Los gedagtes van September en Oktober 2021

SONDAG 12 SEPTEMBER 2021

Ek ag dit as meer as net ’n klein vooruitgang in my lewe dat ek kon uitwerk – ten minste vir myself – waaroor die lewe gaan, wat dit beteken om ’n mens te wees, wat ek met my lewe moet doen, wat die betekenis van die lewe is, en wat die basis moet wees vir my etiek.

Ek moes al hierdie dinge uitwerk omdat ek, soos REM dit gestel het in hulle treffer van die vroeë negentigs, my godsdiens verloor het.

Godsdiens het tot en met my vroeë twintigs ’n mees betekenisvolle rol gespeel in my lewe. Dit het verduidelik wat die doel was van my bestaan, waar ek vandaan gekom het en wat sou gebeur wanneer ’n mens sterf, hoe ’n mens jou lewe moes lei, en hoekom jy sekere dinge moes doen en ander dinge nie moes doen nie. Dit het my van ’n wêreldbeeld voorsien. Dit het verduidelik hoe alles – die kosmos en planete, en mens en dier en natuur – in mekaar steek. Ek het selfs sterk oorweeg om ’n beroep te volg waar godsdiens ’n belangrike aspek sou wees.

Dit alles het soos ’n kaartehuis inmekaar getuimel vir my. Ek moes van voor af begin. En ek het dit gedoen op skrif, een stel paragrawe na die ander, tot ek genoeg uitgepluis het om te kon sê, “Ek verstaan nou weer. Ek kan nou méér doen as net funksioneer.”

DONDERDAG 16 SEPTEMBER 2021

Redelike doelwitte van ’n volwasse lewe:

1. Oorleef, fisies en geestelik.

2. Probeer om nie skade aan te rig nie. As jy skade aanrig in die proses van oorlewing, probeer om dit tot die minimum te beperk.

3. Probeer om goed te doen – beskerm ander mense, diere en die natuur teen skade; verleen hulp in die handhawing van lewe, en verleen hulp in die verbetering van die lewens van ander mense of diere.

4. Probeer om ’n outentieke lewe te lei wat ooreenstem met die besef dat jy nie ’n masjien is wat deur onsigbare magte beheer word nie.

DINSDAG 28 SEPTEMBER 2021

Ek hou nie van hierdie idee van voorwaardelike geluk nie: “Ek is gelukkig omdat …”

Ek hou van waan-geluk, mal geluk: Ek is gelukkig ten spyte van …

Kan dieselfde gesê word oor goed voel oor jouself – ’n noodsaaklike bestanddeel van positiewe selfbeeld? Jy voel goed oor jouself ten spyte van X, Y, of Z.

DONDERDAG 30 SEPTEMBER 2021

As die maatstaf van sukses is dat jy dinge kan skep uit hout en staal, dan was my pa ’n sukses.

As die maatstaf is om karre te kan regmaak, selfs ’n wrak wat op bakstene staan te omskep in ’n padwaardige voertuig waarmee die gesin op vakansie gaan, was my pa ’n sukses.

Maar as die maatstaf is om vir iemand anders te werk en te sê, “Ja, Baas … nee, Baas” en jou mond te hou die res van die tyd, wel, dan’s dit maar net een van daai dinge.

SONDAG 10 OKTOBER 2021

“Ek is hartseer.”

As jy kies om te wees. (En tog voel dit gepas in sekere omstandighede.)
[Donderdag 11 November 2021]

______________________