Arm skrywer of ryk entrepreneur

WOENSDAG 16 MAART 2016

’n Gedagte het gisteraand gehop van een ding tot ’n volgende, en toe ek my weer kon kry, vra ek myself: Wat sal ek eerder wil wees, ’n arm skrywer of ’n ryk entrepreneur? Die idee was argumentsonthalwe dat ek as ryk entrepreneur geen kreatiewe werk sal doen nie.

Dit was ’n moeilike vraag.

Tien blokke later (ek was op my fiets) was ek tevrede met my voorlopige antwoord: Dit is moeilik om te sê, het ek gereken, want hoe arm sal ek wees, en wat sal ek skryf?

Die implikasie was dat ek steeds bereid is om ’n eenvoudige bestaan te voer ter wille daarvan om produktiewe tyd te kan spandeer aan skryfwerk, maar ek is nie bereid om swaar te kry ter wille van een opstel elke week of twee oor die weer in Kaohsiung of iets anders onbenulligs nie.

Die vraag is ook hoe eenvoudig die bestaan sal wees. Ek wil nie in die park slaap nie, al moet ek dan ’n paar goeie, geïnspireerde stukke prysgee in die proses. (Hoeveel sal ek in elk geval produseer voordat ’n hawelose digter my notaboek en my pen steel?) Feit is ook dat ek nie alleen is nie. Verwag ek dat my lewensmaat saam met my moet suffer? Of sal ek beweer dat ek bereid is om te suffer, wetende dat dit nie nodig sal wees nie want my lewensmaat sal jammer voel vir my en haar kos met my deel?

* * *

Die gedagte het gekom toe ek gedink het aan dinge wat ek oor die volgende paar dae moet doen vir een van my bronne van inkomste – ’n vryskutdiens wat ek lewer aan ’n paar kliënte. Ek het gedink hoe ek bereid is om te doen wat nodig is om die besigheid aan die gang te hou, solank ek nie op ’n straathoek hoef te gaan staan om enige iets te verkoop nie.

Ek het ook gedink aan iets anders wat ek ’n tyd gelede geskryf het – dat ek enige ambisies om my eie besigheid te begin of te bestuur genadeloos moet vergruis. Hoekom? Ek was van opinie dat ek nie myself 100% daaraan sal kan toewy nie.

Natuurlik is daar ander mense wat beskou word as suksesvolle besigheidsmense of entrepreneurs wat sukkel met dieselfde dinge as ek. Hoekom is húlle dan suksesvol? Hoekom kom hulle weg daarmee en ek nie? Ek reken die antwoord is nie te ingewikkeld nie: hulle neem mense in diens, of werk andersins saam met mense wat die dinge doen wat hulle nie kán of wil doen nie.

Dit is dus nie ’n geval dat ek nie in staat is om ’n suksesvolle entrepreneur te wees nie; ek werk net nie saam met die regte mense nie … of eerder, ek probeer steeds om alles self doen.

* * *

Ek wonder gereeld wat ek sal kan uitrig as ek voltyds moet skryf eerder as om ’n halfdosyn inkomstebronne aan die gang te probeer hou. Dis natuurlik ’n ope vraag. Dalk sal al die oefening in woordkuns lei tot ’n paar kortverhale of artikels wat deur meer as tien mense gelees sal word, en – wie weet? – ek mag dalk genoeg geld maak om ’n nuwe fiets te kan koop. Of dalk sal ek na ’n jaar of twee met honger oë opnuut kyk na dinge wat ek voorheen beskou het as benede my.

Daar is immers niks soos hongerte en vernedering om ’n mens te laat vergeet van boheemse drome nie.

______________________

Nog ’n paar belangrike dinge vir die rekord

VRYDAG 11 MAART 2016

(1)

Om te oorleef, en om dan die lewe vir myself die moeite werd te maak

(2)

Om ten minste een ander persoon te help om ook te oorleef en ook te ervaar dat die lewe vir hulle die moeite werd is

(3)

Om myself as persoon te verbeter, asook my vaardighede en talente, en sodoende enige potensiaal wat ek het soveel as moontlik te vervul

(4)

Om te skryf, en te publiseer wat ek skryf en tot dusver geskryf het

(5)

Om meer geld te maak, en uiteindelik ’n posisie te bereik waar ek oor voldoende opgegaarde en geïnvesteerde kapitaal beskik sodat ek my nie meer oor geld hoef te bekommer nie

______________________

Tyd is nie jou maat nie

DINSDAG 9 FEBRUARIE 2016

’n Ou man dink oor sy lewe, en wat hy sien, is ’n 25-jarige man. Dan kyk hy in die spieël, en ’n 70-jarige toppie kyk terug na hom.

“Wie de hel is jy, en wat het jy met my gemaak?” vra die ou man in die rigting van die spieël.

