Koffietafels en identiteit

WOENSDAG 29 JUNIE 2005

Na jare se dink oor homself en oor die lewe, besluit ’n man wie hy wil wees, waar hy wil woon, in watter styl, met hoeveel geld hy tevrede kan wees, en so meer.

Dan ontmoet hy ’n vrou en hulle begin ’n verhouding. Oor die verloop van maande wat hy met haar spandeer, kry hy ’n idee van wat haar visie is van ’n mooi huis. Sommige aspekte daarvan korrespondeer met sy eie idees. Ander items tref hom dalk as opsigtelik “bourgeois”. Hy het ook ’n aversie opgebou oor die jare teen dekor wat lyk of dit uit ’n katalogus gekoop is, en hy word herinner aan ’n Fight Club quote: “Flipping through catalogues, deciding which coffee table defines me the best.”

Hierdie man is gemaklik daarmee om van ’n koffietafel ’n politieke argument te maak. Tog, hy is lief vir die vrou, en haar visie van ’n mooi huis … is mooi, stylvol, esteties aangenaam, en warm. Sy vraag aan homself: Moet hy erken dat die voorstelle wat sy maak om van ’n woonstel ’n mooi tuiste te maak nie in konflik is met sy idee van ’n aangename leefspasie wat haar teenwoordigheid in sy lewe pre-dateer nie, of moet hy voortgaan om sy visie van ’n “intellectual’s lair” te verdedig tot die laaste koffietafel splinter, omdat hy sal sterf van verleentheid as enige ander leunstoel rewolusionêr van opinie moet wees dat hy bourgeois geraak het die oomblik toe hy sy hart verloor het op ’n vrou?

Wat hier ter sprake is, is identiteit. Wie en wat jy is in die omgewing en tyd waarin jy bestaan vind uitdrukking in jou adres, jou klere, jou meubels, jou vervoermiddel, en die ornamente en muurbehangsels in jou sitkamer. As enige van laasgenoemde uitdrukkings van jou wie-en-wat verander, wat sê dit van wie en wat jy is, of geword het, of besig is om te word? (En enige leser wat van mening is dat ’n koffietafel net ’n donnerse koffietafel is, het duidelik nog nie die fyner punte van bestaan gekontempleer nie.)

Mens verander, dit weet almal. Mens tree in ’n verhouding met iemand spesiaal, en jou bestaanstoestand word oornag (en met die verloop van maande), getransformeer van enkellopende amateur akademikus/skrywer, na … amateur akademikus/skrywer in betekenisvolle verhouding met ’n pragtige vrou wat nie hou van gebreekte toilette en pap tweedehandse rusbanke met opgestapelde koerante onder ’n laken om te verhoed dat mens inval nie.

Verhoudings, kompromie, politiek, koffietafels … whatever. Laat die shopping begin!

______________________

Wat was jou proses?

DINSDAG 28 JUNIE 2005

’n Frase wat gereeld gehoor word om braaivleisvure, op stoepe of balkonne, langs ’n tafel in ’n restaurant of ’n toonbank in ’n kroeg, of ander plekke waar middelstratum mid-twenties hul tyd verwyl, is dit: “Ek weet nou wat belangrik is in die lewe. Ek weet nou wat ek uit die lewe wil hê.”

Ek is in geen posisie om wat vir hulle belangrik is, of wat hulle uit die lewe wil hê, te bevraagteken nie. Die versoeking bestaan wel om vir hulle te vra: Wat was jou proses? Op watse wyse het jy te werk gegaan om uit te vind of uit te werk wat vir jou belangrik is, of wat jy wil hê? Het jy nagte wakker gelê en gedink daaroor? Het jy jare lank die moontlikhede opgeweeg en oor en oor bedink? Vir maande lank? Weke, dalk? Het dit jou “getref” een oggend op pad werk toe? Was dit iets wat iemand gesê het by ’n braai, of op TV, of in ’n movie, of op kantoor, of op kampus een dag? Het jy ’n deeglike proses van eliminasie gevolg, waartydens jy ’n dosyn, of ten minste ’n halfdosyn moontlikhede oorweeg het, met al die moontlike pluspunte van elke moontlikheid opgeweeg teen al die moontlike nadele en al die moontlike risiko’s? Wie se spore volg jy bewustelik of onbewustelik na? Hoekom hierdie spore? Watse behoeftes hoop jy om te vervul met jou uiteindelike keuse van wat vir jou, as jong volwassene, belangrik is? Watse doelwitte sal vervul word in die nastrewing van wat jy uit die lewe wil hê? Wat is belangrik vir jou vriende, jou broers, jou susters, jou neefs en niggies? Stem wat vir jou belangrik is en wat jy uit die lewe wil hê naastenby ooreen met wat hulle wil hê, en wat vir hulle belangrik is? Indien jy ’n ander pad wil volg as hulle, wat is jou redes, jou motiverings? Indien dit wel ooreenstem, wat reken jy sou die redes wees daarvoor? En nou dat ons op hierdie vraaglyn is, wat was belangrik vir jou ouers, of jou ooms en tantes (net vir interessantheid)? Het hulle soortgelyke dinge nagestreef as wat jy nou meen om te doen vir die volgende veertig of so jare van jou lewe? Is, of was hulle gelukkig met hul keuses? Om watter redes sou jy reken was hulle tevrede met hul keuses? Was daar dinge waaroor hulle spyt was? Wat is hierdie dinge? Is daar drome of ambisies wat jy nou reeds afskryf as onrealisties en onvervulbaar? Hoe spyt sal jy moontlik oor tien of twintig jaar wees oor hierdie dinge wat jy as onbereikbaar beskou het in jou middel-twintigs? Wat sal opmaak vir die drome en ambisies wat jy nooit gaan nastreef nie?

