Jy’s óf vasberade om iets te doen, óf jy’s nie

MAANDAG 20 JANUARIE 2020

14:17

Die stuk, “Begin vandag reeds te lewe,” van 6 Februarie 2000, bevat die volgende paragraaf: “Die tye wat ek nog die meeste geskryf het, en die tipe materiaal geproduseer het waarvan ek hou, was tye wat ek verveeld was – wanneer ek nie net ure elke dag gehad het om te dink en te skryf nie, maar dae en weke van doen net wat ek wou. Dit was ongelukkig ook tye wat ek die minste geld gehad het, wat ek nie eers behoorlike sigarette kon bekostig nie.”

Op Saterdag 9 November 2019 het ek die volgende opmerking geskryf oor bogenoemde paragraaf: “Ek was suksesvol in 1995 en die eerste helfte van 1996 in my poging om die lewe te skep wat ek wou gehad het – ek is uitgelos en ek het tyd gehad om te dink en te skryf. Om te moes uitgaan en dinge te doen om geld te maak, sou dit opgemors het. Korea het vanaf die tweede helfte van 1996 uitgewerk, want ek wou weggaan. Ek het dus weereens ’n suksesvolle uitweg geskep – al het dit beteken ek sou ’n paar ure per dag moes geld verdien. Ek het baie gekla oor my finansiële situasie, maar wat ek die graagste wou gehad het, het ek gekry in 1995 en 1996.”

* * *

Interessante gedagte oor wat ek al begeer het, en wat toe gemanifesteer het:

* Ek wou op Stellenbosch studeer in 1989/1990 – het uiteindelik gegaan in 1991, ten spyte daarvan dat ek nie genoeg geld gehad het vir die skuif nie, en geen blyplek gehad het nie

* Ek wou teologie studeer – het, tot ’n groot mate, deur te fokus op Bybelkunde, en toe Godsdienskunde

* Wou nie teen 1995 nastreef wat ek gesien het as ’n konvensionele beroep nie, en ek wou nie werk doen wat ek beskou het as te alledaags nie – ek het dan ook nie

* Ek moes steeds geld verdien – Korea is gemanifesteer aan die einde van 1995, al het ek nie geld gehad vir ’n vliegtuigkaartjie nie

* Wou na amper twee jaar in Korea teruggaan Suid-Afrika toe – het teruggegaan Suid-Afrika toe

* Wou teen Oktober 1998 wegkom van die doodloopstraat waarin ek myself bevind het in Johannesburg en meer geld verdien, en ek wou skryf – Taiwan is gemanifesteer, al het ek weereens nie geld gehad vir ’n vliegtuigkaartjie nie

* In Taiwan wou ek meer tyd spandeer aan my skryfwerk, en minder tyd spandeer deur klas te gee – dit het gebeur teen 2001

* Wou teen 2003 werk van die huis af en meer geld verdien as wat ek kon met Engelse klasse – het talle idees ontvang, maar het swak gedoen met uitvoering

* Was teen die begin van 2004 eensaam en het ’n maat nodig gehad – het ’n wonderlike vrou ontmoet wat ek gedink het heeltemal buite my liga was, maar ek het nietemin korrek genoeg, of gepas genoeg, opgetree om haar aan te trek (was ook nadat ek materiaal geskryf het wat ek waarskynlik nie sou geskryf het as ek haar vroeër in 2004 ontmoet het nie)

* Was vanaf 2005 weereens entoesiasties om te werk van die huis af en meer geld te verdien as wat ek kon met Engelse klasse – het weereens talle idees ontvang, maar het weereens gefaal in korrekte uitvoering

Hoekom het Stellenbosch, Korea en Taiwan uitgewerk, maar nie “maak geld van die huis af” nie? Een rede is sekerlik omdat Stellenbosch, Korea en Taiwan spesifieke doelwitte was, met sterk emosie agter dit en sterk visuele resultaat. Maak geld … van die huis af? Nie juis nie. Ek was immers reeds by die huis; ek het reeds gewerk wanneer ek by die huis was al het ek nie geld gemaak daarmee nie, en ek het reeds geld gehad – meer geld is tot ’n groot mate ’n abstrakte konsep.

22:01

Het ek ’n gat gebrand in die muur met my fokus oor Stellenbosch in 1990, Korea in 1996, en Taiwan einde 1998? Nee. Maar ek was vasberade.

“Vasberade” is nog een van daai woorde, soos “fokus” en “begeerte”, wat moeilik is om vas te pen. ’n Mens moet op iets spesifiek fokus om ’n sukses daarvan te kan maak. Jy moet ’n sterk begeerte manifesteer om ’n doelwit te bereik. Jy moet vasberade wees om jou einddoel te realiseer. Wanneer weet jy of jy voldoende begeerte het? Wanneer weet jy of jy genoeg op iets fokus? Wanneer weet jy of jy vasberade genoeg is?

