WOENSDAG 20 JULIE 2022
Stel jou voor jy’s in jou vroeë dertigs. Jy wil woon – ek herhaal, wil woon – in ten minste dieselfde provinsie as jou familie, sodat jy hulle kan sien een of twee keer per maand, en jy wil in dieselfde stad woon as ten minste ’n halfdosyn ou vriende saam met wie jy gereeld kan kuier. Stel jouself verder voor jy wil wees in ’n ernstige verhouding, met dalk ’n kind of twee. Jy wil wees gevestig in jou werk, met ’n bevredigende sosiale lewe.
Nou stel jouself voor jy bevind jouself in werklikheid in ’n vreemde land aan die ander kant van die aardbol. Jy sien jou familie dalk een keer elke twee jaar. Jy het ’n paar vriende, maar sien hulle min. Jy’s enkellopend, met geen verhouding in die pyplyn nie. Jou werk is nie vervullend nie, en jy herinner jouself gereeld daaraan, of word herinner, dat tyd besig is om uit te loop om jouself in ’n beroep te vestig.
Om dinge te kompliseer, is jy nie vasgevang in ’n situasie waar jy net kan bedank en ’n vliegtuigkaartjie kan bespreek terug huis toe nie. Jy het ’n woonstel vol boeke en meubels en muurbehangsels en ornamente met sentimentele waarde. Jou inkomste is voldoende om goed genoeg te eet en redelik sag te kan slaap, maar jy’t nie genoeg spaargeld om vir te lank te oorleef as jy terug gaan na jou eie land toe nie.
Jy kan natuurlik al die meubels, die muurbehangsels, en ’n paar ornamente agterlaat en terug gaan huis toe, en hoop alles werk uit. Probleem is, jy het presies dit gedoen ’n paar jaar tevore toe jy in ’n soortgelyke situasie was in ’n ander land, en kom ons sê maar net, dit het nie uitgewerk nie.
Wat doen jy?
Jy kan nie huis toe gaan nie, want jy’s klaar by die huis?
Aanvaar dit net, en druk vorentoe?
Wat het ék uiteindelik gedoen?
Om op te pak en weer my geluk te gaan probeer in Suid-Afrika het ek nie voor kans gesien nie. So, ek het my oë op skrefies getrek en aangehou stap.
En geskryf:
sink almal hardloop weg, die rotte vlug hy is … soos sy skip wat sink met plegtige respek kom die salutasie middelvinger in die lug trek ’n blokfluit uit sy gatsak speel ’n doodspsalm, keer die golwe met sy voorkop kalm spoel die dieptes lewe die fontein van oorvloed manna, kwartels, eilandstiltes in wysheid byt hy, met vlymskerp tande in die soet vlees van tweede lewe so kom maar aan verraaiers! kruip maar nader spotter-skare! een vir een sal julle voor die werklikheid moet staan en as julle oë dit nie kan sien, en julle ore nie kan hoor nie laat ek dit dan uitskree om dit in te sink: DAAR SAL ALTYD LEWE WEES! selfs vir die enkele oorlewende. * * * * * * * * * * * storm storms stu my voort my groteske beeld te groot om in ’n sleutelgat te pas ’n kas te klein en te benoud ’n goue kou te fyn en veels te koud ek storm voort in woeste vaart met wandelstaf en dagoue baard * * * * * * * * * * * slyp skuifel stom in stowwerige spasies rond maak asbakkies een na die ander vol en weer leeg; bekers vol koffie vars bottels tee van die deurnagkafee ou stoele gee mee die gewig van aandlug versuur in die aangesig van afwesige lig wieg ek vorentoe-en-terug, vorentoe-en-terug blyk dit mens moet soms jou kloue trek uit die modder van tyd meer filosofies moet wees oor die gewag tot dinge weer draai so as dit nie anders kan nie moet ek van vooraf my somme weer maak: een duisend sewe honderd vyf en tagtig een duisend sewe honderd vier en tagtig, een duisend sewe honderd drie en tagtig, een duisend … nagte sonder jou. * * * * * * * * * * * geografie nuwe behuising trek lyne skuins oor my planne my oë op skrefies tuur ek deur ander vensters na bure se mure veronderstel ek weet van meer as net lewe en dood en pype vol muise sou ek die preke van ouds kon memoriseer het ek te veel geleer van oumenstehuise ek loer soms te diep in die bottel van tyd skryf notas op vloere met potlood en kryt byt soms ’n knippie te veel af van geel-verouderde reëls na nuwe behuising moet mens soms trek die werk van ’n man soos ’n vrou mos nooit klaar maar ek skryf maar my lyne en hou maar my bek trek my oë op skrefies tot volgende jaar (Sondag, 14 September 2003) * * * * * * * * * * * (ongetiteld) ek voel myself onverantwoord’lik na aan jou minder as jou teenwoordigheid onvoorwaard’lik na aan my ek voel te meer myself onaangeraak terwyl ek lewe binne jou * * * veertig ton gebeure swyg verdoof my liefde as’t ware sal ek ooit, solank ek leef, die byl ontdek wat kappend my al soveel jare jaag? * * * * * * * * * * * skoene op pad na ’n kafee, sien jy dit weer: ’n woestyn, in die middel van die see jy wil nader sluip, kruip, anderkant toe mik maar tyd en plek is ’n skoen wat druk jy dink oor koffie, koop dan tee praat van uithou, aanhou, gee dan mee wil verwilderd “nee” sê, knik dan “ja” knipoog kamma-koel, vlug dan weer verdwaas soms sê ek jy gee te maklik in te min sien durf en waagmoed as talent swerwers slaan graag tent op in die nag klap swepe douvoordag teen bome vas sê tog jy wil saamgaan, sê tog jy wil slaap sê tog jy’t genoeg gehad, sê tog eenmaal “ja” vermoed ’n bietjie, glo, wik en weeg maar weer want hierdie tyd en plek, druk veels te veel * * * * * * * * * * * (nog ’n) naggedig ek sloof my af, maar die nag bly ’n bodemlose skag soos ’n myner van ’n skoner aard grawe ek na woorde, lig en beelde gepaste metafore bederf deur skyn staan soos heiliges reeds oor my oopgekerfde graf; terwyl ek op ’n drafstap soek na dagbreek breek die pik, die graaf, die hysbak na die lig en bly ek steeds vasgevang in nog ’n naggedig * * * * * * * * * * * plek i onstuimig brand die vorm laat die inhoud vars, onaangetas klere van ’n ander eeu hang onderstebo in my antieke klerekas kyk aandagtig na die strate, markte vroetel bietjie rond in hawestede sluip kaalvoet snags deur halfverligte stegies vou jou toe in ’n boemelaarskombers te veel preek graag oor spreuke lank vergete sing vals psalms oor verdoemde ou idees rym dogma in met nuwe wetenskap steel slinks oornag, woorde uit ’n kerker-biblioteek ii dosyne agterkinders, groter ouers voor portrette teen verlepte mure, skyn halfhartig voort boeke vol museums en ou geboue sketse in ’n duisend gange vol gedagtes herinner slegs, sing melodies sonder stop priesters dans met ou karosse gedrapeer oor skouers hangend onder die gewig vyftigduisend jaar se soeke na ’n waarheid hou in dreunsang aan om te dikteer: dat plek en wete nie net is waar jy behoort maar waar, aan die einde die siel behoort te wees
______________________