Want geld is god

SATERDAG 3 MAART 2018

Geld is Baas. Geld is Koning. Geld – kom ons wees eerlik daaroor – is God. Mense wy hulle lewens daaraan toe. Mense sterf daarvoor, en mense maak dood daarvoor.

As ek my sin kon kry, het ek my lewe ingerig op so ’n wyse dat ek nie veel geld nodig het nie, en derhalwe nie nodig het om veel geld te maak nie. Maar omdat ek die druk van die moderne beskawing verstaan, probeer ek ook om so gereeld as moontlik my hopie kontant aan te vul. Om die waarheid te sê probeer ek al vir baie lank om veel, veel meer geld te maak as wat ek werklik nodig het, sodat ek onder andere my ouers kan bystaan op hulle oudag.

Om verskeie redes is ek tot dusver nie vreeslik suksesvol daarin gewees nie. Ek maak genoeg om te oorleef, maar nie veel meer as dit nie. Ek is dus genoodsaak om my lewe in te rig op so ’n wyse dat ek met minder oor die weg kan kom. Dit volg dat ek kan beweer dat ek ’n goeie lewe het, en dat ek relatief gelukkig is, omdat ek geleer het om ’n goeie lewe te leef en gelukkig te wees met wat ek wel het – wat nie juis veel is nie, materialisties gesproke.

Maar ongelukkig is geld, God. Jou bejaarde ouers kan nie gehelp word met jou idees oor ’n eenvoudige lewe nie. Jou bejaarde ouers kan nie kos koop met jou kreatiewe vaardighede nie. Jou bejaarde ouers se mediese fonds kan nie betaal word met jou gedigte of jou aantekeninge oor die mens se bestaan nie. Net kontant is goed genoeg. As die rekening kom, en jy kan nie genoeg kontant uit jou kas, onder jou matras, onder jou kussing, uit jou lessenaar, uit jou skoen, uit jou sak of beursie, of uit die bank trek nie, kan jy maar net sowel hel toe gaan. Want geld is God.

______________________

Waarvoor ek geprogrammeer was

DONDERDAG 1 MAART 2018

Persoonlikheid (gegewe), omstandigheid (gegewe), kultuur en godsdiens (beide gegewe), het my tot ’n groot mate* geprogrammeer om ten minste aanvanklik as volwassene nie materiële gewin na te jaag nie.

Waarvoor is ek geprogrammeer? “God”, “Die Waarheid”, “Volg die Regte Pad”, doen jou deel om mense te help om “die lig” te sien. Die najaag van materiële gemak, geld, en status, was van mindere belang. Nie my keuse nie, let wel, maar hoe ek geprogrammeer is. Of, ek het sekerlik ’n keuse gehad, soos wanneer die dominee vir jou vra wanneer jy sestien is of jy kies vir Jesus of vir Satan. Dis ’n keuse, orraait.

Ek sê aanvanklik het persoonlikheid, omstandigheid, kultuur en godsdiens my geprogrammeer – of soos een dominee lief was om te sê, gedring – om sekere dinge te doen en nie ander nie, want uiteindelik het ek harder en harder probeer om geld te maak, en meer en meer tyd spandeer daaraan. Maar, wat was my opleiding daarvoor? Het ek op skool geleer van beleggings? Is ek as tiener of jong volwassene blootgestel aan suksesvolle ondernemings by die huis? Nee, en nee. Waaraan ek blootgestel is, is ouers wat hulleself doodgewerk het om geld in te bring om huur te betaal, skoolfonds te betaal, en kos en klere te koop, maar as “God” besluit “hy” toets jou, om te sien hoe jy reageer in ’n bepaalde situasie, dan rol “hy” eenvoudig ’n klip in jou pad en dan struikel jy. Dit was my opleiding. Dit was waaraan ek blootgestel is.

