Ek besef vanaand volgende week is nie net die einde van ’n jaar nie, maar die einde van ’n dekade – my derde einde van ’n dekade as ’n volwaardige volwassene.
Die eerste dekade na hoërskool het vir my begin in ’n sendinghuis, met my as deel van ’n span wat gehoop het om meer mense te bekeer tot die Christelike geloof. Die dekade het geëindig vir my in die strate van Hong Kong, ver van die huis af, en nog verder van sekerheid oor my eie toekoms.
Ek het die ’00 dekade begin as ’n oorgewig roker met ’n slegte ingesteldheid en ’n problematiese selfbeeld. Ek het tien jaar later die dekade afgesluit op ’n bietjie van ’n laagtepunt – minder oorgewig, nie meer ’n roker nie, maar finansieel relatief armlastig. En ek was reeds 38. Die dekade het wel ook van die spreekwoordelike beste jare van my lewe ingesluit: ek het in 2003 begin skryf asof die koors my beetgepak het, en teen die middel van die dekade het ek ’n vrou ontmoet wat soos ’n engel uit die sewende hemel neergedaal het op my aardse bestaan. Nietemin, die hoogtepunte was in die middel van die dekade; die einde sou enige sterfling angstig maak.
En so het my derde dekade begin as volwassene. In 2011 het ek 40 geword. Ek het voortgegaan met ’n verskeidenheid projekte om meer finansiële sekerheid te bewerkstellig, en ek het met hernude toewyding weer aandag gegee aan my skryfwerk. Hierdie dekade het hoogtepunte van ’n ander intensiteit gehad, en die laagtepunte was nie heeltemal so laag as in die vorige dekade nie.
DINSDAG 31 DESEMBER 2019
Wat is my voorspellings aan die vooraand van hierdie vierde dekade van my volwasse lewe?
Geen voorspellings nie. Geen kort toesprake om myself te motiveer nie. Ek is reeds gelukkig. Ek doen reeds finansieel veel beter as in die vorige dekades. Ek leef reeds die voller lewe waarvan ek gedroom het in my twintigs en vroeë dertigs.
Is ek oorgehaal om nog beter te doen? Is ek gereed daarvoor om nog meer te reis, meer te gee, meer bystand te verleen, meer te doen van wat ek reeds doen? Is ek gereed om nóg meer van die lewe te ervaar? Is daar ’n voller weergawe van my wat ek reeds besig is om te wórd soos ek hierdie woorde tik?
* * *
’n Redelik welgestelde vriend van ’n vriendin het hierdie jaar genoem dat die lewe wat ons – ek en Natasja – leef, nader is aan die lewe van biljoenêrs as aan die lewe van arm sukkelaars. “Sure,” het hy gesê, “billionaires have fine Egyptian cotton linen and they live in bigger houses, but you – like them – have running water, modern plumbing, stable electricity and high-speed internet. Compare that to people who live in shacks with no running water, no electricity, no internet …”
Ek is ook onlangs weer herinner aan ’n ou waarheid: Daar is dinge waaroor ons nie beheer het nie; daar is dinge waaroor ons gedeeltelik beheer het, en daar is dinge wat tot ’n betekenisvolle graad afhang van ons besluite – as jy hierdie pad kies, is dit hierdie pad vir die volgende paar maande, en dalk die res van jou lewe; as jy daai pad kies, is dit daai pad vir die volgende paar maande, en dalk die res van jou lewe. Dit is dan ook wyser om te fokus eerder op die aspekte van jou lewe waaroor jy die maksimum beheer het. En as jy neig tot eerlikheid, en ’n kritiese beskouing van sake, sal jy erken dat jy voldoende beheer het oor jou eie lewe, en oor die omgewing waarin jy jou bestaan voer, om die voller lewe te kan skep waarvan jy op ’n stadium net kon droom.
Wat volg is die nuutste nota oor ’n onderwerp waaroor ek eintlik nie gedagtes wil hê nie. As meer as tien mense gereeld my skryfwerk lees, sal notas oor hierdie onderwerp my definitief in die moeilikheid bring. Niemand – maar veral nie wit mense nie, en dan veral nie wit mans nie – is veronderstel om enige gedagtes te vorm oor hierdie onderwerp wat nie strook met goedgekeurde hoofstroom ideologie nie. “Hoekom sal jy immers enige ander tipe gedagtes daaroor koester?” sal iemand vra. “Is jy ’n slegte mens? Is jy boos? Is jy die duiwel?”
Soos sekerlik die geval is met normale mense, gebeur dit gereeld dat gedagtes in my kop vorm terwyl ek stort, of op pad is êrens heen. En omdat ek nie in die gewoonte is om ’n spreekwoordelike wag voor die hek van my gedagtes te plaas nie, kom allerhande vreemde vrae vorendag. En siende dat die vraag dan gevra is, moet ek dit adresseer. Of, ek hoef dit seker nie aan te spreek nie – veral as ek weet dat mens eintlik net vooraf goedgekeurde gedagtes mag hê oor sekere onderwerpe. Maar ek sal die heeltyd bewus wees daarvan dat dit op die tafel is, en dat ek dit ignoreer.
In elk geval, hier is die gedagte. Hoe het die beleid bekend as Apartheid die realiteit geword vir so baie mense – van alle rasse – in Suid-Afrika, tussen ten minste 1948 en 1990?
’n Eenvoudige verduideliking is dat Apartheid toegelaat is om die praktiese realiteit te word en te bly vir so lank omdat die meerderheid van die bevolking – en die meerderheid van die bevolking was swart mense – Apartheid aanvaar het. Uit die aard van die saak het mense ’n negatiewe beskouing gehad van die beleid en die politieke leiers wat hulle verantwoordelik gehou het daarvoor, maar ’n kritiese persentasie van die geaffekteerde bevolking het dit aanvaar as die manier hoe hulle samelewing bestuur word.