Hierdie is maar enkele vrae waarvoor jy ’n uur of wat kan afknyp as dit net jy is – as jy jouself bevind in ’n plek waar jy niemand ken nie, waar bekende stemme vir die oomblik nie jou eie weergalm, of stil praat, of ondersteun nie.

______________________

Geloofwaardigheid – die omgewing en proses van die intieme verhouding

WOENSDAG 15 JUNIE 2005

’n Hele paar gedagtes staan in lyn vir ’n stukkie papier […] Ek kom agter dat ek ’n hang-up ontwikkel wat betref geloofwaardigheid. Ek kan honderde bladsye teks op die tafel neerlê wat ek sover geproduseer het, maar … tot nou toe is niks gepubliseer nie! […] Aag tog! Iets moet gedoen word!

Papier is papier; ink is ink; en soos ek hier sit in my grys onderbroek en grys T-hemp, op die rooi stoeltjie by die lessenaar in die kombuis met die blou waaier wat raas en die reën wat buite drup, is gevoelens, gevoelens. En soos dit is, slaag mens nie altyd daarin om in ’n nota aan jou latere self te probeer verduidelik, op papier, in ink, presies hoe jy gevoel het op daai oomblik nie.

So, wat ek voel is frustrasie … nee, ongeduld, want ek sien die wenstreep, of die bestemming waaroor ek vir jare al profeteer. Ek sien dit, want dit is naby. Die probleem is dat ek nie reguit soontoe hardloop nie. Ek skuifel-draf teen ’n halwe sentimeter per uur, van links na regs en regs na links, dan slaan ek bollemakiesie en stap eers terug na die begin voor ek besef ek moet omdraai, dan gly ek eers oor my eie broekspype, skuifel voort teen een sentimeter per uur vir twee ure, raak aan die slaap van verveling en verloor weer my spoor … en so karring ek aan.

Ek het nodig, ter wille van geloofwaardigheid, om te produseer, met amptelike verifikasie van sukses.

DONDERDAG 16 JUNIE 2005

Reën – al vir vyf dae aaneen, eindelose wasgoed, skottelgoed, geloofwaardigheid as ’n skrywer en entrepreneur, en ’n nuwe vraag: is ek ietwat verleë oor die effek wat ’n intieme verhouding op my het? Dit beïnvloed wat ek sê en hoe ek dit sê; dat, en waaroor ek soms apologeties is; en dit laat my verskyn aan iemand soos ek voorheen net aan myself verskyn het – bedoelende finansiële status, my status as ongepubliseerde skrywer, die werklikheid dat ek werk aan talle sogenaamde geld projekte … wat nog nie geld maak nie.

Nog ’n vraag (’n noodsaaklike een): voel ek so goed oor myself in ’n intieme verhouding soos wat ek gevoel het op my eie?

Soos ek besig was om die vraag neer te skryf, het ek besef dis gelaai met misverstand en ongesproke detail. Was ek altyd gelukkig op my eie? Het ek verwag dat ek in ’n verhouding te alle tye gelukkig sal wees? Die antwoord op beide is, nee.