Toe ek in die tweede helfte van 1990 besluit het ek gaan in 1991 Stellenbosch toe en niks gaan my stop nie, het ek ’n reeks stappe bedink wat uitgevoer moes word. Weereens – ek het nie ’n gat in my kamermuur gebrand met laserfokus nie, maar ek het geweet watse stappe geneem moes word; ek het die stappe geneem, en ek het gepraat en gedink asof dit wat ek begeer, gerealiseer gaan word. Toe ek besluit het Korea is die oplossing vir die doodloopstraat waarin ek myself bevind het teen die eerste kwart van 1996, het ek gedoen wat gedoen moes word. Ironies genoeg was ek nie entoesiasties oor Korea spesifiek nie, maar ek het geweet die proses sou bemagtigend wees. Teen die einde van 1998 was ek beslis ook nie entoesiasties oor die idee om weer Engelse klasse te gaan gee in Noordoos-Asië nie, en Taiwan was nooit hoog op my lys van plekke om dit te doen nie, maar weereens het ek ’n reeks stappe uitgevoer met die vasberadenheid van een wat weet daar’s geen ander uitweg nie.

Dit wil dus blyk asof begeerte en vasberadenheid om iets uit te voer, of om iets te vermag, of om êrens uit te kom, noodsaaklik is. Dan moet jy weet wat nodig is om gedoen te word. En jy moet daarop fokus om die stappe goed genoeg en betyds uit te voer.

Laserfokus waarmee jy ’n gat in die muur kan brand? Ek weet regtig nie wat dit beteken nie. Maar ek weet wel jy’s óf vasberade om iets te doen, óf jy’s nie. En jy weet waar daai merker binne jouself lê.

DONDERDAG 3 SEPTEMBER 2020

Om op te som:

1. Weet watse stappe jy moet neem.

2. Neem die stappe.

Vasberadenheid, begeerte, visuele resultaat, en fokus, speel ’n rol in albei punte. As jy ’n sterk begeerte het om iets te doen en jy het ’n visuele resultaat in jou geestesoog, gaan jy die tyd spandeer en die moeite doen om uit te vind watse stappe jy moet neem om die resultaat te realiseer. En as jy vasberade is en jy fokus op wat jy doen, sal jy die stappe neem. Maar dit is nie meer kompleks as dit nie: Weet watse stappe jy moet neem, en neem die stappe.

______________________

Die gevolge daarvan as jy glo aan verantwoordelikheid vir jou eie lewe

MAANDAG 13 JANUARIE 2020

Om verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem is, hoe meer ek daaraan dink, ’n uiters gevaarlike opinie om te huldig in die “Politically Correct/Crazy Culture War” Era.

As jy verantwoordelikheid vir jouself trek na sy logiese konklusies, was die slaaf deels verantwoordelik vir sy eie slawerny, en was sogenaamde nie-blanke groepe in Suid-Afrika deels verantwoordelik vir hulle eie lyding en soms miserabele lewens tydens die pre-1994 era.

Natuurlik het die slawe-eienaar die gesag van die koloniale establishment aan sy kant gehad. Maar as ons net kyk na die geskiedenis van slawerny in Noord- Amerika en die Karibiese Eilande, hét duisende slawe hulle vryheid geëis, en het in vele gevalle die res van hulle aardse bestaan uitgeleef as nie-slawe – al moes hulle altyd op die uitkyk wees vir vyande wat hulle terug wou voer na slawerny (sien die Rewolusie in Haïti, en die Maroons in Jamaika).

Die apartheidstaat was ook magtig, en talle sogenaamde nie-blankes wat hulleself verset het teen die blanke staat, is vermoor – soms op brutale wyse. Maar daar was ten minste agt nie-blankes vir elke een blanke in die dekades voor 1994! As nie-blankes in meer betekenisvolle getalle geweier het om toe te laat dat blanke politieke leiers aan hulle dikteer hoe en waar en saam met wie hulle moes leef, wat kon die blanke staat en die blanke minderheid wat hulle ondersteun het, gedoen het? Sommige mense sê dat daar ’n bloedbad sou wees, tien of honderd keer erger as Sharpeville in 1960 of Soweto in 1976. Maar was geweld die enigste oplossing? Indië gedurende die Britse koloniale era is ook ’n interessante geval: Hoe het minder as 200 000 Britse soldate en amptenare geslaag daarin om ’n bevolking van meer as 200 miljoen Indiërs te onderwerp aan hulle gesag?

