My posisie oor inentings, natuurlike immuniteit, en maskers

VRYDAG 11 FEBRUARIE 2022

Op 11 November 2021 het ek my eerste en enigste inenting gekry teen COVID-19. Op daai stadium het ek gereken ek gaan in die eerste maande van 2022 Suid-Afrika toe gaan, waar die Delta variant nog paniek gesaai het. Ek het reeds verstaan die inenting sal my nie steriliseer teen die virus nie, maar het gereken dat dit my simptome ligter sal maak indien ek dit wel kry. Dit het geklink na ’n redelike argument om ingeënt te word.

Ek beplan egter nie om ’n tweede inenting of enige “boosters” te kry nie. Rede nommer een is die feit dat dit algemeen aanvaar word dat simptome van Omicron – wat nou die dominante variant is, matiger is. Tweede rede is omdat ek glo dat SARS-CoV-2 reeds deel geword het van die familie van meer as 200 griep-tipe virusse wat mense wêreldwyd teister elke jaar, en dat die enigste redelike langtermyn weerstand teen dit natuurlike immuniteit is. Hierdie natuurlike immuniteit word opgebou en gehandhaaf met herhaaldelike blootstelling aan die virusse, sodat die immuunstelsel die nodige verstellings kan maak teen genetiese veranderings wat deurlopend plaasvind in virusse.

Om my immuunstelsel die beste kans te gee teen SARS-CoV-2, sal ek my bes doen om fiks en gesond te bly, insluitende deur ’n gesonde dieet te volg, gereeld vars lug en sonskyn te geniet, en gereeld te oefen. Die enigste alternatief is inspuitings elke vier tot ses maande vir die res van my bestaan.

Dit bring my by die derde rede vir my huidige posisie oor inentings. Ek reken daar is ’n hoë waarskynlikheid dat nasionale gesondheidsdepartemente, internasionale gesondheidsorganisasies, en Groot Medisyne nie eerlik is oor die newe-effekte van die inentings nie. En massamedia en politici kan nie vertrou word om seker te maak die waarheid kom uit nie, vanweë biljoene dollars wat jaarliks vloei uit die koffers van Groot Medisyne na massamedia en politieke leiers met besluitnemingsvermoëns oor hierdie sake.

Siende dat ons op die onderwerp is, ek dra ’n masker as ek fietsry in die verkeer en ek nie die uitlaatgasse van trokke, busse, karre en bromponies wil inasem sonder die beskerming van een of ander filter nie. Ek het ook altyd as onderwyser in ’n klaskamer met kinders wat simptome wys van griep of verkoue, verkies dat hulle maskers dra om te verhoed dat hulle nies en hoes oor my en ander studente. Ek verstaan ook dat dokters en ander mediese personeel maskers dra om hulleself en hul pasiënte te beskerm teen liggaamsvloeistowwe wat bakterieë en ander kieme bevat. Om vereis te word om ’n masker te dra orals in die publiek, insluitende wanneer jy op jou eie in die park of op die strand stap en jyself het nie enige hoes of nies simptome nie, is, aan die ander kant, absurd.

______________________

Stel jouself op vir geleenthede en geluk – al word jy nooit ’n superster nie

WOENSDAG 5 JANUARIE 2022

Om voort te bou op ’n gedagte van verlede week of so: As jy kyk na meeste mense in hulle middeljare of later, is dit duidelik dat hulle nooit supersterre geword het nie. Hulle is dalk “supersterre” vir hulle families, maar bitter weinig mense eindig op met uitsonderlike talente en prestasies in enige area, wat nog te sê op meer as een gebied – soos sport én kuns, of ingenieurswese én kookkuns.

Die ander deel van die gedagte is dat selfs mense wat superster-status bereik, soms meer skade doen aan ander mense as goed. Ten spyte van al hulle prestasies en pryse en status.

Al het jy dus nooit superster-status bereik nie, nooit enige pryse gewen vir jou werk nie, nooit veel presteer op enige gebied nie, maar dit kan ook gesê word dat jy min skade verrig het aan ander mense, aan diere, en aan die omgewing, dink ek dis heeltemal gepas om te sê jy kan jou kop hoog hou – jy’t goed gedoen.

MAANDAG 24 JANUARIE 2022

Punt 1. Soos reeds genoem word bitter weinig mense supersterre. Min mense slaag daarin om meer as een of twee van die dinge te bereik wat hulle eens voorgeneem het om te doen of gehoop het om te bereik.

Punt 2. Een persoon kritiseer ’n ander vir sy onindrukwekkende inkomste en lae bydrae tot ’n gemeenskaplike saak. Vra laasgenoemde: “Maak jý soveel geld soos wat jy denkbaar kan maak? Doen jý alles in jóú vermoëns om meer uit te rig? Hoekom maak jý nie meer geld nie? Te besig om die lewe te geniet? Kan nie uitwerk hoé nie? Het probeer maar het misluk? Het probeer maar nie hard genoeg nie?”