Hoekom is Apartheid uiteindelik vervang deur ’n beter beleid? Omdat ’n kritiese minderheid onder die swart bevolking, met bondgenote onder ander bevolkingsgroepe, Apartheid nié aanvaar het nie, en hulle lewens toegewy het daaraan om dit te ondermyn, en te vernietig as raamwerk en beleid waarvolgens die staat bestuur en die bevolking beheer word. Hierdie kritiese minderheid, wat mense insluit soos Nelson Mandela en ander leiers van die anti-Apartheidsbeweging in die vyftigs en sestigs, asook Steve Biko en ander aktiviste in die sewentigs en tagtigs, maar ook duisende ander leiers wat noue bande gehad het met die gemeenskap op ’n daaglikse basis, het uiteindelik ’n kritiese persentasie van die bevolking oortuig dat hulle gesteun moet word in hulle pogings om Apartheid te beëindig, en dat alles beter sal wees vir hulle wanneer húlle, die nuwe leiers, in beheer van die staat sal wees.
16:49
Feit is, amper dertig jaar na die einde van Apartheid, is daar steeds wit mense wat glo dat Apartheid “nie so sleg” was nie, en dat “selfs swart mense gelukkiger was onder Apartheid as onder ’n swart regering”. En daar is swart mense wat glo dat hulle passiewe slagoffers was van iets wat groter as hulle was, en dat hulle meestal net kon wag tot hulle leiers die saak reggestel het. Albei hierdie opinies is verkeerd, omdat die waarheid ’n swaarder pil is om te sluk.
(Terloops, moet nooit ’n akademikus vertrou wat nie ’n bron van inkomste het wat onafhanklik is van die instelling, skool of universiteit waar hulle werk nie. Teen die einde van die tweede dekade van die een-en-twintigste eeu is dit algemene kennis dat akademiese instellings politieke agendas volg, en as akademici nie die dominante politieke ideologie onderskryf nie, is hulle salarisse – die manier hoe hulle huur betaal en kos en klere koop – in gedrang.)
DINSDAG 26 DESEMBER 2019
12:48
Maak dit die wandade van die man wat sy vrou fisies mishandel minder euwel omdat sy dag na dag, maand na maand by hom bly eerder as om te vlug?
Nee.
Maar watse boodskap stuur dit vir vrouens in verhoudings waar hulle mishandel word, om na hulle te verwys as magtelose slagoffers? Watse hoop gee dit vir vrouens in sulke verhoudings?
Aan die einde sit jy met twee opsies:
Opsie 1: Sien die vrou as ’n magtelose slagoffer. Vrouens wat dan nooit hulle aggressiewe mans verlaat het nie, hoef dan nooit te voel dat hulle enige iets kon gedoen het om hulle eie situasies te verbeter nie. Die boodskap aan vrouens wat tans in sulke verhoudings betrokke is, is dat hulle maar net moet hoop iemand red hulle. Want hulle is self magteloos.
Opsie 2: Sien die vrou in ’n verhouding met ’n man wat haar fisies en emosioneel aftakel, as iemand met die vermoë om iets daaraan te doen. Sy sal waarskynlik slim te werk moet gaan en braaf moet wees om haarself en moontlik haar kinders te beskerm, maar sy hét die vermoë en die mag om haar lewe te verbeter. Dis goeie nuus vir vrouens wat tans in so ’n verhouding vasgevang is. Maar die boodskap aan die vrou wat in die verlede in so ’n verhouding was, en net losgekom het omdat haar man tot afsterwe gekom het, of op een of ander manier aan die pen gery het, is dat sy iets aan haar situasie kón gedoen het – maar ongelukkig nooit so ver gekom het nie, omdat sy dalk altyd aan haarself gedink het as magteloos.
* * *
Siende dat ek reeds polities inkorrek is, en op sensitiewe tone trap, nog ’n vraag: Wanneer het die onderdrukking van die swart bevolking begin in Suid-Afrika? Biblioteke vol navorsing is al gedoen hieroor, en dalk sal my argument soos ’n eend uit die water geskiet kan word met die battery van artillerie-vuur van mense slimmer as ek.
Op hierdie punt moet ek ook duidelik maak dat ek spesifiek verwys na die swart stamme en ander swart groepe soos bekend was aan politieke leiers en blanke burgers in die agtiende en negentiende eeue.
Die geskiedenis van magspolitiek tussen wit mense en bruin mense in hoofsaaklik die Wes-Kaap, tussen wit mense en die San in aanvanklik die Suid- en Oos-Kaap, en tussen wit en Indiër-mense in oorspronklik KwaZulu-Natal, is anders as die geskiedenis tussen wit groepe en verskeie swart stamme en nasies. Slawe het in opstand gekom van tyd tot tyd. Die San het guerrilla-oorlog gevoer teen wit boere en gemeenskappe. Die Griekwas het bondgenootskappe gesmee met ander groepe en ook op hul eie in militêre konflik gekom met wit gemeenskappe.
Maar tussen wit en swart was daar ten minste ’n dosyn konflikte wat kwalifiseer as oorlog. Daar was die nege grensoorloë in die Oos-Kaap, en ’n paar opstande. Daar was drie oorloë tussen die Basotho’s en die burgers van die Vrystaat. Daar was etlike bloedige oorloë tussen die Voortrekkers en later burgers van die Transvaal en Natal, en die Ndebele onder Mzilikazi, en die Zoeloes onder Dingaan en later ander leiers. En dan was daar verskeie oorloë tussen Britse koloniale magte en die Ndebele, en teen die Zoeloes. Meeste van hierdie militêre konflik het tot ’n einde gekom teen 1880. Tot en met hierdie tyd het swart en wit teen mekaar geveg as gelykes. Mens kan wel argumenteer dat wit soldate gewere en kanonne gehad het, maar swart krygers het weer ander voordele aan hulle kant gehad, om nie te praat van die feit dat ook húlle gewere in die hande kon kry nie – en wel gebruik het, soos in die Anglo-Zoeloe Oorlog van 1879.
