Woensdag 31 Desember 2025

As hierdie stuk te lank was, sou mense geglo het dis geskryf deur ’n masjien.

Hier volg dus ’n kort fotoverhaal van my bestaan in 2025 …

2025 het, soos omtrent elke jaar die afgelope dekade, begin by Kaohsiung se Love River.

Die eerste dag is gespandeer by die oorblyfsels van ’n ou dorpie in die middel van die industriële area van Kaohsiung.

Februarie het ons Suid-Afrika toe gegaan, vir die eerste keer sedert voor die ding wat gebeur het in 2020. Op pad het ons ’n paar ure in Hong Kong gespandeer.

Maart het ons ’n rigting ingevaar een Sondagmiddag en toe ge-Google, “Coffee shop near me.”

In April het ek ’n vissersdorpie ontdek omtrent dertig minute se ry van ons woonstel af.

In Meimaand het ek ’n verskyning gemaak in een van Kaohsiung se top universiteite om met studente te praat oor die res van die wêreld – waarop ek natuurlik ’n kenner is want ek kom van die res van die wêreld af.

Ook in Mei was dit weer tyd om Tainan te besoek – die oudste stad in Taiwan.

In Junie het ons Italiaanse kos geniet op die kampus waar ek in Mei ’n kort verskyning gemaak het, om te vier dat ek alweer ’n jaar ouer geword het. Ook op die kampus ontdek: een van Chiang Kai-shek se vele motorkarre.

Op pad terug huis toe is ons gevang in ’n lelike reënbui en ons was gelaat met geen keuse anders as om te stop vir versnaperings nie.

Taitung/Taidong was ons keuse vir ’n middel-van-die-jaar wegbreek.

In Augustus het ons IKEA besoek.

In September het ek myself gefotografeer in ’n leë klaskamer …

… en ons het redelik vervelige kuns besigtig in Kaohsiung se redelik vervelige kunsmuseum (dalk moes ek ’n reeks van my klaskamer-selfies in ’n leë vertrek vasgeplak het een die muur).

In Oktober het ek ten minste een ou gebou afgeneem …

… en ’n ou National Geographic ontdek.

November het ek weer my ouers, my susters, en ’n paar vriende besoek in Suid-Afrika, en ’n paar dosyn foto’s van kos geneem.

En in Desember het ons ou geboue en ’n verlate fabriek ontdek.

… en ’n fotoverhaal van 2025 bymekaar gesit.

______________________

Sondag 31 Desember 2023

Ek het nie hierdie jaar veel geskryf nie – minder as 2,000 woorde gepubliseer teenoor meer as 22,000 verlede jaar.

Een rede: Ek het gevoel dat ek gesê het wat ek wou sê.

Ek het in 2023 ’n paar gedagtes verwoord oor die lewe en die dood. Ten spyte daarvan dat die oorlog in Oekraïne steeds voortwoed, het ek nie veel bygevoeg tot wat ek verlede jaar gesê het nie. Daar was ook nie veel wat ek kon bylas oor my opinie oor die China-Taiwan vraagstuk nie. Ek was soos meeste mense geskok oor wat gebeur het in Israel op 7 Oktober, en het sedertdien met afgryse op sosiale media gevolg wat besig is om te gebeur in Gaza.

Ander nuus het gekom en gegaan.

Soos elke jaar, voorspel mense die einde van die wêreld in die nuwe jaar.

Soos elke jaar, sal hulle waarskynlik verkeerd wees.

Aan die ander van die spektrum voorspel sommige mense ’n goeie jaar – vir sommige mense.

Ekself is agnosties. En vol hoop.

Dalk sal dit blyk te wees ’n goeie tyd om dinge bymekaar te bring.

Saterdag 31 Desember 2022

Ek het besluit om hierdie jaar my eie tradisie te breek en nie ’n jaareinde stukkie te skryf nie.

Gewoonlik voel ek dit nodig om uit te spel dat die jaar wat binne enkele ure verby sal wees, goed was.

Ek voel dit ook nodig om vir die rekord (siende dat dit is wat hierdie hoekie van die wêreldwye informasie-netwerk is: ’n rekord van my bestaan) te sê dat ek hoop die volgende jaar ook goed sal wees.

Omdat ek, sover ek kan onthou, nie in die publiek gekla het oor enige iets hierdie jaar nie, kan ek nie op hierdie laat uur beweer dat die jaar nie goed was nie.

En omdat ek van nature optimisties is, vind ek dit ook onnodig om dit vir die rekord duidelik te maak dat ek optimisties is oor volgende jaar.

Omdat ek dus nie hierdie gewone stellings kan insluit in my stukkie aan die einde van die jaar nie, waaroor anders kan ek woorde tik en minute later publiseer vir mense in Argentinië en Siberië en Alaska en Durbanville om te lees?

Niks.

So, bly positief. Selfs al maak dit nie altyd sin nie. (Behalwe natuurlik as iemand jou wil ontvoer. In daai geval moet jy die ergste verwag en baklei asof jou lewe daarvan afhang.)

______________________