Natuurlik is ek al vir jare besig om myself te deprogrammeer. Maar laat ons nie onsself verbeel ons het in ’n vakuum grootgeword nie. Ja, jy beweeg aan en jy verbeter jouself en jou lewe ten spyte van psigiese klippe wat in jou pad gerol is toe jou brein en persoonlikheid nog besig was om te vorm. Maar kom ons verbeel nie onsself dat wie jy was as tiener nie ’n invloed gehad het op hoe jy gedink het toe jy oorgegaan het in jou volwasse jare nie, en dat besluite wat jy toe gemaak het, nie steeds ’n impak het op jou lewe twintig jaar later nie.

* Ek weet “tot ’n groot mate” is ’n “weasel phrase”, maar ons praat hier van indoktrinasie en die invloed van die omgewing op die psige – nie iets wat jy kan meet soos bestanddele vir ’n koek nie.

[Ek klink omgekrap in hierdie teks, en in ’n paar ander stukke voor hierdie een, en ná hierdie een. Feit is, ek was. En ek is nie in die gewoonte om notas wat ek geskryf het in ’n slegte bui, weg te gooi wanneer ek beter voel nie. Dit is net soveel deel van my waarheid as notas waar ek positief en gelukkig is.]

______________________

Geen rede vir paniek of bekommernis nie – ek weet hoe om geld te maak

WOENSDAG 21 FEBRUARIE 2018

14:37

Ek weet hoe om geld te maak … in een sin: Plaas op verskeie markte honderde, selfs duisende produkte wat spesiaal vervaardig is vir jou deur ander mense.

Let wel: As jy probeer om die honderde of duisende produkte self te vervaardig ten einde geld te spaar, gaan jy nooit, ooit so suksesvol wees as wat jy sal wees indien jy ander mense betaal om jou instruksies uit te voer nie, met jou wat dalk die kersie op die koek sit.

18:31

Die doel moet wees om die grootste hoeveelheid produkte te produseer met so min as moontlik arbeidsure wat jyself moet insit, sonder om kwaliteit of waarde vir die verbruiker te kompromitteer.

Waarop dit neerkom vir my, is eenvoudig: ’n Klein, bekwame span van vryskutwerkers.

SONDAG 25 FEBRUARIE 2018

Vang ’n gedagte my onkant vandag: “You have to tend to your business.”

Maak nie saak wat jy doen vir geld nie, jy moet aandag gee aan jou besigheid. Jy moet dit doen as jy Engelse klasse gee (voorbereiding, nasienwerk, geestelike en liggaamlike versorging), as jy materiaal verkoop aan onderwysers op die Internet (jy moet kyk na resensies, vrae beantwoord, kliënte of potensiële kliënte op jou epos-lys kry), as jy handeldryf in buitelandse valuta (opleiding, hou die markte dop), of as jy fisiese produkte verkoop op AliExpress of Amazon (jy moet weereens kyk na resensies, vrae beantwoord, seker maak bestellings word afgelewer, navorsing doen oor nuwe produkte, sommige produkte verwyder en nuwes byvoeg). Jy moet dit ook doen as jy jou eie literatuur produseer en hoop dat meer as net ’n dosyn mense jou boeke aflaai, of dit koop.

Vir ’n paar ure is ek bekommerd, want ek weet ek het nie ’n goeie rekord met “tending to your business” nie.

Toe besef ek: As “tending to your business” iets misties is wat jy gelukkig sal wees om reg te doen, maak nie saak hoe hard jy probeer nie, is ek inderdaad in die moeilikheid. Maar as “tending to your business” iets is wat gesistematiseer kan word, is ek oukei. Ek weet hoe om stappe uit te voer. En as dit nie op ’n ander persoon se opdrag is nie, in my eie tyd, in my eie werksplek, kan ek dit volhou week in en week uit.

Geen rede vir paniek of bekommernis nie, dus.

