Goeie mense programmeer soms sleg

SATERDAG 20 OKTOBER 2018

Oor die idee van bloudrukke wat mens ontvang van jou ouers (sien Desember 2017 se “Die opgradering van my finansiële intelligensie” en “Om my bloudrukke te konfronteer – en reg te stel”):

1. My bloudruk was nie mislukking nie, dit was sukkel.

2. Soos enige stel aktiewe oortuigings, is hierdie storie van die bloudruk nie net ’n faktor in jou kinderjare nie. As jy aanhou bevestig aan jouself dat “dit” eenvoudig is soos dit is, behou die bloudruk sy houvas op jou. Dit is inderdaad soos godsdienstige oortuigings wat jy nie ontgroei nie. Solank jy aanhou om te glo iets is waar, aanhou om sekere “waarhede” te sien in jou lewe, gaan dit vir jou wáár bly, ongeag hoe oud jy is. [20/11/18: As almal hulle bloudrukke ontgroei het, sou geen volwassenes meer volgelinge gewees het van die godsdiens waaraan hul ouers hulle blootgestel het as kinders nie.]

3. Ek het ’n nuwe bloudruk: Ek, Brand Smit, hoef nie te sukkel nie. Dat ek vir jare geglo het dit is hoe dit moet wees, was ’n fout. My ouers het nooit bedoel om my hierdie spesifieke les te leer nie. Sekere dinge het gebeur, maar ek was nooit bedoel om dit te internaliseer as die Heilige Waarheid nie.

WOENSDAG 24 OKTOBER 2018

Ek is tussen ’n rots en ’n harde plek. Ek het dit ’n gewoonte gemaak die laaste paar dekades om diep in my siel te soek vir allerhande geheime, vir allerhande interessante dinge wat maak dat ek is wie en wat ek is, en doen wat ek doen.

So het ek die afgelope jaar begin dink aan die programmering wat ek ontvang het as kind wat betref verwagtinge oor die volwasse lewe, en meer spesifiek oor geld. Wat ek ontdek het, is dat ek ’n paar lesse ontvang het wat die waarskynlikheid van uiteindelike finansiële sukses korter gemaak het as wat dit dalk kon wees. (Dinge soos dat my lewe deel was van ’n kosmiese spel tussen Goed en Kwaad, en dat ek beperkte beheer gehad het oor my eie sukses, of dat my eie sukses onderhewig was aan hierdie kosmiese spel – as die Kosmiese Spelmeester dit nodig gevind het dat ek ’n volslae mislukking moes wees, was daar nie veel wat ek daaraan kon doen nie.)

Die probleem? Meeste van die lesse het ek geleer by my geliefde ouers.

Hier’s die rots: Ek wil graag dieper grawe, om myself beter te verstaan, en te verstaan wat ek moet verander om beter te kan doen in die toekoms. En die harde plek: Ek mag dalk nog dinge ontdek wat my ouers in ’n slegte lig plaas.

’n Moontlike konklusie: My ouers is net gewone mense. Natuurlik het hulle foute gemaak, soos ook húlle ouers foute gemaak het, en hulle ouers se ouers voor húlle, ensovoorts. Wat belangrik is, is dat hierdie “verkeerde lesse”, hierdie “foutiewe programmering”, bedoel was om te help – en dit kón, as die wêreld anders uitgewerk het.

As ek dus dieper grawe, ontdek ek dalk foute wat my ouers gemaak het, maar al wat dit ontbloot, is dat hulle net gewone mense is wat hulle bes probeer het. Dit is ’n gevolgtrekking waarmee ek, en ek glo my ouers, gelukkig kan wees.

______________________

Rooi pil, of net redelik? Deel twee

DINSDAG 28 AUGUSTUS 2018

’n Gedagte rol al vir ’n paar dae in my kop rond: Aktivis-joernalis. Dit is alles goed en wel dat jy wil hê jou lewe moet iets beteken, dat jy ’n verskil aan die wêreld wil maak. Miskien stem ek selfs saam met jou politieke sienings en waardeer die tyd wat jy vat om jou standpunte te verpak op maniere wat mense help om die vraagstuk van ’n bepaalde hoek af te sien.

Maar kom ons wees duidelik oor een ding: As jy ’n aktivis-joernalis, of ’n-aktivis-verslaggewer, of ’n aktivis-nuusaanbieder is, kan jy nie vertrou word om die nuus akkuraat te rapporteer nie. Jy kan nie vertrou word om my net te vertel wat aangaan nie, want ek sal altyd aanneem dat jy verdraai wat gebeur sodat dit jou agenda pas.

* * *

Dieselfde geld vir aktivis-akademici. ’n Akademikus is ’n wetenskaplike. ’n Wetenskaplike moet ’n gunsteling hipotese soos ’n warm patat kan los as eksperimente iets anders voorstel as wat hulle geantisipeer het. ’n Aktivis-akademikus vind maniere om die resultate van ’n eksperiment te laat inpas by wat hulle gehoop het. Dis oneerlik. Dis nie wetenskap nie – dis propaganda. So ’n akademikus is ’n wolf in skaapsklere.

DINSDAG 23 OKTOBER 2018

Mense migreer oor die woestyn uit lande in Noord-Afrika, en uit oorloggeteisterde gebiede in die Midde-Ooste en Suidoos-Asië. In vele (meeste?) gevalle praat hulle nie die tale van die lande waarheen hulle op pad is nie. In meeste gevalle is daar aspekte van hulle kultuur wat direk in teenstand is met die dominante kultuur van hulle ideale eindbestemmings.

Waarop stuur dit af? Konflik, en wanorde.

Soek die migrante/vlugtelinge/trekkers konflik en wanorde? Sekerlik nie, siende dat dit presies is waarvan hulle wegvlug in vele gevalle.

Feit is, migrante/vlugtelinge/trekkers eindig nie net op in “Italië” of “Frankryk” of “Swede” nie, maar in die Italiaanse dorp, Ferrara, of in die eens stil Franse dorp, Forges-les-Bains, of in die Sweedse stad Malmö. Is daar werk vir hulle? Is daar genoeg behuising? Is daar genoeg plek in die plaaslike skole vir hulle kinders? Is daar genoeg beddens in die plaaslike hospitale vir wanneer hulle siek raak?

Watse persentasie van die nuwe inwoners is bereid om veranderinge te maak aan hulle kultuur om in te pas in Ferrara, of Forges-les-Bains, of Malmö? Indien hierdie persentasie nie voldoende is nie, sal dit lei tot konflik en wanorde.

Wanneer honderde, of duisende mense arriveer in Ferrara, of Forges-les-Bains, of in Malmö, hoeveel van hulle sê: Dis dit, hierdie is my en my gesin se nuwe tuiste. Hier sal ons nuwe wortels skiet en alles in ons vermoëns doen om in te pas, en by te dra tot die welstand van die gemeenskap. Hoeveel van hulle verwoord iets van hierdie aard? Sewentig persent? Vyftig persent? Tien persent? En indien nie genoeg van die nuwe inwoners bereid is om te verklaar dat ’n plek hulle nuwe tuiste is en dat hulle sal doen wat hulle moet doen om hulleself te bewys aan hul nuwe gemeenskap nie, waarop stuur dit af? Op wanorde en konflik.

Ek van alle mense verstaan hoekom mense van een land na ’n ander land toe wil gaan om beter geleenthede, of ’n beter lewe te soek. Maar ek verstaan ook hoekom mense in Europa toenemend sinies raak wanneer regerings nie gesonde verstand aan die dag wil lê nie.

______________________

Soos jy dink … bestaan jy

WOENSDAG 8 AUGUSTUS 2018

19:23

Ek, Brand Smit, is dankbaar daarvoor dat honderde mense die stukke lees wat ek geskryf het.

Ek, Brand Smit, is dankbaar daarvoor dat ek 90% van my eie tyd besit, en kan aanwend soos ek goed vind.

Ek, Brand Smit, is dankbaar vir die geleentheid om vir ander mense te kan leer wat ek geleer het op die lang pad na sukses en finansiële welstand.

19:58

Mense moet ophou om te sê jy moet DINK aan ’n oplossing, of DINK aan wat jy moet doen. Jou taak is om die situasie optimaal te kry. Eet gesonde kos wat jou liggaam positief affekteer; stort wanneer jy nodig het om te stort; kam jou hare (as jy hare het) en doen wat jy moet doen om fisies goed te voel; doen ligte oefeninge; drink genoeg water of tee (of koffie, as jy verkies); sorg dat die vertrek koel en aangenaam is (of warm genoeg in die winter); raak besig met dinge wat jy moet doen, en maak seker jy werk genoeg rus in tussen aktiewe periodes. Die antwoord, of die oplossing, sal na jou toe KOM.

20:27

Mens dink baie aan wat jy sal agterlaat van jou bestaan. Sal daar darem iets wees wat die moeite werd sal wees om te bewaar, of sal dit wees asof jy nooit eens hier was nie?

Ek was voorheen erg gepla daarmee om spreekwoordelike spore in die sand agter te laat wat ander mense sou kon sien. Maar daar is ’n ander manier om daarna te kyk. Daar is mense in hierdie wêreld wat baie skade en onreg aandoen gedurende hulle aardse bestaan. Hulle laat nie veel agter wat volgens enige standaarde as goed geag kan word nie. Enige rekenmeester wat sy sout werd is, sal beslis dat die finale figuur ’n vet, rooi negatief is.

