Want as jy aanhou probeer, hou jy aan om ’n sein uit te stuur: “Ek is steeds hier.”
Hoe anders sal geluk jou vind?
(Gedagtes die afgelope tyd oor die rol van geluk, en aanhou probeer versus opgee; verskeie sosiale en ander media berigte van mense wat miljoene gewen het met loterye – en jy kan nie gelukkig wees as jy nie die kaartjie gekoop het nie; ’n video-greep op Twitter van iemand wie se valskerm nie gewerk het nie – hy val grond toe, hou aan om te ruk en pluk aan toue en uiteindelik sny hy iets los en sy noodvalskerm maak oop om sy spoed te breek sekondes voor hy die grond tref; ook ’n video-greep van ’n groep mans wat vir dae lank gestrand was op ’n klein eiland (meer gelyk soos ’n sandbank), met die een ou wat aangehou het om ’n groot groen vlag te waai selfs nadat reddingspersoneel in ’n helikopter hulle gesien het.)
11:24
“Hoekom nog probeer? Dit gaan in elk geval nie werk nie …”
Hoesê? Hoekom gebruik jy dit as ’n maatstaf? Dit gaan nie soseer oor werk nie. Dit gaan oor sein uitstuur!
“Baie mense is suksesvol omdat hulle gelukkig was – regte dinge het gebeur op die regte tye, en so aan, sonder dat hulleself veel gedoen het. Oftewel, ander mense het soortgelyke dinge gedoen, of net so hard gewerk, maar die tyd was verkeerd, of die sterre het net nie op daai oomblik reg gelê nie.”
Kom ons sê jy’s reg.
Maar hoe gaan geluk jou vind as jy nie speel nie? Hoe gaan jy gelukkig wees – tyd is reg, sterre is reg – as jy nie op daai oomblik aktief is nie?
VRYDAG 5 AUGUSTUS 2022
Nie net geluk in die algemene sin van die woord nie.
Dalk voel jy asof jy nie soseer ’n ongelukkige persoon is nie, maar in liefde het die groot geluk jou nog nie getref nie.
Dus: As jy ophou seine uitstuur, hoe gaan liefde jou vind?
Of dalk het liefde jou gevind, maar jy kan definitief doen met meer geld.
Selfde storie: As jy ophou seine uitstuur, hoe gaan geld jou vind?
Was die Suid-Afrikaanse regeringsbeleid bekend as Apartheid ’n euwel, soos vele mense reken dit was?
Die idee van aparte ontwikkeling, dat Zoeloes hulle eie grondgebied het wat vir hulle historiese waarde het, met hulle eie regering wat besluite neem oor sake wat vir Zoeloes belangrik is, of wat probleme oplos op wyses wat strook met die waardes waarmee meeste Zoeloes vereenselwig, met Zoeloe kulturele organisasies en skole en universiteite, en dan dieselfde vir Xhosas en Sotho’s en so meer, is óf ’n werkbare idee, óf nie realisties in ag genome die realiteite van die Suid-Afrikaanse ekonomie en breë samelewing nie.
Maar is dit ’n euwel idee? Ek reken, nee.
Die boosheid het die verhaal betree met hoe die beleid in die praktyk uitgevoer is, die wyse waarop die Nasionale Party-regering op weerstand teen hul beleid gereageer het, en die diepgesetelde vooroordele wat as die grondslag van die ideologie gedien het.
Die beleid geïmplementeer deur die regering het uiteindelik ingesluit die geforseerde verwydering van gemeenskappe uit woonbuurte waar mense van verskillende rasse al vir dekades saamgewoon het; die afdwing van identifikasiedokumente wat slegs swart volwassenes op hulle persoon moes dra, waarsonder hulle in hegtenis geneem kon word; wette wat swart mense verbied het om stedelike areas binne te gaan tensy hulle kon bewys dat hulle werksaam was in die area; ’n verbod op huwelike tussen lede van verskillende bevolkingsgroepe; ’n beperking op waar swart entrepreneurs besighede kon oopmaak; en die segregasie van publieke areas en fasiliteite, publieke vervoer, asook skole en universiteite, met die gevolg dat swart Suid-Afrikaners oor die algemeen ’n aansienlik laer kwaliteit van lewe ervaar het as wit Suid-Afrikaners.
Hoe het die regering gereageer op teenstand teen hulle beleid? Hulle het gereageer met dodelike geweld teen protesaksies, die leiers van die weerstand in die tronk gegooi, en burgerregte organisasies verban.
