Saterdag 31 Desember 2022

Ek het besluit om hierdie jaar my eie tradisie te breek en nie ’n jaareinde stukkie te skryf nie.

Gewoonlik voel ek dit nodig om uit te spel dat die jaar wat binne enkele ure verby sal wees, goed was.

Ek voel dit ook nodig om vir die rekord (siende dat dit is wat hierdie hoekie van die wêreldwye informasie-netwerk is: ’n rekord van my bestaan) te sê dat ek hoop die volgende jaar ook goed sal wees.

Omdat ek, sover ek kan onthou, nie in die publiek gekla het oor enige iets hierdie jaar nie, kan ek nie op hierdie laat uur beweer dat die jaar nie goed was nie.

En omdat ek van nature optimisties is, vind ek dit ook onnodig om dit vir die rekord duidelik te maak dat ek optimisties is oor volgende jaar.

Omdat ek dus nie hierdie gewone stellings kan insluit in my stukkie aan die einde van die jaar nie, waaroor anders kan ek woorde tik en minute later publiseer vir mense in Argentinië en Siberië en Alaska en Durbanville om te lees?

Niks.

So, bly positief. Selfs al maak dit nie altyd sin nie. (Behalwe natuurlik as iemand jou wil ontvoer. In daai geval moet jy die ergste verwag en baklei asof jou lewe daarvan afhang.)

______________________

Twee gedagtes oor China en Taiwan

DINSDAG 27 DESEMBER 2022

Ek hoop dat Taiwan sal voortgaan om te wees vreedsaam, welvarend en demokraties. Ek hoop ook dat China sal voortgaan om te wees vreedsaam en welvarend, indien nie demokraties nie.

Ek glo Taiwan moet amptelik erken word vir wat dit die afgelope meer as sewe dekades al is: ’n onafhanklike land. China het nietemin aansprake op Taiwan wat aangespreek moet word. Dit is my oortuiging dat hierdie ’n saak is wat tussen Taiwan en China uitgewerk moet word. Die Verenigde State het in 1945 ’n wettige aanspraak gehad op ’n sitplek aan die China-Taiwan-tafel, en miskien vir ’n geruime tyd daarna, maar daardie tyd is verby.

Die onafhanklikheid van Taiwan of hereniging met China is iets wat tussen hierdie twee lande uitgewerk moet word sonder inmenging van enige iemand anders.

DONDERDAG 29 DESEMBER 2022

Ek dink nie China gaan Taiwan aanval binne die volgende paar jare nie – mits die internasionale situasie min of meer bly soos dit nou is.

Drie redes: 1) ’n Chinese inval is die situasie wat die Amerikaanse Diep Staat en wapenvervaardigers die meeste begeer. Dit sal die Amerikaanse regering se geopolitieke doelwitte dien, en miljarde dollars wins verseker vir die wapenvervaardigers. Die Russiese militêre operasie in die Oekraïne het ook die Amerikaanse Diep Staat se doelwitte gedien, en steeds het Rusland voortgegaan. Hoekom sal China nie dieselfde doen nie? Een rede is omdat Taiwan nie etnies Chinese mense naby die Chinese vasteland maar binne die grense van Taiwan bombardeer en hulle huise verwoes nie. En ten minste vir nou bou NAVO nie basisse in Taiwan nie, en is nie besig met die opleiding van Taiwannese magte vir ’n konflik met China nie [teen Desember 2023 is ’n mens nie meer seker of hierdie stelling korrek is nie]. 2) ’n Chinese inval sal lei tot ernstige steurnisse vir die Chinese ekonomie en burgerlike samelewing. 3) ’n Militêre inval is nie China se enigste opsie om beheer oor Taiwan te kry nie. Omsingeling, blokkasies, en ekonomiese sanksies kan moontlik voldoende druk plaas op die Taiwannese regering om te minste Chinese terme vir onderhandeling te oorweeg.

