Advies vir die 25-jarige buitelander wat beplan om vir die volgende dertig jaar in Taiwan Engelse klasse te gee

DONDERDAG 12 JULIE 2018

Mens brand heelwat energie en lus om dinge te doen op met die tipe English teaching wat ons doen in Taiwan. Vir my aandklasse verlaat ek byvoorbeeld die huis 17:00 in die middag, en ek is eers terug 22:30. Die werk is nie moeilik nie, en nie te vermoeiend nie, maar ’n mens spandeer tyd om te reis met ’n boeksak oor jou skouers, trap fiets, klim trappe, sweet in die son, raak sopnat in die reën. Dit alles brand óf energie op, óf lus om ander dinge te doen na jy weer by die huis gekom het, óf albei.

Mense wat gewone 9-5 jobs het, brand sekerlik net soveel, en meer, energie op. Maar – hierdie mense met vaste betrekkings, hoeveel dra hulle by tot betaalde vakansies wanneer hulle besig is om energie en lus vir ander dinge op te brand? Hoeveel dra hulle by tot ’n pensioenfonds wat hulle aan die lewe gaan hou oor twintig of dertig jaar?

VRYDAG 13 JULIE 2018

Die vrae wat die langtermyn Engelse onderwyser in Taiwan hom- en haarself moet vra:

“Wat het ek vandag gedoen om op te maak vir die feit dat ek nie betaalde vakansies kry nie? Wat het ek vandag gedoen om op te maak vir die feit dat ek nie inbetaal in ’n pensioenfonds nie?”

(Selfde geld vir enige iemand wat deeltydse werk doen met geen byvoordele nie.)

MAANDAG 16 JULIE 2018

Jy weet hoe daar sommige mense is in moderne, geïndustrialiseerde samelewings wat dit nie “maak” nie? Die haweloses wat laatmiddag of vroegaand wanneer kantoorwerkers op pad is huis toe, op ’n parkbankie of sommer op die sypaadjie op ’n stuk karton lê en slaap? Wat in asblikke rondkrap vir oorskietkos?

Twee dinge het my gered van so ’n lewe: 1) Ek het geen aptyt gehad vir drank en dwelms nie – wat sterk bydraende faktore is vir veral jong mans wat op straat eindig. 2) Ek kon werk kry deur Engelse klasse te gee in Korea, en daarna in Taiwan. (Sou ek werklik andersins op straat geëindig het? Ek sou op dun ys geskaats het, heel waarskynlik vir jare. Dalk sou ek nooit deurgeval het nie, maar ek sou vir jare op dun ys geskaats het.)

WOENSDAG 18 JULIE 2018

Energie is die sleutel. Sonder energie kan jy nie werk nie. Sonder energie kan jy nie enige iets ekstra uitrig wanneer jy by die huis kom na die werk wat jou huur betaal en jou kos koop nie. Sonder energie kan jy geen weerstand bied teen gedagtes of mense of insidente of gebeure wat jou moraal ondermyn nie.

Hoe kry jy energie?

Jy begin deur reg te dink. Dan: Slaap genoeg, eet die regte kos, en doen gereeld oefening.

DINSDAG 20 MAART 2018

Gestel jy is 25 jaar oud, jy’t pas gearriveer in Taiwan, en jy is gereed om jou beroep te begin as Engelse onderwyser. Ander mense sien dit dalk as net deeltydse werk wat jy doen na jy klaar gemaak het met universiteit, voor jy begin met jou “werklike” lewe as volwassene, maar jý sien dit as ’n ernstige beroep – die antwoord op die vraag na hoe jy gaan voorberei vir jou uiteindelike aftrede.

Die probleem is natuurlik dat, soos meeste buitelandse onderwysers dit doen, dit ’n deeltydse werk is, met geen byvoordele nie. Jy maak nie bydraes tot ’n pensioenfonds nie. Jy kry heel waarskynlik nie ’n vaste salaris nie. Jy kry nie betaalde vakansies nie, en jy kry nie ’n bonus aan die einde van die jaar nie. Een manier hoe jy kan voorsien vir jou uiteindelike aftrede, is om geld te spaar.

Hoeveel geld moet jy spaar?