Die ergste van die apartheidsregering se dade was egter om ’n tipe sielkunde en ’n tipe filosofie toe te pas wat aan die volwasse swart bevolking gesê het: Jy is minder mens omdat jy swart is. Jy is minder werd as die wit man en vrou aan die ander kant van die stad wat net so oud soos jy is, net so slim (of dom) soos jy is, wat ook lief is vir sy of haar kinders. Jy’s minder werd as die wit mense, omdat jy swart is. Opvoeding in skole het dit ook duidelik gemaak aan swart kinders dat hulle voorland nie was as ingenieurs en tandartse en argitekte nie, maar hoofsaaklik as arbeiders en diensknegte van wit mense. Hendrik Verwoerd, Minister van Naturellesake van 1954 tot 1958 en later Eerste Minister van Suid-Afrika, het gesê oor die opvoeding van swart kinders: “[D]aar [is] nie plek vir die Bantoe in die Europese samelewing bokant die vlak van sekere vorms van arbeid nie. Wat is die nut daarvan om vir die Bantoekind wiskunde te leer as dit nie in die praktyk gebruik kan word nie?”
Nie net is swart kinders afgeskeep in hulle formele opvoeding nie, volwasse swart mans en vrouens is ook sistematies herinner aan hulle tweedeklas status in die Suid-Afrikaanse samelewing. Jong wit polisiekonstabels kon middeljarige swart mans en vrouens in die straat stop en eis om hulle “papiere” te sien. Swart kinders is Afrikaanse of Engelse name gegee wat makliker was om uit te spreek vir wit mense, en as die volwasse swart werker nie ’n Afrikaanse of Engelse naam gehad het nie, is hy of sy een gegee. Wit mans moes aangespreek word as “Baas”, selfs al het die swart man of vrou nie vir die wit man gewerk nie. Tot so onlangs as die laat negentien-tagtigs is swart mans en vrouens nie toegelaat om publieke vervoer te gebruik wat vir blankes bedoel was nie, of is slegs toegelaat om derdeklas sitplekke te gebruik.
Al hierdie maatreëls is toegepas om die idee te verskans dat die wit persoon die meester is en die swart persoon die dienskneg. Toe swart intellektuele soos Steve Biko vanaf die sestigerjare die idee wou promoveer van Swart Trots, toe hulle die idee wou populariseer dat ’n volwasse swart man en vrou hulle koppe moes oplig en moes aandring op waardige behandeling – dat hulle inderdaad moes glo dat hulle die eweknie was van hulle sogenaamde wit meesters, is hierdie leiers wreedaardig onderdruk. Steve Biko self is eers geïntimideer, toe gearresteer, en uiteindelik so erg aangerand dat hy beswyk het aan sy beserings. Sy oortreding? ’n Radikale boodskap aan wit én swart: “[As] a prelude whites must be made to realise that they are only human, not superior. Same with Blacks. They must be made to realise that they are also human, not inferior.” En: “The first step therefore is to make the black man come to himself; to pump back life into his empty shell; to infuse him with pride and dignity, to remind him of his complicity in the crime of allowing himself to be misused and therefore letting evil reign supreme in the country of his birth.”
Dit is op hierdie punt – waar jy die gees wil verguis van iemand omdat hy verskil met jou politieke beleid, om sy wil te breek sodat hy nooit weer sal dink daaraan om op te staan teen jou nie, waar enige redelike mens behoort te besef hy het die grens oorgesteek na die Donker Kant: Welkom in die Land van Lucifer.
Karl Marx se tweede oudste dogter, Jenny Laura Marx, en haar eggenoot, Paul Lafargue, het saam selfmoord gepleeg in 1911. Hulle het die grootste deel van hul volwasse lewens gespandeer aan rewolusionêre werk, onder andere die vertaling van Karl Marx se werke in Frans. Toe sy 66 was en haar man 69, het hulle besluit hulle het niks meer om te gee aan die saak waaraan hulle hul lewens gewy het nie.
Paul Lafargue het in ’n brief onder andere die volgende geskryf ter verduideliking: “Healthy in body and mind, I end my life before pitiless old age which has taken from me my pleasures and joys one after another; and which has been stripping me of my physical and mental powers, can paralyse my energy and break my will, making me a burden to myself and to others. For some years I had promised myself not to live beyond 70; and I fixed the exact year for my departure from life. I prepared the method for the execution of our resolution; it was a hypodermic of cyanide acid.”
