In diens van ’n idee

MAANDAG 5 JANUARIE 2004

Ek kan sê dat dit altyd in my kaarte was dat ek sou teruggaan Suid-Afrika toe. Dit kan verder gesê word dat dit my agt jaar – vanaf 1996 – gevat het om bekend te raak met die feit, en te aanvaar dat my terugkeer sal wees as ’n skrywer, met die gepaardgaande implikasies vir my sosiale status en lewenstyl.

“Nie ’n kar nie? Wel, hy is immers ’n skrywer.”

“Moet die bus vat om by sy ouers in Middelburg te gaan kuier? Wel, as hy ’n gewone kantoorwerker was, was dit een ding …”

“Twee-en-dertig en hy’s nie getroud nie, en hy’t nie eens ’n kredietkaart nie? Goed en wel, dis nie asof hy ’n bankklerk is nie.”

“Deurmekaar baard, ou sweater, blou jeans wat hom seker R50 gekos het? Hy’s nie werkloos nie, is hy?”

“Nee, hy’s ’n skrywer.”

Ek is in diens van ’n idee. Ek is ’n Sendeling vir ’n Evangelie van ’n Ander Aard. Maar wat sien ek, as ek kyk na myself deur ander se oë? Dit is so dat mense soms onverdraagsaam is, dat hulle nie altyd te oopkop is vir alternatiewe denk- en leefwyses nie. Dit is ook waar dat as jy jouself bewys het as ’n kunstenaar (wat tradisioneel neerkom op kommersiële sukses), jy so aanvaar sal word deur die gemeenskap.

Is ek gereed om sekere realiteite te aanvaar wat keer op keer sal manifesteer in my lewe oor die volgende paar jaar? ’n Vrou sê byvoorbeeld na een of twee ontmoetings: “Ek geniet regtig jou geselskap … dis nou net jammer jy’t nie enige geld nie. Ek meen, jy’s nou wel ’n skrywer en so aan, maar dis nie asof enige iemand ooit enige van jou boeke lees nie …” Is ek gereed daarvoor? Dit sal een ding wees as ou toppies wat in BMW’s rondry hulle koppe skud, maar ’n mens is ’n mens. Is ek bereid om dinge wat vir my belangrik is en wat ek nodig het, op te offer ter wille van my diens aan ’n idee?

(Dis ’n ander Maandag, in ’n ander jaar.)

Wat ek hier sê, is niks nuut nie. Wat wel verander het, is die graad van my toewyding aan die Beroep van die Skrywer. Vir jare al probeer ek om my skryfambisies te balanseer met dinge wat geld kan maak. Geld moet steeds gemaak word, niks kan dit ooit verander nie. Maar ek weet ook nou dat ek nie net ’n skrywer wíl wees nie. Ek het nodig om te skryf. Ek glo ook dat ek móét skryf, dat dit is wat ek veronderstel is om te doen.

* * *

Jy mag dalk al van jongs af dagdrome gehad het oor ’n konvensionele middelklaslewe. Maar wat doen jy as ’n ander begeerte jou dring in rigtings wat nie noodwendig bevorderlik is vir ’n konvensionele middelklaslewe nie? Hierdie begeertes vind dalk ’n uitlaatklep in sosiale of politieke aktivisme, in sendingwerk, of die hardkoppige nastrewing van kreatiewe ambisies. Tot op watter punt gee jy voorkeur aan ’n lewe wat in jou murg reg voel vir jou?

Soos met sendingwerk of aktivisme is dit ook soms met die produsering van literêre materiaal waar finansiële kompensasie nie hoog op die prioriteitslys is nie. In hierdie gevalle het dit minder te make met ’n beroepskeuse as ’n keuse vir ’n lewe waar ’n agenda gedien word. As ’n beroep het dit sekere implikasies vir jou sosiale en finansiële status. Dis ’n lewe wat vereis dat jy opofferings moet maak. Dit sal moontlik beteken dat iemand soos ek eers op veertig kan bekostig om te trou en kinders te kry, en dat ek moontlik eers op vyftig sal kan bekostig om ’n huis te koop.

’n Persoon wat nie bereid is om die nodige opofferings vir sendingwerk of diens aan ’n goeie saak te maak nie, moenie ’n sendeling of ’n aktivis word nie. As jy die duur dinge van die lewe wil bekostig, as jy die luukshede van die lewe wil geniet, word ’n besigheidsman of ’n aandelemakelaar. As jy in diens van ’n idee wil staan, moet jy kan opoffer.

