Een alternatief om voor ’n trein in te stap

MAANDAG 16 MAART 2015

In mens se affer tye dink jy soms dinge wat bietjie rof is. Dan, wanneer jy weer beter voel, besef jy hoeveel van daai dinge eintlik waar is.

In my geval: In die eerste plek sal ek nooit verwar kan word vir ’n Viking kryger nie. Kan ek myself of my geliefdes beskerm in ’n oomblik van nood? Ek weet nie. Tweedens, ek is amper 44, en hoewel ek nie skuld het nie, maak ek nie veel geld met my paar deeltydse posisies nie. Derde plek, ek het nie kinders nie, en sal heel waarskynlik nooit kinders hê nie. Vier: Ek het onlangs 23 keer “Ja” geantwoord op ’n lys van 27 vrae om vas tel of ek kwalifiseer as ’n Hoogs Sensitiewe Persoon – wat onder andere beteken dat ek meer vatbaar is vir fisiese pyn, en selfs emosioneel geaffekteer kan word deur ’n groot lawaai. (Nie een van die vrae was oor hoogtevrees nie, maar ek kon dit ook nog byvoeg.) Punt vyf: My ouers en my susters dink ek is ’n verlore saak wat deksels gelukkig was om ’n goeie vrou te ontmoet. Ses: Ek sukkel vir jare om geld te maak met allerhande projekte … en sukkel steeds voort.

Wat staan ’n mens te doen? Wat is my opsies?

Een is selfmoord. Get it over and done with. Maak plek vir iemand anders, dalk iemand beter.

Nog ’n moontlikheid is om regtig hard te werk en een na die ander beskouing van jou op sy kop te draai en almal hulle woorde, en hulle opinies, te laat eet. Klink lekker. Kan werk.

’n Ander moontlikheid is om voor te gee dat nie al die slegte dinge wáár is van jou nie, dat jy nie soveel van ’n verloorder is nie. Terwyl jy doelbewus sommige dinge ignoreer, werk jy daaraan om te verbeter wat binne jou vermoëns is om te verbeter.

Moeilik om voor te gee, mag jy dalk sê. Nie maklik om te ignoreer wat vele mense van jou dink of sê nie, mag jy dalk byvoeg.

Dink so daaraan: een alternatief is om voor ’n trein in te stap.

______________________

Jannie ondermyn homself

SATERDAG 14 MAART 2015

12:15

Soos ’n onseker kind wat speelgoed bymekaarmaak, so maak ek projekte bymekaar. En die “kind” weier om sy speelgoed te deel met ’n ander kind, of om daarvan weg te gee, of om sy ma toe te laat om daarvan te verkoop by die kerkbasaar.

“Ek gáán nog daarmee speel!” sal hy uitroep, en sy armpies styf om sy speelgoed vou.

“Wanneer?” sal sy ma vra.

“Vanaand,” sal hy huiwerig antwoord. “Of môre …”

“Jy weet jy gaan nooit daarmee speel nie, Jannie,” sal sy ma weer probeer. “Jy’t te veel speelgoed!”

“Maar, ek het nog gedink …” sal Jannie begin, en homself meer as sy ma probeer oortuig dat hy nog groot planne het om eendag met ál sy speelgoed tegelykertyd te speel.

12:24

My projekte is soos ’n opgeblase burokrasie wat dreig om die staat te ondermyn wat dit veronderstel is om te dien.

______________________

Enkele aangename en onaangename waarhede

VRYDAG 13 MAART 2015

Meeste ondernemings wat aangepak word, misluk.

Meeste beleggings wat gemaak word, betaal nooit ’n dividend nie.

Meeste boeke wat geskryf word, word deur baie min mense gelees.

Meeste webwerwe word weinig besoek.

Meeste nuwe musiek word deur min mense gehoor.

Optimisme en geloof stu jou soms voort, en soms is dit jou ondergang.