Dis verseker ’n onaangename onderwerp. Ou man of vrou reken hulle is nie meer bruikbaar nie, of kan nie meer ’n bydrae maak nie, so verhaas die einde. Sou regerings en maatskappye wat toenemend hoë pensioenuitbetalings moet maak aan mense wat langer en langer leef, entoesiasties wees oor so ’n idee? Wie weet.
Tog dink ek: Stel jouself voor jy is 70 jaar oud. Jy is enkellopend, of ’n weduwee of wewenaar. Jy’t geen kinders of kleinkinders nie. Jy’t ook nie veel van ’n pensioen nie, en jy is nie meer lus om te werk nie.
Dan kom jy te hore van ’n program met ’n naam soos “Dignified Last Journey”.
Voor jy die program se fasiliteit betree vir die laaste kilometer van jou reis, help ’n konsultant jou om jou sake af te handel, jou laaste besittings te verkoop of weg te gee, totsiens te sê aan jou oorblywende vriende of kennisse, en so aan.
Dan breek jou laaste paar dae aan. Jy eet lekker maar gesonde kos – jy wil nie negatiewe gevolge ervaar in jou laaste dae nie. Gemak is die sleutelwoord. Jy begin ook daagliks dosisse morfien kry. Jy slaap lekker, en elke dag langer. Op Dag 7, wanneer jy die laaste inspuiting kry, dink jy nie meer nie. Jy’s in droomland.
Stel jou voor jy’s in jou vroeë dertigs. Jy wil woon – ek herhaal, wil woon – in ten minste dieselfde provinsie as jou familie, sodat jy hulle kan sien een of twee keer per maand, en jy wil in dieselfde stad woon as ten minste ’n halfdosyn ou vriende saam met wie jy gereeld kan kuier. Stel jouself verder voor jy wil wees in ’n ernstige verhouding, met dalk ’n kind of twee. Jy wil wees gevestig in jou werk, met ’n bevredigende sosiale lewe.
Nou stel jouself voor jy bevind jouself in werklikheid in ’n vreemde land aan die ander kant van die aardbol. Jy sien jou familie dalk een keer elke twee jaar. Jy het ’n paar vriende, maar sien hulle min. Jy’s enkellopend, met geen verhouding in die pyplyn nie. Jou werk is nie vervullend nie, en jy herinner jouself gereeld daaraan, of word herinner, dat tyd besig is om uit te loop om jouself in ’n beroep te vestig.
Om dinge te kompliseer, is jy nie vasgevang in ’n situasie waar jy net kan bedank en ’n vliegtuigkaartjie kan bespreek terug huis toe nie. Jy het ’n woonstel vol boeke en meubels en muurbehangsels en ornamente met sentimentele waarde. Jou inkomste is voldoende om goed genoeg te eet en redelik sag te kan slaap, maar jy’t nie genoeg spaargeld om vir te lank te oorleef as jy terug gaan na jou eie land toe nie.
Jy kan natuurlik al die meubels, die muurbehangsels, en ’n paar ornamente agterlaat en terug gaan huis toe, en hoop alles werk uit. Probleem is, jy het presies dit gedoen ’n paar jaar tevore toe jy in ’n soortgelyke situasie was in ’n ander land, en kom ons sê maar net, dit het nie uitgewerk nie.
Wat doen jy?
Jy kan nie huis toe gaan nie, want jy’s klaar by die huis?
Aanvaar dit net, en druk vorentoe?
Wat het ék uiteindelik gedoen?
Om op te pak en weer my geluk te gaan probeer in Suid-Afrika het ek nie voor kans gesien nie. So, ek het my oë op skrefies getrek en aangehou stap.
En geskryf:
sink
almal hardloop weg, die rotte vlug
hy is … soos sy skip wat sink
met plegtige respek kom die salutasie
middelvinger in die lug
trek ’n blokfluit uit sy gatsak
speel ’n doodspsalm, keer
die golwe met sy voorkop
kalm spoel die dieptes
lewe die fontein van oorvloed
manna, kwartels, eilandstiltes
in wysheid byt hy, met vlymskerp tande
in die soet vlees van tweede lewe
so kom maar aan verraaiers!
kruip maar nader spotter-skare!
een vir een sal julle voor die werklikheid moet staan
en as julle oë dit nie kan sien, en julle ore nie kan hoor nie
laat ek dit dan uitskree om dit in te sink:
DAAR SAL ALTYD LEWE WEES!
selfs vir die enkele oorlewende.