______________________

Almal kan beter doen

MAANDAG 19 DESEMBER 2022

Almal het die vermoë om ten minste een miljoen Amerikaanse dollar per jaar te verdien op etiese en wettige maniere. Dit geld soveel te meer as jy in ’n ontwikkelde, geïndustrialiseerde land woon, en jy het ten minste ’n hoërskool diploma.

Indien jy nie ten minste een miljoen dollar per jaar verdien op etiese en wettige maniere nie, werk jy nie hard of slim genoeg nie.

Natuurlik het almal verskonings, maar die feit van die saak is, vir elke verskoning wat jy maak, kan iemand opstaan uit die skare en sê dat hulle in ’n soortgelyke situasie as jy was – of selfs erger, met minder hulpbronne tot hulle beskikking – en húlle was in staat daartoe om daai tipe inkomste te bewerkstellig. (En, terloops, dit was ook nie deur die lotery te wen nie; ons praat van gereelde jaarlikse inkomste.)

Indien jy, soos meeste mense, nie ten minste een miljoen Amerikaanse dollar per jaar verdien nie, het jy geen voete om op te staan en iemand anders te kritiseer wat dit óók nie doen nie. Net omdat jy dubbel, of trippel, of tien keer meer geld maak as jou buurman, of jou broer, of jou niggie, beteken nie jy het lisensie om hom of haar te kritiseer vir hulle mislukking om meer geld te maak nie. Jy misluk dan self immers elke jaar daarin om die inkomste te verdien waartoe jy in staat is!

______________________

Waar ek myself bevind op die kaart van idees

VRYDAG 13 DESEMBER 2022

[Resultaat van my ondersoek: Ek assosieer sterk met aspekte van Libertynisme, Konserwatisme, én Liberalisme. Verdere ondersoek maak dit duidelik dat ek ’n politieke sentris is, en myself gemaklik kan beskryf as ’n ondersteuner van positiewe nihilisme. In terme van godsdienstige oortuigings weet ek al vir jare dat ek myself mees akkuraat kan beskryf as ’n ignostikus.]

* * *

Met die obsessie in veral die Weste met identiteit en etikette, en groepe en ideologiese stamme, het ek gedink dit sal ’n handige oefening wees om te kyk na ’n kaart van idees, en my vlaggie as’t ware êrens in te druk om te sê: “Dis waar ek myself bevind.”

Ek begin met politiek. ’n Bietjie navorsing het bevestig dat ek nie lojaal is aan enige ideologie of politieke groepering nie. My waardes stem wel ooreen met beginsels tipies van sekere ideologieë, solank ’n mens in ag neem dat politieke filosofieë oor die algemeen breed is, en dat daar heelwat debat is oor wat Konserwatief of Liberaal is, of wat Links of Regs beteken teen die derde dekade van die een-en-twintigste eeu.

Ek is Konserwatief in die sin dat ek glo in die waarde van tradisionele sosiale instellings soos familie, huwelik, en opvoedkundige instellings wat jongmense leer hoe om te dink. Ek is ook Konserwatief omdat ek glo in minimale ingryping van die regering in die ekonomie, en omdat ek glo in persoonlike verantwoordelikheid, en vrye mark kapitalisme. Ek is gekant teen vinnige verandering in die samelewing – rewolusies in Frankryk in die agtiende eeu, rewolusies in Rusland in die twintigste eeu, en ander voorbeelde van vinnige verandering maak dit duidelik dat hervorming waarskynlik sal lei tot minder vernietiging van lewens en eiendom. Verder glo ek in die reg van elke land om homself te kan verdedig teen vyandelike aksie van ’n ander staat, maar ek is gekant teen oorlog ver van jou eie grense af ter uitvoering van een of ander beleid uitgedink agter geslote deure. Patriotisme en godsdiens speel ook albei ’n belangrike rol in die skepping van ’n stabiele samelewing, solank dit heeltemal aanvaarbaar is as jy nie patrioties of godsdienstig is nie.