Kom ons sê NT$75 000 [USD2500] per maand is genoeg vir ’n goeie aftrede (as jy vandag moes aftree). Jy kan ’n goeie huis of woonstel huur (indien jy nie eiendom besit nie), behoorlike gesondheidsorg bekostig, goed eet, en een of twee keer per jaar reis. Siende dat dit gereken word dat jy ten minste 200 keer jou maandelikse inkomste gespaar moet hê voor jy kan aftree (as jy aftree op naastenby 60-jarige ouderdom), moet jy ongeveer NT$15 miljoen spaar [USD500 000].

Hoe lank sal dit ons jong volwassene vat om hierdie tipe geld te spaar, werkende as ’n Engelse onderwyser in ’n plek soos Taiwan?

Deeltydse werk beteken jy kan net hoop op elf volle maande se inkomste per jaar, as jy verpligte vakansiedae soos Chinese Nuwejaar, en selfs sogenaamde tifoon-dae in ag neem. Siende dat jy heel waarskynlik familie het in die Weste wat jy een keer per jaar sal wil besoek, sal jy ten minste een maand se spaargeld moet begroot daarvoor. Daai paar weke sal ook moet afgaan van die hoeveelheid maande per jaar wat jy geld verdien. Kom ons sê jy kan tien maande uit elke jaar ’n vaste bedrag geld spaar vir jou aftrede. Kom ons gaan verder en reken dat jy soveel as NT$30 000 per maand kan wegsit (wat meer is as wat die gemiddelde kantoorwerker verdien in ’n voltydse posisie in Taiwan).

Hoe lank sal dit jou vat om by NT$15 miljoen te kom as jy spaar teen NT$300 000 per jaar?

Die antwoord is ’n ietwat skokkende vyftig jaar. As jy van die begin af jou spaargeld belê teen ten minste 3% per jaar en nooit enige van die kapitaal gebruik nie, sal dit jou steeds meer as dertig jaar vat om genoeg geld te spaar.

Om vyftig jaar te spandeer deur week in, week uit, maand in en maand uit Engelse klasse te gee, is in my opinie … kom ons sê maar net, ’n besondere uitdaging. Om dit vir dertig jaar lank te doen, vereis steeds besonderse uithouvermoë, ’n besonderse dik vel, en ’n groot hoeveelheid geluk – om jou vloei van deeltydse werk aan die gang te hou maand in en maand uit, jaar na jaar.

Is daar ’n beter oplossing?

My advies sou wees ’n skedule van 20-25 ure per week, tien maande per jaar. Hou jou uitgawes laag. Leef eenvoudig. Wanneer jy reis, moenie uitspattig wees nie. In die drie tot vyf ure per dag wat gewone salaristrekkers ekstra “op kantoor” spandeer, moet jy vaardighede aanleer en kennis opdoen wat jy kan gebruik om meer geld te maak. Enige ekstra geld moet eenkant gehou word om te kan belê in projekte wat jy sal aanpak wanneer jy genoeg kennis opgedoen het, en voldoende vertroue het in jou vaardighede.

MAANDAG 19 NOVEMBER 2018

Watse tipe vaardighede moet jy ontwikkel en watse tipe kennis moet jy opdoen indien jy hoop om meer geld te bekom?

In Secrets of the Millionaire Mind adviseer T. Harv Eker dat ’n mens op die volgende vier faktore moet fokus om jou netto waarde te verbeter: verhoog jou inkomste, spaar meer geld, verhoog die dividend wat jy verdien uit jou beleggings, en verminder jou lewenskoste deur jou leefstyl te vereenvoudig.

Een van die boeke wat ek gelees het hierdie jaar (ek het gedink ek weet watter een, maar kon nie die teks vind nie), het die volgende areas voorgestel waar jy ten minste die basiese vaardighede moet bemeester om jou inkomste en jou netto waarde te verhoog: Jy moet leer hoe om ’n produk en/of diens te adverteer; jy moet leer hoe om mense wat vir jou werk, effektief te bestuur; jy moet leer hoe om jou geld te belê; jy moet leer hoe om te verkoop en te bemark.

En in How to Fail at Almost Everything and Still Win Big, deel Scott Adams sy lys van vaardighede waarin elke volwassene ’n mate van bekwaamheid moet ontwikkel: Redenaarsvermoë, Sielkunde, Besigheidskryftegniek, Rekeningkunde, Ontwerp (die basiese beginsels), Gesprekvoering, Om skaamte te oorkom, ’n Tweede taal, Gholf, Behoorlike grammatika, Oorredingsvermoë, Tegnologie (stokperdjie vlak), en Behoorlike stemtegniek.