* * * * * * * * * * *
storm
storms stu my voort
my groteske beeld te groot
om in ’n sleutelgat te pas
’n kas te klein en te benoud
’n goue kou te fyn en veels te koud
ek storm voort in woeste vaart
met wandelstaf en dagoue baard
* * * * * * * * * * *
slyp
skuifel stom in stowwerige spasies rond
maak asbakkies een na die ander
vol en weer leeg; bekers vol koffie
vars bottels tee van die deurnagkafee
ou stoele gee mee
die gewig van aandlug versuur
in die aangesig van afwesige lig
wieg ek vorentoe-en-terug, vorentoe-en-terug
blyk dit mens moet soms
jou kloue trek uit die modder van tyd
meer filosofies moet wees
oor die gewag tot dinge weer draai
so as dit nie anders kan nie
moet ek van vooraf my somme weer maak:
een duisend sewe honderd vyf en
tagtig een duisend sewe honderd
vier en tagtig, een duisend sewe honderd
drie en tagtig, een duisend …
nagte sonder jou.
* * * * * * * * * * *
geografie
nuwe behuising trek
lyne skuins oor my planne
my oë op skrefies tuur ek
deur ander vensters na bure se mure
veronderstel ek weet van meer
as net lewe en dood en pype vol muise
sou ek die preke van ouds kon memoriseer
het ek te veel geleer van oumenstehuise
ek loer soms te diep in die bottel van tyd
skryf notas op vloere met potlood en kryt
byt soms ’n knippie te veel
af van geel-verouderde reëls
na nuwe behuising moet mens soms trek
die werk van ’n man soos ’n vrou mos nooit klaar
maar ek skryf maar my lyne en hou maar my bek
trek my oë op skrefies tot volgende jaar
(Sondag, 14 September 2003)
* * * * * * * * * * *
(ongetiteld)
ek voel myself
onverantwoord’lik na aan jou
minder as jou teenwoordigheid
onvoorwaard’lik na aan my
ek voel te meer
myself onaangeraak
terwyl ek lewe binne jou
* * *
veertig ton gebeure swyg
verdoof my liefde as’t ware
sal ek ooit, solank ek leef, die byl ontdek
wat kappend my al soveel jare jaag?
* * * * * * * * * * *
skoene
op pad na ’n kafee, sien jy dit weer:
’n woestyn, in die middel van die see
jy wil nader sluip, kruip, anderkant toe mik
maar tyd en plek is ’n skoen wat druk
jy dink oor koffie, koop dan tee
praat van uithou, aanhou, gee dan mee
wil verwilderd “nee” sê, knik dan “ja”
knipoog kamma-koel, vlug dan weer verdwaas
soms sê ek jy gee te maklik in
te min sien durf en waagmoed as talent
swerwers slaan graag tent op in die nag
klap swepe douvoordag teen bome vas
sê tog jy wil saamgaan, sê tog jy wil slaap
sê tog jy’t genoeg gehad, sê tog eenmaal “ja”
vermoed ’n bietjie, glo, wik en weeg maar weer
want hierdie tyd en plek, druk veels te veel
* * * * * * * * * * *
(nog ’n) naggedig
ek sloof my af, maar
die nag bly ’n bodemlose skag
soos ’n myner van ’n skoner aard
grawe ek na woorde, lig en beelde
gepaste metafore bederf deur skyn
staan soos heiliges reeds oor my oopgekerfde graf;
terwyl ek op ’n drafstap soek na dagbreek
breek die pik, die graaf, die hysbak na die lig
en bly ek
steeds
vasgevang
in nog ’n naggedig
* * * * * * * * * * *
plek
i
onstuimig brand die vorm
laat die inhoud vars, onaangetas
klere van ’n ander eeu
hang onderstebo in my antieke klerekas
kyk aandagtig na die strate, markte
vroetel bietjie rond in hawestede
sluip kaalvoet snags deur halfverligte stegies
vou jou toe in ’n boemelaarskombers
te veel preek graag oor spreuke lank vergete
sing vals psalms oor verdoemde ou idees
rym dogma in met nuwe wetenskap
steel slinks oornag, woorde uit ’n kerker-biblioteek
ii
dosyne agterkinders, groter ouers voor
portrette teen verlepte mure, skyn halfhartig voort
boeke vol museums en ou geboue
sketse in ’n duisend gange vol gedagtes
herinner slegs, sing melodies sonder stop
priesters dans met ou karosse gedrapeer
oor skouers hangend onder die gewig
vyftigduisend jaar se soeke na ’n waarheid
hou in dreunsang aan om te dikteer:
dat plek en wete
nie net is waar jy behoort
maar waar, aan die einde
die siel behoort te wees
Toe ek in Maart 1995 Europa toegegaan het, het ek net genoeg geld gehad vir omtrent twee weke se goedkoop akkommodasie.