______________________

Leërmag van een

MAANDAG 5 JANUARIE 2004

Ek is ’n leërmag van een.

Tog, as ek daaraan dink, is ek deel van ’n leërmag van duisende, honderdduisende, selfs miljoene. Die enigste ding is, ons almal kruip weg in ons huise of woonstelle, of in studeerkamers, buitekamers, gastekamers, spaarkamers, karavane, of in inrigtings van een of ander soort. Sommige van ons hou wag in die nag, en gaan slaap eers wanneer ander mense wakker word. Sommige van ons hou meer gereelde ure. Soms herken ons mekaar op straat, soms nie. Party van ons het baarde; ander se hare is net deurmekaar. Ons is mans, en ons is vrouens. Sommige van ons is ryk; ander van ons sal altyd arm wees. Sommiges besit huise, en sommiges besit net die klere aan hul lywe. Sommiges is bekend aan miljoene; ander onthou nie eens altyd hulle eie name nie.

Ons – is die Leërmag van Een.

______________________

Drie gedagtes uit die 16k

SATERDAG 13 DESEMBER 2003

“Jy’t nie ’n huis nie, jy’t nie ’n kar nie, jy’t nie ’n regte job nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en jy’s nog nie getroud nie.”

“Ja, ek weet. Maar …”

“Geen maar’s nie. Hierdie is die dinge wat vir mý saak maak as ek ’n man beoordeel. Jy mag dalk sewe jaar in Noordoos-Asië gespandeer het, gebroke Chinees praat, en ’n hele literêre projek vol geskryf het oor jou opinies. Maar jy’t nie ’n behoorlike huis nie, jy’t nie ’n kar nie, jy’t nie ’n werk nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en daar’s nie eers ’n romantiese verhouding op die horison nie.”

En dis dit. Saak gesluit.

Maak dit saak? Nie soveel as wat dit irriteer nie.

DINSDAG 30 DESEMBER 2003

Vele mense bereik ’n punt waar hulle besef hulle tel nie regtig nie. Sommige mense hou aan probeer; ander stop.

Ek het al talle mense gesien in Taiwan wat die indruk skep dat hulle opgehou het om te probeer. Hulle lê, voete in die oggendson, en wag vir iemand om ’n koeldrank te koop, vir ander Mahjong-spelers om te arriveer, vir die sigaret tussen hulle vingers om uit te brand sodat hulle nog een kan opsteek.

Is dit moontlik dat ek net nie hierdie mense se uitkyk op die lewe verstaan nie? Miskien is nie almal so gepla daarmee om te “tel” in ’n groter begrip van sake nie.

* * *

Een van die positiewe gevolge van die Industriële Rewolusie was die vrystelling van die lyfeienes, en die opheffing van ’n stelsel wat hulle aan die grond, en aan hulle landhere gebind het. Hierdie emansipasie, tesame met ’n beleidsverskuiwing wat meegebring het dat ’n betekenisvolle persentasie publieke grond nie meer vir landboudoeleindes beskikbaar was nie (soos in Engeland), het egter verseker dat die voormalige lyfeienes kort daarna, ter wille van hulle eie oorlewing, gebind was aan die behoeftes van die nuwe industrieë.

Die Industriële Rewolusie het ook meer vryheid vir die individu beteken – in teorie, en aan hulle meer keuses gegee. Geld maak dinge soms gelyk. Meer as net kapitaal het die lyfeiene aan die grond en die landheer verbind onder die feodale stelsel. Vandag, in teenstelling, koop geld amper enige iets wat jy nodig het. As jy vandag ’n industriële of korporatiewe lyfeiene is en jy wen die lotery, of jy dink aan ’n goeie idee, staan jy ten minste ’n kans om môre te regeer oor jou eie klein koninkryk.

______________________

Die laaste ballingskap

Dis Maandag 22 Desember 2003, sewe minute oor twaalf in die middag. Ek het so ’n uur gelede opgestaan, ontbyt geëet, en gelees oor die verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1856. Toe het ek my wasgoed versorg, my skottelgoed gewas, my tande geborsel, en die rekenaar aangesit. Eers het ek die woorde getel van twee stukke wat ek verlede week geskryf het, en toe ’n FreeCell game begin speel. Laasgenoemde het te ingewikkeld geraak, en ek reken toe ek skryf eerder hierdie stuk oor die veranderinge wat in die nuwe jaar aangebring moet word in my lewe.