My punt hier is dat ek swaar sluk aan die narratief van die swart persoon in Suid-Afrika wat al vir 300 jaar ’n magtelose slagoffer is van wit oorheersing. Hierdie narratief het duidelik politieke waarde in die Suid-Afrika van die een-en-twintigste eeu, maar ek vind dit uiters vreemd wanneer mense die militêre mag van swart nasies in die agtiende en veral negentiende eeu afmaak as onbenullig. Het hierdie mense nog nooit beskrywings gelees van Xhosa- of Zoeloe-krygers nie? Het hulle nog nooit gelees van die militêre oorwinnings wat Mzilikazi en Moshoeshoe behaal het oor wit kommando’s nie?
My vraag is weereens: Die onderdrukking van swart deur wit wat so ’n kenmerk was van die Suid-Afrikaanse samelewing van die twintigste eeu – wanneer het hierdie hoofstuk begin in die konflik tussen wit en swart in Suidelike-Afrika? Ek reken die 1880’s is ’n goeie plek om te soek vir ’n antwoord.
My volgende vraag: Na ten minste ’n eeu van soms suksesvolle weerstand – waar gewapende kryger teen gewapende burger gestaan het, hoe het dit gebeur dat die onderdrukking van swart mense so omvattend deurgevoer is na 1880?
14:25
Ek sien nie swart mense in Suid-Afrika as lang-lydende historiese slagoffers nie. Daar was gebeure soos Sharpeville in 1960 en Soweto in 1976, en daar was regeringsbeleid soos die pasboeke en gedwonge verwyderings, maar dit was alles in die laaste honderd jaar. As ek dink aan historiese swart figure, sien ek die Xhosa-kryger op die Oosgrens; ek sien die imposante figure van Mzilikazi en Moshoeshoe; ek sien die intimiderende figuur van die Zoeloe-kryger op die groen heuwels van Natal; ek sien intellektuele soos Sol Plaatje en Steven Biko; ek sien politieke leiers soos Oliver Tambo, Nelson Mandela, Walter Sisulu, en hul eggenote Winnie Mandela en Albertina Sisulu.
Ek sien die periode 1880-1990 as ’n historiese anomalie waartydens ’n kritiese persentasie van swart volwassenes in Suid-Afrika skynbaar aanvaar het dat hulle tweedeklas burgers is van hul geboorteland, en waartydens ’n kritiese persentasie van swart volwassenes aanvaar het dat hulle kinders fabriekswerkers, tuiniers, padwerkers en huishoudelike helpers sal word eerder as ingenieurs, dokters, tandartse, wetenskaplikes en akademici.
Finansiële onafhanklikheid word bewerkstellig soos volg: Elimineer al die nonsens, en al die opsies wat nie vir jou werk nie of wat jou tyd mors, en herhaal week in en week uit die stappe wat werk.
DONDERDAG 21 NOVEMBER 2019
17:33
Gedagte een: ’n Sekere tipe stelling waarteen nie geargumenteer kan word nie, maar wat slegs manifesteer of nié manifesteer nie afhangende van jou aksies: Jy is x-aantal stappe weg van algehele finansiële onafhanklikheid; Jy is x-aantal stappe weg van jou ideale gewig, ensovoorts.
Gedagte twee: Nog ’n stelling waarteen nie geargumenteer kan word nie: ’n Volledige lys van waardes wat aan ’n spesifieke gemeenskap gelewer kan word, bevat ten minste een item wat jý kan lewer, teen vergoeding.
Natuurlike volgende vraag: Watse gemeenskap?
23:06
As jy praat van geldmaak/geld ontvang, praat jy óf van spekuleer óf van verkoop.
As jy praat van verkoop, praat jy van waarde voorsien aan ’n spesifieke gemeenskap (of mark).
Die vraag is, weereens, watse gemeenskap, en watse waarde.
Ek verkoop aan ’n plaaslike taalsentrum my tyd, en my vermoë om ’n Engelse klas te kan lei.
Anders gestel, hulle koop my tyd, en ’n spesifieke vermoë.
Maar, soos dit is met hierdie dinge, is daar nog ’n laag. Want wat hulle werklik koop, is my waarde as ’n rat in die wiel van hulle geld-genererende masjien. (Klink aardig, maar dit werk goed genoeg uit vir almal.) Hierdie waarde kom wel in die vorm van my tyd en my vermoë. Die studente, aan die ander kant, koop ’n produk by die taalsentrum wat aan hulle die waarde sal besorg van verbeterde taalvaardigheid.
MAANDAG 25 NOVEMBER 2019
12:11
• Aanvaar verantwoordelikheid vir jouself en vir die situasie waarin jy jouself bevind. (Dit geld as jy gelukkig is met jou situasie, maar ook, uit die aard van die saak, as jy nié is nie.)
• Wees daagliks dankbaar vir wat jy reeds het.
• Glo in jou vermoë om jou lewe en jou lewensomstandighede te verbeter deur te verander hoe jy dink aan jouself, en aan jou lewe.
• Glo dat jy meer positiewe dinge sal sien as jy meer positiewe dinge verwag (en meer negatiewe dinge sal sien as jy negatiewe dinge verwag), meer sal sien om voor dankbaar te wees as jy jouself instel daarop om te soek na dinge waarvoor jy dankbaar kan wees, en meer geleenthede sal sien om jou lewe te verbeter as jy verwag dat die geleenthede aan jou sal verskyn.
• Eet gesond, maak seker jy kry genoeg rus, en doen gereeld genoeg oefening sodat jou energie-vlakke van so ’n aard is dat jy die aksies kan neem wat jy moet neem. Dis tot ’n groot mate ’n versterkingslus: eet gesond, slaap genoeg, oefen daagliks … gee jou meer energie; jy’s gretig om stappe te neem wat jy moet neem; jy’s gemotiveer om die volgende dag weer gesond te eet, genoeg te slaap en te oefen. Aan die ander kant, as jy kos eet wat jou lusteloos maak, is die kans skraler dat jy sal oefen, en omdat jy ongesond eet, slaap jy waarskynlik nie goed nie; wat alles beteken jy’s minder gretig om te doen wat jy moet doen om suksesvol te wees.