Ek het geland by Orly lughawe, omtrent tien kilometer suid van een van die mooiste stede in Europa – Parys. Dit was aan die begin van Maart, so toe ek uit die Kaap weg is, was dit nog warm genoeg vir ’n kortbroek en T-hemp. Die oomblik toe ek uit die vliegtuig klim en die 2º Celsius lug my gesig tref, het ek gedink ek gaan dood vries nog voor ek die Eiffeltoring gesien het.
Ek het ’n bus gevat stad toe. Uit die venster het ek karikature van Frankryk gesien: ’n man met ’n vet snor met ’n baguette onder sy arm; ’n taxibestuurder met ’n vet snor wat met oordrewe handgebare verduidelik dat die man in ’n ander kar verkeerd was; ’n aantreklike vrou in ’n bloedrooi rok en los, golwende hare, wat ek seker was na parfuum geruik het.
Ek het uitgeklim toe ek gereken het ons min of meer in die middestad was. Die bushalte was ’n paar blokke van die Seine af, en aan die ander kant van ’n groot park was die Les Invalides – waar ek ’n paar dae later ’n loopgraafjas sou sien met moddervlekke van die Eerste Wêreldoorlog.
Ek het op ’n bankie langs die bushalte gaan sit en ’n Paul Revere gerook, en myself hoogs gelukkig geag.
Toe het ek begin soek na my blyplek – ’n een slaapkamer woonstel van ’n kennis van hoërskool. Al leidrade wat ek gehad het, was die kriptiese notas van ’n gemeenskaplike vriend wat ’n jaar tevore daar oornag het. Dit het my omtrent sewe ure gevat om dit op te spoor. Teen laatmiddag het ek my eerste frank gespandeer by ’n supermark in die buurt – op ’n stuk kaas, ’n pak macaroni, en twee blikkies Tsjeggiese bier.
Die eerste week was ek alleen in die woonstel. Ek het elke dag kilometers ver gestap – na die Eiffeltoring toe, na die Place de la Concorde, na die Père Lachaise begraafplaas, na die Moulin Rouge, en op en af die Champs-Elysées. Ek het ook een dag die trein gevat uit die stad uit na die paleis in Versailles – ’n definitiewe hoogtepunt.
Aan die einde van die week het my kennis teruggekom. Ek het nog ’n paar dae gebly, en toe ’n buskaartjie gekoop Amsterdam toe. Hier het ek die Anne Frank Huis besoek … en nie die Van Gogh Museum nie omdat dit te duur was.
Die plan was van die begin af dat ek een of ander werk moes kry om myself aan die lewe te hou en elke nou en dan interessante plekke te besoek. In Parys was dit nie moontlik nie vanweë die taal. In Amsterdam het ek na ’n McDonald’s toe gegaan en gevra oor werk. Die aansoekvorm het aangedui dat indien ek nie ’n burger was nie (bedoelende van die land, nie die tipe wat ’n mens eet nie), ek moes kon bewys dat ek ’n vlugteling was. Ek het ook ontmoet met die seun van ’n vriend van ’n professor van universiteit. Hy’t vae idees gehad oor klop aan deure om jou dienste aan te bied as skoonmaker, of so iets.
Volgende stop, Londen: Die hoofstad van onwettige werk vir enige iemand van enige plek in die wêreld. Ek het ’n bed gekry in ’n kamer saam met ses of sewe ander mans in ’n klein hotelletjie nie ver van Victoria Stasie af nie. Vinnig vriende gemaak en rondgeloop vir ’n paar dae – ’n foto laat neem van myself met Tower Bridge in die agtergrond, en die Imperial War Museum en die Britse Museum besoek, maar nie juis werk gesoek nie. Een aand op die nuus was daar ’n item oor ’n man van Nigerië wat onwettig gewerk het. Die polisie het hom kom soek waar hy gewoon het. Hy’t geskrik, by die venster uitgespring, en homself doodgeval. ’n Ander Suid-Afrikaner wat ook in die hotel gebly het, het gepraat van konstruksiewerk, en dat dit help as jy ’n werkvakansie permit het.