Neem al hierdie advies in ag, en jy sal ten minste die fondasie kan lê vir ’n goeie aftrede na twintig of dertig jaar as ’n Engelse onderwyser in Taiwan – of na ’n paar dekades in enige ander vryskut- of deeltydse werksituasie.

______________________

Geluk is ’n vereiste

VRYDAG 29 JUNIE 2018

“Geluk is nie ’n beloning nie. Dit is ’n vereiste.”

… Insig vroeg Donderdagaand op pad moltreinstasie toe, aan die einde van ’n gedagte oor wanneer presies ek uitgewerk het hoe belangrik ’n persepsie van geluk is in jou sukses. My konklusie was dat ek begin dink het in daai rigting so tien jaar gelede, maar nie werklik die erns van die saak besef het tot enkele jare gelede nie.

Geluk is met ander woorde nie ’n luukse, soos ek vir vele jare geglo het nie, maar ’n essensiële bestanddeel in die reis na sukses. ’n Gelukkige mens is ’n produktiewe mens – ’n mens wat lus is vir dinge probeer, en om kanse te vat. Die gelukkige mens vind inspirasie om iets aan te pak. Die gelukkige mens het die energie om dinge aan te pak. Die gelukkige mens is gemotiveerd. Die gelukkige mens glo aan homself, en aan wat hy kan vermag. Die gelukkige mens glo aan ’n gelukkige toekoms.

* * *

Wat as jy nie jouself op die huidige oomblik ag as gelukkig nie?

Dit is van kardinale belang dat jy hierdie persepsie verander. Forseer jouself om meer te glimlag (wetenskaplik bewys dat dit jou gemoed affekteer – sien Daniel Kahneman, Thinking, Fast and Slow); verander dinge in jou omgewing om weerstand teen ’n persepsie van geluk te verwyder; identifiseer dinge wat jou sintuie negatief affekteer – wat jy proe, waarna jy kyk, wat jy aan jou vel voel, wat jy ruik, wat jy hoor, en verander wat jy kan.

’n Persepsie dat jy gelukkig is, is tot ’n groot mate iets wat jy kan skep. Jy kan inderdaad jouself manipuleer om meer gelukkig te voel, en daar is wetenskaplike bewys dat dit nie eens saak maak dat jy weet jy probeer om jouself te manipuleer nie.

In ag genome hoe belangrik ’n persepsie van geluk is vir wat jy doen, en hoe jy jou kanse op sukses sien, selfs jou vermoë om geleenthede raak te sien, kan dit nie genoeg beklemtoon word hoe belangrik dit is dat jy harder moet werk daaraan om gelukkig te voel nie.

* * *

Laaste gedagte: Jou geluk moet ’n “tough bastard” wees, nie ’n “fragile little boy or girl” nie. Geluk moet jou harde dop wees, nie jou delikate hartjie wat enige oomblik aan die bewe kan gaan nie.

______________________

Foute, advies, lesse geleer, en ’n leuse

VRYDAG 6 APRIL 2018

Altyd ’n goeie tyd om ’n paar lesse saam te trek:

Punt een: Fokus op jou sterkpunte.

Punt twee: Vind ’n aanvraag vir wat jy kan doen, of vir wat jy weet, of vir dit waarmee jy goed is. Let wel, dit word alomweë erken dat McDonald’s se hamburgers tweederangs is, en tog maak hulle miljoene dollars elke jaar daarmee. Hoekom? Want hulle is goed met verspreiding. Jou produk of diens hoef nie die heel beste ooit te wees voordat jy dit na die mark toe kan vat nie. Doen jou bes, fokus daarop om waarde te lewer, bemeester bemarking en verspreiding, en hoop vir die beste.

Punt drie: Bring jou diens of produk onder die aandag van mense of besighede wat belangstel en reeds betaal vir ’n soortgelyke produk of diens.

Punt vier: Indien jy geld maak met iets, herhaal dosyne kere, of honderde kere, of duisende kere – watter een ook al van toepassing is.