15:13
[Sommige mense na aan my] glo steeds geld is skaars, en dat hulle nooit voorspoedig genoeg sal wees om ’n oorvloed daarvan ter ervaar nie. Twee opsies vir my, en vir my vermoë om hulle te help:
Opsie 1: Ek glo hulle is reg, en dat ook ék nooit voorspoedig genoeg sal wees om ’n oorvloed geld te ervaar nie.
Opsie 2: Ek glo, tragies soos dit is, dat hulle onkundig is oor die onderwerp, en verkeerd in hulle beskouing. Ek glo verder dat geld tot ’n mate soos suurstof is: dit is orals om ons, en jy hoef net sekere dinge te doen, en nie die vloei daarvan te blokkeer nie, om dit in oorvloed te ervaar.
* * *
Al wat jy moet doen, is om jou mond oop te maak en suurstof in jou longe in te trek. Jy hou immers nie eers jou asem op om te probeer uitsorteer of jy die suurstof verdien of nie, en of jy ’n reg daartoe het nie, of hoe?
Natuurlik moet ’n mens die geld verdien in jou beursie en in jou bankrekening – moeilikheid volg gewoonlik mense wat dink hulle kan net hulle hande uitstrek en geld vat. Mens moet ook iemand se vriendskap en vertroue verdien, en iemand anders se toenadering en fisiese aanraking.
Soos suurstof is geld in oorvloed, (volgens een bron, “All told, anyone looking for all of the U.S. dollars in the world in July 2013 could expect to find approximately $10.5 trillion in existence […]. If you just want to count actual notes and coins, there are about $1.2 trillion floating around the globe.”). So ook die potensiaal vir vriendskap en positiewe interaksie met ander mense en die geluk wat gereeld volg op hierdie interaksie. Maar hoekom glo soveel mense dat hulle dit nie verdien om gelukkig te wees nie? Hoekom glo soveel mense dat hulle nie verdien om geld in oorvloed te ervaar nie, al werk hulle hoe hard?
VRYDAG 29 NOVEMBER 2019
Meeste mense, as hulle redelik en eerlik moet wees, moet erken dat daar hordes geleenthede is om ’n klomp geld te verdien. Hulle moet dit weet, want daar’s nooit ’n tekort aan stories van mense wat iets probeer het, en suksesvol was daarmee nie. Daar’s elke week nuwe produkte op die mark wat nie die vorige jaar bestaan het nie. Daar’s nuwe weergawes van ou produkte; nuwe weergawes van ou stories; nuwer weergawes van ou musiek; twee of meer idees wat gekombineer word om nuwe produkte te maak.
Glo dat daar inderdaad talle idees is waarmee geld gemaak kan word, en dat jý bekwaam genoeg is om so ’n idee te ontwikkel, of bekwaam genoeg is om met mense te gesels wat sal weet wat om te doen, en jou brein gaan, soos ’n verskerpte radar, idees optel op ’n daaglikse basis. Hierdie selfde idees sal iemand anders aan die neus byt, en hy sal nie ’n oog knip nie. Hoekom nie? Omdat hy nie glo dis daar nie. En selfs as hy glo dis daar, glo hy nie hy kan enige iets daaraan doen nie.
* * *
Een uur na ek die vorige gedagte gedink het, stap daar ’n vrou verby die restaurant waar ek naby die venster sit en aandete eet. Sy’t ’n seilsak oor haar skouer. Op die sak is die woorde, “There is no place like Tainan …”
Die ontwerp is nie sleg nie. Ek sou dit nie koop nie, dink ek toe, want ek woon nie in Tainan nie, maar as dit gesê het Kaohsiung …
Besef dat daar niks spesiaal oor die font of die kleure van die letters is nie. Besef dat jy met een so ’n ontwerp ’n duisend T-hemde, koffiebekers en seilsakke op die mark kan hê, met ’n duisend stede se name op, vir waarskynlik minder as $30 se belegging.
Die wêreld is deurtrek met idees waarmee jy ten minste ’n klein bietjie meer waarde in ander mense se lewens kan bring, en in die proses meer geld kan maak. Glo jy dit, sien jy dit. Glo jy dit nié, sien jy dit nie.
EKSTRA GEDAGTE: Saterdag 25 Januarie 2020
Ek het die afgelope tyd baie gedink aan idees waarmee ’n mens geld kan maak, en hoe, as jy jouself instel daarop, jy idees op ’n amper daaglikse basis sal ontvang.
Dit is waar. Uiters belangrik om egter by te noem, is dat jy nie aan die einde net ’n ONTVANGER wil wees van idees nie – jy wil wees ’n UITVOERDER van idees. Sonder aksie, is die idees immers nie ’n duit werd nie.
DONDERDAG 5 DESEMBER 2019
Een van die insigte wat ek opgetel het onlangs uit een van die boeke wat ek besig is om lees, is dat welvaart in meer as een vorm verskyn. Jy mag dalk dink jy’s een van daai mense wat nie juis welvaart na jou toe aantrek nie, maar kans is dat jy so dink omdat jy ’n eng beskouing het van welvaart – jy dink slegs daaraan as geld.
Verbreed jy jou begrip, sien jy dalk hoeveel welvaart jy aantrek in ander vorme. Daar’s dinge wat mense vir jou gee sonder dat jy gevra het – wat jy nodig het, en wat jou geld sou kos as jy dit self moes koop; gunste wat mense vir jou doen – wat jou andersins geld sou kos; tyd wat jy gegun word wanneer jy gedink het jy iets moes doen, maar nou doen ’n ander persoon dit; geleenthede wat jy kry om mense te ontmoet, of dinge te leer, of kennis te bekom wat alles jou lewenskwaliteit op verskillende maniere verhoog.
Jy slaag dalk daarin om hierdie dinge aan te trek deur op ’n bepaalde wyse op te tree, of te wees die relatief goeie mens wat jy is. Maar omdat dit nie kom in die vorm van kontant, of syfers op jou OTM-slippie nie, is dit maklik om te ignoreer as die welvaart wat jy inderdaad op ’n daaglikse wyse aantrek na jouself toe.
