Hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe – selfs in Gaza

WOENSDAG 30 APRIL 2025

Doelwit: ’n Goeie en gelukkige lewe, nou. En ’n gemaklike aftrede en oudag later – indien ’n mens dit so ver maak.

Is dit nie waarvoor almal hoop nie?

“Nie mense in Gaza nie,” sal iemand sê. “Hulle hoop net vir vrede, en vir die bomme om te stop.”

Korrek, sal ek antwoord. Vir nou hoop hulle elke dag desperaat vir vrede en stilte, en vir kos en medisyne en ander voorrade om hulle te bereik. En om te kan begin om hulle huise en skole en hospitale en ander infrastruktuur te herbou.

Maar waarvoor sal hulle wens indien die psigoties-terroristiese Europese koloniale projek genaamd Israel uiteindelik verslaan word in hulle pogings om Palestyne uit te wis en hulle grond te steel? Waarvoor sal hulle hoop wanneer hulle huise en hospitale en skole en moskees en kerke herbou is?

Hulle sal heel waarskynlik hoop vir ’n goeie en gelukkige lewe, en ’n gemaklike aftrede en oudag, indien hulle lewens so ver strek.


Taiwan en onafhanklikheid: Redelike argumente

DINSDAG 28 MEI 2024

Hier’s ’n toets vir ’n leier van ’n onafhanklike Taiwan: Erken jy dat jou klein nasie deur ’n supermoondheid aan die ander kant van die aardbol uitgebuit kan word om hul mededinger, wat jou naaste buurman is, te ondermyn? Besef jy dat die aanvaarding van militêre bystand van hierdie supermoondheid gesien sal word deur jou naaste buurman as pogings om hulle natuurlike groei as ’n streeks- en wêreldmoondheid te ondermyn? As jy nie daarin slaag om dit te erken en hierdie werklikheid te begryp nie, het jy geen saak om die leier van ’n land te wees nie, nog minder ’n de facto maar nie de jure onafhanklike een nie.

WOENSDAG 16 OKTOBER 2024

’n Redelike argument kan gemaak word dat Taiwan onafhanklik moet wees. Die land en haar mense het bewys in die laaste sewe dekades dat hulle nie enige nie-Taiwannese politieke meesters nodig het om hulle sake te kan behartig nie.

Nog ’n insig wat ek onlangs gekry het uit die boek, A New Illustrated History of Taiwan, deur Chou Wan-yao, is dat Taiwan nie net deur die Japannese gekoloniseer is tussen 1895 en 1945 nie, maar tussen 1945 en ten minste die 1990’s tot ’n groot mate ook deur die Nasionalistiese regering van die Republiek van China – wat hulle ook gedwing het om ’n taal te praat waarmee hulle nie bekend was nie (Mandaryn, oftewel die Beijing dialek van Chinees), en wat hulle ook geforseer het om te fokus op die geskiedenis van ’n moederland wat nie Taiwan was nie (naamlik Vasteland China), met feitlik geen aandag wat gegee is aan die unieke historiese ervarings van die mense van Taiwan nie. Dit kan verder geargumenteer word dat vele Taiwannese sekerlik angstig is daaroor om vir die derde keer in meer as ’n eeu gekoloniseer te word – dié keer deur die regering van die Volksrepubliek van China.

Ek reken twee punte moet hier beklemtoon word:

1. Taiwan waag die welsyn en voortbestaan van miljoene mense op die eiland van Taiwan as hulle ’n noue bondgenootskap bewerkstellig met die Verenigde State van Amerika. Twee stellings van die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, is relevant: “America has no permanent friends or enemies, only interests” en “[It] may be dangerous to be America’s enemy, but to be America’s friend is fatal” (laaste een was meer ’n waarskuwing dat indien sekere dinge gebeur in Suid-Viëtnam in die laat 1960’s, Amerika as sulks gesien sal word). Feit is, Amerika het ’n historiese rekord van ander lande uitbuit vir hul eie nasionale behoeftes en politieke agendas, en wanneer dit duidelik raak dat dinge nie gaan uitwerk soos hulle gedink het nie, dan onttrek hulle. En die land wat hulle vertrou het, sit met die gebakte pere. Taiwan het ongelukkig meer as ’n paar politici en gewone burgers wat naïef glo dat Amerika die beste vriend in die wêreld is; dat Amerika Taiwan sal bystaan indien China ooit die eiland aanval, en dat Amerika nooit Taiwan in die steek sal laat nie.