* * *

Gedagte het weer gebroei die afgelope week of so oor wat ek nóú doen versus wat ek gedoen het vanaf 2006 om geld te maak. Ek het gedink dat wat ek verkeerd gedoen het, was om nie te fokus op my sterkpunte nie maar eerder te kyk na dinge waarmee ander mense geldmaak, en dan ook na die bedrae geld wat die mense (klaarblyklik) verdien het – as dit aanloklik genoeg was, wou ek dieselfde ding doen; as dit in my opinie te min was, was ek nie geïnteresseerd nie. Wanneer ek daarin geslaag het om wel met iets ’n paar dollar te genereer, het ek wat ek gedoen het, nie genoeg keer herhaal nie. Dit alles het my gevange gehou in ’n ewigdurende maalkolk van, “Dit werk nie,” of “Dit werk nie goed genoeg nie,” en “Wat is daar nog?”

Dit herinner my aan my mantra deesdae: Begin klein; hou dit eenvoudig; verbeter en herhaal.

MAANDAG 16 APRIL 2018

Is sukses binne my gemaksone?

Ek glo sukses – ek praat nou van die gewone tipe, wat meer geld beteken – is in die pad waarop ek tans is. Ek sal doelbewus in die veld in moet ry om dit te vermy.

Ek is nie gemaklik daarmee om doelbewus iets te ignoreer wat ek glo, wáár is, en iets anders uit te dink in die plek daarvan nie. Dis te veel moeite. So, soos ek hierdie woorde tik, is ek besig om die oortuiging te aktiveer in my brein dat ek gemaklik is met sukses – dat sukses binne my gemaksone is.

Dis eenvoudig makliker so.

DONDERDAG 19 APRIL 2018

Geen idee of projek waarmee jy geld verdien hoef “profound” te wees nie. Daar hoef geen trompetgeskal te wees nie, en niemand hoef flou te val van opwinding of afwagting nie. Die produk of diens moet bloot goed genoeg wees om in iemand se behoeftes te voorsien, of goed genoeg om hulle lewens ’n klein bietjie makliker, of gemakliker te maak.

En dan, herhaal net wat werk nog ’n paar honderd of duisend keer.

DONDERDAG 31 MEI 2018

Houding-teenoor-Geld-X lei daartoe dat jy NIE dinge koop wat jy nodig het nie, en NIE dinge doen wat jy moet doen nie. Dit kan ook jou kanse belemmer om meer geld te verdien.

Houding-teenoor-geld-Y maak dit maklik om te koop wat jy nodig het, en om te doen wat jy moet doen. Dit maak dit ook makliker vir jou om meer geld te maak – jy sien geleenthede raak wat baie ander mense nie sien nie, en jy neem aksies sonder om gehaas te voel, vol vertroue in jou verwagting van sukses.

(Gedagte geformuleer op pad terug van ’n kruideniersware ekskursie waartydens ek NT$482 gespandeer het op hawermout, jogurt, melk, water, sjampoe, en piesangs. Ek het spesifiek gedink aan die skeermeslemmetjies wat ek nie gekoop het nie, en my bril wat ek moet vervang. Ek het ook gedink daaraan dat ek wel weer my gunsteling sjampoe gekoop het, vir NT$159, wat ek die laaste paar maande nie gekoop het nie, omdat dit kwansuis te duur was.)

______________________

’n Brandende begeerte om ’n goeie stelsel te ontwikkel

MAANDAG 28 MEI 2018

11:27

Twee van die boeke wat ek onlangs gelees het, The Science of Getting Rich (geskryf deur Wallace D. Wattles en gepubliseer in 1910) en Think and Grow Rich (geskryf deur Napoleon Hill en gepubliseer in 1937), plaas klem op die idee van ’n brandende, selfs verterende begeerte; iets waaraan jy konstant dink, waaraan jy totaal toegewyd is; iets waarvan almal weet waarmee jy in aanraking kom.

Siende dat jy tot ’n groot mate jou eie realiteit skep volgens jou beskouings en oortuigings, en hoe jy jouself sien, maak die idee sin. As jy ’n brandende begeerte het, gaan jou onderbewuste konstant dink aan maniere om dit te manifesteer – selfs wanneer jy slaap. Omdat jy daaroor sal praat met ander mense, gaan hulle uiteindelik aan jóú dink wanneer hulle iemand of iets teëkom wat jou kan help, en jou inlig daaroor. Jou radar gaan ook ingestel wees op enige iets wat jou kan help – soos ’n gesprek tussen twee mense agter jou in ’n ry by die bank, iets wat iemand sê op TV of op die radio, ’n opmerking wat iemand maak op sosiale media of op ’n webblad.