Eintlik wou ek net ’n paar dinge neersit op papier, en ek was lus om eerder te tik as om te skryf. My voorneme was spesifiek om nié ’n stuk te skryf nie – ek wou net my gedagtes agtermekaar kry.

Die oomblik toe ek die eerste sin tik, het ek egter geweet wat kom. Hierdie tipe van stukke is hoe ek myself uitdruk deesdae. Ek kan myself nie meer help nie. Ek gaan sit agter die rekenaar om net ’n onskuldige nota aan myself te skryf, maar as ek weer sien, het DIE SKRYWER my onbeleefd van die stoel afgestoot, my stuk gekaap, en sy twee vet middelvingers manies oor die sleutels begin gooi.


My planne wissel tussen twee pole. Aan die een kant is ek desperaat om einde Februarie volgende jaar terug te gaan Suid-Afrika toe; aan die ander kant wil ek nog sewe jaar in die Ooste bly. Tussen hierdie twee ekstreme lê al my begeertes, my vrese, my belangstellings, en my hoop vir ’n lewe wat beter is as die een wat ek nou my eie noem.

Ek moet myself egter dwing om ’n paar feite in die gesig te staar: a) Ek is nie meer 25 nie. b) My probleem met ’n vaste betrekking by ’n instelling of korporasie in my geboorteland is teen hierdie tyd goed gedokumenteer. Feit bly egter staan dat ek geld nodig het om te oorleef en planne uit te voer, en ek het nodig om stappe te neem om te verseker dat ek oor – wie weet? – die volgende veertig jaar kan voortgaan om kos te koop. c) My groot droom is ’n drie slaapkamer huis met ’n tuin en ’n lappie gras, in ’n stil voorstedelike area of in ’n groterige dorp in Suid-Afrika (die land waar ek gebore is en grootgeword het anders het ek hierdie boek in Frans of Duits geskryf en was my naam Dieter of Pascal).

Natuurlik is dit nie goed genoeg om net te jy wil ’n drie slaapkamer huis hê nie. Natuurlik moet ek bepaalde stappe neem om so ’n huis te bekom. Maar soms voel ek asof hierdie dinge alles vooraf bepaal word, en as dit nie in jou kaarte is nie, kan jy maar probeer tot jy blou in die gesig is. As dit dus in jou teeblare sê, “Woonstel in Kowloon tot jy doodgaan van eensaamheid,” gaan dit nie help as jy in desperaatheid terug gil, “Drie slaapkamer huis in stillerige dorp!” nie.

Dit help gewoonlik as my gedagtes sulke rigtings in donder diep in die nag, wanneer ek in elk geval oorweeg het om te gaan lê vir ’n paar ure.

Vanoggend staan ek toe op, en na my gebruiklike stukkie geskiedenis (die ongemaklike verhouding tussen Rusland en Europa tot en met 1905), besluit ek toe dat net omdat ek blykbaar nie meer ’n sosialis kan wees nie, dit nie beteken dat ek nie deur die gebruik van rasionele denke en aksie my eie maatskaplike stelsel, en gepaardgaande verhoudings kan bewerkstellig nie. Wat ’n omslagtige manier is om te sê dat ek nie glo ek noodwendig gedoem is tot ’n eensame bestaan op ’n subtropiese eiland in Noordoos-Asië nie.

Maar beteken dit ek kan volgende Februarie – oor bietjie meer as twee maande – teruggaan Suid-Afrika toe? Kan ek in die ry gaan staan vir ’n drie slaapkamer huis in ’n stillerige dorp of voorstad? Duidelik nie.

Die ander dag is ek weer herinner daaraan dat ’n mens geduldig moet wees. Goed en wel om dinge te wil uitsorteer en om antwoorde te soek, maar antwoorde val nie voor jou voete neer net omdat jy ’n slim vraag gevra het nie. So ook met ons ambisies. Net omdat ek na al die jare die woorde “drie slaapkamer huis in ’n stil area” kan prewel sonder om te dink ek verloën myself, is nie te sê dat ek al klaar een toilet en ’n halwe slaapkamer agter my naam kan skryf nie.

So kan ek aankarring en al in die rondte bly dans, vertel van hoe ek ’n sigaret gerook het, gedagtes op die trein gehad het oor die mooi berge, uiteindelik my telefoonrekening gaan betaal het, en huis toe gekom het om verder te skryf aan hierdie stuk. Die intelligente leser kan sekerlik raai wat volgende gaan kom: Ek het ’n plan nodig.

