike verowering van die land deur die VSA – hoewel hulle dit gesien het as die bevryding van die land van Spaanse heerskappy, Japan se tydelike oorname tydens die Tweede Wêreldoorlog, en die ystervuis-bewind van Ferdinand Marcos wat geëindig het in 1986.

Ek het nog nooit ’n groot begeerte gehad om die hoofstad, Manila, te besoek nie. Die indruk wat ek kry van TV-programme is dat dit ’n lawaaierige, besige, vuilerige plek is. Omtrent almal wat ek ken wat al in die Filippyne was, gaan óf direk na van die eilande toe, óf hulle trek vinnig deur Manila op pad êrens anders.

Aangenaam was my verbasing dus toe ek gister lees van die “Intramuros”, ’n 0.67-vierkante-kilometer historiese area in die hartjie van moderne Manila. Tydens die Spaanse koloniale administrasie was hierdie Ommuurde Stad die sentrum van politieke mag, en die middelpunt van godsdiens, opvoeding en die ekonomie. Ontwikkeling in die stad in die vroeë twintigste eeu het reeds ’n tol geëis. Toe, in Februarie en Maart 1945, het die Japannese hulle laaste posisie ingeneem om die Amerikaners se opmars te stuit, onder andere in die histories belangrike Ommuurde Stad.

Soos verwag kon word, het die Slag van Manila die stad, en meeste van die historiese geboue, verwoes: “Filipinos lost an irreplaceable cultural and historical treasure in the resulting carnage and devastation of Manila, remembered today as a national tragedy. Countless government buildings, universities and colleges, convents, monasteries and churches, and their accompanying treasures dating to the founding of the city, were ruined. The cultural patrimony (including art, literature, and especially architecture) of the Orient’s first truly international melting pot – the confluence of Spanish, American and Asian cultures – was eviscerated. Manila, once touted as the ‘Pearl of the Orient’ and famed as a living monument to the meeting of Asian and European cultures, was virtually wiped out.”

Nagevolge van die Slag van Manila
Nagevolge van die Slag van Manila
Straat in die historiese area
Straat in die historiese area
Ingang na Fort Santiago, Intramuros, Manila
Ingang na Fort Santiago, Intramuros, Manila

DONDERDAG 7 MEI 2020

Ek het ’n paar weke gelede ’n snit gevang in ’n video van ’n Bulgaarse DJ genaamd Ahmet Kilic. Ek het dit herken as ’n Metallica nommer, maar het dit eers vandag identifiseer: “Fade to Black” van die groep se tweede studio album, Ride the Lightning, vrygestel in 1984.

Die snit het – as ’n mens dit nou so moet stel – tot my gespreek. Dit was eers toe ek die titel identifiseer wat ek die lirieke behoorlik onder oog gekry het:

Life, it seems, will fade away
Drifting further every day
Getting lost within myself
Nothing matters, no one else
I have lost the will to live
Simply nothing more to give
There is nothing more for me
Need the end to set me free

Bietjie donker, maar verstaanbaar gegewe die agtergrond en emosies van die sanger toe hy die lirieke geskryf het.

Elk geval, die snit het blykbaar ’n stapel geword by Metallica se konserte, maar hier is die studio weergawe:

VRYDAG 8 MEI 2020

Uiteindelik het ek gereed ’n konsep dokument, voorlopig getiteld, “Covid-19: A Reading List”.

Hierdie is nie die resultaat van sorgvuldige navorsing nie. Dit is bloot ’n reeks artikels wat ek gelees het vanaf Maart 2020, en wat ek geboekmerk het indien ek gedink het die inligting of opinie daarin verwoord was die moeite werd om weer te besoek.

Soos almal teen hierdie tyd behoort te weet, is die krisis wat mense in meeste lande van die wêreld tans beleef, van ’n mediese aard, met groeiende politieke en ekonomiese gevolge. Die artikels op hierdie lys spreek al drie hierdie aspekte aan.

Siende dat die krisis skynbaar nog ver van verby is, behoort hierdie lys te groei oor die komende weke en maande (hopelik nie jare nie).

Laastens, omdat ek ’n Suid-Afrikaner is wat in Taiwan woon, is daar ’n paar artikels wat handel oor die situasie spesifiek in hierdie twee lande.