Dit moet ook genoem word dat indien jy een onderneming aangepak het en dis suksesvol, is die waarskynlikheid beter dat jou volgende onderneming ook suksesvol sal wees.

As jy een belegging gemaak het wat wins oplewer, is daar ’n goeie kans dat jy hierdie sukses sal herhaal in jou volgende belegging.

As jy een boek geskryf het wat gelees word deur ten minste ’n paar honderd mense, is die waarskynlikheid goed dat jou volgende boek ook deur ten minste ’n paar honderd mense gelees sal word.

As jy een webwerf ontwikkel wat gereeld besoekers kry, is die kans goed dat jou volgende webwerf ook besoek sal word.

As jy ’n paar van jou eie liedjies beskikbaar stel en ’n duisend mense luister daarna, is die kans goed dat hierdie mense ook na die volgende snit sal luister wat jy uitreik, en dalk vir ander mense sal vertel daarvan.

Sukses, soos die spreekwoord sê, verwek immers meer sukses, en as jy min het van enige iets, sal jy waarskynlik in die toekoms nog minder daarvan hê.

______________________

Jy – is ’n vloeibare konsep

WOENSDAG 11 MAART 2015

Ek dink gisteraand hoe dit gewoonlik nie veel vat om weer my belangstelling te prikkel in die konsep van identiteit nie. Een van die dinge wat dit so interessant maak is dat baie mense hul identiteit verabsoluteer – hulle glo wie en wat hulle is, is vasgelê, en dis eenvoudig hoe dit is.

Een voorbeeld is ’n 22-jarige vrou wat in ’n selfoonwinkel werk. Sy dink dalk aan haarself op ’n sekere manier, maar verander haar omgewing, die mense om haar, die ekonomiese behoeftes van die gemeenskap, en binne ’n paar jaar is sy ma van ’n paar kinders en getroud met ’n arm boer wat ’n bestaan probeer maak uit ’n lappie droë grond.

Natuurlik is dit elkeen van ons se eie besigheid om te wonder watse ander rolle of identiteite binne ons sluimer wat dalk nie tans ’n geleentheid het om uit te kom nie. Jy is dalk tans ’n losloper man of vrou in jou dertigs, maar bínne jou skuil ’n hoogs bevoegde ma of pa. Jy sukkel dalk tans in jou beroep, maar binne tien jaar doen jy praatjies oor beroepskeuses en hoe om jou kanse op sukses te verbeter. Of, jy sukkel dalk tans met gesondheidsprobleme of selfs met verslawing, maar binne jou skuil ’n gesondheidskonsultant of fiksheidsinstrukteur.

Identiteit is ’n vloeibare konsep – moenie jouself toesluit voor jou beste identiteit kans gehad het om te ontwikkel nie.

______________________

Leer om geld te maak lank voor jy nodig het om geld te maak

DONDERDAG 5 MAART 2015

As jy enige hoop of ambisie het om geld te maak op die finansiële markte, is dit van allergrootste belang dat jy moet begin leer om dit te doen wanneer jy nié nodig het om geld te maak daaruit nie.

Begin om boeke te lees oor hoe om die markte te interpreteer en hoe om transaksies aan te gaan en begin met oefenlopies ten minste twee of drie jaar voordat jy ’n sent wil maak daaruit. Dit sal desperaatheid en ongeduld as faktore elimineer. Dit sal jou tyd gee om foute te maak en te leer daaruit. Dit sal jou leer hoe om gedissiplineerd te wees en jou emosies te beheer. Jy sal tyd hê om jouself te leer ken as operateur op die markte. Jy sal leer waar jou sterkpunte en jou swakhede lê. En jy sal leer hóé, wanneer en in watter markte om betrokke te raak.

Dieselfde advies geld vir meeste ander maniere om geld te maak onafhanklik van baas en maatskappy – leer hoe om iets te doen lank voor jy nodig het om geld te maak daarmee.

______________________