Dis omtrent ’n voltydse beroep deesdae om op hoogte te bly van al die kwessies wat gons in die media as jy so nou en dan jou opinie wil lug, en nie onnosel wil klink nie. Daar’s kernkrag, mensverwante aardverwarming, immigrasie, reg op privaatheid, vryheid van spraak, wapenregte, gebruik van antibiotika op mens en dier, Donald Trump en Brexit, die gebruik van chemikalieë in landbou, genetiese modifikasie, elites teen populiste, belastingbeleid, geslagspolitiek, mense wat gebore is met ’n Y-chromosoom en ontwikkel het in volwasse mans wat tans identifiseer as vrouens en in sport deelneem teen ander mense wat gebore is sonder ’n Y-chromosoom en ontwikkel het in vroulike liggame.
Wie kan byhou?
Vreemde ding is, jy kan nie eens praat oor hierdie onderwerpe, of begin om ’n opinie uit te druk sonder om eers seker te maak watter van die basiese reëls wat tot onlangs aanvaar is in dialoog en debat nog van toepassing is nie. Maak wetenskaplike ondersoek nog saak? Maak dit saak as idees getoets is volgens aanvaarde wetenskaplike metodiek, sekere resultate opgelewer het, weer getoets is en soortgelyke resultate opgelewer het? Is daar steeds plek vir logiese redenering? Kan ’n mens nog sê iets is waar, of nie waar nie?
DINSDAG 14 MEI 2019
Konneksies tussen my geboorteland van Suid-Afrika, en my aangenome tuisland, Taiwan
Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het in die middel van die sewentiende eeu ’n verversingspos gevestig in die suid-westelikste punt van Afrika. My en miljoene Suid-Afrikaners se familiebome het uiteindelik gegroei en vertak vanaf die oorspronklike Hollandse vesting tot in die res van Suidelike-Afrika.
Die einste Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het reeds in die vroeë sewentiende eeu ook ’n teenwoordigheid gevestig in die suide van Taiwan, toe bekend as Formosa.
Daar’s een groot verskil tussen die twee plekke. Die Kaap was in die middel van nêrens – juis hoekom dit ’n goeie plek was vir ’n verversingspos. Taiwan, aan die ander kant, was die middelpunt van kommersiële aktiwiteit: Tokugawa-Japan na die noorde, Ming-China na die weste, en Spaans-Filippyne na die suide. Dan was daar nog die Portugese in Makao, en die waters tussen die plekke was oortrek met seerowers wat in ’n paar gevalle winsgewende betrekkings gehad het met die Hollanders, die Japannese, die Chinese, die Spanjaarde, en die Portugese.
Een ooreenkoms tussen die twee Hollandse vestings: plaaslike mense wat vinnig moes uitpluis hoe hulle te werk moes gaan met die bleekgesigte met hulle lang hare, en hulle buise wat dodelike balletjies blaas. In die Kaap was dit die Khoikhoi (ook Khoekhoen genoem), nomadiese veeboere, en die San, wat jagter-versamelaars was. In Taiwan was daar omtrent twee dosyn Austronesiese stamme wat meestal jagters was, en so nou en dan handel gedryf het met Chinese besoekers aan die eiland (voor die Hollanders gearriveer het).
Nog ’n verskil is wat met die Hollanders gebeur het. In Suid-Afrika het húlle, saam met ander Europeërs, die fondasie gevorm van die blanke bevolking van hedendaagse Suid-Afrika. Die Hollandse taal in die vorm van Afrikaans, asook Europese godsdiens en kultuur is tot vandag deel van die Suid-Afrikaanse nasie. In Taiwan is die Hollanders se beheer van meestal die Westerse strook van die eiland ’n paar dekades nadat hulle gearriveer het, uitgedaag deur die Ming-lojalis, Chen Cheng-gong. Teen 1662 het die Hollanders finaal die stryd verloor. Meeste van die oorlewendes, met die uitsondering van enkele vrouens wat gyselaar geneem is deur die nuwe meester van Taiwan, het die eiland verlaat. Slegs enkele geboue en ’n paar klipmure wat dateer uit die era, staan vandag nog.
WOENSDAG 9 OKTOBER 2019
Ek, soos meeste mense, vrees slegte nuus. Dit sal my van my geluk beroof, reken ek, my bewussyn van algehele welstand ondermyn, my selfs ontneem van my reg om gelukkig te wees (“Hoe kan ek gelukkig wees as …”).
Drie punte hieroor:
1. Die feit bly staan dat jy meer effektief oplossings sal vind vir probleme, en jouself beter sal voorberei vir terugslae, as jy meeste van die tyd ’n goeie basislyn handhaaf vir persoonlike geluk.
2. Jou “baseline happiness” sal ’n knak vat met die hoor van slegte nuus, maar dit sal uiteindelik herstel.
3. In elke stad, dorp, en klein gehuggie kry mense slegte nuus op ’n daaglikse basis – veral die soort waarvan jy nie oornag herstel nie, soos die dood van ’n geliefde. Indien genoeg mense geglo het dat dit ontoepaslik sal wees vir hulle om ooit weer geluk te ervaar, sou dit ’n soortgelyke effek gehad het op die gemeenskap as ’n dodelike virus. Binne ’n paar kort jare sou daar slegs ’n minderheid van mense oor gewees het wat nog geag sou word as geregtig op geluk (moeilik om te sê hoe selfs dit moontlik sou wees, in ag genome hoe verbind mense aan mekaar is deesdae).
Die sleutel gedagte: ’n Sosialistiese staat was vir my ’n wêreld waar jy nie soos ’n verloorder sal voel net omdat jy nie goed is daarmee om “geld te maak” nie. En vir lank in my lewe het ek gedink aan myself as presies so ’n persoon.
DONDERDAG 28 NOVEMBER 2019
In my middel-twintigs en vroeë dertigs … het ek altyd gesoek na saad wat ek kan plant, iets wat aan my ’n opbrengs kon bring. “As ek net die regte saad in die hande kan kry, floreer ek!” het ek gedink. Heelwat saad het in my rigting gewaai, meer as wat ek ooit kon plant. Ek het geld spandeer aan saad, dinkende dat die saad wat ’n mens koop beter kwaliteit moet wees as die saad wat jy verniet kry. Dan plant ek die saad, en nie veel kom op nie (“wat doen ek verkeerd?”). Of die opbrengs is karig, of die plant vrek.
