Oor maskers, en ’n vlieënde piering

DINSDAG 8 DESEMBER 2020

My posisie oor maskers:

Punt een: Mense met verkoue of griep of Covid moet maskers dra, om te verhoed dat hulle sieker raak, en om nie ander mense aan te steek nie.

Punt twee: Daar is mense wat argumenteer dat die regering gesonde mense moet verplig (deur hulle te dreig met arrestasie of boetes) om maskers te dra, omdat sommige siek mense nie maskers dra nie. As almal maskers moet dra, so reken hulle, is die kans groter dat siek mense maskers sal dra.

Punt drie: Sommige mense (spesifiek op Twitter, in Taiwan) is dankbaar daarvoor dat die regering streng is, en mense verplig om maskers te dra. My opinie is dat volwassenes nie kinders is nie – en die regering nie hulle pa of ma is nie. Meeste volwassenes is heeltemal in staat daartoe om vir hulleself te besluit wanneer dit nodig en redelik is vir hulle om maskers te dra – en om hulle kinders te onderrig om dieselfde te doen. ’n Sogenaamde streng regering wat gesonde mense wil arresteer of wil beboet omdat hulle nie maskers dra nie? Problematies, om die minste te sê.

VRYDAG 11 DESEMBER 2020

Dis Maandagoggend. Almal kry ’n notifikasie van die regering op hulle fone. TV-nuus en sosiale media herhaal dieselfde boodskap: Daar’s ’n reusagtige vlieënde piering in die lug bokant die hoofstad. “Moenie die moeite doen om te kyk nie, want dis onsigbaar,” word mense vertel. “Maar glo ons – dis daar!”

Burgers word beveel om sonder versuim hulle huise te verlaat met niks anders nie as die klere aan hulle lywe. Almal moet vlug na die naaste woud of bergagtige area, en daar bly vir drie tot ses weke. Die regering, so word hulle verseker, sal kospakkies uit vliegtuie gooi.

“Komaan almal! Laat julle hol! Nou!” kom die boodskap oor en oor.

Sal mense dit glo? Sal hulle alles net so los, die kinders en miskien die hond en kat gryp en vlug na die naaste woud toe?

’n Klein persentasie van die bevolking het sulke blinde geloof in hulle regerings dat hulle onmiddellik al gillende in die straat af sal hardloop. Die waarskynlikheid is ook groot dat hulle later, in die woud om ’n klein vuurtjie, sal beweer dat hulle inderdaad die piering gesien het.

Meeste mense sal ten minste vir ’n paar minute na die lug staar, ten spyte daarvan dat die aankondiging gesê het die piering is onsigbaar. ’n Persentasie van hierdie mense sal redeneer dat, hoewel hulle met hulle eie oë niks kan sien wat lyk soos ’n tuig van die buitenste ruim nie, dit immers die regering is wat die aankondiging gemaak het. En die regering het later in die dag allerlei mense ingebring wat baie amptelik en ernstig gelyk het, en hierdie mense het beaam dat die piering werklik is, en dat mense wat nog nie gevlug het nie, dit so spoedig as moontlik moet doen. Dis genoeg oortuiging vir hulle, sal hierdie mense sê. “Laat ons ook maar hardloop.”

’n Kleiner groep sal skepties wees van die begin af. Hierdie mense sal beskuldig word daarvan dat hulle almal in gevaar bring met hulle uitdagende en onverantwoordelike houding. “Wat ook al in die piering is, gaan julle sien, en dan’s ons almal in die moeilikheid!” sal hulle skree van die rand van die woud af. “Hou vir eens op om so hardkoppig te wees en dink aan julle naasbestaandes!”

Van die mense wat op die eerste dag gevlug het, sal binne ’n paar dae of weke erg onrustig raak. “Behoort ons nie nou al teen hierdie tyd die vlieënde piering te sien nie?” sal hulle mekaar begin vra. Mense wat ’n bietjie langer gevat het om aanvanklik die storie te glo, sal begin vra in ’n fluisterstem: “Wat van as die regering vir ons gelieg het? Is hier nie dalk iets skelm aan die gang nie? Hoekom het ons die regering geglo as niemand van ons ooit die vlieënde piering gesien het nie?”

My vraag: Op watter punt gaan selfs die groep wat van die begin af blindelings geglo het, al grommend begin terugstap na hulle nou verwaarloosde tuistes? En hoe sal die regering die siviele protes hanteer?

______________________