Is daar ’n middeweg tussen, “Ek is nie in beheer van my eie lewe nie en is derhalwe ’n slagoffer van enige een wat sterker is as ek, of wat my oortuig dat hy sterker is as ek” aan die een kant, en aan die ander kant, “Oor my dooie liggaam sal ek jou toelaat om baas te speel oor my”?

Dit voel steeds asof ek vasgevang is in ’n polities en sosio-kulturele dilemma. Ek glo dat ek, as ’n relatief intelligente volwassene, tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hoe ek my bestaan ervaar. Ek glo verder dat alle relatief intelligente volwassenes tot ’n groot mate verantwoordelik is vir hoe hulle húl bestaan ervaar. Maar indien dit waar is, hoe op aarde kan ek voortgaan om te glo dat 80% van die bevolking van Suid-Afrika voor 1994 slagoffers was?! Was my ouers en ander witmense voor hulle dan so asemrowend magtig? Watse tipe toorkuns het hulle beoefen?!

Ek glo talle kinders en kleinkinders van mense wat swaargekry het voor 1994, omdat hulle swart of bruin of Indiër was, het reeds wys geraak tot die waarheid: dat die witman en -vrou nie regtig so magtig was nie. Dat hulle ouers en grootouers en ander voorsate nie hard genoeg teruggedruk het toe die blankes terme dikteer het nie. ’n Kritiese persentasie swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners het die gedikteerde terme merendeels aanvaar, en gehoop ’n wonderwerk gebeur in die toekoms wat hulle sou red. Ek glo dat talle kinders en kleinkinders van swart en bruin en Indiër Suid-Afrikaners wat swaargekry het voor 1994 diep in hulle binneste kwaad is vir hulle ouers en hulle ouers se ouers, maar omdat hulle lief is vir hulle, skep hulle ’n karikatuur van witmense wat makliker gekritiseer kan word, wat makliker gestenig kan word, en op wie se skouers al die skuld gepak kan word.

Nagedagtes

Dinsdag 28 Julie 2020

Een: Daar was inderdaad talle voorbeelde in Suid-Afrikaanse geskiedenis van individue en organisasies, net in die periode 1910 tot 1990, wat besef het watse groot probleem sielkunde was – dat ’n betekenisvolle persentasie wit mense geglo het dit was hulle reg om te regeer oor ander groepe, en dat ’n betekenisvolle persentasie nie-wit Suid-Afrikaners ook geglo het dat dit so moes wees. Hierdie mense en organisasies het begryp dat opvoeding ’n sleutel is tot ’n beter toekoms, dat daar toegepas moet word wat Marcus Garvey (1887-1940) geskryf het: We are going to emancipate ourselves from mental slavery, for though others may free the body, none but ourselves can free the mind.” Een van die grootste proponente van beter ingesteldheid was Steven Biko (1946-1977). Geen wonder dat die apartheidstaat hom uit die weg wou ruim nie. Daar was ook talle pogings om duisende mense betrokke te kry in veldtogte teen die apartheidstaat, insluitende in nie-gewelddadige optogte en protesaksies. Aan die einde hét apartheid tot ’n einde gekom, en ’n meer demokratiese bestel het dit vervang. Hoekom? Omdat ’n kritiese persentasie van die wit bevolking aanvaar het dat hulle nié ’n reg het om te regeer oor ander groepe nie, en ’n kritiese persentasie van swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners het dit gesien as ’n ondermyning van hulle regte om nie te kan kies wie oor hulle regeer nie. ’n Massiewe sielkundige skuif onder al die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika moes dus plaasvind voor die realiteit vir almal kon verander. Teen 1994 het hierdie skuif plaasgevind, en die realiteit het verander.

Twee: Wit mense wat aksies geneem het wat ander Suid-Afrikaners se hoop en pogings om goeie lewens te lei, aktief belemmer het (onder andere Nasionale Party politici, staatsamptenare wat regeringsbeleid uitgevoer het, en lede van die sekuriteitspolisie), was feilbare mense wat posisies van mag bekom het, en wat dag na dag geleer het dat hulle wegkom met die misbruik van hulle mag. ’n Betekenisvolle hoeveelheid het geglo hulle saak is goed – stryd teen Kommunisme, en derhalwe vir die Christelike geloof en Westerse beskawing. Talle van hierdie wit agente van die apartheidstaat, hierdie uitvoerders van ’n moreel korrupte ideologie, was andersins goeie mense – mense wat lief was vir hulle eggenote en kinders, en wat goeie seuns en dogters was vir hulle bejaarde ouers. Hierdie is die kompleksiteit wat ek nie kan ignoreer nie wanneer mense ’n vereenvoudigde geskiedenis voorlê waar een kant magtige euwel monsters was, en die ander kant arme magtelose slagoffers wat maar net kon hoop vir ’n beter dag.

