Die opgradering van my finansiële intelligensie

VRYDAG 8 DESEMBER 2017

In die laat negentigs het Robert Kiyosaki ’n boek geskryf oor finansiële intelligensie en finansiële onafhanklikheid. Soos gewoonlik, is ek jare agter meeste mense, en het eers onlangs die boek, Rich Dad, Poor Dad onder oë gekry. ’n Paar gedagtes daaroor.

Ek kry die idee dat ’n mens nie noodwendig moet fokus daarop om “ryk” te probeer word nie – die les wat ’n mens verwag uit ’n boek wat jou leer van geld. Wat jy eerder moet doen, is om bates te ontwikkel, soos eiendom wat jy verhuur, aandele, beleggingsfondse, en digitale bates soos webwerwe.

Gestel jou totale uitgawes beloop, sê nou maar, $2000 per maand, insluitende huisvesting en kos, en lewenspolisse en uittree-polisse en mediese versekering, en geld vir reis en kort vakansies, en so aan. Indien inkomste uit jou portefeulje bates stabiel en konstant is sonder dat jy nodig het om enige (of veel) addisionele arbeid te verrig, en dit jou maandelikse uitgawes oortref, is werk wat jy verrig vir finansiële vergoeding opsioneel.

Dit beteken dat jy finansieel onafhanklik sal wees, al is jy nie “ryk” op ’n manier soos die konsep gewoonlik verstaan word nie.

SONDAG 10 DESEMBER 2017

Ek verstaan nou dat dit nie net gaan daaroor om “ryk” te word nie, maar om jou finansiële intelligensie te verbeter. Wat help dit immers as jou inkomste uiteindelik vyf of tien keer meer is as voorheen, maar jou uitgawes ook met vyf of tien keer vermenigvuldig?

DINSDAG 26 DESEMBER 2017

14:31

Ek lees tans Secrets of the Millionaire Mind deur T. Harv Eker.

Eker verwys na die finansiële bloudruk wat ’n mens van jou ouers ontvang as kind. As ek terugkyk oor die jare, wil dit blyk dat ook ék die bloudruk aanvaar het wat ek van mý ouers gekry het – tot ’n groot mate van my pa. Ek het aanvaar dat ek heel waarskynlik finansieel sal sukkel, maak nie saak hoe hard ek werk nie.

So, wat doen ek nou as volwasse man, dekades later? Ek werk hard, maar aan projekte wat nie bedoel is om geld te maak nie. Ek doen dit omdat dit my gelukkig maak, en omdat ek voel ek kan op hierdie wyse iets agter laat van my bestaan.

Alles goed en wel, sal ’n mens sê, maar dit is steeds die resultaat van ék wat besluit het die bloudruk wat ek van my ouers gekry het, is eenvoudig hoe dinge werk, en hoe dit moet wees. Feit is, dit is nie.

[’n Mens kan sê heelwat van wat ek geskryf het sedert 1994 was ek wat geworstel het met my bloudruk, en met die wêreld waarin ek moes funksioneer. Uiteindelik het ek ’n ongemaklike vrede gesluit met die wêreld, en aangegaan met my lewe soos ek dit goedgevind het. Wat steeds nie ontken kan word nie, is dat vele van die posisies wat ek ingeneem het en vele van die stellings wat ek gemaak het, steeds die Bloudruk was wat gepraat het. En ek het so volslae die bloudruk aanvaar en geïnternaliseer dat ek sou sê wat ek gesê het sonder om ’n oog te knip – onbewus dat ek semi-gehipnotiseer was.]

18:30

In die boek, Thinking, Fast and Slow, skryf die sielkundige, Daniel Kahneman, oor breedvoerige eksperimente wat hy en sy span uitgevoer het om te bewys hoe maklik mense gemanipuleer kan word – selfs as hulle inlig word van die moontlikheid dat dit sal gebeur.

In How to Fail at Almost Everything and Still Win Big noem Scott Adams dat dit beter is om aan jouself te dink as ’n programmeerbare robot as ’n “fleshy bag full of magic”.

In Trading in the Zone verduidelik Mark Douglas hoe ’n mens oortuigings wat struikelblokke is in die pad na sukses moet deaktiveer, die energie as’t ware uit dit moet tap, en nuwe oortuigings moet skep wat jy dan aktiveer en mettertyd vul met energie.

En in Secrets of the Millionaire Mind skryf T. Harv Eker hoe jou verhouding met geld as volwassene, en hoe suksesvol jy is daarmee om geld te maak, ’n direkte resultaat is van die programmering wat jy ontvang het as kind – verbaal (“Ryk mense is gierig,” of in my geval, werk hard, maar as dit “God se wil” is, eindig jy steeds op met leë hande), deur modellering (jy sien hoe jou ouers hard werk maar nooit genoeg geld het nie), en deur wat hy noem emosionele insidente wat ’n groot indruk op jou gelaat het as kind (vir my, 1985: misterieuse magte waarvan ek niks weet of verstaan nie, vat van ons goed – insluitende ’n boks met van my speelgoed wat in die garage gestaan het. Dit is blykbaar nie diefstal nie. Die wet is aan hulle kant. Bring die gedagte tuis van HULLE – prokureurs, balju’s, en ander magtige karakters wat klein mensies kan vermorsel.).

______________________