2. Die regering in Beijing het ’n beter argument as die regering in Taipei oor wie volgens internasionale konvensie beheer behoort uit te oefen oor die areas wat regeer word deur die Taiwannese regering – wat hulleself steeds amptelik voordoen as die regering van die Republiek van China. Kortliks: Die Qing-regering het Taiwan en ander eilande afgestaan aan Japan in 1895. Na die Tweede Wêreldoorlog het Japan alle vorige verdrae wat deur Imperiale Japan onderteken is met betrekking tot China, nietig verklaar, insluitende die 1895-verdrag van Sjimonoseki, en daarmee hul aanspraak op Taiwan opgegee. Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Chinese republiek wat bestaan het tot en met 1949 onder leiding van die Chinese Nasionalistiese Party, sowel as van die Qing-staat wat geval het in 1912, en het beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was. Die regering in Taipei was tot en met die 1970’s deur dosyne lande, insluitende die VSA, beskou as die wettige regering van die hele China, insluitende Taiwan. Die Taipei-gebaseerde Republiek van China word egter sedert die laat 1970’s nie meer deur meeste lande erken as die wettige verteenwoordiger van die mense van China nie. Wat ons terugbring by ’n vorige punt: Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Qing-staat, sowel as van die Chinese republiek wat deur die KMT-regering gelei is in Vasteland China tot en met 1949, en het wettig beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was, insluitende die eiland van Taiwan en omliggende eilande. Indien die regering in Taipei en die 23 miljoen burgers van die eilande van Taiwan ’n kans wil staan om amptelik onafhanklike status te verkry, moet hierdie ambisie met Beijing uitgewerk word.

VRYDAG 18 OKTOBER 2024

Die tyd is ryp om te praat oor Taiwannese onafhanklikheid.

Die regte manier vir Taiwan om daaroor te praat, is met China.

Die verkeerde manier om daaroor te praat, is vir die president van die Republiek van China (Taiwan) om uitlatings te maak dat Taiwan en China aparte entiteite is – ten spyte van wat die konstitusie dikteer wat aan die Taiwan president sy posisie gee, en dat China nie enige reg het om in Taiwan se sake in te meng nie. Om die status quo dan nog verder te skommel in reeds onstuimige waters, beweeg Taiwan nóg nader aan die wêreld se mees aggressiewe supermoondheid, die VSA, wat China beskou as haar grootse geopolitieke teenstander.

De jure Taiwannese onafhanklikheid, na sewe dekades van de facto onafhanklikheid, is inderdaad ’n hoogs relevante onderwerp wat verdien om bespreek te word op die hoogste staatkundige vlakke. Maar hierdie saak moet onderhandel word met China, in ag genome redelike argumente dat Taiwan deel is van Een China. Uitdagende uitlatings van die Taiwannese kant af met skimpe van oorlog met Amerika as veronderstelde bondgenoot, is die verkeerde manier om die onderwerp aan te roer.

SATERDAG 19 OKTOBER 2024

Natuurlik sê mense China sal nooit instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie.

Wat is die alternatief? Amerika maak ’n militêre basis oop op een van die eilande wat Taiwan beheer naby aan die Chinese kus, met die idee dat hulle beter beskerming sal kan verleen aan Taiwan vir wanneer die Taiwannese president eensydig onafhanklikheid aankondig? Of, die president ontmoet met amptenare van die Amerikaanse regering, wat hom, hand op die bors, verseker van al die geld en wapens en sanksies wat Amerika kan optower om Taiwan te help indien die eiland-staat amptelik onafhanklikheid verklaar? Dat die militêre konflik wat sal volg daarop aanvanklik die Amerikaanse regering se langtermyn doelwitte sal dien om China ekonomies, diplomaties, en militêr te verswak as ’n geopolitieke opponent ten koste van honderde-duisende Taiwannese se lewens, sal seker spoedig geëtiketteer word as disinformasie – as sogenaamde “gesprekspunte” van Beijing.