In ag genome hierdie nare werklikheid, klink dit skielik nie so sleg om op die laaste telling ’n NUL agter te laat nie.

SATERDAG 15 SEPTEMBER 2018

Soos jy dink, so doen jy.

Hoe jy dink, affekteer die resultate wat jy produseer.

Bron: Jy – wanneer jy besef hoe waar dit is.

______________________

Gaan diep om te herprogrammeer

WOENSDAG 8 AUGUSTUS 2018

Hoe lank is ek geprogrammeer oor geld, en geldmaak, en my rol en plek in die wêreld voordat ek gesê het, “Wag ’n bietjie, wat gaan hier aan?”

Die antwoord: Vir ’n lang tyd. Ten minste 25 jaar, maar dieselfde “operating procedure” het voortgegaan omdat ek dit nie vervang het met ’n ander manier van dink oor dinge nie. Selfs toe ek ’n periode van intense selfondersoek deurgegaan het, waartydens ek krities oorweeg het waarin ek geglo het en hoe ek te werk gegaan het, het ek nooit ver genoeg gegaan om myself werklik te herprogrammeer nie.

Ek het geleer hoe ander mense geld maak, en probeer om dieselfde, of soortgelyke aksies te neem. Maar dis soos om net vir iemand ’n paar Russiese frases te leer, en hom dan in die middel van Siberië te los en te verwag dat hy ’n suksesvolle spioen sal wees. Hy gaan nie inpas nie, want hy’s nie van daai omgewing nie. Hy is nie geprogrammeer in, en vir, daai samelewing nie. Hy mag dalk daarin slaag om klanke te produseer wat ander mense sal herken en waarop hulle toepaslik sal reageer, maar om werklik in sy missie te slaag, moet hy veel meer intensiewe opleiding ontvang.

Vir twee dekades is ek geleer om op “God” te vertrou vir leiding in my lewe. “God” sou my in ’n rigting stuur. “God” het geweet waar “Hy” my nodig gehad het. “God” sou sorg; ek moes net geduldig wees. Toe, op ’n dag, besef ek dat ek nie meer in “God” glo nie. Oeps, wat nou? Twee dekades van programmering dat die lewe op ’n bepaalde manier werk, dat my plek in die wêreld op ’n sekere manier bepaal word, en toe skielik – niks. Jy’s op jou eie. Voorspoed.

Ek het oukei gedoen in die amper drie dekades van volwasse lewe sedert daai traumatiese wending – nie fantasties nie, maar daar’s beslis ’n paar plusse in my goeie kolom. Maar ek sal dit moeilik vind om met iemand te argumenteer wat van mening is dat ek basies net aangekarring het die afgelope twee en ’n half dekades so goed as wat ek kon.

Feit is, ek kan steeds beter doen, maar ek sal dieper moet gaan as voorheen veral wat betref my verhouding met geld, en hoe dit my plek en rol in die wêreld affekteer – of hoe ek dink aan my plek en rol in die samelewing.

______________________

Het ek die rooi pil gesluk, of is ek steeds redelik?

[Die “rooi pil” en die teenoorgestelde, die “blou pil”, is populêre kulturele idees – metafore wat die keuse verteenwoordig tussen kennis, vryheid en die brutale waarhede van die werklikheid (rooi pil), en veiligheid, geluk en die gelukkige onkunde van illusie (blou pil).]

MAANDAG 18 JUNIE 2018

Ek verstaan hoekom mense, veral jong mans, wil migreer oor die Mediterreense See na Europa.

Ek verstaan ook hoekom vele Europese mense die massa-migrasie sien as ’n aanslag op hulle leefwyse, welsyn, taal en kultuur – en hoekom hulle bereid is om terug te stoot.

DINSDAG 17 JULIE 2018

(Geïnspireer deur die artikel, Devastation and Denial: Cambodia and the Academic Left”.)

(1)

’n Bepaalde politieke groep beweer iets is besig om te gebeur. Net omdat jy gekant is teen die groep se politiek, is nie te sê dat dit nié besig is om te gebeur nie.

