Worsteling met ’n omstrede vraag

DINSDAG 13 OKTOBER 2020

Om op te som wat ek sê in stukke soos “’n Onderwerp waaroor ek eintlik nie gedagtes wil hê nie” (Desember 2019): ’n Kombinasie van faktore het blanke Suid-Afrikaners langer as ’n eeu in staat gestel om swart Suid-Afrikaners te onderdruk en uit te buit, ten spyte daarvan dat blanke Suid-Afrikaners in die minderheid was, en ten spyte van eeue van soms suksesvolle gewapende weerstand teen blanke uitbreiding na gebiede wat deur swart stamme en nasies gesien was as hulle jurisdiksie.

Vir hul ontginning van hierdie kombinasie van faktore, moet blanke Suid-Afrikaners vrede maak met hul gewetens – of vrede maak met hulle voorouers.

Hier’s die kontroversiële punt: As dit waar is dat ons as volwassenes tot ’n groot mate verantwoordelik is vir die manier waarop ons die werklikheid ervaar, moet swart Suid-Afrikaners vrede maak met hulleself – of met hul voorvaders en -moeders.

DINSDAG 22 DESEMBER 2020

Sê ek die onderdrukking en uitbuiting wat swart Suid-Afrikaners ervaar het, was hulle eie skuld? Dis ’n hoogs omstrede vraag, en ek worstel daarmee.

As dit onmoontlik was vir swart mans en vrouens sedert, sê, 1880, om meer suksesvolle weerstand te bied teen hulle uitbuiting en onderdrukking deur gewone witmense, en teen die wette en regulasies van ’n wit regering, ten spyte daarvan dat daar sewe of agt swart volwasse mans en vrouens was vir elke wit volwasse man en vrou, dan moet ’n mens die gevolgtrekking maak dat witmense eenvoudig slimmer is as swart mense, of magtiger is as swart mense, of beide. Ek weier om dit te aanvaar. Dit is die argument van wit opperheerskappy.

’n Alternatiewe verduideliking is dat ’n meerderheid van swart mense hulle lot aanvaar het, en bloot gehoop het op beter dae. Maar wat sê ’n mens vir so ’n persoon – wat net sy of haar lot aanvaar en hoop op ’n beter môre? Wat sal jy, die leser, sê as dit jou broer of suster of vriend was? Sou jy hierdie houding aangemoedig het?

Ek verstaan as dit mense se houding is. Dis menslik. Dis normaal. Meeste mense doen dit. Maar – moet dan nie later die wêreld, die samelewing, of ander mense wat groter of sterker as jy is – of wat jy beskou as groter of sterker as jy – blameer vir jou ervaring van die realiteit nie! Wees eerlik en erken: Ons was maar net menslik. Ons het ons lot aanvaar en maar net gehoop op beter dae, terwyl ons ’n groter verskil, aansienlik vroeër, kon gemaak het as ons meer aktief was in ons weerstand.

En vir die rekord: Ek praat nie net van gewapende weerstand en geweld nie. Daar is talle historiese voorbeelde van die effektiwiteit van passiewe weerstand. Veral as jy jou onderdrukker oortref in getalle.

* * *

Sommige mense sal my wil herinner aan die almag van die apartheidstaat, hoe brutaal die sekuriteitspolisie kon wees, en hoe wette en regulasies dit moeilik gemaak het vir gewone swart mans en vrouens om vooruit te gaan in die lewe. Geen redelike mens ontken dit nie.

* * *

Siende dat ek momentum gevang het met onderwerpe wat ’n mens nie mag aanroer nie, hier’s nog een: Die groepe Afrikaanssprekende boere en hul families wat in die 1830’s hulle ossewaens gepak het en meestal uit die Oos-Kaap die binneland van Suid-Afrika ingetrek het, was hulle magtig? Gewapende swart krygers het hulle gekonfronteer op verskeie plekke, hulle aangeval, en in sommige gevalle heeltemal uitgewis – oumens, man, vrou, en kind. Tog het hulle op hulle eie, sonder enige hulp van ander moondhede, lewens vir hulleself gevestig in Natal, Vrystaat, en die ou Transvaal. Hoe het hulle dit gedoen amper ’n honderd jaar voordat hulle die militêre mag, infrastruktuur, en wette en regulasies van ’n moderne staat kon inspan?