Was die saad sleg? Van dit wás, maar genoeg was van hoë genoeg kwaliteit.
Die probleem was die grond. Ek het nooit die grond voorberei vir die saad nie.
Hoe moes ek van die begin af, van my vroeë twintigs af, die grond – myself en my ingesteldheid – voorberei het vir die saad? Ek moes opgehou rook het, gesonder geëet het, genoeg rus ingekry het en elke dag geoefen het. Ek moes vaardighede geleer het – ’n derde taal, skryftegniek, basiese sielkunde, oorredingsvermoë, webontwerp, grafiese sagteware … nie noodwendig om geld te maak daarmee nie, net om die grond voor te berei.
DINSDAG 3 DESEMBER 2019
Jare na jy foute gemaak het of by verkeerde paaie afgestap het, sit jy steeds met die gebakte pere, of met die kruppel bene of krom arms. Dis soos Morgan Freeman se karakter in die film Shawshank Redemption sê aan die paroolbeampte na ’n paar dekades in die tronk: “There’s not a day goes by I don’t feel regret. Not because I’m in here, or because you think I should. I look back on the way I was then: a young, stupid kid who committed that terrible crime. I want to talk to him. I want to try and talk some sense to him, tell him the way things are. But I can’t. That kid’s long gone and this old man is all that’s left. I got to live with that.”
Wat staan jou te doen? Jy aanvaar verantwoordelikheid vir jou aksies. Jy gaan dan voort om te leef as iemand beters. Jy hou op om die persoon te wees wat jouself aandadig gemaak het aan sekere misdade of misstappe. Jy doen beter. Jy leef beter. Jy werk hard daaraan om ’n nuwe mens te wees. Elke een van ons het elke oggend wanneer ons wakkerword, die geleentheid om psigies te vernuwe, en fisies te begin wat later as niks minder as ’n wedergeboorte gesien sal kan word nie.
Soms raak ’n mens geïnteresseerd in iets, en dan, sodra jy meer daaroor begin leer, verloor jy belangstelling. Die Viëtnam Oorlog (1955-1975, of meer spesifiek 1962-1973) is nie so ’n historiese tema nie. My belangstelling in die oorlog is oorspronklik geprikkel deur die 1982 Sylvester Stallone film, First Blood, oor die veteraan wat moeilikheid vind met die plaaslike owerhede in ’n klein dorpie in Amerika. Die hoofkarakter, John Rambo, ervaar terugflitse van sy tyd in Suidoos-Asië. Hy onthou van lokvalle en van hinderlae in die digte oerwoud van Viëtnam, soos hy aan die lewe probeer bly in ’n soortgelyke omgewing buite ’n fiktiewe dorp in die deelstaat, Washington.
Mettertyd het inligting tot my tienerbrein deurgesyfer dat Amerika – die sterkste militêre mag in die wêreld – die oorlog verloor het in Viëtnam – ’n land vol meestal arm kleinboere.
My belangstelling was geprikkel, om die minste te sê.
Teen die middel tagtigs was daar die Oliver Stone film, Platoon – wat ek nie juis verstaan het nie, anders as dat alles deurmekaar was en die Amerikaners nie lekker kon uitwerk wat verkeerd gegaan het nie. Enkele jare later was daar die reeks, Tour of Duty, in Suid-Afrika vertaal in Afrikaans as Sending Viëtnam, met as temalied die onheilspellende Rolling Stones nommer, Paint It Black.
Vir my as tiener, met musiek uit die era waarmee ek myself makliker vereenselwig het as met musiek van die 1940’s, het die Viëtnam Oorlog nader gevoel as die meer bekende Tweede Wêreldoorlog waarvan ons geleer het in die skool. Gooi daarby die misterie van die Amerikaanse nederlaag, met die helfte van Amerika wat die oorlog gesteun het, en die ander helfte wat woedend deur die strate gestap het, en later selfs veterane van die oorlog wat hulle hare en baarde laat groei het en self geprotesteer het teen die oorlog, en dis seker nie ’n verrassing dat die Viëtnam-verhaal ’n gloeiende lamp geword vir die mot van my belangstelling nie.
Ten spyte daarvan dat die ou Saigon, nou bekend as Ho Chi Minh City, slegs ’n drie-uur vlug weg is van waar ons woon in die suide van Taiwan, het ek nooit sterk daaraan gedink om soontoe te gaan tot onlangs nie. Dalk het ek gemeen dat post-oorlog Viëtnam met haar advertensieborde vir Coca-Cola en McDonald’s, en met kommersiële distrikte gevul met moderne kantoorgeboue ietwat van ’n teleurstelling sal wees vir die ernstige student van Geskiedenis. Nietemin, teen die middel van 2019 het ons besluit dis tyd, en teen Augustus was ons kaartjies gekoop.
* * *
Ek het oor die jare heelwat gelees oor John F. Kennedy en die oorlog, en Lyndon Johnson en die oorlog. Ek het gelees oor die agtergrond van die oorlog insluitende die Franse koloniale tydperk; die tydperk tydens die Tweede Wêreldoorlog wat Japan uiteindelik beheer oorgeneem het, en toe onttrek het; die Koue Oorlog tussen Amerika en die Sowjet-Unie; die mislukte Bay of Pigs Invasion en die Kubaanse Missiel-krisis. Ek het gelees oor Ho Chi-Minh en die strewe na nasionale bevryding, en oor die legendariese oorwinning wat die Viëtnamese nasionaliste behaal het oor die Franse by Dien Bien Phu in 1954. Ek het gelees oor die Diem-regime, oor Boeddhistiese protes teen die Suid-Viëtnam regering, oor die monnik wat homself aan die brand gesteek het in die middel van ’n besige interseksie in Saigon in 1963, en oor die Dragon Lady wat gesê het as meer monnike hulleself aan die brand wil steek, sy met graagte die vuurhoutjies sal voorsien. En ek het gelees oor Henry Kissinger en Richard Nixon in die laaste jare van die Amerikaanse betrokkenheid, toe almal reeds geweet het dat Amerika ’n kolossale fout begaan het om betrokke te raak in Viëtnam (en dat dit, om dit eenvoudig te stel, ’n monumentale fokop was).