In die werklike wêreld is daar slegs twee opsies vir Taiwan in die volgende dekade of drie: 1) As ’n provinsie van China met sekere voorregte, soos ’n eie geldeenheid en selfs ’n eie vlag, en 2) As ’n onafhanklike maar noue bondgenoot van China.

WOENSDAG 30 OKTOBER 2024

Om op te som:

1. Aktiviste vir Taiwannese onafhanklik maak ’n redelike argument hoekom Taiwan verdien om erken te word as ’n onafhanklike staat.

2. Taiwan se onafhanklikheid sal onderhandel moet word met die regering van die Volksrepubliek van China, en niemand anders nie. Hoekom? Onafgehandelde sake van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge daarvan, en van die Chinese Burgeroorlog.

3. Argumente kan gemaak word hoekom die regering van die Volksrepubliek van China Taiwannese de facto onafhanklikheid behoort te erken, en staat-tot-staat diplomatieke verhoudings aan te knoop met Taiwan.

4. Die regering van die Volksrepubliek van China sal heel waarskynlik nié instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie, vir rasionele redes wat sin sal maak vir enige iemand wat die agtergrond verstaan, asook die mandaat wat die regering in Beijing glo hulle het om te regeer oor alle grondgebied wat deel uitgemaak het van China voor die volksrepubliek uitgeroep is in Oktober 1949.

5. Die regering in Taipei sal uiteindelik ’n skikking bereik met die regering in Beijing dat Taiwan na vyf of tien jaar ’n outonome, of kwasi-selfregerende provinsie sal wees van die Volksrepubliek van China. Daar sal weerstand wees van Taiwannese nasionaliste, maar uiteindelik sal die meerderheid van die bevolking van Taiwan die nuwe politieke status aanvaar.

6. Daar sal vrede wees.

______________________

Moontlikhede van die aard van ons realiteit (en wie’s in beheer)

VRYDAG 23 AUGUSTUS 2024

Een: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is mense wat deur ’n kombinasie van persoonlikheid, toeval, en sosiale druk posisies van mag bekom het. Meeste van hulle is korrup, hoewel sommige sekerlik hulle bes probeer om hulle gemeenskappe te dien en op te hef. Dan sterf hulle of hulle word uitgestem of ontslaan, en iemand anders neem hulle plek. ’n Ander weergawe hiervan is dat die toutjies in Amerika getrek word deur ’n sameswering van Groot Olie, Intelligensie, en Wall Street (sien Mike Benz op X). ’n Mens kan sekerlik veronderstel dat elke land sy eie weergawe het van sulke groot en magtige belange wat agter die skerms besluite neem.

Twee: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is marionette van die Vatikaan, wat agter die skerms al die belangrike toutjies trek. Hoekom? Die Rooms Katolieke Kerk het Europa regeer vir amper ’n duisend jaar lank. Die algemene veronderstelling is dat hulle stadig maar seker mag en invloed verloor het oor die volgende vyf eeue. Hierdie veronderstelling is óf verkeerd, óf hulle het geslaag daarin om weer ondersteuners in posisies van mag te plaas.

Drie: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is marionette van ’n Joodse komplot om die wêreld te regeer tot hulle voordeel. Hoekom? Joodse komplot-leiers glo in die superioriteit van Jode, en glo dat dit God se wil is dat Jode die wêreld moet regeer.

Vier: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Op ’n stadium is effektiewe beheer van die wêreld oorgeneem deur reptiel-wesens van die buitenste ruim wat demone aanbid. Politieke leiers is Satanistiese pedofiele wat marionette is van hierdie reptiel-wesens wat deur manipulasie die wêreld regeer tot hulle eie voordeel.