Vriende van my het die vorige jaar ses maande in Brittanje spandeer op werkvakansie permitte. Geen verrassing dat dit na ’n aantrekliker opsie gelyk het as om vir die polisie te vlug nie.
Ek het besluit om terug te gaan Amsterdam toe, vanwaar my vlug bespreek was terug Suid-Afrika toe – eintlik eers maande later, maar ek kon dit verander. Iemand het gepraat van goedkoop jeughostelle in die rooiligbuurt waar ’n mens gratis bed en ontbyt kan kry as jy help skoonmaak en wasgoed was. Ek het plek gekry in ’n hostel in ’n kamer wat geruik het na stink sokkies en ongewaste lywe. Ek het navraag gedoen oor werk, en hulle het gesê hulle sal dink daaroor (om te kyk of jy betroubaar is, het ek later verneem). Ek het egter net genoeg geld oorgehad vir ’n paar dae, so op die derde dag het ek die lugdiens gebel en plek bespreek op die vroegste vlug terug Suid-Afrika toe. ’n Dag voor ek sou vlieg, lig die bestuurder my in dat hulle van my dienste gebruik kan maak as ek nog belangstel. Ek het egter teen daai tyd minder as die ekwivalent van tien euro oorgehad.
Natuurlik dink ek vandag terug aan geleenthede wat ek nie aangegryp het nie. Hoekom het ek nie aansoek gedoen vir ’n werkspermit voor ek gegaan het nie, siende dat ek goed geweet het watse voordele dit sou inhou? Feit is, ek het probeer, maar die reisagent het gesê dit sal iets soos twee weke vat, en ek het nie twee weke gehad nie. Eers later het ek uitgevind dit vat net ’n dag of twee. Die twee weke in Parys, al het ek nie betaal vir verblyf nie, het ook geëet in my finansies in. Hoekom het ek nie in die eerste week in Amsterdam uitgevind oor die gratis bed-en-ontbyt as jy werk by die plek nie? Weet nie. Hoekom het ek nie meer aktief rondgevra in Londen vir geleenthede nie? Gebrek aan selfvertroue? Gebrek aan motivering? Die man wat na sy dood gespring het, sou seker op enige iemand ’n indruk gemaak het, maar daar was tog immers duisende ander mense wat onwettig gewerk het in Londen of elders op die eilande. En hoekom nie tog die werk vat in die hostel en kyk of ek oorleef vir ’n paar weke tot iets anders gebeur nie? Seker gedink my plan om terug te gaan Suid-Afrika toe, aansoek te doen vir ’n werkspermit, en dan terug te kom was meer sinvol. En veiliger.
Sou dit gehelp het as ek ’n maat gehad het daar wat gesê het: “Kom ons doen dit! Kom ons vat ’n kans!”?
Ja, dit sou ’n verskil gemaak het.
’n Paar weke nadat ek terug was in Suid-Afrika, hét ek aansoek gedoen vir ’n werkspermit, en dit gekry. Pragtig het dit gepryk in my paspoort vir ses maande, en toe verval. Nooit genoeg geld bymekaar gemaak vir ’n tweede vliegkaartjie Europa toe nie.
Net mooi in die tyd wat die werkspermit verval het (einde 1995), het ek ’n advertensie gesien vir “Teaching in Korea” in die Cape Times. Wat daarna gebeur het, is die tydlyn van my werklike lewe die afgelope kwarteeu.
Hoeveel alternatiewe tydlyne het nie in daai paar maande van 1995 kruis en dwars oor mekaar geloop nie?
Kan ’n mens sê met sekerheid dat alles anders sou uitgewerk het as jy een ding verander het jare gelede, ja gesê het vir iets, nee gesê het vir iets anders, ’n later vlug gevat het, ’n ander rigting gestap het, ’n groter kans gewaag het? Wil jy hê dat dinge anders moes uitgewerk het?
Ek is gelukkig met my huidige lewe, en met hoe my lewe verloop het die laaste 27 jare. Maar sou ek my oë toemaak en die alternatiewe lyne word aan my ontbloot, sien ek ’n interessanter lewe as die een wat ek geleef het? Sou dit meer droom gewees het as nagmerrie, of andersom?