“Jammer, ou vriend,” antwoord sy weerkaatsing. “Tyd is niemand se maat nie.”

“The old cobbler” – Francisco Domingo Marqués (1842–1920)

______________________

Om te weet hoe om te verkoop

WOENSDAG 13 JANUARIE 2016

Ek het die laaste paar dae gelees deur notas van 2010. Een ding wat duidelik geblyk het in elke tweede nota, was dat ek baie hard probeer het om dinge te verkoop daai jaar – produkte, dienste, enige iets wat ek gedink of geglo het ’n spesifieke mark benodig. Dat ek grootliks misluk het, is deel van ’n minder opwindende deel van my persoonlike geskiedenis.

Ek wonder toe gisteraand wat ek nou sou doen as ek moes probeer om iets te verkoop, siende dat ek ’n bietjie meer hulpbronne tot my beskikking het.

Ek kon nie sê wat ek sou doen nie.

Die gedagte stoot toe op dat “selling” dalk eenvoudig nie almal se koppie tee is nie.

Kom die teenargument: Wat is “selling”? Is dit nie maar net om iemand te probeer oortuig van iets nie?

Dink ek: daar is ’n fundamentele verskil tussen om iets te probeer verkoop aan iemand en om iemand van iets te probeer oortuig. Wanneer jy iets aan iemand probeer verkoop, verwag jy dat daai persoon geld moet spandeer wat jy en hy wéét tot jou voordeel sal strek.

Ek besef toe ook dat ek nie ’n probleem het daarmee om iemand te probeer oortuig van iets nie. Ek het ook nie juis ’n probleem daarmee om vir iemand te sê dat iets nie verniet is nie. Om oor geld te praat, veral as iemand vir my moet geld gee, is beslis nie my gunsteling onderwerp nie, maar ek kan omsien na besigheid. Die probleem is, om iemand te probeer oortuig om iets by my te koop, voel vir my soos ’n vorm van bedel. En as dit kom by bedel, skop my trots in. Ek slaan eerder dood neer op die plek.

Ek gaan dus eerder dood as om iemand te probeer oortuig om iets by my te koop, as ek die storie tot sy dramatiese konklusie moet voer.

Daar is natuurlik situasies waar ek nie die begeerte sal voel om onmiddellik selfmoord te pleeg eerder as om ’n kliënt van diens te voorsien nie. As ek byvoorbeeld in ’n hoedwinkel werk en ’n bles ou kom ingestap en vra vir ’n goeie pet, sal ek hom ’n paar pette wys. Kans is dalk dat hy ’n voorkeur vertoon vir ’n spesifieke pet, wat hy erken effens buite sy begroting is. In hierdie situasie kan ek insien dat dit nie vir my te moeilik sal wees om hom te probeer oortuig daarvan dat die duurder pet inderdaad die een is wat hy ten sterkste moet oorweeg nie. Ek kan hom wys op die hoër kwaliteit, die vorm, hoe goed dit op sy kop pas, en dies meer.

Verskil is, hy wil klaar ’n pet koop. Hy het immers in my winkel ingestap. Hy het vir mý gevra vir ’n pet. Ons albei weet ek gaan ’n bietjie breër glimlag as hy die duurder pet koop, maar daar’s geen kans dat ek gaan voel ek bedel nie. Ek doen hom ’n guns. En hy weet hy sal my ’n guns doen deur meer geld te spandeer. Maar ons albei sal gelukkig wees met die transaksie.

Ek vermoed sterk dat my probleem “cold selling” is – om iemand tromp-op te loop op straat en iets aan hom of haar te probeer verkwansel. Of die internet weergawe daarvan waar jy probeer om besoekers aan jou webwerf te oortuig om iets by jou te koop. (Goed en wel, die besoekers mag dalk op jou webwerf wees omdat hulle iets spesifiek soek, maar dit is nie noodwendig wat jy aan hulle probeer verkoop nie.)

Uit die aard van die saak leef miljoene mense ’n volle bestaan uit van geboorte tot dood op hoë ouderdom sonder om soveel as ’n glas water of ’n nuwe paar sokkies aan iemand anders te probeer verkoop. Maar as jy nodig het om dit te doen, of as jy ’n paar items het wat vir jou van geen waarde is nie en waarvan jy graag sal wil afsien teen ’n redelike prys, is dit altyd goed om ’n paar dinge te onthou: Dit is aansienlik makliker om iets aan iemand te verkoop as dit wat jy verkoop ’n probleem oplos vir die ander persoon, of as die diens of item wat hulle by jou koop, iets is wat vir hulle groot plesier of satisfaksie verskaf.

Ek het nooit gedink ek sal in ’n posisie wees om advies aan te bied oor hoe om ’n meer suksesvolle verkoopspersoon te wees nie, maar as jy iets ten duurste geleer het, kan jy dit seker net sowel deel met ander mense.

______________________