Maar my belangstelling was altyd meer oudio-visueel as akademies: Beelde van rysvelde met kleinboere in koniese hoedens, gebukkend in die warm son; Amerikaanse soldate wat in ’n ry op die wal van ’n rysveld stap, masjiengewere gereed vir enige voorval; huisies met grasdakke in klein gehuggies wat aan die brand gesteek word deur ’n Amerikaanse soldaat; soldate met paniekbevange gesigte in ’n oerwoud; die Vietcong in swart pajamas wat flitsend deur die digte plantegroei hardloop, net om sekondes later te verdwyn in ’n tonnelnetwerk; helikopters wat neus vorentoe vlieg oor rysvelde en oerwoude, met ’n gapende oop deur, en ’n soldaat wat leun op ’n masjiengeweer. En dan natuurlik die musiek van die middel tot laat sestigs, en die vroeë sewentigs.
* * *
Sondagoggend 10 November 2019 het ek nog soos enige oggend my gewone ontbyt geëet in ons woonstel in Kaohsiung, in die suide van Taiwan. Teen Sondagaand was ek en N. in Ho Chi Minh City. Ons het die middag gearriveer by Tan Son Nhat Internasionale Lughawe, wat op ’n stadium een van die besigste militêre basisse in die wêreld was.
Die proses om deur immigrasie en doeane te gaan was meer uitgerek as waaraan ’n mens dalk gewoond is. Ons moes twee weke voor ons vertrek ’n vorm aflaai van ’n webblad af, dit invul en terug epos – waarop ons toe weer ’n brief gekry het waarop ons name verskyn met ons paspoortnommers saam met die name van twee of drie dosyn ander mense wat ook daai dag deur immigrasie sou gaan. Nadat ons geland het, moes ons hierdie brief – wat ons moes uitdruk – saam met ons paspoorte en twintig Amerikaanse dollar kontant aan iemand agter ’n toonbank gee. Ons name is geroep na vyftien minute, en toe kon ons by die lang tou aansluit om stempels in ons paspoorte te kry.
Na immigrasie het ons sim-kaarte gekry (heel maklik, en goedkoop), en reguit na ’n bushalte gestap waar die regte nommer bus toevallig gestaan en wag het. En op pad was ons – deur besige strate vol motorfietse en bromponies en taxi’s en busse en blink, helderverligte winkels. Min of meer in die omgewing waar ons sou bly, het ons eers verdwaald deur die strate geloop, en nadat ons ons hotel gevind het in ’n kleurvolle stegie, het ons ons eerste aandete geniet.
Maandagoggend het ons die strate getref. Eerste stop was die War Remnants Museum – waar tenks, vliegtuie en helikopters uitgestal word wat agtergelaat is deur die Amerikaners met hulle onttrekking in 1973. Die museum het ook talle items en foto’s van die koste van die oorlog – nie net in materiële terme nie, maar die verskriklike koste betaal deur gewone mans, vrouens en kinders.
Volgende stop was die Independence Palace, gebou in 1963 in opdrag van die destydse Suid-Viëtnam president, Ngo Dinh Diem, nadat die vorige gebou wat gedien het as presidensiële woning, gedeeltelik vernietig is deur twee bomme bedoel om van hom ontslae te raak.
Die paleis is ’n tydkapsule – meubels en tapyte uit die 1960’s en 1970’s, kaarte wat teen “war rooms” se mure pryk waar generaals en politici strategie bespreek het, boeke in die biblioteek, telefone en ander kommunikasie-toestelle wat stof vergader in vertrekke in die kelder wat gedien het as ’n bomskuiling.
Daar’s selfs ’n helikopter op die dak in die agterste deel van die gebou wat lyk asof dit steeds wag om die laaste president van Suid-Viëtnam na veiligheid te vervoer. Dat die helikopter steeds op die dak staan, is ’n testament tot die feit dat die laaste president, Duong Van Minh, die derde president in tien dae en in die warm stoel vir slegs twee dae, geweier het om te vlug, selfs toe Noord-Viëtnamese tenks en troepe uiteindelik deur die hekke gebars het op 30 April 1975.
Om die besoek af te rond, het ons ’n aparte uitstalling besigtig oor prominente leiers van Viëtnam oor die laaste 150 jaar of so, en toe gaan foto’s neem by twee tenks wat naby die hekke geparkeer staan wat so sonder seremonie plat gery is in April ’75.
Die volgende dag was ligter op die gemoed: die ou Saigon Central Post Office, ingehuldig in 1891, en die Notre Dame Cathedral, so tien jaar ouer as die poskantoor.
Toe was dit die beurt van die Gia Long Palace – nou die Ho Chi Minh City Museum. Die paleis is gebou in die laat 1880’s om te dien as ’n museum, maar is vir dekades lank gebruik as amptelike woning deur verskeie staatsamptenare.
Die uitstallings was interessant, maar my belangstelling was meer in die gebeure van laat 1963. Op 1 November van daai jaar het ’n groep generaals ’n staatsgreep uitgevoer teen die regering van Ngo Dinh Diem. Diem en sy jonger broer en primêre adviseur, Ngo Dinh Nhu, hulle ouer broer, Ngo Dinh Thuc, en ander familielede het in die Gia Long Palace gewoon sedert Diem in 1962 opdrag gegee het dat die Presidential Palace (die ou koloniale goewerneurswoning) gesloop en herbou moes word. Teen laatmiddag van 1 November was die broers bewus van verwikkelinge, en het die paleis ontsnap deur ’n geheime tonnel.