Woensdag 29 Julie 2020

1. Daar’s hierdie idee wat ’n mens soms kry – van mense wat ly en kla, maar nie genoeg doen om hul omstandighede te verander of om hulle lot te verbeter nie. Later, wanneer ander mense hul omstandighede vir hulle verander het, is hulle geneig om ’n vertelling te bevorder wat die feit verberg dat hulle nie meer inisiatief geneem het om hulle eie lot te verbeter nie.

2. Ek glo in die enorme kapasiteit van die individu – en as genoeg lede saamwerk, die kollektiewe vermoë van die gemeenskap – om hul omstandighede en hul eie ervaring van die werklikheid te verbeter. Dikwels misluk mense om dit te doen. Maar erken dit dan. Om ’n vertelling te bevorder wat jouself, of die etniese, kulturele of sosio-politieke groep waarvan jy lid is, uitbeeld as arm slagoffers, doen ongelooflike skade aan jou eie persepsie van die vermoë wat jy het om jou omstandighede en jou ervaring van die werklikheid te verbeter. Watse boodskap stuur jy aan jonger mense wat nog idees vorm oor waartoe hulle in staat is? Te veel mense kies woede teen een of ander almagtige groep wat op een of ander manier politieke, ekonomiese, en kulturele mag gemonopoliseer het en dit al dekades of selfs eeue volhou. Is hierdie mense kragtige towenaars? Beoefen hulle ’n ander-wêreldse toorkuns? Die kans is groot dat jy hulle mag en vermoë oordryf ten einde jou eie swak rekord om beter te doen, te versteek.

Sondag 16 Augustus 2020

Ek kom weereens terug na hierdie stuk toe, want dis maklik om te misverstaan – of dalk het ek myself nog nie duidelik genoeg gemaak nie.

So, hopelik net nog een laaste keer, drie punte:

1. Afrikaners, en ander witmense in Suid-Afrika in die periode voor 1994, het wel politieke, ekonomiese, en militêre mag gehad, maar hulle mag was nie onbeperk nie. ’n Aanvaarding – vir alle praktiese doeleindes, al het mense nie daarvan gehou nie – van die politieke en sosiale orde gedurende apartheid, en voor dit, onder al die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, was die kragtigste instrument in die hande van die wit regering.

2. Die aanvaarding en gebruik van ’n slagoffer-identiteit is minder waardevol as om te aanvaar dat wat ook al met jou of jou familie gebeur het, dalk nie sou gebeur het as jy harder probeer het om dit te vermy nie – as jy meer verantwoordelikheid aanvaar het vir jou eie situasie. Nou – niemand hoef aan my uit te wys dat dit klink soos “victim blaming” nie. Daar is nooit enige kwessie van minder blaam plaas op die oortreder, en meer blaam plaas op die slagoffer nie. Die oortreder is skuldig, en verdien om gestraf te word vir wat hulle aan ’n ander mens gedoen het. Oortreders moet verantwoordelikheid neem en die gevolge aanvaar vir hulle dade. Maar as die slagoffer niks kon gedoen het om hulle pyn en lyding te vermy of te verminder nie, is hulle een honderd persent slagoffer – een honderd persent magteloos. Dit is die hoogste vlak van slagofferskap. Iemand het met jou lewe gemors, en daar was niks – niks! – wat jy daaraan kon doen nie. Dit is tragies dat daar elke dag sulke gevalle is in elke land, en elke stad en dorp en somtyds plaas en gehuggie in die wêreld. Dit is wat gebeur met kinders wat afhanklik is van volwassenes vir beskerming, en om goeie besluite te neem. Dit is ook wat gebeur met ou mense wat nie meer in beheer is van hulle eie lewens nie. Hierdie tipe slagofferskap is verskriklik, want nie net behels dit pyn en lyding en verlies nie, dit herinner jou ook elke dag wat jy daaraan dink dat jy absoluut magteloos was om enige aspek daarvan te verander. Mense kan my kritiseer soveel as wat hulle wil, maar ek aanvaar eenvoudig nie dat miljoene volwasse swart en bruin en Indiër Suid-Afrikaners voor 1994 een honderd persent magtelose slagoffers was nie. Kinders, ja. Maar sodra jy oud genoeg is om in beheer te wees van jou eie bewegings en besluite, het jy keuses. Duisende slawe het tydens die periode van slawerny in die Westerse kolonies besluit om te ontsnap. Miljoene het besluit om eerder op die plantasie te bly omdat die risiko te groot was. Daar is mense wat beweer dat om te sê hulle het besluit om te bly, impliseer dat hulle gekies het om slawe te wees. Ek sê: ten minste sien ek hulle as rasionele mense wat keuses gemaak het, al was die opsies beperk. Ek sien hulle nie as breinlose liggame nie. Ek sien hulle as mense wat voor ’n verskriklike keuse gestaan het, en die minder lewensbedreigende opsie gekies het. Was daar egter slawe wat die sosiale orde aanvaar het as godgegewe waar hulle slawe is, en witmense hulle meesters? Ek glo daar was talle mense met hierdie ingesteldheid wat uiteindelik bevry moes word van hulle “mental slavery”. Om ’n mate van verantwoordelikheid te aanvaar vir jou situasie in die verlede, is bemagtigend. Dit sê aan die een wat oor jou baas gespeel het, dat hy of sy nie regtig so magtig was soos hulle gedink het hulle was nie. Dit sê: “My eie mislukking om harder terug te druk, of meer effektief terug te druk, het dit makliker gemaak vir jou. Moenie my meer as ’n slagoffer sien nie, want die ander kant van die muntstuk is dat ek moet erken jy was slimmer, sterker, en magtiger as ek.”