Vyf: Ons en die wêreld waarvan ons sintuiglik bewus is, is deel van ’n rekenaarsimulasie – wat ons ervaar as realiteit, is inderwaarheid ’n super-realistiese, gevorderde rekenaarsimulasie. Wat is die argument hiervoor? Op een of ander stadium sal die mensdom die tegnologiese vaardighede en hulpbronne ontwikkel om ’n kragtige rekenaarsimulasie te skep van hulle voorouers. Kans is goed dat hulle vele sulke simulasies sal skep. Kans is dat die gesimuleerde inwoners van hierdie wêrelde bewus sal wees van hulleself. Wat is dan die kans dat die persoon wat bewus is van homself deel is van die generasie wat die oorspronklike skeppers is van sulke simulasies, en nie een van moontlik duisende simulasies nie?

______________________

Opinie oor Israel sedert Oktober 2023

WOENSDAG 20 MAART 2024

My opinie oor Israel het verander sedert verlede Oktober.

Dit is nou duidelik dat ’n betekenisvolle persentasie van die Israeli bevolking, en waarskynlik die meerderheid van die politieke elite, vir dekades al ’n Finale Plan in gedagte het vir die Palestynse bevolking van die Bybelse Israel.

Die plan is om, indien moontlik, alle Palestyne te forseer om te vlug oor die grens na Jordanië, Sirië, Libanon, en Egipte. En Palestyne wat weier om die res van hulle lewens te slyt as vlugtelinge, sal eenvoudig voor die voet vermoor word – een vir een, man, vrou, kind en oumens, koelbloedig, of dosyne op ’n slag met bom-veldtogte. Om mense aan te moedig om te vlug, maak Israel seker dat hulle elke gebou of fasiliteit wat gebruik kan word vir opvoeding of mediese sorg of enige tipe gemeenskapsaktiwiteit stelselmatig vernietig.

En wanneer die areas nou onder beheer van die Palestyne leeggemaak is, en huise en skole en hospitale en universiteite en moskees tot rommel gereduseer is, sal Joodse immigrante van Amerika en elders in die Weste, saam met burgers van Israel intrek, en nuwe huise bou, en nuwe skole, en nuwe hospitale, en nuwe geboue om húlle godsdiens te beoefen.

Die Palestynse Probleem sal uiteindelik opgelos wees.

Mense sal Israeli’s vuil aankyk vir ’n paar jaar, maar – so reken ek, reken ’n betekenisvolle persentasie van die Israeli bevolking, en waarskynlik die meerderheid van die politieke elite – uiteindelik sal mense vergeet, en aan beweeg na ’n ander gruwelstorie in ’n ander deel van die wêreld.

Die droom sal werklikheid wees.

______________________

Hoe sake staan op Dinsdag 30 Januarie 2024?

DINSDAG 30 JANUARIE 2024

Vir nuwe lesers: Ek is 52 jaar en sewe maande oud. Woon al vir meer as 25 jaar in die suide van Taiwan, vir die laaste 15 jaar of so saam met my vrou, en vir die laaste dekade met twee katte. En so aan en so aan.

Israel en Gaza: As ’n mens waarneem wat Israel aan Gaza en die Palestyne gedoen het sedert 7 Oktober 2023, stel ek myself voor ’n gesprek tussen die Eerste Minister van Israel, Benjamin Netanyahu, en ’n raadgewer:

Netanyahu: “What should our response be to Hamas?”

Raadgewer: “We need to destroy Hamas, even if we destroy the entire territory of Gaza and wipe out every man, woman and child who live there.”

Netanyahu: “Wouldn’t that be considered genocide?”

Raadgewer: “I guess it would.”

Netanyahu: “Let’s go.”

