Ek is nie ’n wêreldbekende popster nie (maar ek het daarin geslaag om ’n bromponie-lisensie te kry)

VRYDAG 24 SEPTEMBER 2021

Elon Musk is een van die bekendste mense in die wêreld, word beskou as ’n inspirerende kulturele ikoon, en sy besigheidsprojekte het hom sover miljarde dollars in die sak gebring. Hy’s gebore in dieselfde jaar, in dieselfde maand, in dieselfde week, in dieselfde stad as ek.

Dexter Holland van The Offspring is ’n suksesvolle popster. In 2017 het hy ook sy PHD gekry in Molekulêre Biologie. Hy’t ook sy eie besigheid begin wat warm souse verkoop – gemaak volgens sy eie resepte. Hy’t ook ’n vlieglisensie.

Die ou van Pizza Rock het in 2000 in Taiwan aangekom – een jaar na my. Hy was al oral in Taiwan – in sy eie woorde het hy al elke pad, hoofweg, en stofpaadjie in die berge platgery. In 2011 (selfde jaar as ek) het hy getrou. Hy en sy vrou het besluit hulle wil ’n besigheid begin. Geen ervaring gehad het met restaurante nie, maar besluit tog om ’n pizza-plek te begin. Italië toe gegaan vir ’n paar weke, baie pizza geëet, vrae gevra, en geleer wat om te doen. Terug in Taiwan het hy sy eerste pizza gemaak in ’n Costco-oondjie. Die aand voor die Grand Opening het hy gereken dit sal goed wees om te kyk hoe die kommersiële oond werk wat vroeër die dag afgelewer is. Die eerste poging was ’n totale mislukking. Tog, die volgende dag het hulle oopgemaak en alles het goed uitgewerk. Hulle het onlangs hulle 27ste restaurant oopgemaak. Drie jaar voor hy sy eerste restaurant oopgemaak het, het hy ook ’n populêre webwerf begin met dosyne interessante artikels oor Taiwan.

Ek?

Ek wou uitwerk wie ek is of moes wees. Ek wou uitwerk wat die storie is met godsdiens, en met etiek sonder godsdiens. Ek wou uitwerk hoe ’n mens betekenis in jou lewe ervaar. Ek wou uitwerk wat ’n mens moet doen om gelukkig te wees, oftewel, wat mense wat geluk in hulle lewe ervaar, reg doen wat mense wat nie geluk in hulle lewens ervaar nie, nié doen nie, of verkeerd doen. Ek is tevrede met die antwoorde wat ek uitgewerk het. Omdat ek sorgvuldig aantekeninge gemaak het van die proses, het ek honderde stukke publiseerbare teks – wat ek reeds in verskeie formate beskikbaar gestel het vir ander mense om te lees. Soms lees ander mense dit. Ek reken verder dat mislukkings en suksesse van die laaste dekade of twee, asook gedagtes oor ander onderwerpe, my genoeg materiaal gegee het vir ten minste nog twee of drie bundels.

Ek is nie ’n wêreldbekende popster nie. Niemand gaan eendag Mars toe gaan danksy my harde werk en vernuf nie. Ek het nie ’n doktorsgraad nie, nie ’n vlieglisensie nie, en ek het nie my eie sous-resepte uitgedink nie. Ek het ook nie in my meer as twee dekades in Taiwan ’n suksesvolle besigheid begin wat honderde mense van werk en duisende mense van lekker kos voorsien nie. Soos die ou van Pizza Rock, het ek ook ’n webwerf met ’n Taiwan tema. Daar’s egter nie veel van waarde op nie, en word min besoek.

O ja, ek het darem onlangs na drie pogings ook daarin geslaag om ’n bromponie-lisensie te kry. En – ek maak weekliks my eie granola.

______________________