Punt 3. Min mense skep geleenthede uit die blou lug. Meeste mense aanvaar geleenthede wat aan hulle gebied word, en werk dan hard om hierdie bronne van inkomste in stand te hou. Maar het hulle in die eerste plek die geleentheid geskep? Nee.

Punt 4. Wat wel gebeur, is dat mense hulleself voorberei om voordeel te trek uit bestaande geleenthede deur opgelei te word in ’n sekere veld, en deur sekere kennis te bekom.

* * *

I. Identifiseer ’n goeie geleentheid – vir jou. Mense se behoeftes en begeertes is alles geleenthede.

II. Kry opleiding of doen ondervinding op in ’n spesifieke geleentheidsveld. Rig jouself dan in om voordeel te trek uit bestaande geleenthede. (Opleiding vind nie oornag plaas nie. As jy twintig is, kan jy nog tyd spandeer om vir verskeie dinge opgelei te word. As jy vyftig is, kan jy steeds opgelei word of self vaardighede leer, maar die kans is groter dat jy sal kyk waarvoor jy reeds opgelei is, of waarin jy reeds ondervinding het.)

III. Ek het aanvanklik gedink dat 99% van al die geld wat ek in my lewe gemaak het, gekom het van geleenthede wat my aangebied was – van mense wat my gevra het of ek belangstel in ’n posisie in ’n geskenkwinkel toe ek ’n student was, tot mense in Taiwan wat my tromp-op geloop het of gebel het by die huis of aan my deur geklop het en my gevra het of ek tyd het vir nog ’n Engelse klas. Besef ek toe omtrent ’n minuut gelede: Ek was opgestel vir die geleenthede, in die geval van laasgenoemde voorbeelde, deur Taiwan toe te kom en kontakbaar te wees.

Nog iets: Meeste mense “hustle” nie op ’n straathoek vir geld nie. Vreemd genoeg, die enigste mense wat dit doen, wat “cold calls” doen en mense vra vir geld, is bedelaars – wat gesien word as op die laagste trappie van die ekonomiese hiërargie. Ek wou gesê het straatverkopers “hustle” ook, maar hulle stel hulleself ook op vir geleentheid: mense wat verby hulle stap wat toevallig nodig het of lus is vir wat hulle verkoop – “Ek is honger, en hier’s ’n ou wat boereworsrolle verkoop”.

______________________

Vrydag 31 Desember 2021

Kon sekerlik verwag word na al die jare. My woorde het opgeraak. Of ek moes nuwe woorde gaan koop, maar ek het vergeet. Of ek’t die woorde bestel, maar die vragskip het gesink. Of die trein het ontspoor. Of die vliegtuig het sonder petrol gaan staan.

Voorheen het ek gepraat oor wat gedoen is. Maar dis gedoen.

Of ek het gepraat van wat gedoen gaan word.

Of ek het anekdotes vertel van woede, hartseer, vreugde, vrees, en verleentheid.

Maar almal raak kwaad. Hartseer dinge gebeur. Vreugde is wonderlik. Vrees is ’n pes, en verleentheid is ’n mors van tyd. Meeste van die tyd.

Beste van alles, ek sien uit na volgende jaar. Ek dink dit gaan ’n uitsonderlike goeie jaar wees.

Soos elke jaar.

______________________

Dis dan dit vir ou Vet Dier

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2021

Ons het gistermiddag, Woensdag 10 November 2021, die laaste keer vir Ou Vet veearts toe gevat.

Hy’t in Augustus erg opgegooi. Ons het gedink dis die einde. Hy’s hierdie jaar vyftien jaar oud, so ons dink al vir ’n geruime tyd hy sal dalk nie nog ’n jaar saam met ons wees nie.

Hy’t egter vinnig herstel, weer op die meubels gespring, sy gewone hoeveelheid kos geëet, en so aan.

Sondag 3 Oktober gooi hy weer op. Dié keer is dit erger. Ons het nie gedink hy gaan die aand uitsien nie. Die volgende oggend sien ek ’n dooie duif op die sypaadjie. “Death is in the air,” dink ek.

Ons het hom die middag veearts toe gevat, en die veearts het na ’n vlugtige fisiese ondersoek en ’n bloedtoets verklaar dat hy nierontsteking het, en dat hy net ’n twintig persent kans het om te herstel daarvan. Ons het hom vir drie dae by die kliniek gelos terwyl hy vloeistowwe gekry het. Daar was geen sekerheid of hy weer huis toe sou kom nie.

Drie dae later het ons hom teruggebring. Hy was onseker op sy bene, en het na ’n paar rondtes deur die woonstel besluit op die vloer aan die linkerkant van die bed in die hoofslaapkamer as sy laaste domein.

Dis waar hy gebly het vir die volgende vyf weke.

Ons het hom elke twee dae teruggeneem veearts toe vir vloeistowwe en so nou en dan ’n vitamieninspuiting.

Sommige dae het hy goed geëet en water gedrink; sommige dae het hy net gelê en voor hom uitgestaar. Die eerste week van November het ek aan die veearts se assistent gesê hy’s stabiel, loop ’n bietjie rond, en dat ek hom ’n paar keer sien eet en drink het. Hy’t dit wel nie altyd gemaak tot by die katsand nie, en hy’t ’n bietjie gelek, so sy lêplek moes gereeld skoongemaak word.