* * *

Ek reken nou al vir jare dat hierdie beroep van om Oosterse kinders die lingua franca van die wêreld te leer, beter is as om strate te vee, of om papiere op ’n kantoorlessenaar rond te skuif. Ek weet ook dat dit jou siel kan uitdroog van verveling.

Verder het dit nie my aandag ontglip dat die tye wat ek die gelukkigste was die afgelope paar jare, die tye was wat ek net twee of drie ure per dag moes spandeer om geld te maak nie, met die res van die tyd agter my rekenaar besig met my eie projekte.

Wanneer ek wel ’n uur of wat in ’n klaskamer spandeer en kontant kort daarna hande verruil, kan ek nie die implikasie ignoreer nie: Om ’n Expat English Teacher te wees in Taiwan is ideaal vir mense met onopgeloste issues wat veroorsaak dat hulle nie vrede kan vind in ’n mooi middelklas voorstad nie (of nie nou nie, in elk geval). Daar is ook ander voordele verbonde aan hierdie manier van geld maak – mens kan ’n vreemde taal bemeester, eerstehandse kontak met ander kulture, en jy ontmoet soms mense wat jy nooit andersins sou ontmoet het nie.

In kort, waar anders sou ek twaalf ure per week Engelse klasse kon gee en genoeg geld verdien daarmee om my basiese lewenskoste te dek? Waar anders kan ek, sonder om ’n enkele streep op ’n kontrak te trek, in ’n ou woonstel intrek en my muurbehangsels teen die muur vasspyker? Waar anders kan ek selfs my hawermout in die oggend met stokkies eet – wat nie werk nie, net so terloops, en ’n gesprek in Chinees voer met ’n mooi vrou buite die supermark as sy laat in die aand vir my ’n vars hoenderdy op haar braai gooi?

Waar sou ek al hierdie dinge kon doen … terwyl ek die een ballingskap opstel na die ander skryf vol weemoed en verlange na my mense?

Ek moet klaarmaak. Ek sien kortverhale in my teeblare, Chinese woordeboeke in my koffiebone, en as ek my oë opslaan na die sterre, nog ten minste sewe jaar van klasgee in die Verre Ooste. Die voordele is reeds genoem; die nadele lê hierdie hele literêre projek vol.

Een ding moet egter sneuwel in die stryd wat vir my voorlê: Ballingskap!

Vir jare al lei ek aan hierdie koorsagtige hoop dat die lewe wat ek nou my eie noem, nie die beste sal wees wat ek denkbaar kan bewerkstellig nie. Verterende vure van frustrasie en verlange smelt hierdie hoop saam met my vrese en my begeertes. Dit is wat maak dat ek al vanaf Junie 1999 ballingskap opstelle skryf. Dit is wat maak dat ek nooit verder kan sien as die volgende ses maande nie. Hoe anders as ’n mens voortdurend met skrefiesoë soek na maniere om weg te kom van ’n onvolhoubare situasie?

Ek is moeg vir ballingskap.

* * *

Is u as leser so deurmekaar soos ek? Dit moet van talent spreek om soveel te sê, en aan die einde weg te kom met so min wat nuut is. Gaan ek terug Suid-Afrika toe op vlug CX1749 wat vanaf Hong Kong vertrek op Donderdag 4 Maart 2004 om 11:50 in die nag? Dis sekerlik wat my reisagent glo.

