Om waarde te voorsien en speletjies te speel

VRYDAG 29 DESEMBER 2017

Wat beteken dit om geld te “maak”? Bak jy dit soos ’n koek? Braai jy dit? Gooi jy ’n klomp bestanddele bymekaar en noem dit “geld”? Die frase is misleidend. G’n wonder soveel mense sukkel om ’n bestaan te maak nie!

In die eerste plek, wat is geld? Geld gee jou die vermoë om dinge te bekom wat jy nodig het, of wil hê.

Om ’n bestaan te maak, is meeste mense gelukkig om ’n posisie te aanvaar by ’n instelling of maatskappy, en dan ’n paar dekades lank ’n vaste salaris te verdien. Soms is hierdie salaris voldoende; soms nie. Indien dit nie genoeg is nie, dink mense baie hard aan hoe om méér geld te maak. Gaan hulle deur tye wanneer hulle nie in die diens van een of ander instelling of maatskappy is nie, dink hulle nog harder daaraan. Mislukking is gereeld aan die orde van die dag.

Hier skop die waarde daarvan in om iets waarmee jy sukkel, in ’n ander lig te sien. Dink aan hoe jy waarde kan skep en kan voorsien aan mense wat daai spesifieke waarde nodig het, of graag sal wil bekom, en bereid is om te betaal daarvoor. Moenie dink aan “geldmaak” nie – dink aan waarde skep. Dink daaraan om ’n waardevolle diens te verskaf. Ek reken meeste van ons sal vorendag kan kom met meer maniere om waarde te voorsien as wat ons vorendag sal kan kom met vae maniere om geld te maak. Om waarde te wil verskaf aan ander mense is ook iets wat vir vele mense natuurlik kom.

As jy reeds waarde lewer maar nie genoeg daarvan lewer nie, of jy doen dit nie gereeld genoeg nie, sal jy natuurlik nie genoeg geld verdien daarmee om self die dinge te bekom wat jy nodig het of graag wil hê nie. Vele mense vind hulleself ook in situasies waar hulle iets verskaf wat dosyne, selfs honderde ander mense kan verskaf, dalk selfs teen ’n laer prys.

Nog ’n manier om geld te bekom, is om een of ander spel goed genoeg te bemeester om meer te wen as wat jy verloor. Mense wat woeker op die aandelemark speel ’n spel. Hulle self mag dalk verskil van hierdie siening, maar aan die einde van die dag is dit slegs soveel grade minder of meer kompleks as Pacman, of Bubbles, of enige spel wat jy speel op jou foon. Sommige mense sal argumenteer dat daar geen geld betrokke is by sulke speletjies nie. Dink aan poker. Mense skuif elke jaar miljoene dollars oor pokertafels. Dieselfde met ander kaartspele soos Blackjack, en ander casino speletjies soos Roulette. Hierdie aktiwiteite is almal vermaaklik, en tog ruil asemrowende hoeveelhede kontant hande. So ook, net omdat daar baie geld betrokke is in die koop en verkoop van aandele, maak dit nie minder van ’n spel nie. Dieselfde kan gesê word van die buitelandse valuta mark.

Vra jouself of dit maklik is vir jou om geld te maak. Vra jouself nou of jy al in jou lewe ten minste een spel goed genoeg bemeester het om méér te wen as om te verloor, of om dit goed genoeg te speel om elke nou en dan ’n nuwe “high score” aan te teken of ’n nuwe vlak te bereik. Ek tel myself onder die massas wat dit nog altyd moeilik gevind het om geld te maak. Maar ek kan aan ’n hele paar bord-, kaart-, en elektroniese speletjies dink wat ek oor die jare redelik goed bemeester het. Ek het ook al my hand probeer aan spekulasie op ’n paar markte. Ek kan bevestig dat die idee om geld te verloor skrikwekkend is, maar die aksies wat jy moet neem om suksesvol te wees, is nie veel meer ingewikkeld as om sukses te behaal met byvoorbeeld Super Mario nie – dalk selfs eenvoudiger, soos enige persoon kan getuig wat al ooit Super Mario tot die laaste sampioen gespeel het.

My advies vir myself en ander mense wat hoop om hul finansiële sake te verbeter, is om eerlik te wees oor die hoeveelheid waarde jy verskaf, en aan hoeveel mense, en indien nodig, verstellings te maak, of na ’n totale ander mark te verskuif. En as jy nie jouself sien in die waarde-besigheid nie, of bloot jou opsies wil verbreed, stel ek voor jy maak jouself vertroud met ’n “spel” wat jy dalk nie veel meer ingewikkeld sal vind as ’n goeie rondte skaak nie.

______________________