En nou dat ons op die onderwerp is, die Slag van Bloedrivier was nog altyd vir my ’n fassinerende gebeurtenis. Sover ek weet, betwyfel geen historikus die getalle op die dag nie – aan die een kant tussen 400 en 500 volwasse Voortrekkermans, opgeskote seuns, en diensknegte, en aan die ander kant, 10 000-15 000 geharde en geoefende Zoeloe-impi’s. Hoe het dit gebeur dat die Voortrekkers so ’n deurslagtige oorwinning behaal het? Was dit net die feit dat hulle voorlaaiers en ’n klein kanon gehad het? Gestel dertig mans met messe in hulle hande storm af op een man met ’n rewolwer. Die man met die rewolwer het genoeg patrone, maar hy kan net ses op ’n slag skiet voordat hy moet herlaai! Hoe op aarde kan hy staande bly?

[22/02/21: Volgens die historikus, Victor Davis Hanson, maak vrye burgers om verskeie redes beter soldate as hulle vyand op die slagveld wat minder vry is. Ek reken die burgers by Bloedrivier was vryer as die krygers van die absolute monarg, Zoeloe koning, Dingaan. Drie ander faktore het ’n rol gespeel in die Boere se oorwinning: ’n kompakte gevegsformasie, ’n versperring van ossewaens van waaragter die burgers kon skiet, en voldoende ammunisie wat maklik verkrygbaar was in die hitte van die geveg. Hierdie faktore het ook in 1879 ’n groep van ongeveer 150 Britse soldate by Rorke’s Drift in staat gestel het om ’n reuse oormag van Zoeloes te stuit (kraalmure en sakke mieliemeel het die versperring voorsien). Toe ’n Britse leër by Isandlwana wat twintig keer groter was as die groep by Rorke’s Drift nié hierdie drie maatreëls gevolg het nie, is hulle totaal vernietig deur die Zoeloe impi’s.]

DONDERDAG 28 JANUARIE 2021

Mense wat uitgebuit of onderdruk was, of wie se voorouers dit ervaar het in ’n vroeër historiese periode, moet aanvaar dat hulle of hulle voorouers tot ’n mate verantwoordelik was vir hulle eie omstandighede deur die situasie te aanvaar en nie harder weerstand te bied nie. Om verantwoordelikheid te aanvaar, is om jouself te bemagtig, want jy herken dat jy of jou voorouers die mag gehad het om iets te kon doen aan die situasie – al het jy of jou voorouers om verskeie redes nie harder teruggedruk nie. Hou aan met ’n slagoffer narratief, en jy doen presies die teenoorgestelde. Jy herinner jouself en jou kinders en hulle kinders om elke hoek en draai, en met elke geleentheid, dat jy nie die vermoë het om in moeilike situasies suksesvol weerstand te bied nie. Op die korttermyn kan jy politieke wins maak as mense simpatiek is, maar wat is die langtermyn prys wat jy en jou kinders en kleinkinders gaan betaal vir hierdie posisie?

Ek reken dis beter om te sê: “Ons het die mag gehad om terug te druk, maar dit nie gedoen nie … of nie hard genoeg terug gedruk nie, of nie genoeg van ons het dit gedoen nie. Hulle het met ons koppe gesmokkel; ons laat dink ons was te swak om weerstand te bied. Maar ons hét die mag gehad en dit nie gebruik nie. Dit – is iets waarvoor óns verantwoordelikheid moet neem.”

Die dag wat jy verantwoordelikheid neem, is die dag wat jy nie meer ’n slagoffer is nie – wanneer jy ophou dink aan jouself as ’n swakkeling.

______________________