3. Ek het vriende en familie wat hulleself sien as geallieerdes van die lydende swart man en vrou. ’n Swart man of vrou se sukses word gevier wanneer ’n soortgelyke sukses nie gevier sal word indien die persoon wit was nie. Hierdie ding om te kyk na ’n persoon, en aan sy of haar velkleur, of geslag, of seksuele oriëntasie af te lei dat hulle slagoffers is van iemand anders se persoonlike mag, is vir my ondraaglik – ondraaglik! En as jy luister na wat talle swart mense sê, vind hulle dit ook ondraaglik, en beledigend. Ek kan nie op hierdie oomblik ’n spesifieke swart persoon aanhaal wat dit in soveel woorde gesê het nie, maar ek is seker daarvan die volgende sentiment is wydverspreid onder swart mense wat hierdie tendense volg: “Moenie my as ’n slagoffer sien nie. Jy en jou voorsate was nie regtig so magtig nie. Ek – en my voorsate, het foute gemaak, en het nie hard genoeg, of slim genoeg terug gedruk nie.”

______________________

Om my bagasie uit te sorteer

MAANDAG 6 JANUARIE 2020

Ek kry al vir jare ’n droom waar ek op pad is na ’n lughawe of ’n treinstasie, en ek sal betyds wees … as ek net al my bagasie bymekaar kan kry – wat onmoontlik blyk te wees want ek het te veel “stuff”.

’n Tyd gelede droom ek oor ’n vervalle woonstelgebou in Taiwan, waar bokse en bokse vol van my goed staan. Die plafon is gekraak so dit het al ingereën, en die mure is vol skimmel, en dis ’n groot gemors. Maar ek het soveel “stuff” dat ek dit nie alles bymekaar kan kry nie.

Saterdagnag/Sondagoggend droom ek weer van ’n ou woonstel wat ek by ’n “Mrs Zhang” huur – eintlik net twee vertrekke in ’n huis of ’n woonstel. En weereens is my besittings orals oor die plek. Behalwe dié keer, na ’n rukkie, besef ek, ek is besig om die laaste items – die laaste stukkies papier en die laaste klein ornamente en aandenkings en stukkies goed – op te raap en in ’n laaste boks te sit. En toe is die plek skoon. Ek het dit uiteindelik reggekry om al my “stuff” bymekaar te kry, en/of uit te sorteer.

Daar was wel geen lughawe of treinstasie in die droom nie. Dalk is dit volgende.

______________________

Dinsdag 31 Desember 2019

DINSDAG 24 DESEMBER 2019

Ek besef vanaand volgende week is nie net die einde van ’n jaar nie, maar die einde van ’n dekade – my derde einde van ’n dekade as ’n volwaardige volwassene.

Die eerste dekade na hoërskool het vir my begin in ’n sendinghuis, met my as deel van ’n span wat gehoop het om meer mense te bekeer tot die Christelike geloof. Die dekade het geëindig vir my in die strate van Hong Kong, ver van die huis af, en nog verder van sekerheid oor my eie toekoms.