So het dit gekom het ek die afgelope paar dae gewonder wat mý brandende begeerte is. Sou dit te make hê met skryfwerk? Om dinge te deel met mense? Om sake waaroor ek helderheid gekry het, te probeer verhelder vir ander mense wat dit dalk nodig het? Sou dit te make hê met geld? Indien skryfwerk, of wat ek hoop om te bereik met my skryfwerk, hoekom dan al die fokus op geld? Indien finansiële onafhanklikheid, kan ek dit dan regverdig dat ek soveel tyd spandeer aan my skryfwerk?

Besef ek gisteraand toe ons in die kelder parkeer: Mý brandende begeerte is, en was die afgelope 25 jaar, ’n bepaalde leefstyl. Om vryelik te kan skryf en te kan publiseer wat ek skryf, en om met mense te kan gesels daaroor, is deel van hierdie leefstyl. Finansiële onafhanklikheid is ’n absolute vereiste om hierdie leefstyl te realiseer en te handhaaf tot ek ophou om te bestaan.

Die mees onmiddellike stap is dan om meer geld te maak – uit die aard van die saak op so ’n manier dat ek nie wat ek reeds gerealiseer het van my ideale leefstyl, verloor nie.

22:08

Volgens Napoleon Hill het Edwin C. Barnes ’n brandende begeerte gehad om ’n besigheidsvennoot te word van Thomas Edison. Na vyf jaar se harde werk en geduld, het hy sy kans gekry. Sy verterende begeerte is uiteindelik gerealiseer. Wat het hom toe gedryf?

Napoleon Hill vertel ook van sy eie seun wat gebore is met ’n spraak-en-gehoor-gebrek. Hy het in sy seun die begeerte laat groei om eendag te praat en te hoor soos mense met geen gebrek nie. Na ’n paar dekades van deursettingsvermoë, harde werk, geduld, en ’n bietjie geluk, is ook hierdie brandende begeerte gerealiseer. Sekerlik was hy steeds gedryf om die tegnologie wat dit moontlik gemaak het om sy aanvanklike gebrek te oorkom, te bemark aan ander mense met soortgelyke probleme – maar was dit ’n brandende begeerte?

’n Sekere leefstyl was 25 jaar gelede ’n brandende begeerte vir my. Dit het my gedring daartoe om sekere geleenthede aan te gryp, en ander verby te laat gaan. Die feit dat ek tot ’n groot mate reeds die hoekpilare van hierdie leefstyl opgerig het, en besig is om aan die mure te bou, is te danke aan hierdie jarelange begeerte. Maar uiteindelik moet brandende begeerte vervang word met iets meer volhoubaar: stelsels wat jou oorspronklike begeerte wat intussen werklikheid geword het, in staat te stel om te groei, en sterker te word.

Nog iets oor begeerte, en fokus

VRYDAG 23 NOVEMBER 2018

Om ’n sukses te maak van enige onderneming, moet jy fokus daarop om die projek van die grond af te kry; jy moet struikelblokke antisipeer; jy moet gereed wees met moontlike oplossings wanneer probleme oor jou pad kom; jy moet dink aan maniere om die besigheid te laat groei.

Waarvan ons hier praat, is dinkwerk. Jy kan nie net een uur per dag deur die aksies gaan vir een projek, en dan deur die aksies gaan vir nog ’n projek, en dan deur die aksies vir nog ’n projek nie. Wat jy moet doen, is om deur die aksies te gaan vir een onderneming, elke dag, en dan tussen die tye wat jy aksies neem, moet jy dink aan oplossings, stappe wat jy kan neem om die besigheid te laat groei, dinge wat jy kan doen om die diens of produk beter te maak en beter waarde te lewer. En dan neem jy weer aksies om al hierdie gedagtes te implementeer.

As jy net deur die stappe gaan en die minimum arbeid insit elke dag vir vyf of ses verskillende projekte, gaan almal halfgebak wees.