______________________

Kom ons skryf ’n stuk …

Kom ons noem dit, Die Stuk wat Ek Geskryf het op Sondagaand 14 Desember 2003 om … of dan, Maandagoggend 15 Desember 2003 om 02:03. Waaroor sou hierdie, tot nou toe ongeskrewe stuk handel? Sal dit handel oor wanneer ek teruggaan Suid-Afrika toe? Sal dit handel oor my kritiek van die wêreld post-industriële rewolusie? Sal dit gaan oor my plan, net in potlood geskryf natuurlik, om volgende September Mainland China toe te gaan? Sal dit gaan oor verlange na my ouers in Middelburg en my jonger suster in Bronkhorstspruit en my ouer suster in Londen? Miskien sal hierdie stuk wat ek nog nie geskryf het nie handel oor die betekenis van die lewe, of die vraag na wát die mens dan nou eintlik is. Miskien sal dit handel oor die doel van my eie lewe, of dalk of ek ooit sal trou en kinders sal verwek. Sal dit handel oor die Kreatiewe Natuur, of die Kreatiewe Proses? Sal dit gaan oor die fauna en flora van Taiwan, of miskien oor die stappie wat ek oor agt ure sal aanpak na die naaste 7-Eleven om melk te gaan koop, en ’n koerant … of miskien selfs oor al hierdie sake? Sal ek paragrawe gebruik in hierdie stuk? Gaan ek nou kliek op “Tools”, dan op “Language”, dan op “Set Language” en dan op (no proofing) sodat die rooi strepe onder die woorde wat Microsoft Word tans probeer uitmaak as Engels, kan verdwyn? Sal ek die kant van my neus krap, of sal ek ’n sigaret gaan rook in die sitkamer? Dis nou 02:15. Ek tik dus al twaalf minute lank aan hierdie stuk. Die rede hoekom hier nog net … {“Tools”, “Word Count”} 284 woorde is, is omdat ek meeste van die tyd net twee vingers gebruik om te tik; dit ten spyte van die feit dat ek elke dag ure agter die rekenaar spandeer met tikwerk. Uit die badkamer hoor ek water drup in ’n ou emmer wat ek skuins onder die toilet se waterbak neergesit het. Die waaier in my rekenaar suis nou. My linkerknie druk teen die rand van die houttafel. Dis nou 02:18, en ek dink ek het ’n voertuig buite gehoor. Ek dink ek het nou net ’n muskiet gesien. Behalwe vir die rekenaar se waaier en die water wat in die emmer drup, en die belofte van ’n voertuig in die verte, is daar geen ander klanke in hierdie buurt op die oomblik nie. Behalwe natuurlik ook vir die geluide wat ek produseer op die sleutelbord as ek die woorde tik. Op die tafel staan my Toshiba skootrekenaar, met ’n groen lappie oor sy skerm, en ’n bypassende lappie oor die ingeboude sleutelbord (wat nie meer werk nie). Dan is daar ook die USB 2.0 Hub waarin my nuwe muis, my printer, en my 20-gigabyte draagbare hardeskyf gekoppel is. Ook staan daar die Monix skerm wat nog dateer van my eerste rekenaar kopie, lank, lank gelede in 1999. Reg voor die skerm staan ’n 3M anti-glans filter wat die skerm ’n bietjie donkerder maak, amper soos ’n sonbril. Omdat die hakies van die filter afgebreek het, reeds in 2000, staan dit op vyf ou Chinese boeke wat opmekaar gepak is. Langs die skerm staan ’n koffie- of teebeker met Chinese sierskrif op. Binne die beker staan ’n verskeidenheid penne en potlode. Meeste van die penne het nie meer ink nie, en die potlode is stomp. Daar staan ook ’n handwaaier in die beker wat ek sou gebruik het om my gesig mee koel te waai as dit ’n warm aand was. Ander items op die tafel sluit in my Citizen optelmasjien (om woorde te tel wat ek oor die afgelope vyf jaar geskryf het, en geld wat ek nié oor die afgelope vyf jaar gespaar het nie), ’n groot uitveër, ’n groen fluoressent pen, ’n swart pen wat ’n vriendin by my vergeet het, my nuwe blou muis, ’n bol prestik, en ’n papier coaster waarop ek nooit enige drinkgoed sit nie. Laastens gebruik ek ’n muismat met ’n stuk wit papier op saam met die nuwe muis. Ek het aan ’n paar wit Nike sokkies wat ek dink eintlik vir gimnaste ontwerp is (of vir mense wat joga doen), ’n kakie kortbroek, ’n wit T-hemp wat goedkoop whiskey adverteer, en ’n swart sweater, want dit is immers koelerig nou se dae in die aande. My keel is effens droog. My tee is op. Dis nou 02:36, en ek het nou al … 754 woorde getik.