Na die paleis het ons ingeloer by die Saigon Metropolitan Opera House (wat dateer van 1897), gestop vir bier en toebroodjies, en toe per Google Maps instruksies die twee kilometer of so gestap na die Vietnam History Museum.
Woensdag was ons vroeg op om saam met ’n toergroep die twee ure reis aan te pak na die Cu Chi Tonnels – deel van ’n uitgebreide netwerk van tonnels wat tussen die vyftigs en die sewentigs gebruik is om wapens, troepe, kos en ander voorraad Suid-Viëtnam toe te smokkel. Soos dit ’n toeriste-aantreklikheid betaam, was daar verversings en aandenkings te koop.
Vir my was dit nogal ’n belangrike ervaring: na soveel films en TV-programme oor die oorlog, om te staan in ’n werklike stukkie Viëtnam-oerwoud.
Teen ’n prys kon jy jouself ook soldaat hou en ’n paar keer die sneller trek op een van die wapens wat tydens die konflik gebruik is: R40/$2.60 per koeël vir M16 en AK47; ietwat goedkoper vir ander wapens.
Nadat ons terug in Ho Chi Min eers iets gaan eet het in die Ben Thanh Market, was dit tyd vir ietwat van ’n pelgrimstog vir my. Ek is al vir ’n geruime tyd gefassineerd deur die protesdaad van die Boeddhistiese monnik, Thich Quang Duc, wat homself aan die brand gesteek het in ’n besige kruising in die destydse Saigon op 11 Junie 1963. Daar was toe reeds jare lank onmin tussen die Diem regering en die Boeddhistiese meerderheid bevolking, en Duc se selfopoffering het voorbladnuus gehaal wêreldwyd. Ek was onder die indruk dat die insident plaasgevind het in die stad van Hué (dis waar sy blou karretjie steeds bewaar word), so toe ek die vorige aand in my Wikipedia navorsing lees dat dit inderdaad in Saigon gebeur het, het ek geweet ek moes die kruising vir myself sien. Soos dit toe gebeur, was dit net omtrent tien blokke reguit in die pad af van ons hotel.
Die aand het ons gaan rondstap in die kommersiële distrik, en onder andere verby die Rex Hotel gestap – nog ’n ikoniese gebou van die oorlog-era. Die eerste gaste, 400 Amerikaanse troepe, het aangemeld in 1961. Hulle was die eerste kompanjie-sterkte soldate wat gearriveer het in Viëtnam, en hulle het vir ’n week in die Rex gebly tot hulle kamp gereed was. Die hotel was ook waar die Amerikaanse militêre leiers hulle daaglikse perskonferensie gehou het tydens die oorlog. En die kroeg op die dak was waar militêre amptenare en oorlogskorrespondente elke aand gekuier het. In 1976 is dit ook by hierdie hotel waar die hereniging van Viëtnam aangekondig is.
Donderdag het ek weer my reisgenoot saam getrek na nog ’n plek wat net van belang is vir mense met ’n ietwat ekstreme belangstelling in óf die voormalige Suid-Viëtnam, óf die Viëtnam-oorlog, óf beide.
Soos vroeër vermeld, was die twee Ngo broers in November 1963 bewus van ’n staatsgreep poging teen hulle bewind. Nadat hulle deur ’n geheime tonnel ontsnap het, is hulle geneem na die Chinese besigheidsdistrik in Saigon. Hulle het ’n paar ure by ’n bondgenoot se huis spandeer, en is toe na die St. Francis Xavier Katolieke Kerk. Hier het hulle agter in die kerk gesit terwyl ’n vroeë diens aan die gang was. Kort daarna is hulle herken in die binnehof van die kerk, en teen 10:00 die oggend het ’n gepantserde personeeldraer met twee jeeps gestop voor die kerk. Die twee broers is in hegtenis geneem. Die idee was om hulle na ’n militêre hoofkwartier toe te neem, maar toe die konvooi stop by ’n spoorkruising, het die lyfwag van een van die staatsgreepleiers eers die een broer, en toe die ander vermoor in die agterkant van die voertuig (daar is steeds onsekerheid oor presies wát gebeur het, en hoekom).
Siende dat ek teen hierdie tyd van die week kniediep was in sestigs politiek en Suid-Viëtnam en die oorlog, het dit sin gemaak om ’n besoek af te lê aan die kerk waar die broers hulle laaste oomblikke gespandeer het voor hulle ondergang.
Na die kerk, het ons ’n paar blokke gestap na ’n Tao-tempel.
Daarna is ons terug na moderne Ho Chi Minh waar ons middagete geniet het in die Bitexco Financial Tower.
Na middagete is ons op met die hysbak na die uitsigvloer.
Ons laaste besienswaardigheid was die Ho Chi Minh City Museum of Fine Arts. Die hoofgebou is gebou tussen 1929 en 1934 as woning vir die Hua-familie. Die museum het na die perseel toe geskuif in 1987. Daar is verskeie vertrekke met mooi en interessante kunswerke, maar wat my aandag die meeste getrek het, was die argitektuur, die vertrekke self, en goed soos die trappe, die hortjievensters en die gebrandskilderde vensters.
Vrydagoggend was ons vroeg al op die sypaadjie om ’n bus te vat terug lughawe toe. Soos toe ons gearriveer het, was die bus betyds en heel gemaklik. By die lughawe moes ons weer in ’n lang, kronkelende ry staan, maar ons het onsself beloon met ’n aangename ontbyt. Omtrent ’n uur nadat ons al moes vertrek het, het ’n bussie ons afgelaai by ’n wagtende masjien met ’n foto van ’n Viëtnamese vrou met ’n bottel Coca-Cola in die hand. Vreemde sement murasies op die rand van die aanloopbaan was ’n laaste herinnering dat hierdie stukkie grond, en die land, net ’n paar dekades verwyder is van een van die brutaalste konflikte van die twintigste eeu.
Twee ure nadat ons geland het, was ek al klaar terug in ’n klas in Taiwan. En Saterdagoggend was dit weer ontbyt by die huis – soos enige gewone naweek.
Om meer foto’s te sien, besoek gerus my Flickr albums: