My lewe in Taiwan vanaf Januarie 1999 in blokke van vyf jaar

SONDAG 15 FEBRUARIE 2026

Januarie 1999~Januarie 2004: Vestig myself in Taiwan. Identiteitskrisis. Skryf verder aan notas begin in 1994. Werk aan eie projekte. Eksistensiële krisis. Trek na tweede woonstel. Produseer honderde bladsye notas en stukke. Besoek Suid-Afrika vier keer.

(Verlate huis in my nuwe woonbuurt)

Januarie 2004~Januarie 2009: Skryf nog. Ontmoet my lewensmaat. Begin obsessie met “make money from home”. Ervaar een mislukking na die ander. Leer hoe om te self-publish. Hou op rook. Besoek Suid-Afrika drie keer.

(Nuwe hoofstuk begin)

Januarie 2009~Januarie 2014: Begin persoonlike webwerwe. Publiseer skryfwerk. Nog meer mislukkings met “make money from home”. Kry meer klasse en bou weer finansies op. Trek na nuwe “kantoor”. Besoek Suid-Afrika drie keer.

(Bokse skuif na nuwe spasie)

Januarie 2014~Januarie 2019: “Make money from home” skuif na pre-race trading en football betting. Herhaaldelike mislukkings en hoë stres. Spandeer ses dae in Kioto en Osaka. Publiseer verskeie tematiese bundels van my skryfwerk. Besoek Suid-Afrika twee keer.

(Verdomde pre-race trading)

Januarie 2019~Januarie 2024: Spandeer ses dae in Ho Chi Min City (Saigon) in Viëtnam. Covid-19. Klasse word gekanselleer; skole sluit. Inkomste val met 60%. ChatGPT en ander Kunsmatige Intelligensie kommersieel beskikbaar. Publiseer my eerste produkte geskep met nuwe hulpbronne. Reis eerste keer om die hele eiland van Taiwan. Besoek Suid-Afrika een keer.

(Belangrike kruispad in Viëtnamese geskiedenis)

Januarie 2024~Januarie 2029: Gebruik verskeie KI-hulpbronne om meer produkte te produseer. Besoek Suid-Afrika twee keer sover.

(Suid-Afrikaanse ontbyt)

______________________

Diepe dankbaarheid as verset

SATERDAG 14 FEBRUARIE 2026

Diepe dankbaarheid as verset, ’n vorm van “Fok jou” teenoor enigiemand of enigiets wat jou wil onderdruk.

“Wat as jy met kanker gediagnoseer word, of selfs erger, jy ly al maande lank aan kanker?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog leef. Ek het nog ’n kans om dit te oorkom.

“Wat as jy terminale kanker het, met net weke om te leef?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog tyd het om my sake in orde te kry.

“Wat as jy in werklikheid reeds aan die kanker dood is?”

Diepe dankbaarheid dat die pyn verby is.

“Goed, wat as jy ’n man is en jy is in ’n bakleiery en dit gaan nie goed nie?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog staan.

“Wat as jy reeds die geveg verloor het?”

Diepe dankbaarheid dat ek nog leef.

“Wat as die ander ou jou doodgeslaan het?”

Diepe dankbaarheid dat ek nie meer met assholes soos hy hoef te deal nie.

______________________

Wat ek sê en wat ek doen

MAANDAG 14 APRIL 2025

As ek myself moes vra wat my primêre doelwit was die afgelope … sê, twintig jaar, sou ek gesê het dit is om geld te maak. Twintig jaar gelede was ek skielik nie meer alleen nie. ’n Jong vrou het besluit om ’n kans te vat op my, en ek moes haar ongelooflik optimistiese hoop regverdig.

Laaste ding wat ek wil doen, is om weer die leser te verveel met ’n lys van projekte en skemas waarmee ek gepoog het om geld te maak die afgelope twee dekades. Punt is, heelwat daarvan het niks te make gehad met kennis of insig versamel nie, en nog minder met kennis en insig deel met mense wat dit dalk nodig gehad het.

Nou, as ek klasgee, verduidelik ek nie net grammatika of woordeskat nie – ek gebruik elke geleentheid wat ek kry om ’n bietjie geskiedenis in te werk. Of ek probeer ’n nie-geykte opinie gee wanneer die gesprek gaan oor verhoudings, of ander aspekte van menslike bestaan waaroor ek dalk ’n intelligente gedagte gehad het in die verlede. Meeste van die materiaal wat ek sover geskep het vir ESL-studente, en die sosiale media materiaal wat ek deesdae publiseer, verklap die ambisie van die persoon agter dit om kennis te deel. (Natuurlik neem ek aan meeste mense weet nie reeds wat ek te vertelle het nie.)

Ander persoonlike projekte, soos Asian Histories of Listed History, en selfs Familiegeskiedenis, is nie juis veronderstel om geld te maak nie. Die ambisie was nog die heeltyd meer edel.

My primêre taak – by verstek, al dink ek nie elke dag so daaraan nie – is om kennis en insig te versamel. En as ek dan nog ’n brokkie kennis of insig bekom het, om dit te deel op ’n manier wat ’n bietjie anders is as die volgende versamelaar van kennis en insig, om sodoende dit hopelik ietwat makliker te maak vir die persoon wat die kennis en insig ontvang, om ’n gelukkiger en meer produktiewe bestaan te voer.

______________________

’n Betekenisvolle brokkie kennis

DINSDAG 8 OKTOBER 2024

Ek het in 1994 freneties begin notas maak. Dit was asof ek ’n roeping aangevoel het om te rapporteer oor my lewe. Die afgelope dertig jaar het ek aan en af gerapporteer; soms elke dag en soms net ’n paar verlore paragrawe in een kalenderjaar.

Die punt is steeds om te sê: Hier is ek. Dis hoe ek die lewe ervaar.

* * *

Dertig jaar gelede wou ek geld maak want ek wou doen wat ék wou doen. Ek wou nie gehad het mense moes bevele blaf en verwag ek moes spring nie. Ek wou geld gehad het om te kon reis en te kon studeer (seriously, ek was 23 jaar oud en ek wóú studeer).

Twintig jaar gelede was ek ernstig daaroor om my inkomste te verbeter want ek wou ’n beter lewe bewerkstellig vir myself, en die vir die jong vrou met wie ek later sou trou. Ek wou meer reis, en ek wou meer gereeld my familie in Suid-Afrika besoek.

Vandag wil ek my inkomste verbeter want ek wil my finansiële sekuriteit versterk, veral met die oog daarop dat ek binne dalk twee dekades nie meer lus gaan wees om te werk nie, of dalk nie meer alles kán doen wat ek wil doen nie.

Verskillende begeertes, maar dieselfde pad wat lei tot die vervulling daarvan. Een verskil is dat ek weet hoe twintig en dertig jaar onder my voetsole voel, en ek weet hoe dit deur my vingers glip. En ek weet twintig of dertig jaar van nou af – as ek so lank hou – is ek amptelik oud. Nie noodwendig afgeleef nie, maar definitief bejaard. Hierdie betekenisvolle brokkie kennis was nie deel van my bestaanservaring twintig of dertig jaar gelede nie.

______________________

Wat is jou reisfilosofie?

DONDERDAG 15 FEBRUARIE 2024

Jy word gebore as deel van ander mense se lewensreis.

Teen die tyd wat jy ’n bewussyn ontwikkel van wat aangaan, is jou eie reis reeds ’n geruime tyd aan die gang.

Wat is die punt? Wat is jou doelwit? Hoekom gaan jy voort met die reis? Wat is jou reisfilosofie?

Maak jou reis so pynloos en gelukkig as moontlik. As jy een ander persoon se reis, of etlike ander mense se reise, ook minder pynvol kan maak, gemakliker, en gelukkiger, dan is dit ook goed so – en sal waarskynlik jou eie reis meer die moeite werd maak.

(Terloops, gelukkige 20-jaar herdenking van die eerste keer toe ek hierdie presiese gedagte geformuleer het.)

______________________