My suster se “idiot brother abroad”

SATERDAG 9 DESEMBER 2017

Ons TV het uiteindelik die gees gegee, so ek het begin om ’n uur of so se vermaak te soek tydens aandete op Netflix – wat ons kan kyk op die rekenaar. So herontdek ek toe Ricky Gervais en Stephen Merchant se produksie, An Idiot Abroad met Karl Pilkington as die idioot in die titel.

Vir mense wat nooit die program gevolg het nie: Karl Pilkington was ’n vervaardiger op ’n radio-program van Gervais en Merchant, nadat die twee sukses behaal het met die reeks, The Office. Pilkington het bekendheid verwerf nadat hy ’n paar keer genader is vir sy kommentaar op die radio-program. Sy unieke beskouing van die lewe en sy eerlike opinies het ’n populêre deel van die program geword. Uiteindelik het Gervais en Merchant met die idee vorendag gekom om hulle eertydse vervaardiger die aanbieder te maak van ’n reis-program. Pilkington, wat bekend was daarvoor dat hy geen entoesiasme het vir vreemde lande en internasionale reise nie, moes die Sewe Wonders van die Wêreld besoek, met ’n paar ekstra take en ontberinge bygegooi vir die vermaak van die twee vervaardigers, en natuurlik miljoene TV-kykers.

Elke episode van The Idiot Abroad begin met Gervais en Merchant wat vir Pilkington verduidelik waarheen hy volgende gaan reis. Hulle wys gewoonlik vir hom ’n foto van die besienswaardigheid, en wag dan dat hy, altyd in groot erns en opregtheid, begin om opmerkings te maak oor sy komende reis. Gervais gaan gewoonlik histeries aan die lag wanneer Pilkington begin praat, en sal wat Karl gesê het selfs herhaal aan sy vennoot Stephen Merchant, net vir in geval Merchant nie mooi verstaan het hoe snaaks dit is nie.

Ek dink toe, daai situasie lyk vir my alte bekend. My ouer suster reageer gereeld op presies dieselfde wyse op sommige dinge wat ek kwytraak. Sy sal histeries aan die lag gaan, en dan vertaal sodat haar Britse eggenoot wat nie te goed Afrikaans verstaan nie, ook kan deel in die lagfees. Toe tref dit my: My suster dink aan my as haar “idiot brother” – wat toevallig “abroad” woon.

Dit herinner my toe aan die keer toe ek vir ’n langnaweek Hong Kong toe is, ’n paar maande nadat ek in Taiwan aangekom het. My suster wou vir ’n paar vriendinne gaan kuier wat op ’n stadium saam met haar in Londen gewerk het, en het gedink dit sal gaaf wees as ek haar daar kan ontmoet. So gaan ons toe uit die een dag saam met haar vriendinne. Ek het myself heel skaflik gedra die hele middag, en nie te veel te sê gehad nie. Na aandete gaan sit ons toe almal by ’n buitelug kuierplek om iets te drink. Ek is toe seker al moeg my mond gehou, en begin toe om my amateur psigoanalise te verwoord oor van die ander kliënte in ons omtrek. Siende dat my intellek toe “aan” was, het ek opgemerk dat my suster al hoe meer onrustig raak, met ’n gespanne kyk elke nou en dan in die rigting van haar vriendinne.

Ek besef toe ek is besig om “eienaardig” te wees soos sy maar alte goed weet ek kan wees, maar wat sy seker gehoop het ek op hok sal hou terwyl ek saam met haar en haar kollegas sosialiseer. Ek druk toe nietemin deur met my analises en voorspellings van hoe ek dink die res van die aand gaan verloop vir die mense by een tafel. Soos ek vermoed het, het ek uiteindelik die aand bietjie opgekikker vir my suster en haar vriendinne – wat seker uitgepraat geraak het oor werk en die goeie ou dae in Londen.

So twee jaar na die Hong Kong episode, het my suster die man ontmoet met wie sy sou trou. Die eerste paar kere wat ek by hulle aan huis was nadat hulle hulself in Suid-Afrika gevestig het, het ek myself seker goed gedra, want dit was eers tydens die laaste paar besoeke wat ek weer bewus geraak het daarvan dat my suster blykbaar dink ek is snaaks, veral wanneer ek nie probeer wees nie.

Ag nou ja, ek kyk weereens na die blink kant: Ten minste lok my uitlatings so nou en dan ’n semi-histeriese reaksie uit, al is dit meer uit verligting dat ek nie die persoon in die verleentheid stel nie as wat dit regtig vermaaklik is.

______________________

Die lus om te skryf kom en gaan

DONDERDAG 7 DESEMBER 2017

Ek is besig om deur 1500 bladsye se aantekeninge, opstelle, en ander stukke teks te gaan in ’n poging om ’n paar bundels te vul met materiaal wat oor bepaalde temas handel. Die proses het sover tot ’n paar interessante insigte gelei – vir my in elk geval.