Weereens, die skakel: https://www.brandsmit.com/covid-19-a-reading-list/

______________________

Kruideniersware, irriterende karakters, boeke, self-kritiek, en ’n model van ’n ou dorp

Week 18, 2020

MAANDAG 27 APRIL 2020

Siende dat ek nog skaaf aan my virus-leeslys, iets meer alledaags …

Ek het sopas teruggekom van die supermark. Ek het vertrek, te voet, ongeveer twintig minute voor tien. Orals was mense. Sommige het skoene aangepas in die skoenwinkel, ander het winkels toegemaak. Op die een hoek was mense besig om sakke in die rommeltrok te gooi. Op die volgende hoek het groepies mense binne en buite die Family Mart gesit en kuier. Hier en daar ’n ouer met ’n kind aan die hand. Op die volgende hoek, by die vierde van tien oos-wes strate wat kus toe loop in Kaohsiung, het ek links gedraai.

Die supermark was nog besig. In die vrugteseksie het ek twee appels gekies vir ons ontbyt môre-oggend. By die yskas met suiwelprodukte het ’n vrou my beleefd in Engels gevra om vir haar twee boksies lae-vet bruinrysmelk van ’n hoë rak af te haal. Ek het kort daarna my gewone bottel drinkbare jogurt raakgevat, en op pad om te betaal onthou dat ek ook hawermout nodig het.

By die betaalpunt was die enigste kliënt voor my ’n jong man met tatoeëermerke op sy arms en bene. Hy het betelneut gekou, en betaal vir sy dosyn biere met ’n vars NT$1,000-noot.

Ek het soos gewoonlik betaal vir my goedere met korrekte kleingeld, en rustig die twaalf minute teruggestap huis toe.

DINSDAG 28 APRIL 2020

Van so elfuur in die aande is dit TV-en-versnappering-tyd in ons huishouding. TV beteken deesdae meestal Netflix. En omdat ek ’n patologiese onvermoë het om vinnig keuses te maak, kyk ons reekse eerder as films.

Ons het verlede jaar begin met ’n Kanadees-Amerikaanse reeks oor tydreisigers genaamd, Travelers. Toe kyk ons ’n Duitse reeks, ook oor tydreis, genaamd Dark. Toe volg al die seisoene van Big Bang Theory. Daarna het ons ’n Franse reeks gekyk oor ’n man wat ontdek dat ’n houer wat iemand verkeerdelik by sy huis afgelewer het, ’n opening is na sy eie verlede – ook donker, maar nie so donker soos die Duitse reeks waar mense ’n portaal ontdek het in ’n grot buite die dorp nie. Ons het onlangs ook die Oostenryk-Duitse reeks Freud gekyk. Die laat negentiende-eeuse historiese en politieke agtergrond was natuurlik hoogs interessant, maar die geskiedenis en die ietwat fiktiewe doen en late van die jong dokter Freud is nie almal se koppie tee nie.

Die reeks wat ons tans deurwerk, is ’n vroeë 2000’s reeks oor ’n ma en dogter in ’n dorp op die Amerikaanse platteland.

Hier’s die ding: Ek het gevoelens oor die hoofkarakter – die ma. Sy’s veronderstel om simpatie te ontlok as enkelmoeder en sterk vroulike figuur, maar sy slaag met amper elke episode om ten minste hierdie kyker meer en meer te vervreem. (Ek praat nou van die karakter, nie die aktrise wat die karakter baie goed vertolk nie.) Ek het eers gedink dis net ek wat dink daar’s iets verkeerd met die vrou, maar ’n joernalis het destyds die karakter van “Lorelai Gilmore” beskryf as “narcissistic and at times emotionally unstable, with strains of sociopathy.” ’n Skrywer op ’n populêre webwerf het verwys na haar “intense, overwhelming self-absorption”, en dat sy ongeskik is met mense maar altyd spesiale behandeling verwag. Dan is daar haar verhoudings. Sy en die eienaar van ’n plaaslike restaurant het duidelik ’n goeie konneksie, maar sy ignoreer dit en knoop eerder ’n string verhoudings aan met mans oor wie sy nie naastenby so ernstig is soos hulle oor haar is nie. Sy raak selfs verloof aan die een ou. Toe dit duidelik raak dat sy bloot wil uitprobeer hoe dit voel om op trou te staan, los sy hom – enkele dae voor die troue. ’n Jaar of so later is sy teleurgesteld dat hy skynbaar te vinnig oor sy gebroke hart gekom het. En sy praat onophoudelik; sy’s ligsinnig, en ongelooflik selfsugtig. Sy maak my mal! Die skeppers van die karakter verdien ’n applous. Hulle kon immers gegaan het vir ’n onderontwikkelde, maar veiliger karakter.

Elk geval, dis tyd vir my laataand koppie tee, en nog ’n episode van Gilmore Girls.

WOENSDAG 29 APRIL 2020

Ou lesers sal weet die stukkies teks wat ek sedert verlede week produseer, is nie my eerste literêre pogings nie. Maar vir die vyf of ses nuwe lesers wat nog nie sover gekom het om na ouer stukke te kyk nie, het ek besluit om ’n vinnige oorsig te gee oor die sewe bundels wat ek gratis beskikbaar gestel het in 2017 en 2018.

Die eerste bundel was In die greep van ketters – of Die Christen, ’n bundel oor religie, argumente teen fundamentalisme, en opsies vir die ongelowige. Nie tafel, hond of potlood nie gaan oor identiteit en ander vrae oor ons bestaan. Tyd vlieg nie regtig nie is ’n versameling van stukke oor onderwerpe wat nie ’n hele bundel op hul eie kon vul nie. Die werklike, of nie-werklike doel van ons bestaan gaan, soos die titel suggereer, oor die potensiële hoekoms van ons bestaan. In Solank jy staande bly poog ek om die leser te oortuig dat dit beter is om staande te bly, en as jy struikel, om weer op te staan. Die titel van die volgende bundel, Die noodsaaklike onaangenaamheid, ontbloot my gevoelens op ’n stadium oor die noodsaaklikheid om geld te maak. Die volwasse lewe handel oor my beskeie pogings om te oorleef en te floreer met die uitdagings wat meeste volwassenes in die gesig staar. Bundel 8 – Oor skryfwerk en die skrywer is nog in die pyplyn, maar amper gereed.

Soos ek vermeld het, is die bundels gratis beskikbaar in PDF by Archive.ORG. Vir in geval jy ’n gedrukte kopie begeer, of dit op jou Kindle wil lees, kan jy dit aanskaf by Amazon.COM. Daar’s een of twee veranderinge wat ek nog wil aanbring, en as ek eerlik moet wees, het die inleidings nog werk nodig, maar dis nietemin beskikbaar soos dit is.

DONDERDAG 30 APRIL 2020

[Aanvanklik net ’n nota vir myself. Ek moes geweet het die stuk gaan word nog ’n rondte openbare self-kritiek.

Vinnige verduideliking: Honderde-duisende mense plaas daagliks weddenskappe op perderesies in Brittanje. Betfair.com voorsien ’n platform waar mense weddenskappe plaas, maar ook waar mense pryse kan aanbied wat beter is as wat elders gevind kan word. Hierdie koop-en-verkoop van pryse vind vinnig genoeg plaas, veral in die laaste vyf tot tien minute voor ’n wedren begin, en teen groot genoeg volumes – soms meer as ’n miljoen dollar per resies, dat mens geld kan maak deur die pryse te verhandel, soos in ’n aandelemark. Hierdie proses staan bekend as “pre-race trading”.]

Amper drie jaar het al verbygegaan, en om eerlik te wees het ek nog nie verwerk wat verkeerd gegaan het met my eens belowende pre-race trading projek nie.

Ek was teen 2013 bewus daarvan dat ek oor die vorige paar jare nie daarin geslaag het om lank genoeg te fokus op een projek om ’n stabiele inkomste daaruit te genereer nie. Ek was reeds vir ’n geruime tyd geïnteresseerd daarin om geld te maak uit sport en statistiek, en het gelees van mense soos Paul Shires van TradeShark wat Betfair trading ontdek het in 2008, en teen 2010 sy werk ge-quit het om voltyds pryse te verhandel op tenniswedstryde. Teen die begin van 2014 het ek Caan Berry se PDF oor pre-race trading gelees, en hoewel ek glad nie beïndruk was met die kwaliteit van die handleiding nie, het ek gereken pre-race trading lyk soos die tipe projek waarop ek wou fokus tot ek dit bemeester het. Jy kan begin daarmee met niks meer as $200 in jou rekening nie, en al die aksie vind plaas oor omtrent drie ure tydens die Britse namiddag – tussen 21:00 en middernag in Taiwan.

En het ek gefokus! Oor die volgende twee jaar het ek honderde dollars spandeer op nog opleiding – video’s, PDF handleidings, aanlyn seminare. Ek het dosyne video’s gekyk, en genoeg gelees oor die onderwerp om ses dokumente saam te stel met notas.