Hier’s my advies aan myself: ’n Intieme verhouding is ’n omgewing waar jy weereens gekonfronteer word met jouself – ’n omgewing wat op kardinale wyses verskil van die een waarin jy op jou eie was. Dit bied aan jou ’n nuwe spieël waarin jy na jouself kyk. Dit is ’n omgewing waar konflik, beide groot en klein, ’n gereelde verskyning maak. ’n Verhouding is ook ’n proses waartydens jy jouself weereens moet definieer – wie jy is, wat jy is, waar jou plek in die wêreld is, wat jou ideale rol is, wat jou relatiewe waarde is as ’n mens (en as moontlike rolspeler), wat jou sterkpunte en jou swakhede is, wat die toekoms moontlik vir jou kan inhou, hoeveel geld jy nodig het om nie net te kan oorleef nie, maar om te wees wie jy wil wees en te doen wat jy wil doen.

Soos die omgewing van die Woestyn (selibaatheid en alleenheid), so ook is hierdie omgewing en die gepaardgaande proses beide konstruktief en destruktief, beide positief en negatief; soms lei dit tot ’n bewussyn van geluk, soms tot frustrasie; soms lei dit tot ’n afname in positiewe selfbeskouing en vertroue in jou potensiaal en vermoëns, soms bevestig dit jou bestaande positiewe selfbeskouing en vertroue in jou potensiaal en vermoëns, en soms is dit bevorderlik vir ’n versterking van laasgenoemde.

’n Intieme verhouding is ’n lewende omgewing, waar geduld, liefde en wedersydse aanvaarding sal lei tot vervulling van veel meer as net fisiese behoeftes. In die ideale situasie sal dit lei tot ’n ryker ervaring van menswees. Natuurlik sal ’n intieme verhouding ook soms lei tot pyn, teleurstelling en frustrasie. Dit is ’n omgewing waar eerlikheid en opregtheid hoog op die prys gestel moet word. Dit is ’n proses wat gekoester moet word, selfs al moet jy ook soms die minder aangename aspekte verduur wat deel sal wees van enige situasie waarin twee mense in gereelde en intieme gemeenskap verkeer.

SONDAG 26 JUNIE 2005

Sê ’n Christen karakter in ’n movie vir ’n ander ou, “Jesus will save us.”

Antwoord die ander ou met, “I don’t believe that.”

Slaan die Christen ou terug met, “Your beliefs have no bearing on the facts.”

MAANDAG 27 JUNIE 2005

01:22

’n Gekrap deur bokse, ou gemors, en stukkies papier wat A.W.O.L. gegaan het oor die jare lei my tot die hernude besef dat ek nie gister ontstaan het nie. Ek kom al ’n lang pad.

17:58

Hoe dink ’n mens? Mens praat in klanke, en lees visuele voorstellings van die klanke – maar hoe dink ’n mens? Wat is die woorde in jou kop?

______________________

Sekerheid – onsekerheid – wonderwerke

DONDERDAG 9 JUNIE 2005

13:43

Mense in ’n movie op TV vlug vir ’n reuse slang, en kruip weg agter ’n muur.

Moral of the story? As jy nie verskyn nie, is jou kanse op oorlewing soms beter.

16:25

Waar staan ek? Waar ek die afgelope paar jaar al staan – op pad na dieselfde bestemmings.

Waaroor wonder ek? Selfde as voorheen: Waar kom ons vandaan? Wat is ons? Is daar iets wat ons moet doen? Indien wel, wat?

VRYDAG 10 JUNIE 2005

10:18

Nie meer my Plekkie in die Son nie, maar my Stukkie van die Legkaart.

* * *

Daar is mense wat sal kyk na ’n omvattende verslag van hoe die mens funksioneer – al die sielkunde, al die keuses wat mens moet maak wat neerkom op jy wat jy is. Hulle sal daarna kyk en sê: “Fair enough. Maar vat gerus die verslag terug. Ek is ’n besigheidsman (of ’n kolonel in die weermag, of ’n Engelse onderwyser) – dis goed genoeg vir my. Ek het nie nodig om al daai ander slim goed te weet of te verstaan nie.” Of: “Ek verstaan hoe die brein werk, hoe die psige werk, maar ek is 100% toegewyd aan my rol, my funksie en my arbeid. Ek het nie meer as dit nodig nie.”

