Jy’s óf vasberade om iets te doen, óf jy’s nie

MAANDAG 20 JANUARIE 2020

14:17

Die stuk, “Begin vandag reeds te lewe,” van 6 Februarie 2000, bevat die volgende paragraaf: “Die tye wat ek nog die meeste geskryf het, en die tipe materiaal geproduseer het waarvan ek hou, was tye wat ek verveeld was – wanneer ek nie net ure elke dag gehad het om te dink en te skryf nie, maar dae en weke van doen net wat ek wou. Dit was ongelukkig ook tye wat ek die minste geld gehad het, wat ek nie eers behoorlike sigarette kon bekostig nie.”

Op Saterdag 9 November 2019 het ek die volgende opmerking geskryf oor bogenoemde paragraaf: “Ek was suksesvol in 1995 en die eerste helfte van 1996 in my poging om die lewe te skep wat ek wou gehad het – ek is uitgelos en ek het tyd gehad om te dink en te skryf. Om te moes uitgaan en dinge te doen om geld te maak, sou dit opgemors het. Korea het vanaf die tweede helfte van 1996 uitgewerk, want ek wou weggaan. Ek het dus weereens ’n suksesvolle uitweg geskep – al het dit beteken ek sou ’n paar ure per dag moes geld verdien. Ek het baie gekla oor my finansiële situasie, maar wat ek die graagste wou gehad het, het ek gekry in 1995 en 1996.”

* * *

Interessante gedagte oor wat ek al begeer het, en wat toe gemanifesteer het:

* Ek wou op Stellenbosch studeer in 1989/1990 – het uiteindelik gegaan in 1991, ten spyte daarvan dat ek nie genoeg geld gehad het vir die skuif nie, en geen blyplek gehad het nie

* Ek wou teologie studeer – het, tot ’n groot mate, deur te fokus op Bybelkunde, en toe Godsdienskunde

* Wou nie teen 1995 nastreef wat ek gesien het as ’n konvensionele beroep nie, en ek wou nie werk doen wat ek beskou het as te alledaags nie – ek het dan ook nie

* Ek moes steeds geld verdien – Korea is gemanifesteer aan die einde van 1995, al het ek nie geld gehad vir ’n vliegtuigkaartjie nie

* Wou na amper twee jaar in Korea teruggaan Suid-Afrika toe – het teruggegaan Suid-Afrika toe

* Wou teen Oktober 1998 wegkom van die doodloopstraat waarin ek myself bevind het in Johannesburg en meer geld verdien, en ek wou skryf – Taiwan is gemanifesteer, al het ek weereens nie geld gehad vir ’n vliegtuigkaartjie nie

* In Taiwan wou ek meer tyd spandeer aan my skryfwerk, en minder tyd spandeer deur klas te gee – dit het gebeur teen 2001

* Wou teen 2003 werk van die huis af en meer geld verdien as wat ek kon met Engelse klasse – het talle idees ontvang, maar het swak gedoen met uitvoering

* Was teen die begin van 2004 eensaam en het ’n maat nodig gehad – het ’n wonderlike vrou ontmoet wat ek gedink het heeltemal buite my liga was, maar ek het nietemin korrek genoeg, of gepas genoeg, opgetree om haar aan te trek (was ook nadat ek materiaal geskryf het wat ek waarskynlik nie sou geskryf het as ek haar vroeër in 2004 ontmoet het nie)

* Was vanaf 2005 weereens entoesiasties om te werk van die huis af en meer geld te verdien as wat ek kon met Engelse klasse – het weereens talle idees ontvang, maar het weereens gefaal in korrekte uitvoering

Hoekom het Stellenbosch, Korea en Taiwan uitgewerk, maar nie “maak geld van die huis af” nie? Een rede is sekerlik omdat Stellenbosch, Korea en Taiwan spesifieke doelwitte was, met sterk emosie agter dit en sterk visuele resultaat. Maak geld … van die huis af? Nie juis nie. Ek was immers reeds by die huis; ek het reeds gewerk wanneer ek by die huis was al het ek nie geld gemaak daarmee nie, en ek het reeds geld gehad – meer geld is tot ’n groot mate ’n abstrakte konsep.

22:01

Het ek ’n gat gebrand in die muur met my fokus oor Stellenbosch in 1990, Korea in 1996, en Taiwan einde 1998? Nee. Maar ek was vasberade.

“Vasberade” is nog een van daai woorde, soos “fokus” en “begeerte”, wat moeilik is om vas te pen. ’n Mens moet op iets spesifiek fokus om ’n sukses daarvan te kan maak. Jy moet ’n sterk begeerte manifesteer om ’n doelwit te bereik. Jy moet vasberade wees om jou einddoel te realiseer. Wanneer weet jy of jy voldoende begeerte het? Wanneer weet jy of jy genoeg op iets fokus? Wanneer weet jy of jy vasberade genoeg is?

Toe ek in die tweede helfte van 1990 besluit het ek gaan in 1991 Stellenbosch toe en niks gaan my stop nie, het ek ’n reeks stappe bedink wat uitgevoer moes word. Weereens – ek het nie ’n gat in my kamermuur gebrand met laserfokus nie, maar ek het geweet watse stappe geneem moes word; ek het die stappe geneem, en ek het gepraat en gedink asof dit wat ek begeer, gerealiseer gaan word. Toe ek besluit het Korea is die oplossing vir die doodloopstraat waarin ek myself bevind het teen die eerste kwart van 1996, het ek gedoen wat gedoen moes word. Ironies genoeg was ek nie entoesiasties oor Korea spesifiek nie, maar ek het geweet die proses sou bemagtigend wees. Teen die einde van 1998 was ek beslis ook nie entoesiasties oor die idee om weer Engelse klasse te gaan gee in Noordoos-Asië nie, en Taiwan was nooit hoog op my lys van plekke om dit te doen nie, maar weereens het ek ’n reeks stappe uitgevoer met die vasberadenheid van een wat weet daar’s geen ander uitweg nie.

Dit wil dus blyk asof begeerte en vasberadenheid om iets uit te voer, of om iets te vermag, of om êrens uit te kom, noodsaaklik is. Dan moet jy weet wat nodig is om gedoen te word. En jy moet daarop fokus om die stappe goed genoeg en betyds uit te voer.

Laserfokus waarmee jy ’n gat in die muur kan brand? Ek weet regtig nie wat dit beteken nie. Maar ek weet wel jy’s óf vasberade om iets te doen, óf jy’s nie. En jy weet waar daai merker binne jouself lê.

DONDERDAG 3 SEPTEMBER 2020

Om op te som:

1. Weet watse stappe jy moet neem.

2. Neem die stappe.

Vasberadenheid, begeerte, visuele resultaat, en fokus, speel ’n rol in albei punte. As jy ’n sterk begeerte het om iets te doen en jy het ’n visuele resultaat in jou geestesoog, gaan jy die tyd spandeer en die moeite doen om uit te vind watse stappe jy moet neem om die resultaat te realiseer. En as jy vasberade is en jy fokus op wat jy doen, sal jy die stappe neem. Maar dit is nie meer kompleks as dit nie: Weet watse stappe jy moet neem, en neem die stappe.

______________________