Een voorbeeld: Konserwatiewe, pro-Vrye Mark, pro-kapitalisme politici, veral dié wat in posisies van mag is, het enige geleentheid aangegryp tydens die Koue Oorlog (1945-1990) om te argumenteer dat kommunisme ’n euwel was. (Hulle het ook die gewoonte gehad om hul eie kant se ongeregtighede te ignoreer.) In 1975-1979 het hulle gepraat van honderd-duisende mense wat reeds vermoor is en wat besig was om te sterf van honger en onmenslike behandeling aan die hande van die radikaal kommunistiese Khmer Rouge in Kambodja. Van hulle politieke teenstanders aan die linkerkant het hulle geïgnoreer, met tragiese gevolge. Hierdie mense het vasgeklou aan hul eie ideologiese posisies in stede daarvan om krities te kyk na verslae oor wat aan die gang was in Kambodja. ’n Mens kry die idee dat ooggetuie-verslae ongerieflik was vir hulle, en in stede daarvan om hul eie navorsing te doen, het hulle eerder besluit om die verslae te verwerp, en selfs te kritiseer.

(2)

Net omdat jy kan wys op een geval waar iemand wat aan die teenoorstaande pool van jou op die politieke spektrum is, verkeerd was met tragiese gevolge, is nie te sê hulle is verkeerd op ander posisies wat hulle inneem nie.

Een voorbeeld: Malcolm Caldwell, ’n Britse Marxis, was krities oor Amerikaanse imperialisme en die buitelandse beleid van ander Westerse moondhede in die 1960’s en 1970’s. Hy was ook ’n ondersteuner van die Khmer Rouge – tot hy vermoor is in sy hotelkamer in die hoofstad van Kambodja, Phnom Penh, in 1978. Die feit dat hy verkeerd was oor die Khmer Rouge, beteken egter nie dat hy verkeerd was in sy kritiek oor Amerika en ander Westerse moondhede se aksies en beleid in daai dekades nie.

SONDAG 22 JULIE 2018

00:40

Ek het vanoggend (Saterdag) ’n gesprek op TV gekyk met ’n vrou wat ’n voorstander is van die term “theybies” in stede van “babies”. Die idee is om nie die jong kind te programmeer met een of ander geslag voordat die kind nie ’n kans gehad het om self ’n geslag te kies nie. (Volgens nbcnews.com: “to shield them from gender stereotypes”).

Dink ek: Hoekom stop by geslag? Dis immers slegs een van vele faktore wat uiteindelik bepaal wie en wat jy is, en hoe jy aan jouself dink. Hoekom Engels praat met die kind? Hoekom nie die kind in gelyke grade blootstel aan ’n dosyn tale, en die kind ’n kans gee om self ’n taal te kies nie? So ook met kultuur. Die Amerikaanse ouers van ’n jong kind behoort dan nooit melding te maak van baseball en hot dogs en Independence Day of enige ander aspek van Amerikaanse kultuur in daai eerste paar jare van die kind se ontwikkeling nie. Wat van as die kind kultureel Portugees wil wees, of Russies, of Taiwannees? Dan het daai ouers mos die kind groot skade aangedoen om hom/haar/X te programmeer met ’n kultuur wat die kind nie gekies het nie. Selfde met sosio-ekonomiese elemente van hulle grootwordjare. Hoe durf die ouers net die kind blootstel aan middelklaskultuur? Moet die kind nie ook in gelyke mate blootgestel word aan ten minste werkersklaskultuur, en artistiek-boheems nie? En indien die kind hoofsaaklik blootgestel word aan artistiek-boheems, hoe durf die ouers? Wat van as die kind uiteindelik besef hy/sy/X is petite bourgeois?

11:20

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante met talente en uitstaande vermoëns.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante met positiewe karaktereienskappe.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante wat verdraagsaam en oopkop is.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante wat iets sal bydrae tot hulle gemeenskap.

Wat mense nie wil hê nie, is méér rommel in die straat. (Die land se eie burgers skep reeds genoeg rommel.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg kriminele. (Daar’s reeds genoeg kriminele onder hulle medelandsburgers.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg onverdraagsaamheid. (Daar’s reeds genoeg onverdraagsaamheid onder hul eie landsburgers.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg bendes jong mans wat kwaad is vir mense wat hulle verantwoordelik hou vir hulle eie ellende. (Daar is reeds genoeg bendes nihilistiese jong landsburgers wat gemeenskappe versuur.)

* * *

Ons Suid-Afrikaanse Engelse onderwysers in Taiwan is soos mense van Meksiko en ander lande in Sentraal-Amerika wat Amerika toe wil gaan op soek na ’n beter lewe. Taiwan is ons Amerika. Ons kom hier aan met ’n toeriste visum, wetende dat ons werk gaan soek, en indien ons werk kry, heel waarskynlik hier sal bly vir jare lank. Ons hoop ook op ’n “green card” (APRC plus persoonlike werkspermit) wat ons sal toelaat om wettiglik permanent hier te woon en te werk.

______________________