Omdat ek glo dat persoonlike vryheid en gelykheid voor die Reg belangrike doelwitte van die samelewing is, omdat ek glo die regering behoort ’n rol te speel in die beskerming van hierdie waardes, en selfs in die bevordering van die algemene welsyn van die burgers van ’n staat, kan ek ook beskou word as ’n ondersteuner van Liberalisme – tot ’n mate.

Omdat ek egter verder gaan as tradisionele Liberalisme en reken dat individue vry moet wees om te kan doen soos hulle wil solank dit niemand anders benadeel nie, en omdat ek glo regerings moet op ’n kort halsband gehou word wat betref ingryping in die ekonomie en persoonlike gedrag, kan ek ook gesien word as ’n Libertyn – of ’n ondersteuner van sekere beginsels van Libertarisme. (Terloops, Klassieke Liberalisme word gesien as die voorouer van hedendaagse Libertarisme.)

Ek kon ook bevestig dat ek nie ’n Sosialis is nie, omdat ek nie glo dat produksiemiddele soos fabrieke en grond gesamentlik deur die gemeenskap besit en beheer moet word nie. Ek ondersteun ook nie die skepping van ’n beplande ekonomie, waardeur die regering die verspreiding van hulpbronne en dienste bestuur nie. Soos ek reeds genoem het, glo ek ook nie, soos Sosialiste, dat die regering ’n sterk rol moet speel in die voorsiening van die behoeftes van die burgers van die staat nie.

Soos ek dit verstaan, kan ek ook nie myself vereenselwig met die Sosiaal-Demokrate nie, hoewel die idee van ’n welsynstaat waar die regering voorsiening maak vir die basiese behoeftes van sy burgers, soos gesondheidsorg, onderwys, en maatskaplike sekuriteit, aangenaam genoeg klink. Probleem is, kan jy as individu werklik vry wees as jy afhanklik is van die staat vir jou basiese sorg? Hoe maklik is dit vir die staat om sekere dienste en hulpbronne te weerhou omdat jy te veel protesteer oor een of ander regeringsbeleid, of te veel kritiek uitspreek oor een of ander regeringsamptenaar? Hoeveel ruimte word voorsien vir individuele vryheid en persoonlike verantwoordelikheid? Eerlike vraag. Die ding is ook, soveel as wat ek aanspraak wil maak op maksimum individuele vryheid vir myself, moet ek toegee dat nie almal ewe bevoeg is om na hulle eie welsyn om te sien nie.

In terme van politieke stelsels, reken ek die ideaal is ’n liberale demokrasie, waar die regering verkies word in gereelde, vrye, en regverdige verkiesings, en waar basiese regte en vryhede gewaarborg word.

Gepraat van regte en vryhede: Jy dink maklik enige ordentlike mens sal ’n voorstander wees van menseregte, maar daar is ’n verskil tussen positiewe en negatiewe regte. Negatiewe regte verbied ander mense of die regering om bepaalde aksies te neem teen die houer van regte. Hierdie regte sluit in die reg op lewe, vryheid, en eiendom, en die verbod op slawerny en marteling. Hierdie regte word “negatief” genoem omdat dit van ander mense of die staat vereis om hulleself te weerhou daarvan om sekere dinge te doen eerder as om sekere aksies te neem. Positiewe regte, aan die ander kant, voorsien aan die houer van regte ’n eis teen ’n ander persoon of die staat vir goedere, dienste, of spesifieke behandeling. Dit vereis dat ander mense of die staat aktief stappe moet neem om bepaalde dinge te voorsien – derhalwe word dit “positiewe” regte genoem. Hierdie regte sluit in die reg op opvoeding, gesondheidsorg, en ’n redelike loon vir arbeid.

Watse tipe regte ondersteun ek? Ek het altyd gereken dit klink edel en welwillend dat almal ’n reg het op ’n behoorlike opvoeding, gesondheidsorg, en ander goeie dinge. Die vraag is, hoeveel sal dit kos om al hierdie positiewe regte af te dwing, en wie betaal daarvoor? Wie word aangestel in invloedryke posisies oor ander mense en wie word in beheer geplaas van enorme hoeveelhede geld om hierdie ideale te vervul?

’n Bespreking van die bestuur van die samelewing sal nie volledig wees sonder ’n oorsigtelike kyk na Anargisme nie. Veral in die negentiende en die begin van die twintigste eeu het anargiste hulle beywer vir die afskaffing van regering en die skepping van ’n samelewing gebaseer op vrywillige samewerking en wedersydse hulp. Anargiste glo dat regering en ander vorme van gesag onnodig en onderdrukkend is, en dat individue en gemeenskappe vry moet wees om hul eie besluite te neem en hulself te organiseer sonder inmenging. Die idee was nog altyd vir my aantreklik, maar ek glo dit kan slegs werk as die samelewing bestaan het uit miljoene klein gemeenskappe – met waarskynlik niks meer ’n paar honderd lede nie, en geen sentrale of nasionale regering nie. Dit beteken die wêreld soos ons dit vandag ken met nasies en nasionale geskiedenisse en simbole sal iets van die verlede wees. Kan dit werk as ons van voor af begin – as ’n komeet weer die Aarde tref en die oorlewendes na ’n paar weke uit hulle skuilplekke kruip om van die grond af weer ’n samelewing op te bou? Moontlik dan.

Meer werkbaar is die idee van politieke sentrisme – ’n ideologie met ondersteuners wat reken dat die beste benadering tot die oplossing van sosiale en ekonomiese kwessies is om ’n balans te vind tussen links en regs. Politiek sentriste ondersteun oor die algemeen ’n gematigde, pragmatiese benadering tot bestuur, met ’n fokus op die vind van gemeenskaplike grond en kompromieë om die beste moontlike resultaat te bereik. ’n Gebalanseerde benadering tot die ekonomie word dikwels bepleit, met ’n mengsel van regeringsregulering en vryemarkbeginsels. Ondersteuners van politieke sentrisme glo tipies in individuele vryheid, die beskerming van menseregte, en die oppergesag van die reg.

In terme van lewensfilosofie, of begrip van, en uitkyk op, die lewe, assosieer ek myself redelik gemaklik met positiewe nihilisme.

Positiewe nihilisme erken die inherente betekenisloosheid van die lewe, maar in plaas daarvan om in wanhoop te verval of berusting te vind in hierdie stand van sake, poog positiewe nihiliste om hul eie betekenis en waarde in die lewe te skep. Dit word gesê dat positiewe nihilisme die verwerping behels van tradisionele bronne van betekenis en waarde, soos gevestigde godsdiens en samelewingsnorme, en dat dit dikwels geassosieer word met ’n fokus op persoonlike vryheid en outonomie, sowel as ’n verwerping van dogmatiese oortuigings. Die kern van die saak – vir my: Die lewe is dalk inherent betekenisloos, maar dis geen verskoning om jou tyd op Aarde te mors en geen waarde te skep in jou eie lewe en die lewens van ander mense nie.

Vra jy oor godsdiens en geloof, is my posisie tussen dié van die teïs – wat aanvoer dat God bestaan, en die ateïs – wat aanvoer dat God nie bestaan nie. Ignostisisme word beskryf as ’n filosofiese standpunt wat van mening is dat die konsep van “God” so swak gedefinieer en vaag is dat dit onmoontlik is om te sê of God bestaan of nie, en dat rasionele ondersoek of debat derhalwe nie moontlik is nie. As sodanig neem ignostici nie standpunt in oor die bestaan of nie-bestaan van God nie. Ignostisisme word dikwels gesien as ’n vorm van agnostisisme, aangesien beide filosofieë die moontlikheid verwerp om te weet of God bestaan of nie. Die verskil is dat agnostici glo dat die bestaan van God onkenbaar is, terwyl ignostici, soos reeds genoem, argumenteer dat die konsep van “God” self te vaag en swak gedefinieer is om die vraag verder te kan vat.

Nog ’n vraagstuk wat die laaste dekade of so opgewarm het tot koorsagtige temperatuur, is dié van transgenderism, en spesifiek die vraag van hoe om “man” en “vrou” te definieer. Wat dit aanbetref, glo ek die volgende:

1. Daar is twee geslagte, manlik en vroulik. Primêre verskille sluit in chromosome en voortplantingselle – een geslag se liggame het die vermoë om groot voortplantingselle (eierselle) te produseer, en een geslag se liggame het die vermoë om klein voortplantingselle (spermselle) te produseer.

2. Geslag word nie blindweg toegeskryf aan babas na geboorte nie, maar waargeneem in die geslagsorgane.

3. Geen kind of volwassene word gebore in die verkeerde liggaam nie – ’n “fout” wat dan “reggestel” moet word, so glo sommige mense, met puberteit-blokkers, hormoonbehandeling en operasies.

4. In vrye, liberale demokrasieë is die uitdrukking van jou persoonlikheid nie beperk tot gender stereotipe nie. Voorbeelde wat gereeld genoem word, sluit in dat meisies kort hare kan verkies en kan boomklim sonder om te identifiseer as seuns, en seuns kan hou van popspeel sonder om te identifiseer as meisies. Volwasse vrouens kan hou van motorfietse regmaak en hulle spiere bou, en mans kan grimering dra en met ’n hoë stem praat, sonder dat die man of die vrou hoef te identifiseer as die ander geslag.

Laastens, in terme van oorsprong van die heelal en lewe op Aarde, is my kop oop vir drie moontlikhede:

Eerste moontlikheid: Reuse ontploffing miljarde jare gelede wat uiteindelik gelei het tot die vorming van planete en sterre, en die ontwikkeling van lewe op ten minste ons planeet, maar waarskynlik ook op ander planete.

Tweede moontlikheid: Soos in die eerste moontlikheid, maar wesens van die buitenste ruim het op ’n stadium Aarde besoek het en van hulle tegnologiese kennis met Aardbewoners gedeel.

Derde moontlikheid: Die realiteit wat ons waarneem met ons sintuie is ’n rekenaar-simulasie geskep deur ’n hoogs-ontwikkelde samelewing of wesens wat buite die simulasie bestaan.

As ’n nie-wetenskaplike, moet ek sê dat die waarskynlikheid groter is dat die eerste moontlikheid korrek is, maar wie weet?

Dit is dan, in genoeg detail maar steeds redelik breed geskets, waar ek myself tans bevind op die wye landskap van oortuigings en politieke affiliasies.

______________________

’n Oplossing vir die Taiwan vraagstuk

Agtergrond

Die pro-Taiwan-onafhanklikheid argument:

1. Volgens die VN-handves het alle nasies ’n reg op selfbeskikking. Die bevolking van Taiwan verteenwoordig ’n nasie anders as dié van Kontinentale China – ander geskiedenis, en verskillende waardes. Die feit dat Taiwan en China dieselfde etniese groep deel, maak nie saak nie – Kanada en die Verenigde State, Nieu-Seeland en Australië, Duitsland en Oostenryk, is almal gevalle van lande waar groot dele van die bevolkings op ’n stadium gemeenskaplike wortels gedeel het, of steeds deel.

2. Die Qing-regering het Taiwan en ander eilande afgestaan aan Japan in 1895. Na die Tweede Wêreldoorlog het Japan hul aanspraak op Taiwan opgegee, maar het nie gespesifiseer aan wie Taiwan behoort, of wie die administrasie moes oorneem nie.

3. Die Volksrepubliek van China (VRC) het nog nooit Taiwan beheer nie.

4. Die VRC was nie ’n ondertekenaar van die Verdrag van Taipei in 1952 nie.

Die argument vir hereniging met China:

1. Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Qing-regering, sowel as van die KMT-regering wat China tot 1949 regeer het, en het beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was.

2. Ja, die Qing-regering het Taiwan gesedeer, maar die Verdrag van Taipei in 1952 het alle vorige verdrae wat deur Imperiale Japan onderteken is met betrekking tot China, tot niet gemaak, insluitende die 1895-verdrag van Sjimonoseki.

3. Ja, Taiwan geniet al de facto onafhanklikheid vir sewe dekades, maar die VRC het dit sover geduld ter wille van vrede solank geen de jure onafhanklikheid verklaar word nie.

4. Ja, die VRC was nie ’n ondertekenaar van die Verdrag van Taipei in 1952 nie, maar sedertdien het die Republiek van China opgehou om die wettige regering van China te wees, en word deur meeste lande in die wêreld nie meer erken as die wettige regering van China nie. Sien punt #1.

* * *

Ek het vorendag gekom met ’n oplossing vir die Taiwan vraagstuk wat almal redelik gelukkig behoort te maak, behalwe miskien die wapenvervaardigers en die aggressiewe faksie van die Diep Staat in Amerika.

Die oplossing is soos volg:

Taiwan en China kom ooreen om vir ’n periode van tien jaar nouer ekonomiese en ander bande te smee – dinge soos om toergroepe weer toe te laat, uitruilstudente, samewerking op akademiese en ander wetenskaplike gebiede, musiek- en toneelgroepe van beide kant van die Straat van Taiwan wat opvoerings aan die ander kant hou.

Dan, die groot ding: Na tien jaar word daar ’n referendum gehou in Taiwan met twee opsies: hereniging met China, of onafhanklikheid.

Taiwannese wal hulleself bearbei vir onafhanklikheid sal tien jaar hê om die bevolking te oortuig dat onafhanklikheid, en losser bande met China, die beste opsie is vir Taiwan.

China sal ook tien jaar hê om te belê in Taiwan, en met die spreekwoordelike wortel die Taiwannese bevolking te bearbei vir die idee van hereniging.

Daar behoort ’n opbloei te wees van samewerking op wetenskaplike, mediese, tegnologiese, en kulturele gebiede. Klein besigheidseienaars en groot maatskappye sal almal geld maak. Nuwe ekonomiese geleenthede sal goed wees vir werkers in China én Taiwan.

As dinge reg loop vir die pro-hereniging faksie, sal Taiwannese nie bereid wees om al die voordele op te gee wat hulle in die voorafgaande dekade geakkumuleer het nie. Meer as 51% van die volwasse bevolking sal stem dat Taiwan ’n provinsie word van China met sekere spesiale voordele, soos ’n eie vlag (wat saam met die vlag van die Volksrepubliek sal hang), asook ’n eie monetêre eenheid.

Aan die ander kant, as dinge reg loop vir die pro-onafhanklikheid faksie, kan Taiwan haar de jure onafhanklikheid kry na amper ’n honderd jaar, minus natuurlik sekere voordele wat opgebou het in die voorafgaande tien jaar.

Probleem is om China te oortuig om die moontlikheid te aanvaar dat die meerderheid Taiwannese onafhanklikheid sal kies. Die vraag kan ook gevra word watse waarborg Taiwan sal hê dat China nie tog sal voortgaan om te probeer om Taiwan met geweld in te lyf as die meerderheid Taiwannese hereniging verwerp nie. Sal Amerika vir tien jaar op die kantlyn staan net om skielik dan weer Taiwan se vriend te wees?

Indien die meerderheid Taiwannese volwassenes na tien jaar besluit dat dit meer voordelig sal wees om weer by die Moederland aan te sluit, is die saak gesluit vir Taiwannese onafhanklikheid. Hulle het dan ’n geleentheid gekry om hulle saak te stel, en die mense het anders besluit.

Dit geld ook vir die ander kant. As China vir tien jaar vir Taiwan ’n idee kon gee van die voordele van ’n nouer verhouding, maar die meerderheid Taiwannese kies steeds om hulle onafhanklike staat te hê – wat hulle in elk geval vir amper ’n honderd jaar reeds in die praktyk sou geniet het, dan moet China eenvoudig opgee op die idee van hereniging. Vra maar vir Duitsland, Pole, Rusland, Oekraine, Meksiko, Frankryk, Spanje, Portugal, Indonesië, Serwië, en Brittanje wat al almal grondgebied moes afstaan. Almal het dit oorleef en gefloreer daarna. Dis nie die einde van die wêreld nie.