Ek is terug. Die eerste sigaret wat ek opgesteek het, het by die filter afgebreek, so ek moes nog een opsteek. Terwyl ek daar gestaan het, het ek gedink, “Die Persoonlike Agenda van Brand Smit” moet eintlik één boek wees, en nie twee soos ek die afgelope tyd gereken het nie. Toe dink ek verder, nee, dit moet twee boeke wees, maar in één boek: Boek Een, en Boek Twee. (Ek het vergeet om te vermeld dat ek ook my blou wolmussie op het, nie soseer omdat dit so koud is nie, maar omdat ek beter dink as my kop warm is.) Ja, twee boeke ineen. Dit moet ’n lywige boek wees, ’n paar honderd bladsye lank. Dit moet dik genoeg wees dat mens ’n anti-glans filter sonder hakies daarop kan neersit sodat die filter reg voor die skerm kan staan. Dit moet ook swaar genoeg wees om ongenooide gaste oor die kop mee te kan slaan. Dit behoort derhalwe ook swaar genoeg te wees om as ’n boekstut te dien om ander boeke staande te hou. (Dis aansienlik koeler nou, of miskien verbeel ek my net. My knie druk al weer teen die rand van die tafel, die waaier koel weer die rekenaar af, die water drup steeds in die emmer in, en ek kan nog steeds nie uitmaak of daar ’n kar in die verte is, en of dit net die rekenaar se waaier is wat ’n geluid maak soos ’n motorkar nie.) Dit is nou een minuut voor drie, op Maandagoggend 15 Desember 2003. Volgende Donderdag is dit Kersfees. Ek het ’n boom, maar dit lê steeds in die spaarkamer. Ek het ook al drie kerskaartjies gekry. Albei my susters het gesê hulle sal vir my kaartjies stuur, maar ek is nie hoopvol dat die mense by die poskantoor sal weet wat die geromaniseerde Chinese woorde beteken wat ek vir my susters gespel het as my huidige adres nie. Hulle albei mag dus hul eie kerskaartjies terugkry, wat beteken hulle sal kaartjies hê om op hul eetkamertafels uit te stal wat hulle nie vir hulself gepos het nie, en waarvoor ek gedeeltelik verantwoordelik sal wees. Hierdie jaar is amper verby. Hierdie jaar is in werklikheid geskei van volgende jaar deur slegs ’n millisekonde. Ek het wel reeds ’n ander kalender wat agter my deur hang wat dit sal laat voel asof dit inderdaad ’n ander jaar is. (Dit is definitief ’n motorkar, al waai die waaier ook al weer.) Ek sou graag ’n vraag wou gevra het in hierdie stuk, soos wat is die doel van die vrou wat by die supermark werk se lewe, maar ek is lankal moeg vir vrae wat ek nie kan beantwoord nie. Selfs om dít te sê, maak my moedeloos, of moeg. Ek is eerder moeg as moedeloos, want dan kan ek net gaan slaap, en môre-oggend opstaan en nie meer moeg wees nie. As ’n mens egter moedeloos is … Ek hoop ek verkoop een van my projekte voor die einde van die jaar. Dan sal ek definitief vroeg volgende jaar terugkeer na die Republiek van Suid-Afrika. Ek is gebore in die Republiek van Suid-Afrika. Ek verstaan twee van die tale wat gepraat word in die Republiek van Suid-Afrika. Mens kan pekanneut tert koop by die Spar in die Republiek van Suid-Afrika. Mens kan ook Afrikaanse koerante daar koop. Mens het wel ’n kar nodig as jy van Middelburg af Bronkhorstspruit toe wil gaan, of andersom. Mens het ook ’n kar nodig om ander redes. As ’n man 32 jaar oud is en hy’t nie ’n kar nie, sal dit nie ’n verskil maak dat hy sewe jaar in Noordoos-Asië gewoon het, of dat hy gebroke Chinees kan praat, of dat hy ’n twee-in-een boek geskryf het wat ’n anti-glans filter sonder hakies staande kan hou op net die regte hoogte teen ’n rekenaarskerm nie. Al wat saak sal maak, is dat hy nie ’n kar het nie – wat beteken hy’s nie veel beter as ’n boemelaar nie. Dis nou 03:15. My knie is seer, en ek kry koud. In alle eerlikheid kan ek aanhou skryf aan hierdie stuk tot dit tyd is om 7-Eleven toe te stap om melk en die koerant te gaan koop. Om te skryf, is ’n heerlike ervaring. Dis beslis lekkerder as om TV te kyk. Hierdie tipe skryfwerk is ook handig as jy later vergeet dat jy bestaan het, en bewus was van jou omgewing op Maandag 15 Desember 2003 tussen 02:03 en 03:19 in die oggend. Ek moet egter nou gaan slaap, anders raak ek dalk moedeloos. En as ek moedeloos raak, gaan hierdie stuk beslis vervelig raak. Ek sê dus plegtig “nag” – en ek belowe ek sal môre weer skryf. Ek kan wel met oortuiging sê ek is bly ek is ’n skrywer, en nie ’n rekenmeester of ’n tandarts nie. Ek is verder bly dis winter, en nie somer nie. Laastens is ek bly ek is nie Saddam Hussein nie, wat moontlik beveel gaan word om sy baard af te skeer.

______________________