______________________

Verbeter jouself in ’n nuwe gemaksone in

DONDERDAG 4 JANUARIE 2018

Die boek wat ek tans lees – Harv Eker se Secrets of the Millionaire Mind, en die paar wat ek onlangs gelees het – Robert Kiyosaki se Rich Dad, Poor Dad, Scott Adams se How to Fail at Almost Everything and Still Win Big, en Mark Douglas se Trading In the Zone – veronderstel twee dinge, en verwag dat jy hierdie twee dinge moet aanvaar indien jy ’n beter lewe wil lei:

1) Die mens het die vermoë om ’n omgewing te skep waar sekere (positiewe) resultate meer waarskynlik sal wees, en

2) die mens is nie net ’n programmeerbare dier nie, jy kan jouself programmeer om sekere maniere van dink te laat vaar, om sekere gewoontes te vervang met beter gewoontes, en om sekere oortuigings te vervang met ander oortuigings wat jou in staat sal stel om beter resultate te bewerkstellig, en dalk net ’n gelukkiger en meer produktiewe lewe te lei.

DINSDAG 23 JANUARIE 2018

As ek ’n stuk skryf, vertaal, of redigeer, is ek in my gemaksone. Wanneer ek dit een laaste keer moet deurlees en dan moet publiseer, is ek ongemaklik, en wil ek die laaste stap uitstel.

As ek navorsing doen vir ’n produk, is ek in my gemaksone. As ek die produk moet produseer, is ek ook steeds in my gemaksone. Wanneer ek die produk na die mark toe moet vat en moet verkoop, is ek nie in my gemaksone nie.

Toe ek moes navorsing doen oor “affiliate marketing” jare gelede, was ek in my gemaksone. Toe ek produkresensies moes skryf en mense moes “nader roep” om te kyk na my resensies, was ek nie in my gemaksone nie.

As ek moet leer van valutahandel, is ek in my gemaksone. Wanneer ek werklike transaksies moet aangaan en dit moet monitor, is ek nie in my gemaksone nie.

Ek dink dit is redelik akkuraat om te sê dat daar beperkte geld in my gemaksone is, en dat daar geen beperking is op die hoeveelheid geld wat in my bankrekening kan opeindig as ek dit buite my gemaksone waag nie.

* * *

Soos ek bogenoemde gedagtes noteer, onthou ek van ’n stuk wat ek geskryf het in 2007, getiteld, “Expanding your comfort zone” (wat dit weereens duidelik maak dat ek graag vir ander mense wil preek terwyl ek self nie altyd die regte ding doen waaroor ek preek nie):

“What you need, is to EXPAND your comfort zone. Start doing things differently. Take new actions, even if they are strange at the beginning, and even though you stare back at your comfort zone like a child staring back at his mother on the first day of school.

But as you take these first steps, imagine becoming comfortable taking them. As you talk to new people, or do new things, or start running with new ideas, imagine these actions becoming PART of your comfort zone. Imagine a day when all those wolves that now roam outside your cosy circle run beside you like protectors, like part of your inner circle.

Isn’t that the more natural thing to do?”

* * *

Een van die gedagtes van die Harv Eker boek waarvan ek hou, is dat om ryk te word, nie net gaan daaroor om baie geld te maak nie. Dit gaan in die eerste plek oor die mens wat jy moet word in jou karakter, persoonlikheid en uitkyk op die lewe. Hy reken die vinnigste manier om ryk te word en ryk te bly, is om jouself te verbeter: “The idea is to grow yourself into a ‘successful’ person.”

DINSDAG 6 FEBRUARIE 2018

21:54

Ek hunker na my gemaksone. Daarom sluip ek maklik terug na waar ek gemaklik is. Ek ignoreer stil-stil wat ek moet doen buite my gemaksone.

23:09

Wat ek probeer sê het, is dit: Die wyse hoe ek te werk gaan, is steeds gebrekkig. Ek sal van tyd tot tyd dinge doen wat buite my gemaksone lê, maar in stede daarvan om hierdie area te verbreed met herhaaldelike aksies, sluip ek stil-stil terug na die ou grense van my gemaksone.