Vir die proses om te werk, sal reëls neergelê moet word, en waarborge sal gegee moet word. Taiwan en China kan onderhandel oor die reëls, maar wie verseker dat die reëls gevolg word? Wie sal verseker dat waarborge eerbiedig word?

WOENSDAG 9 NOVEMBER 2022

Feit van die saak is dat Taiwan ’n dubbele identiteit het – die anachronistiese identiteit van die Republiek van China, en die de facto maar nie de jure nie identiteit van die Republiek van Taiwan. Slegs tyd sal leer of laasgenoemde uiteindelik eersgenoemde formeel sal vervang, en of albei in ’n golf meegesleur sal word wat sal instroom van die Volksrepubliek van China af.

DINSDAG 6 DESEMBER 2022

Dis nie moeilik om te sien dat China die party is met die meeste om te verloor nie. Soos dinge nou staan, is Taiwan in praktiese terme onafhanklik, maar daar is ’n moontlikheid dat China beheer kan terugkry oor die eiland. Indien so ’n referendum teen hereniging gaan, verloor China, en dalk een-vyfde van Taiwannese wat die idee van hereniging steun.

Indien die nommers van die begin af teen Beijing is, hoekom sal hulle deelneem aan so ’n oefening in demokrasie, en onderneem om die resultate te aanvaar?

Sal dit werk as Taiwan bereid is om ’n prys te betaal vir formele onafhanklikheid?

In die Seestraat van Taiwan, tussen die Chinese kus en Taiwan, lê ’n paar stukke waardevolle eiendom. Ongeveer 10 kilometer oos van die Chinese stad van Xiamen, en meer as 180 kilometer van die eiland van Taiwan, lê die groep eilande bekend as Jinmen (onderste rooi pyltjie). Die Matsu-eilandgroep (boonste rooi pyltjie) is omtrent 190 kilometer van Taipei, en omtrent 20 kilometer van die Chinese kus. Die Penghu-eilande (blou pyltjie) is net 50 kilometer weg van Taiwan, en 150 kilometer oos van die Chinese vasteland. Sou die regering in Taipei bereid wees om hierdie eilandgroepe prys te gee om formele onafhanklikheid te kry vir Taiwan, en ander kleiner eilande aan haar wes en ooskus? Sal Taiwan verder onderneem om geen Amerikaanse of NAVO basisse te huisves nie? (Hulle sal natuurlik vry wees om verdedigende alliansies te smee met Japan en die Filippyne.)

Of – en ons speel net rond met moontlikhede hier – Taipei behou die eilande in die Straat van Taiwan, maar Beijing neem beheer oor van twee eilande aan die ooskus van Taiwan, naamlik Green Island en Orchid Island (onderskeidelik boonste en onderste groen pyltjies).

Nog ’n moontlikheid: Taiwan gee beheer op oor die twee eilande in die Filippynse See en die twee eilandgroepe naaste aan die Chinese kus, maar behou beheer oor die Penghu-eilandgroep. Sodoende kry China kosbare stukke grond waar hulle in meer as honderd jaar nie grond gehad het nie, maar hulle verloor enige moontlikheid om beheer oor Taiwan te bekom; en Taiwan verloor ’n graad van sekuriteit, maar kry hulle formele onafhanklikheid, en al die voordele wat daarmee saamgaan. Sal die Taiwannese publiek ten gunste wees van so ’n skikking? Sal die regering in Beijing dit aanvaarbaar vind?

Wat ook al die detail, dit kom daarop neer dat Taiwan sal betaal vir ’n referendum wat waarskynlik sal eindig in formele onafhanklikheid, deur verskeie strategies waardevolle stukke grond, en daarmee saam ’n graad van sekuriteit, op te gee.

______________________