WOENSDAG 29 APRIL 2026
Wat verwag ek van myself op ’n gegewe dag?
As ek opstaan na ses of sewe ure se slaap en nie in die bed bly nie, is dit ’n goeie eerste stap.
As ek ’n vooraf-gereëlde afspraak het met mense wat vir my geld sal gee as ek opdaag, en ek daag op, doen ek goed.
As ek nie drink of rook of dwelms gebruik eens ’n enkele keer gedurende die dag of nag nie … definitief beïndruk met my self-dissipline.
As ek redelik gesond eet, ’n paar glase water drink, nie te veel swart koffie op ’n leë maag drink nie, nie veel koekies of sjokolade verorber nie, nie ’n hele pak skyfies leeg maak voor ek gaan slaap nie, en ten minste ’n paar keer by die trappe op en af stap … is ek vir alle praktiese doeleindes ’n fiksheidsfanatikus.
As ek nie doelbewus in iemand vasry om hulle te beseer of andersins skade aan te doen nie, is ek so te sê ’n barmhartige samaritaan.
As ek iemand bystaan in ’n oomblik van nood, verhef ek my so-te-sê nietige bestaan tot ’n hoër vlak … al is dit net vir ’n oomblik.
Dosyne take verrig? Reuse sukses gemanifesteer? Duisende dollars verdien? Dosyne mense laat lag met spontane grappies? Talle mense se lewens verbeter? Projekte afgehandel of ten minste ver gevorder daarmee? In my drome … dalk.
______________________