Nog iets: Heelwat van hierdie dinkwerk vind plaas op tye wanneer jy nie aktief besig is om te werk aan die projek nie. Gedagtes – idees, oplossings – dryf as’t ware op uit jou onderbewuste wanneer jy jou tande borsel, net nadat jy wakker geword het en nog na die plafon staar, wanneer jy besig is om te stort, of om jou skoene aan te trek, of wanneer jy wag vir die verkeerslig om groen te slaan en jy ingedagte voor jou staar sonder dat jy besig is om hard aan enige iets te dink. As jy vyf of ses of vier of sewe verskillende projekte aan die kook het, op watter een gaan jou onderbewuste fokus wanneer jy besig is met iets, skynbaar dinkende aan niks?

Daar is mense wat sê jy moet ’n obsessie ontwikkel oor ’n doelwit, of die suksesvolle realisasie van ’n projek, of dat jy ’n brandende begeerte daarvoor moet koester. Ekself probeer wegbly van obsessies, maar ek dink die idee hier is vlymskerp fokus. Sonder hierdie tipe fokus op een projek, gaan jy nie genoeg brandstof voorsien aan die enjins om die spreekwoordelike vliegtuig van die grond af te kry nie. As jou vliegtuig eers van die grond af is en kruishoogte bereik het, is dit ’n ander saak.

______________________

Lesse in sukses met pottebakkery en karre regmaak

SATERDAG 5 MEI 2018

Ek het reeds vasgestel en uitgewys dat ek nie veel geleer het van geldmaak by my ouers nie, net soos my ouers nie veel geleer het daarvan by húlle ouers nie, en hulle ouers nie veel geleer het by húlle ouers nie, en so aan.

Besef ek nou net, as ek wou geleer het van pottebakkery, en van enjins en karre, het ek met my agterent in die spreekwoordelike botter geval. My ma was hoogs bekwaam met ’n pottebakkerswiel, en as ons belangstelling getoon het, was sy altyd gretig om ons te leer. En dit was my pa se verantwoordelikheid om die kar wat ons gehad het, aan die loop te hou. Op ’n tyd was ’n goedkoop skedonk al waarvoor daar geld was, so my pa moes ’n wonderwerk uitvoer om dit reg te maak en op te bou tot ’n werkende toestand. En ek moes altyd help. Daar was altyd lesse, en instruksies – dit is hoe hierdie deel werk … dit is hierdie stuk gereedskap se naam … dit is hoe jy daai regmaak.

Dit is wel so dat ek nie veel belanggestel het in pottebakkery of motor-enjins of karre regmaak nie. (Oor veral laasgenoemde was ek al ’n paar keer in my lewe spyt.) Indien ek wel belangstelling getoon het, kon ek reeds teen my laat tienerjare ’n sterk fondasie gehad het vir wat ek dalk later kon nastreef as ’n ambag of ’n professie. Of wat ek kon gebruik om geld te maak buite ’n formele beroep.

My grootouers, en ses of sewe geslagte voor hulle, was veeboere. My ma was ’n kunstenaar, en my pa – ten spyte van sy ambisies om ’n witboordjie professie na te streef, was ’n motorwerktuigkundige. En beide my ouers het uitsonderlike talent gehad op hierdie twee terreine.

DONDERDAG 15 NOVEMBER 2018

Ek kyk deesdae terug en sê ek wens my ouers het my geleer van beleggings en bemarking en hoe om min of meer sosiale gelykes te oortuig om vir jou te werk en hoe om met selfvertroue ’n produk of ’n diens te verkoop. Feit is, hulle het nie. Maar, soos ek sê in die eerste deel van hierdie teks, as ek wou leer van pottebakkery – en daar’s baie om te leer, of van karre regmaak, selfs hoe om ’n ou skedonk te koop en te herstel en te verkoop teen ’n wins (wat my pa moes doen want die kar was te swaar op petrol), kon ek nie gevra het vir beter leermeesters nie.

Dit klink ’n bietjie soos die kind vir wie ’n toebroodjie gegee word, maar wat dan eerder hongerly omdat dit nie hoenderpastei is nie: “Ek wou leer van bemarking en advertensies en beleggings, en al wat my ouers my kon leer was van pottebakkery en karre regmaak!”

In my verdediging kan ek sê dat ’n mens nie juis jou belangstellings kies wanneer jy agt jaar oud is, of tien of veertien nie – jy ontdek dit. Plus, dit was nie asof ek op veertienjarige ouderdom geweet het ek sou twintig jaar later kon doen met kennis oor beleggings, en personeelbestuur, en betaalde advertensieveldtogte en verkoop-en-bemark nie.

______________________