Sondag 7 November 2021 was die eerste keer wat ons bloed in sy ontlasting gesien het. En nie ’n bietjie nie. Dit was sleg.

Teen Dinsdag het hy nie meer geëet nie. Die weer het ook koeler geraak, en gelukkig het hy nie opgestaan en op die koue teëls gaan lê as ons hom op ’n handdoekie gesit het vir gemak met handdoekrol vir higiëne nie.

Ons het hom weer veearts toe gevat, en weer die onderwerp aangeroer van genadedood.

Ons het besluit óf Woensdag, óf Vrydag. ’n Artikel op die Internet het ’n veearts aangehaal wat sê om ’n dier sy finale inspuiting te gee, is een van die maklikste aspekte van sy werk, want hy bring aan ’n terminale siek dier verligting. Hy’t ook gesê dis een van die laaste uitdrukkings van barmhartigheid wat die eienaar kan gee aan ’n geliefde troeteldier.

Teen Dinsdagaand het ek gereken dat ons nie meer moet uitstel nie. Natasja het die volgende oggend vroeg die veearts laat weet.

Ek is bietjie van ’n swakkeling met hierdie sake. Toe ons besluit die uur het gekom, het ek hom van die vloer af opgetel en hom vir oulaas in sy kat-draer gesit. Hy’t net ’n bietjie gemurmureer.

By die veearts het ons hom uitgehaal en op die tafel neergeplaas. Ek het sy kop ’n paar keer gestreel … en toe besluit om weg te staan.

Die veearts het hom ’n slaapmiddel ingegee, en seker drie sekondes daarna toe dip sy kop af. Toe, met ’n groter inspuiting met vloeistof met ’n geel-oranje skynsel in sy hand, vra die veearts ons of ons seker is ons wil voortgaan. Ons het geknik. Toe spuit hy hom in. Ek het weggestap na die wasbak toe.

Ons het rondgestaan vir ’n paar minute. Die personeel het gepraat. Natasja het gepraat. Die veearts het gepraat. Ek het gevra hoe lank dit sal vat voor dit verby is. Natasja het meer spesifiek gevra hoe lank dit sal vat tot sy hart stop. Die vrou met wie ons die meeste gepraat het, sê toe dat dit reeds verby is. Sy hart het reeds gestop.

Ons het een van sy gunsteling komberse oor hom gedrapeer. Die personeel het sy liggaam oorgeplaas in ’n nuwe kartondoos, en verduidelik wat die proses is met die verassing.

Ons het betaal wat ons moes betaal, en almal bedank vir hulle hulp.

En huis toe gery met die leë kat-draer.

’n Troeteldier is een van daai dinge wat die lewe die moeite werd maak – spesifiek die hartseer, en die alleenheid, en die bekommernisse wat soms deel is van ’n mens se alledaagse bestaan.

Nou ja, dis dan dit.

______________________

Wat positiewe denke in praktyk beteken

DINSDAG 9 NOVEMBER 2021

Ek is ’n groot voorstander van positiewe denke – om te glo jy kan iets doen as jy jouself genoeg inspan.

Maar soms voel dit reg om Duiwelsadvokaat te wees, om eenvoudig te sê: Dit gaan nie werk nie; jy gaan jou tyd mors. Of, die waarskynlikheid is bitter skraal dat iets ’n sukses gaan wees.

Iemand sal my – van alle mense – dan wys op die krag van positiewe denke.

Die Duiwelsadvokaat antwoord: Dit is heeltemal akkuraat om te wys op wat jy kan uitrig met die regte ingesteldheid. Maar is jy bewus daarvan dat sukses met ’n spesifieke onderneming ’n massiewe hoeveelheid werk vereis? Is jy bewus daarvan dat jy ’n duisend of meer ure sal moet spandeer daaraan voor jy enige opbrengs sien? Is jy gereed om daarop te fokus soos ’n laserstraal? Is jy bereid om honderde of selfs duisende dollars daarop te spandeer?

Dit is wat positiewe denke in praktyk beteken: Om te glo dat iets so te sê reeds ’n realiteit is, so by so dat jy net jou hand moet uitstrek om dit aan te gryp. En as jy soveel daaraan glo, sal jy mos enige hoeveelheid tyd daaraan spandeer, met laser-fokus en geen moeite gespaar nie, en jy sal niks daarvan dink om ’n klomp geld te spandeer daaraan nie.

Positiewe denke is ’n krag om mee rekening te hou. Maar jy moet kan bewys en vertoon dat jou denke meer is as net woorde.

As jy dit nie kan doen nie, is jou onderneming verdoem tot mislukking. En kom ons wees eerlik: Op hoeveel projekte in jou lewe gaan jy werklik ’n duisend ure se harde werk insit? Op hoeveel ondernemings gaan jy ten minste maande van jou lewe spandeer, en honderde of duisende hardverdiende dollars?

______________________