Een voorbeeld: In 2001 het ek, benewens ander werk – soos ’n projek wat ’n EFL-hulpbron geword het, en ’n projek wat ’n boekie met Engels-Chinese frases geword het, heelwat geskryf oor skryfwerk, en my strewe om my lewe op so ’n wyse in te rig dat ek meeste van my tyd kan spandeer aan literêre projekte. Daai jaar het ’n paar van my persoonlike gunsteling stukke opgelewer: “Die doel van my lewe”, “Ballingskap nege”, en “Om oor God te praat”.

Hier’s die interessante deel: die volgende jaar, 2002, het ek die ongelooflike klein somtotaal van 200 woorde geproduseer wat ek later bruikbaar genoeg geag het om in te sluit in ’n projek. Twee honderd woorde! (Ek het wel twee ander stukke geskryf – een oor hoe ek min of meer vrede gemaak het met die middelklas, en ’n ander een oor my planne vir die volgende jaar, maar ek het besluit om dit eerder nie te gebruik vir enige projek nie.)

So, die jaar nadat ek soveel te sê gehad het oor hoe graag ek wil skryf, en hoe belangrik dit is vir my identiteit en selfs vir die doel van my bestaan en die betekenis van my lewe, het ek twee kort stukkies geproduseer van skaars honderd woorde elk.

En toe kom 2003, en ’n absolute ontploffing van kreatiwiteit, obsessies, vrese, hoop, drome, teorieë, en opinies. Die jaar het meer as sestig stukke opgelewer. In September 2003 alleen het ek meer as twintig stukke geskryf. Die pas het kwalik verslap oor die volgende twee jaar. Hoewel ek vanaf 2006 hard aan die misluk was in talle pogings om meer geld te maak, het ek steeds genoeg geskryf om ’n netjiese bundel saam te stel.

Maar 2002? Twee honderd woorde.

Wys jou net: Ook inspirasie, en lus om te skryf, kom en gaan. En kom weer terug.

VRYDAG 8 DESEMBER 2017

Ek het weer gaan ondersoek instel, en afgekom op nog 471 woorde wat ek geskryf het in 2002 wat ek dalk kan inwerk in ’n projek. Dit bring die totaal vir daai jaar darem te staan op amper 700 woorde.

______________________

Punt, en wat my lewe die moeite werd maak

MAANDAG 14 AUGUSTUS 2017

Die PUNT van my lewe is om te rapporteer. Ek leef; ek ervaar dinge; ek dink oor dinge; ek skryf daaroor. Dalk vind iemand anders ’n insig of ’n siening bruikbaar.

Wat my lewe die MOEITE WERD maak, is om ’n getuie te wees van die lewe van die vrou wat ek liefhet, om ’n maat te wees vir haar, en om haar te laat voel dat sy bemin word. Wat my lewe verder die MOEITE WERD maak, is om goeie verhoudings te handhaaf met familie en vriende, om troeteldiere te versorg, om lekker te eet, interessante dinge te lees, te ontspan wanneer ek moeg is, om interessante of snaakse films te kyk, om te reis, of om plekke te besoek waarvan ek hou, en om die PUNT van my lewe na te streef.

Het my lewe ’n DOEL? Kyk na die PUNT van my lewe, en na wat my lewe die MOEITE WERD maak.

______________________

Enkele gedagtes oor Dietrich Bonhoeffer

VRYDAG 28 JULIE 2017

Ek lees onlangs ’n artikel getiteld, “The Troubling Truth About Bonhoeffer’s Theology” deur Richard Weikart, oor die idees en uitlatings van die bekende Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer (1906-1945). Die idee wat ek kry oor Bonhoeffer is van iemand wat ’n ton appels geërf het van ’n oom wat skielik oorlede is. Nie een om ’n goeie erflating te mors nie, dink die ou: “Hierdie is ’n goeie klomp appels. Weë my as ek dit verlore laat gaan. Ek sal eenvoudig kreatief moet raak.”

Bonhoeffer het byvoorbeeld in 1925 geskryf dat indien Bybelse kritici bewys dat die persoon Jesus onhistories is in die empiriese sin, dit nie die inhoud van God se openbaring sal affekteer nie, siende dat sy waarheid openbaar word selfs deur feilbare woorde soos geskryf of geuiter deur menslike instrumente, soos die apostels. Hy het verder geskryf dat dit nie saak maak indien spesifieke wonderwerke nie werklik plaasgevind het nie, dat mense dit nie moet afmaak as irrelevant nie, maar eerder moet interpreteer as getuienis tot God se openbaring.

Dit klink vir my soos ’n eerlike man wat grootgeword het met ’n sekere godsdienstige tradisie, homself intiem aangetrokke gevoel het tot hierdie tradisie, begin twyfel het in die werklike waarheid daarvan soos hy ouer geraak het en meer geleer het oor die wêreld, maar besluit het dat daar geen manier is wat hierdie ryk, 2000-jaar-oue tradisie wat so ’n enorme impak gehad het op Europese kultuur en beskawing, en kulture en beskawings regoor die wêreld, net so verwerp moet word net omdat dit bewys kan word dat God dalk nie regtig iets gesê het nie, of dat wonderwerke nie regtig plaasgevind het nie.