Wat ek nodig het, is ’n stelsel waar ’n mens herhaaldelik aksies neem wat aanvanklik ongemaklik is vir jou, vir ten minste ’n paar weke, tot die grense van jou gemaksone werklik geskuif het. (Dis asof daar ’n agent binne my kop is wat sal sê: “Hy wil alweer die grense van sy gemaksone verskuif. As almal kalm bly en saamwerk, sal dit oor en verby wees binne ’n week of twee. Moenie ’n bohaai opskop as hy iets vreemds wil doen nie. Sê: ‘Nee, dis kwaai. Hier gaan ons!’ of so iets. Soos ek sê, alles sal binnekort terug wees na normaal.”)

______________________

Sondag 31 Desember 2017

“Dankie! Baie dankie!” sê die man terwyl hy die trofee met die syfers “2-0-1-7” in sy hand vasklem. “Ek wil graag bedank my ouers, my vrou, my twee susters en hul eggenote, ons twee katte, die mense by die vegetariese buffet, die mense wat my betaal om hulle te help Engels praat, die Taiwannese regering wat my steeds toelaat om op hulle eiland te woon, ons vriendelike bure, en laastens, almal op die internet wat sulke goeie artikels geskryf het hierdie jaar wat my aansienlik slimmer gemaak het, en in staat gestel het om nóg meer mense te verveel op sosiale funksies. Ek kon dit nie gedoen het sonder julle almal nie. Dankie weereens!”

Die man wil-wil die mikrofoon laat gaan om weer sy plek in die gehoor in te neem, maar verstel dan sy greep en gaan voort.

“Ek kan sekerlik beweer ek het ’n goeie jaar gehad – soos sekerlik vele van ons.” Hy maak sy oë op skrefies om te sien of enige iemand hulle koppe knik. “Dit is dan ook wel so dat ek gewoonlik elke jaar besluit ek het ’n goeie jaar gehad, ongeag hoeveel keer ek op my gesig te lande gekom het.” Die gebruiklike gespanne laggie volg. “Nou ja, so was dit ook hierdie jaar. Ek het heelwat geleer. Twee dinge staan uit. Maak nie saak hoe lank ’n mens probeer om ’n sukses van iets te maak nie, soms werk dit net nie uit nie. Dalk is dit omdat jy onnosel is, of dalk is daar iets in jou onderbewuste wat dink dat dit ’n mors van tyd is. Wat ook al die rede, ek het vir lank gedink as ek lank genoeg stilstaan by iets, ek suksesvol sal wees in die onderneming. Les een van hierdie jaar is dat dit nie noodwendig waar is nie. Les twee het te make met waarde. Net omdat jy jouself oortuig het iets het waarde … of dalk het jy ’n formule uitgewerk wat op die oog af heel kompleks en indrukwekkend is wat jou oortuig iets is waardevol, is nie te sê jy moet jou geld sit waar jou formule is nie. Doen jy dit, val jy dalk lelik op jou gesig.

“Daar was natuurlik heelwat ander dinge wat ek ook geleer het, en nie almal het vereis dat ek my bakkies in die modder moet plant nie!” Weer ’n laggie. Dan hoor die man hier en daar ’n gesug, en hy is seker daarvan hy sien ’n gevroetel met elektroniese toestelle.

“Nou ja, dames en here – en al die geslagte tussen-in, julle is seker almal opgewonde om die nuwe jaar te vier. Ek is beslis ook! Al wat dan oorbly is vir my om julle almal ’n voorspoedige 2018 toe te wens. Kyk mooi na julleself, kyk mooi na julle geliefdes – insluitende julle troeteldiere en kinders, eet gesond, doen gereeld oefening, moenie geld mors nie maar spandeer so nou en dan ’n paar rand op iets lekkers, en neem verantwoordelikheid vir jou eie komende sukses. Mag die volgende jaar een van julle beste jare ooit wees!”

______________________