Teen die middel van 2017 het ek stoom verloor, en kort daarna heeltemal gestop. Ek het nie hardop gesê dat ek gaan stop nie; ek het net geweet ek het ’n breuk nodig. Aanvanklik was die breuk net ’n paar dae. Na drie weke het ek weer die sagteware oopgemaak, en ’n paar ontmoetings probeer verhandel. Maar die belangstelling was weg. En dieselfde probleme het weer kop uitgesteek.

Wat dan was die probleem? Die sagteware (Geeks Toy) waarmee ’n mens pre-race trading doen, was eerlikwaar uitstaande. Daar was omtrent nie ’n afmeting of ’n aanduiding wat jy nie kon sien nie. Jy kon op verskeie wyses sien hoe die prys beweeg, waar die prys was, waarheen dit waarskynlik op pad is, en wat aangaan op die ander “markte” – dit wil sê, die ander perde in die resies.

So kompleks soos wat dit was – met elke perd in die resies wat inderdaad sy eie mark vorm, maar al die perde se pryse wat dan ook integreer in een groot mark naamlik die wedren, en so onnosel soos wat ek al gewys het ek kon wees met nommers, het ek meeste daarvan onder die knie gehad teen einde 2016. Hoekom het ek dan nie geld gemaak daarmee nie?

Twee redes: Ek het gereeld gefaal daarin om my verhandelings te sluit voor die resies begin – wat beteken jy bevind jouself skielik in ’n totale ander mark, met pryse wat wild bokspring, groot gapings in die pryse, en die sterk moontlikheid dat jou hele rekening uitgewis kan word in ’n paar sekondes as jy nie versigtig is nie. Hierdie probleem was maklik om te identifiseer. Die eintlike probleem was dat ek te min suksesvol was in die vyf tot tien minute vóór die wedrenne begin het. Soos ek weer vanoggend kyk na van die skermgrepe wat ek met elke wedren geneem het, het ek weereens besef dat die probleem nie was dat ek nie verstaan het wat aangaan nie. Die probleem was dat ek nie gereeld genoeg kon inkom by ’n prys waar ek geweet het ek moes inkom nie, en ek kon nie gereeld genoeg uitgaan by ’n prys waar ek geweet het ek moes uitgaan nie. Spoed was die probleem. Dit was óf my rekenaar se prosessering van die sagteware, óf die internet-konneksie, óf my reaksie. Wat dit ook al was, ek was te stadig.

In ’n Word dokument waarin ek gereeld aantekeninge gemaak het oor die onderwerp, skryf ek die volgende op Donderdag 11 Mei 2017: “People think pre-race trading, especially scalping, is about horse racing, because of the ‘race’ part, or that it is about trading. What they often don’t realise before they’ve already spent a lot of money and a lot of time trying to master it and make some money is that it is in fact a video game. And if you’re not good at playing video games, especially fast ones where things change quickly, you will lose a lot of money, and waste a lot of precious time.”

VRYDAG 1 MEI 2020

Die eerste area van Kaohsiung waar ek gewoon het toe ek hier aangekom het in Januarie 1999, was Fengshan – eintlik toe nog ’n stad op haar eie, maar sedert 2010 ’n distrik. Fengshan is inderdaad veel ouer as die stad waarvan sy nou deel is. Kaohsiung was net ’n klein vissersdorpie tot Japan die eiland oorgeneem het in 1895, maar Fengshan was al ’n belangrike administratiewe sentrum teen die laat agtiende eeu.

Op Nuwejaarsdag het ons ’n draai gaan maak in my ou distrik, en ’n paar historiese plekke besoek. In ’n voormalige skool vir regeringsamptenare, nou deel van ’n museum bekend as Fongyi Academy, het ek op ’n model afgekom van laat agtiende of vroeë negentiende-eeuse Fengshan.

Die eerste foto is van die hele dorp. Interessant om te noem is dat die belangrikste strate in moderne Fengshan uitgelê is op die oorspronklike stofstrate. Die tweede foto dui aan waar my eerste buurt was – net anderkant die rivier, op die buitewyke van die dorp.

Vir meer foto’s van Taiwan, en ander plekke, volg my op Instagram: https://www.instagram.com/brandsmit.taiwan/

* * * * * * * * * * *

VOLGENDE WEEK: Die virus leeslys … en ander brokkies teks.

* * * * * * * * * * *