Ek het die ’00 dekade begin as ’n oorgewig roker met ’n slegte ingesteldheid en ’n problematiese selfbeeld. Ek het tien jaar later die dekade afgesluit op ’n bietjie van ’n laagtepunt – minder oorgewig, nie meer ’n roker nie, maar finansieel relatief armlastig. En ek was reeds 38. Die dekade het wel ook van die spreekwoordelike beste jare van my lewe ingesluit: ek het in 2003 begin skryf asof die koors my beetgepak het, en teen die middel van die dekade het ek ’n vrou ontmoet wat soos ’n engel uit die sewende hemel neergedaal het op my aardse bestaan. Nietemin, die hoogtepunte was in die middel van die dekade; die einde sou enige sterfling angstig maak.

En so het my derde dekade begin as volwassene. In 2011 het ek 40 geword. Ek het voortgegaan met ’n verskeidenheid projekte om meer finansiële sekerheid te bewerkstellig, en ek het met hernude toewyding weer aandag gegee aan my skryfwerk. Hierdie dekade het hoogtepunte van ’n ander intensiteit gehad, en die laagtepunte was nie heeltemal so laag as in die vorige dekade nie.

DINSDAG 31 DESEMBER 2019

Wat is my voorspellings aan die vooraand van hierdie vierde dekade van my volwasse lewe?

Geen voorspellings nie. Geen kort toesprake om myself te motiveer nie. Ek is reeds gelukkig. Ek doen reeds finansieel veel beter as in die vorige dekades. Ek leef reeds die voller lewe waarvan ek gedroom het in my twintigs en vroeë dertigs.

Is ek oorgehaal om nog beter te doen? Is ek gereed daarvoor om nog meer te reis, meer te gee, meer bystand te verleen, meer te doen van wat ek reeds doen? Is ek gereed om nóg meer van die lewe te ervaar? Is daar ’n voller weergawe van my wat ek reeds besig is om te wórd soos ek hierdie woorde tik?

* * *

’n Redelik welgestelde vriend van ’n vriendin het hierdie jaar genoem dat die lewe wat ons – ek en Natasja – leef, nader is aan die lewe van biljoenêrs as aan die lewe van arm sukkelaars. “Sure,” het hy gesê, “billionaires have fine Egyptian cotton linen and they live in bigger houses, but you – like them – have running water, modern plumbing, stable electricity and high-speed internet. Compare that to people who live in shacks with no running water, no electricity, no internet …”

Ek is ook onlangs weer herinner aan ’n ou waarheid: Daar is dinge waaroor ons nie beheer het nie; daar is dinge waaroor ons gedeeltelik beheer het, en daar is dinge wat tot ’n betekenisvolle graad afhang van ons besluite – as jy hierdie pad kies, is dit hierdie pad vir die volgende paar maande, en dalk die res van jou lewe; as jy daai pad kies, is dit daai pad vir die volgende paar maande, en dalk die res van jou lewe. Dit is dan ook wyser om te fokus eerder op die aspekte van jou lewe waaroor jy die maksimum beheer het. En as jy neig tot eerlikheid, en ’n kritiese beskouing van sake, sal jy erken dat jy voldoende beheer het oor jou eie lewe, en oor die omgewing waarin jy jou bestaan voer, om die voller lewe te kan skep waarvan jy op ’n stadium net kon droom.

______________________

’n Onderwerp waaroor ek eintlik nie gedagtes wil hê nie

VRYDAG 1 NOVEMBER 2019

15:58

Wat volg is die nuutste nota oor ’n onderwerp waaroor ek eintlik nie gedagtes wil hê nie. As meer as tien mense gereeld my skryfwerk lees, sal notas oor hierdie onderwerp my definitief in die moeilikheid bring. Niemand – maar veral nie wit mense nie, en dan veral nie wit mans nie – is veronderstel om enige gedagtes te vorm oor hierdie onderwerp wat nie strook met goedgekeurde hoofstroom ideologie nie. “Hoekom sal jy immers enige ander tipe gedagtes daaroor koester?” sal iemand vra. “Is jy ’n slegte mens? Is jy boos? Is jy die duiwel?”

Soos sekerlik die geval is met normale mense, gebeur dit gereeld dat gedagtes in my kop vorm terwyl ek stort, of op pad is êrens heen. En omdat ek nie in die gewoonte is om ’n spreekwoordelike wag voor die hek van my gedagtes te plaas nie, kom allerhande vreemde vrae vorendag. En siende dat die vraag dan gevra is, moet ek dit adresseer. Of, ek hoef dit seker nie aan te spreek nie – veral as ek weet dat mens eintlik net vooraf goedgekeurde gedagtes mag hê oor sekere onderwerpe. Maar ek sal die heeltyd bewus wees daarvan dat dit op die tafel is, en dat ek dit ignoreer.

In elk geval, hier is die gedagte. Hoe het die beleid bekend as Apartheid die realiteit geword vir so baie mense – van alle rasse – in Suid-Afrika, tussen ten minste 1948 en 1990?

’n Eenvoudige verduideliking is dat Apartheid toegelaat is om die praktiese realiteit te word en te bly vir so lank omdat die meerderheid van die bevolking – en die meerderheid van die bevolking was swart mense – Apartheid aanvaar het. Uit die aard van die saak het mense ’n negatiewe beskouing gehad van die beleid en die politieke leiers wat hulle verantwoordelik gehou het daarvoor, maar ’n kritiese persentasie van die geaffekteerde bevolking het dit aanvaar as die manier hoe hulle samelewing bestuur word.

Hoekom is Apartheid uiteindelik vervang deur ’n beter beleid? Omdat ’n kritiese minderheid onder die swart bevolking, met bondgenote onder ander bevolkingsgroepe, Apartheid nié aanvaar het nie, en hulle lewens toegewy het daaraan om dit te ondermyn, en te vernietig as raamwerk en beleid waarvolgens die staat bestuur en die bevolking beheer word. Hierdie kritiese minderheid, wat mense insluit soos Nelson Mandela en ander leiers van die anti-Apartheidsbeweging in die vyftigs en sestigs, asook Steve Biko en ander aktiviste in die sewentigs en tagtigs, maar ook duisende ander leiers wat noue bande gehad het met die gemeenskap op ’n daaglikse basis, het uiteindelik ’n kritiese persentasie van die bevolking oortuig dat hulle gesteun moet word in hulle pogings om Apartheid te beëindig, en dat alles beter sal wees vir hulle wanneer húlle, die nuwe leiers, in beheer van die staat sal wees.

16:49

Feit is, amper dertig jaar na die einde van Apartheid, is daar steeds wit mense wat glo dat Apartheid “nie so sleg” was nie, en dat “selfs swart mense gelukkiger was onder Apartheid as onder ’n swart regering”. En daar is swart mense wat glo dat hulle passiewe slagoffers was van iets wat groter as hulle was, en dat hulle meestal net kon wag tot hulle leiers die saak reggestel het. Albei hierdie opinies is verkeerd, omdat die waarheid ’n swaarder pil is om te sluk.

(Terloops, moet nooit ’n akademikus vertrou wat nie ’n bron van inkomste het wat onafhanklik is van die instelling, skool of universiteit waar hulle werk nie. Teen die einde van die tweede dekade van die een-en-twintigste eeu is dit algemene kennis dat akademiese instellings politieke agendas volg, en as akademici nie die dominante politieke ideologie onderskryf nie, is hulle salarisse – die manier hoe hulle huur betaal en kos en klere koop – in gedrang.)

DINSDAG 26 DESEMBER 2019

12:48

Maak dit die wandade van die man wat sy vrou fisies mishandel minder euwel omdat sy dag na dag, maand na maand by hom bly eerder as om te vlug?

Nee.

Maar watse boodskap stuur dit vir vrouens in verhoudings waar hulle mishandel word, om na hulle te verwys as magtelose slagoffers? Watse hoop gee dit vir vrouens in sulke verhoudings?

Aan die einde sit jy met twee opsies:

Opsie 1: Sien die vrou as ’n magtelose slagoffer. Vrouens wat dan nooit hulle aggressiewe mans verlaat het nie, hoef dan nooit te voel dat hulle enige iets kon gedoen het om hulle eie situasies te verbeter nie. Die boodskap aan vrouens wat tans in sulke verhoudings betrokke is, is dat hulle maar net moet hoop iemand red hulle. Want hulle is self magteloos.

Opsie 2: Sien die vrou in ’n verhouding met ’n man wat haar fisies en emosioneel aftakel, as iemand met die vermoë om iets daaraan te doen. Sy sal waarskynlik slim te werk moet gaan en braaf moet wees om haarself en moontlik haar kinders te beskerm, maar sy hét die vermoë en die mag om haar lewe te verbeter. Dis goeie nuus vir vrouens wat tans in so ’n verhouding vasgevang is. Maar die boodskap aan die vrou wat in die verlede in so ’n verhouding was, en net losgekom het omdat haar man tot afsterwe gekom het, of op een of ander manier aan die pen gery het, is dat sy iets aan haar situasie kón gedoen het – maar ongelukkig nooit so ver gekom het nie, omdat sy dalk altyd aan haarself gedink het as magteloos.

* * *

Siende dat ek reeds polities inkorrek is, en op sensitiewe tone trap, nog ’n vraag: Wanneer het die onderdrukking van die swart bevolking begin in Suid-Afrika? Biblioteke vol navorsing is al gedoen hieroor, en dalk sal my argument soos ’n eend uit die water geskiet kan word met die battery van artillerie-vuur van mense slimmer as ek.

