Rooi pil, of net redelik? Deel twee

DINSDAG 28 AUGUSTUS 2018

’n Gedagte rol al vir ’n paar dae in my kop rond: Aktivis-joernalis. Dit is alles goed en wel dat jy wil hê jou lewe moet iets beteken, dat jy ’n verskil aan die wêreld wil maak. Miskien stem ek selfs saam met jou politieke sienings en waardeer die tyd wat jy vat om jou standpunte te verpak op maniere wat mense help om die vraagstuk van ’n bepaalde hoek af te sien.

Maar kom ons wees duidelik oor een ding: As jy ’n aktivis-joernalis, of ’n-aktivis-verslaggewer, of ’n aktivis-nuusaanbieder is, kan jy nie vertrou word om die nuus akkuraat te rapporteer nie. Jy kan nie vertrou word om my net te vertel wat aangaan nie, want ek sal altyd aanneem dat jy verdraai wat gebeur sodat dit jou agenda pas.

* * *

Dieselfde geld vir aktivis-akademici. ’n Akademikus is ’n wetenskaplike. ’n Wetenskaplike moet ’n gunsteling hipotese soos ’n warm patat kan los as eksperimente iets anders voorstel as wat hulle geantisipeer het. ’n Aktivis-akademikus vind maniere om die resultate van ’n eksperiment te laat inpas by wat hulle gehoop het. Dis oneerlik. Dis nie wetenskap nie – dis propaganda. So ’n akademikus is ’n wolf in skaapsklere.

DINSDAG 23 OKTOBER 2018

Mense migreer oor die woestyn uit lande in Noord-Afrika, en uit oorloggeteisterde gebiede in die Midde-Ooste en Suidoos-Asië. In vele (meeste?) gevalle praat hulle nie die tale van die lande waarheen hulle op pad is nie. In meeste gevalle is daar aspekte van hulle kultuur wat direk in teenstand is met die dominante kultuur van hulle ideale eindbestemmings.

Waarop stuur dit af? Konflik, en wanorde.

Soek die migrante/vlugtelinge/trekkers konflik en wanorde? Sekerlik nie, siende dat dit presies is waarvan hulle wegvlug in vele gevalle.

Feit is, migrante/vlugtelinge/trekkers eindig nie net op in “Italië” of “Frankryk” of “Swede” nie, maar in die Italiaanse dorp, Ferrara, of in die eens stil Franse dorp, Forges-les-Bains, of in die Sweedse stad Malmö. Is daar werk vir hulle? Is daar genoeg behuising? Is daar genoeg plek in die plaaslike skole vir hulle kinders? Is daar genoeg beddens in die plaaslike hospitale vir wanneer hulle siek raak?

Watse persentasie van die nuwe inwoners is bereid om veranderinge te maak aan hulle kultuur om in te pas in Ferrara, of Forges-les-Bains, of Malmö? Indien hierdie persentasie nie voldoende is nie, sal dit lei tot konflik en wanorde.

Wanneer honderde, of duisende mense arriveer in Ferrara, of Forges-les-Bains, of in Malmö, hoeveel van hulle sê: Dis dit, hierdie is my en my gesin se nuwe tuiste. Hier sal ons nuwe wortels skiet en alles in ons vermoëns doen om in te pas, en by te dra tot die welstand van die gemeenskap. Hoeveel van hulle verwoord iets van hierdie aard? Sewentig persent? Vyftig persent? Tien persent? En indien nie genoeg van die nuwe inwoners bereid is om te verklaar dat ’n plek hulle nuwe tuiste is en dat hulle sal doen wat hulle moet doen om hulleself te bewys aan hul nuwe gemeenskap nie, waarop stuur dit af? Op wanorde en konflik.

Ek van alle mense verstaan hoekom mense van een land na ’n ander land toe wil gaan om beter geleenthede, of ’n beter lewe te soek. Maar ek verstaan ook hoekom mense in Europa toenemend sinies raak wanneer regerings nie gesonde verstand aan die dag wil lê nie.

______________________