* * *

Dietrich Bonhoeffer was ’n Duitse predikant en teoloog aktief vanaf die 1920’s tot die vroeë 1940’s. Hy was ’n uitgesproke opponent van Nasionaal-Sosialisme op beide morele en teologiese gronde. As leidende figuur van die Belydende Kerk is hy gearresteer in April 1943. Hy is vir twee jaar lank aangehou in militêre fasiliteite en konsentrasiekampe. Een maand voor die oorgawe van Nazi-Duitsland, is Bonhoeffer tereggestel in die Flossenbürg konsentrasiekamp. Sy idees het opnuut aandag getrek na die oorlog en het ’n invloed gehad op die sogenaamde “God is dood”-teologie in die 1950’s en 1960’s.

———————-

Lees meer: https://en.wikipedia.org/wiki/Dietrich_Bonhoeffer

______________________

Duiwels in die Withuis – tweede notas

DINSDAG 11 JULIE 2017

Het Ronald Reagan, George H.W. Bush, hulle CIA-hoof William Casey, en ander mense in die Reagan administrasie geweet hoe die mense wat hulle opgelei en bewapen het, dorpies in Guatemala aangeval en voor die voet mans, vrouens, en kinders vermoor het? Het hulle geweet hoe kinders se koppe stukkend geslaan is teen rotse? Het hulle geweet hoe die mense wat hulle opgelei en bewapen en morele ondersteuning gegee het, gelag het omdat ou mense soos skape geblêr het toe hulle kele afgesny is met stomp messe?

Het die politieke leiers in Washington ondersoek ingestel toe sulke gerugte die rondtes begin doen het? Indien nie, hoekom nie?

Indien hulle wel geweet het, en dit afgemaak het as die prys wat betaal moet word om “kommunisme” te stuit, is dit nie onredelik om te verklaar dat as Lucifer self met ’n bok se bebloede kop op sy skouers in die Withuis gesit het in die plek van Reagan en sy trawante, hy nie ’n meer destruktiewe invloed sou gehad het op miljoene mense se lewens in Sentraal-Amerika as wat Reagan, Bush, Casey en dosyne ander kermende demone tydens hierdie periode wel gehad het nie.

Maak geen fout nie: Die Sowjet-Unie was dalk die “Evil Empire”, maar jy hoef nie ver te soek vir bewyse dat Amerika onder Ronald Reagan die “Koninkryk van Lucifer” was nie.

———–

Meer inligting:

Dos Erres massacre

Buried On a Hillside Clues To Terror; Scientists Uncover Evidence of a Massacre

Foreign policy of the Ronald Reagan administration: Guatemala

Guatemalan Slaughter Was Part of Reagan’s Hard Line

Call Attention to Ronald Reagan’s Criminal Involvement in Guatemalan Genocide

Western Hemisphere Institute for Security Cooperation, formerly known as the U.S. Army School of the Americas

En ’n redelike swak poging om Reagan te verdedig:

‘Did Reagan Finance Genocide in Guatemala?’

[Kortliks: Die Dos Erres-slagting word beskou as een van die aakligste voorvalle in die geskiedenis van Guatemala se lang en bloedige burgeroorlog. Die slagting het plaasgevind tydens die bewind van generaal Efrain Rios Montt, wat bekend was vir sy brutale taktiek teen vermeende linkse guerrillas en hul ondersteuners. Die Kaibil-eenheid was ’n besonder berugte spesiale magte-eenheid van die Guatemalaanse weermag, bekend vir hul uiterste brutaliteit en meedoënloosheid.

Die slagting by Dos Erres het begin toe die Kaibil-eenheid in die dorpie aangekom het om na wapens te soek en vermoedelik guerrilla-simpatiseerders. Die soldate het die dorpenaars bymekaargemaak en die mans van die vroue en kinders geskei. Die mans is weggeneem en tereggestel, terwyl die vroue en kinders onderwerp is aan terreur en geweld wat verkragting en marteling ingesluit het. Die soldate het toe stelselmatig die vroue en kinders doodgemaak, hul liggame in die dorp se put gegooi, en die huise afgebrand.

Die nasleep van die Dos Erres-slagting het tot ’n aantal regstappe gelei teen partye wat verantwoordelik gehou is. Pedro Pimentel Rios, ’n voormalige Kaibil-soldaat, is uit die Verenigde State aan Guatemala uitgelewer en tot meer as 6 000 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol in die slagting. Twee ander voormalige Kaibil-soldate is ook tot dieselfde tronkstraf gevonnis. Die internasionale reaksie op die slagting was egter grootliks gedemp, met baie Westerse regerings wat voortgegaan het om die Guatemalaanse weermag te ondersteun ten spyte van hul goed gedokumenteerde rekord van menseregtevergrype.

Die nalatenskap van die Dos Erres-slagting spook steeds in Guatemala, en dien as ‘n herinnering aan die gruwels wat tydens die land se lang en bloedige burgeroorlog gepleeg is.]

______________________