Trump as volgende Amerikaanse president: Wat weet ek van Amerikaanse politiek, en ek is buitengewoon sleg met voorspellings, maar ek dink Trump gaan inderdaad die verkiesing wen in November 2024. Hoekom sal die Diep Staat en hulle duisende medewerkers in die politieke establishment, die media, die akademie, en die vermaaklikheidswêreld dit toelaat? Want Trump sal vir hulle gee wat hulle nodig het. Hy sal ’n stop sit aan die golwe van ongedokumenteerde immigrante wat oor die Amerikaanse grens vloei. Hulle sal hom kritiseer terwyl hy dit doen, ten spyte daarvan dat hulle sal weet hy los ’n probleem op wat húlle veroorsaak het. Hy sal ’n stop sit aan die buitensporighede van die sogenaamde Social Justice Left van die laaste dekade of so. Natuurlik sal hulle lippediens doen aan die ideologie terwyl hy probeer om dit terug in ’n bottel te druk. Hy sal ook ten minste ’n poging aanwend om met Poetin te onderhandel – waarvoor hulle hom ook sal kritiseer, wetende dat almal insluitende hulle troetelprojek Zelenski dit nodig het. Israel is nie ’n probleem nie, want Trump sal voortgaan om Israel te ondersteun in hulle poging om Gaza en waarskynlik die Wesbank te leeg van Palestyne.

Amerika in die Midde-Ooste: As Amerika voortgaan om met wapens, geld, en morele ondersteuning Israel by te staan in hulle massamoord van die inwoners van Gaza in ’n poging om die area voor te berei vir kolonisasie deur Israeli besetters, sal gewapende groepe in Palestina, Libanon, Sirië, Jemen, Irak, en dalk Egipte voortgaan om Amerikaanse troepe en basisse in die Midde Ooste aan te val. Dit sal Amerika in ’n moeilike situasie plaas. Meer Amerikaanse stewels op die grond gaan nie werk nie. Bom-veldtogte sal net werk op ’n skaal wat Iran nie betrek nie. As Iran betrokke raak, sal dit waarskynlik wees met missiele waarteen Amerika nie hulle bates in die streek kan beskerm nie. Amerika weet dit, wat beteken hulle weet hulle speel met vuur. Is hulle onnosel genoeg om hulle vingers in petrol te druk en dan in die vlamme te steek?

Rusland en Oekraïne: Nog ’n paar maande van duisende mans (en vrouens) wat desperaat druk teen die Russiese oormag, om ’n moreel korrupte regering in Kiëf aan bewind te hou, wat hulle bloedlustige politieke meesters in Washington in staat te stel om nog ’n paar miljard dollar te steel by die Amerikaanse belastingbetaler. Uiteindelik sal Rusland Kiëf beset, en onder andere ook Odessa inlyf by die Russiese Federasie – ter goedkeuring van die meerderheid van die bevolking in daai areas. Dit wat oorbly en steeds bekend sal staan as Oekraïne, se hoofstad sal skuif na Lvov.

Volgende Suid-Afrikaanse verkiesing: Suid-Afrika het ongelukkig nie ’n lewensvatbare alternatief vir die regerende African National Congress nie. Indien daar egter wel ’n koalisie ontstaan tussen opposisie partye en dit lyk asof daar ’n groter as 50% kans is dat hulle die ANC sal ontsetel, sal die regering skielik ontdek dat die Amerikaanse regering besig is om in te meng in die verkiesing ten einde die ANC te straf vir die saak wat die regering in Januarie 2024 gebring het teen Israel by die Internasionale Geregshof. Ek vermoed dit is wat die ANC-regering beweeg het om in die eerste plek die saak te maak teen Israel, siende dat dit algemeen bekend is dat die ANC regering self moreel korrup is. Die regering sal dan hierdie werklike of verbeelde inmenging gebruik om die verkiesing uit te stel, of as die verkiesing plaasvind en hulle aansienlik genoeg steun verloor, weier om die uitslae te aanvaar.

* * *

Wat betref die bestaanservaring van om ’n 52-jarige man te wees in die suide van Taiwan, getroud, twee katte – eintlik my vrou se troeteldiere want hulle aanvaar my bloot as ’n vierde dier in die huis … Bly ingeskakel.

______________________