17:31

Sy is gespanne daaroor om huis toe te gaan. Sy sien uit daarna om haar familie te sien, maar jy weet hoe dit is met hierdie dinge – sy weet wie sy was in haar algemene gedrag, in haar houding jeens mense en dinge, wat sy besig was om te doen met haar lewe, en waarheen sy op pad was toe sy laas aan haar familie verskyn het. Dis nou ’n jaar later. Sy is steeds dieselfde mens … of is sy? Sy’t dinge gesien, dinge ervaar, verhoudings aangeknoop met mense wat haar familie nog nooit ontmoet het nie. Sy het dinge gedoen wat niemand in haar familie al gedoen het nie, en op plekke waar haar familie nog nooit was nie. Sy is gekonfronteer met vraagstukke, en met haarself, op wyses waarop sy nooit voorheen gekonfronteer is nie. Het hierdie dinge verander hoe sy oor haarself dink? Het hierdie ervaringe haar verander op maniere wat sal maak dat sy nie meer dieselfde persoon sal wees wat haar familie by verstek verwag nie? Sal sy effens ongemaklik voel tussen mense wat sy liefhet, en wat al haar hele lewe aan haar bekend is? Sal sy effens vervreemd voel van die omgewing waar sy drie weke lank sal vertoef?

Hierdie is vrae waaroor sy moontlik nie bewustelik wonder nie. Voel sy nietemin die onsekerheid? Ek glo so.

SONDAG 12 JUNIE 2005

Ek sit in die sitkamer en kyk Proof of Life. [N.] slaap nog ’n bietjie. Ek moet myself inhou om haar nie te gaan pla nie – om met haar te gesels, om te begin om nog ’n dag met haar te spandeer. Ons het gisteraand vir mekaar stories vertel van ons jeug – eerste soene, trekkery, vriende, my skandes op Stellenbosch [eerste paar maande wat ek ’n kamer “gehuur” het by ’n gesin in hulle huis maar nie die huur kon betaal nie, en so aan]. Soms moet ek myself daaraan herinner (en ek word daaraan herinner as ek deur my notaboeke lees) dat daar ’n tyd in my lewe was – so onlangs as ’n jaar gelede, wat ek gedink het ek gaan op my eie wees tot ek … veel ouer is. Tensy, so’t ek gereken, ’n wonderwerk gebeur.

______________________

Huishoudelike items – eie belangrikheid

MAANDAG 6 JUNIE 2005

18:57

Identiteit word uitgedruk in die taal, klere en meublement van die tyd en omgewing waarin ons bestaan gevoer word: my antwoord op die vraag, “Is dit wie ek deesdae is?” na ek in ’n Working House ietwat verleë gevoel het oor die idee dat sekere huishoudelike items goed sal lyk in my woonstel.

[Laat mens weereens dink: Wie sou jy wees as jy gebore was in, sê, Moskou? Of, wie sou jy wees as jy gebore was in Parys, in 1871? Of, wie sou jy wees as jy gebore was in 1771 as die agtste kind van ’n arm kleinboer wie se familie ’n bestaan probeer maak op ’n stukkie grond buite Bratislava?]

20:20

Aan die einde kom en gaan 99.9% van die mense op aarde, en dra óf by tot die handhawing en groei van Beskawing, óf dra by tot die vernietiging daarvan. Van slegs 0.01% van mense en dalk selfs minder sal daar in terugskouing gesê kan word dat hulle buitengewoon was, verhewe bo meeste van hul tydgenote, selfs dat hulle “bestem” was vir belangrike rolle.

21:01

Dit wat sy GEGEE is, manifesteer krag. Dit wat sy sover GEKIES het, manifesteer karakter.

22:20

Almal wil weet dat hulle belangrik is. Die gedagte dat jy vir niemand – geen mens of dier – van enige belang is nie, is vir meeste mense te veel om te verduur. Hoe bevestig mense hul waarde? Hoe maak hulle op daarvoor as hulle van mening is dat hulle waarde onbeduidend is?

WOENSDAG 8 JUNIE 2005

Ander mense het ander stories, ander pyne en skete, en het ander lyding ondergaan. Hulle ag hul eie stories as waardevol en as geldige dele van die Groot Legkaart.

So ook het ek my eie stories, my eie pyne en onsekerhede, en het ek ook my eie moeilike tye deurgemaak. Soos die ander mense se stories, is my eie stories ook geldige en unieke stukkies van die Legkaart.

Siende dat elkeen se stories geldig is en waarde het vir hulle, is dit onsinnig om ander mense se stories te vergelyk met jou eie, en dan die waarde en geldigheid van iemand anders se stories te bevraagteken.

Hoekom het mense in elk geval hierdie begeerte om dit te doen? Is dit omdat hulle onseker is oor die geldigheid en die waarde van hul eie lewens? Reken hulle dat hulle meer oortuig sal wees van die belangrikheid, die geldigheid, die waarde van hulle lewens as hulle die geldigheid en die waarde van ander mense se lewens bevraagteken? (En hoe gereeld maak ek myself skuldig aan hierdie onsinnige gedrag?)

______________________