Op hierdie punt moet ek ook duidelik maak dat ek spesifiek verwys na die swart stamme en ander swart groepe soos bekend was aan politieke leiers en blanke burgers in die agtiende en negentiende eeue.

Die geskiedenis van magspolitiek tussen wit mense en bruin mense in hoofsaaklik die Wes-Kaap, tussen wit mense en die San in aanvanklik die Suid- en Oos-Kaap, en tussen wit en Indiër-mense in oorspronklik KwaZulu-Natal, is anders as die geskiedenis tussen wit groepe en verskeie swart stamme en nasies. Slawe het in opstand gekom van tyd tot tyd. Die San het guerrilla-oorlog gevoer teen wit boere en gemeenskappe. Die Griekwas het bondgenootskappe gesmee met ander groepe en ook op hul eie in militêre konflik gekom met wit gemeenskappe.

Maar tussen wit en swart was daar ten minste ’n dosyn konflikte wat kwalifiseer as oorlog. Daar was die nege grensoorloë in die Oos-Kaap, en ’n paar opstande. Daar was drie oorloë tussen die Basotho’s en die burgers van die Vrystaat. Daar was etlike bloedige oorloë tussen die Voortrekkers en later burgers van die Transvaal en Natal, en die Ndebele onder Mzilikazi, en die Zoeloes onder Dingaan en later ander leiers. En dan was daar verskeie oorloë tussen Britse koloniale magte en die Ndebele, en teen die Zoeloes. Meeste van hierdie militêre konflik het tot ’n einde gekom teen 1880. Tot en met hierdie tyd het swart en wit teen mekaar geveg as gelykes. Mens kan wel argumenteer dat wit soldate gewere en kanonne gehad het, maar swart krygers het weer ander voordele aan hulle kant gehad, om nie te praat van die feit dat ook húlle gewere in die hande kon kry nie – en wel gebruik het, soos in die Anglo-Zoeloe Oorlog van 1879.

My punt hier is dat ek swaar sluk aan die narratief van die swart persoon in Suid-Afrika wat al vir 300 jaar ’n magtelose slagoffer is van wit oorheersing. Hierdie narratief het duidelik politieke waarde in die Suid-Afrika van die een-en-twintigste eeu, maar ek vind dit uiters vreemd wanneer mense die militêre mag van swart nasies in die agtiende en veral negentiende eeu afmaak as onbenullig. Het hierdie mense nog nooit beskrywings gelees van Xhosa- of Zoeloe-krygers nie? Het hulle nog nooit gelees van die militêre oorwinnings wat Mzilikazi en Moshoeshoe behaal het oor wit kommando’s nie?

My vraag is weereens: Die onderdrukking van swart deur wit wat so ’n kenmerk was van die Suid-Afrikaanse samelewing van die twintigste eeu – wanneer het hierdie hoofstuk begin in die konflik tussen wit en swart in Suidelike-Afrika? Ek reken die 1880’s is ’n goeie plek om te soek vir ’n antwoord.

My volgende vraag: Na ten minste ’n eeu van soms suksesvolle weerstand – waar gewapende kryger teen gewapende burger gestaan het, hoe het dit gebeur dat die onderdrukking van swart mense so omvattend deurgevoer is na 1880?

14:25

Ek sien nie swart mense in Suid-Afrika as lang-lydende historiese slagoffers nie. Daar was gebeure soos Sharpeville in 1960 en Soweto in 1976, en daar was regeringsbeleid soos die pasboeke en gedwonge verwyderings, maar dit was alles in die laaste honderd jaar. As ek dink aan historiese swart figure, sien ek die Xhosa-kryger op die Oosgrens; ek sien die imposante figure van Mzilikazi en Moshoeshoe; ek sien die intimiderende figuur van die Zoeloe-kryger op die groen heuwels van Natal; ek sien intellektuele soos Sol Plaatje en Steven Biko; ek sien politieke leiers soos Oliver Tambo, Nelson Mandela, Walter Sisulu, en hul eggenote Winnie Mandela en Albertina Sisulu.

Ek sien die periode 1880-1990 as ’n historiese anomalie waartydens ’n kritiese persentasie van swart volwassenes in Suid-Afrika skynbaar aanvaar het dat hulle tweedeklas burgers is van hul geboorteland, en waartydens ’n kritiese persentasie van swart volwassenes aanvaar het dat hulle kinders fabriekswerkers, tuiniers, padwerkers en huishoudelike helpers sal word eerder as ingenieurs, dokters, tandartse, wetenskaplikes en akademici.

______________________