Selfgesprek oor beplande versus onbeplande swangerskap

MAANDAG 22 FEBRUARIE 2010

18:37

Die gesprek met myself het begin as ’n kontemplasie op my fiets op pad na my gewone aandete-plek toe. Ek het gedink oor hoe ek myself voortdurend “second-guess” deesdae: Was ek veronderstel om dit te sê? Moes ek nie dalk anders opgetree het nie? Moet ek anders reageer of optree siende dat ek amper veertig is?

Ek het gedink daaraan dat ek altyd gereken het mens ontgroei sulke onsekerhede.

“Dalk maak dit ’n verskil as jy kinders het,” dink ek toe. “Jy’t meer belangriker dinge om oor te worry, so jy’t nie tyd of lus vir simpel ouderdoms-verwante onsekerhede nie.”

“Stel jouself voor,” kom die reaksie van die ander stem in my kop, “ek sê skielik ek wil kinders hê.”

“Dis die probleem,” antwoord ek myself onmiddellik. “As swangerskap die natuurlike gevolg is van die saamwees van ’n man en vrou, then so be it. So sê ek al vir lank. Maar as ’n mens ’n swangerskap beplan … dis te selfsugtig. Ek wil ’n kind hê – ongeag watse lyding die kind sal moet deurgaan in hierdie wêreld.”

“Sê jy beplande swangerskap is ’n slegte idee?”

“Nee, ek sê net ek het persoonlik ’n probleem met ’n beplande swangerskap. Dit beteken ek sal my kind in die oë moet kyk as hy of sy pyn en lyding deurmaak, en ek sal moet sê jammer, ek het nodig gehad om ’n pa te wees, so jy sal maar net die gevolge moet dra. As my vrou nou moet swanger raak, dan kan ons sê, oukei, dit was die natuurlike gevolg van ’n natuurlike daad tussen twee mense wat mekaar liefhet, ’n normale verskynsel in ’n gesonde verhouding: Spermsel bevrug eiersel; eiersel groei tot embrio, dan ’n fetus; nege maande later word ’n kind gebore. Goed, kom ons doen ons bes. Kom ons sorg dat hierdie kind alles het wat hy of sy nodig het en dat hy of sy ’n goeie opvoeding kry. Ons gee hom of haar al die liefde en ondersteuning wat ons kan. Ons skep geleenthede. Ons berei hom of haar voor om geleenthede aan te gryp. Ons beskerm die kind soveel as wat ons kan teen die aanslae van hierdie wêreld. In so ’n geval was die kind die natuurlike gevolg van ’n man en vrou se saamwees.”

“Maar die vrou kan steeds kies om die swangerskap te beëindig. Om dit nie te beëindig nie, is ook ’n keuse. Dan sê julle tog ook: Ons wil ’n kind hê.”

“Goed en wel, maar dit sal onnatuurlike inmenging wees.”

“Wat jy dus sê, is dat indien die kind die resultaat is van ’n natuurlike proses, goed en wel. As die man of vrou sê, ék wil ’n kind hê, of ék wil ma of pa word, is dit nie meer natuurlik nie. Dan forseer jy die proses. As ’n vrou swanger raak, en sy kry ’n aborsie, meng sy ook in met die proses. Weereens, onnatuurlik.”

“Reg. As dit natuurlik is, as die geboorte die gevolg is van ’n natuurlike proses – verhouding, saamwees, spermsel en eiersel, nege maande, kind – dan is jy covered, so to speak. Dan hoef jy nooit jou kind in die oë te kyk en te sê, jammer vir die lyding wat jy, my kind, moet deurmaak nie, maar ek wou baie graag ’n kind gehad het. Jy kan sê – al is jy steeds ontsteld daaroor om jou kind in pyn of ongemak te sien – dat die kind se bestaan die resultaat is van ’n natuurlike proses.”

“Wat van as die man of die vrou voorbehoedmiddels gebruik? Is dit nie ook inmenging met die natuurlike proses nie?”

Stilte.

Post-gesprek betragting:

Wat is die verskil tussen onnatuurlike inmenging om ’n kind te skep, en onnatuurlike inmenging om die proses te arresteer wat andersins sou lei tot die geboorte van ’n kind?

Hormoonbehandeling, spermtelling, proefbuis, aborsie, te veel kinders om te versorg, onbevoegde ouers, voorbehoedmiddels, volwasse man en vrou se emosionele behoeftes. Is die bol wol nog ontknoopbaar?

21:50

Dis nie ’n kwessie van REG of VERKEERD nie, dis ’n vraag van waar op die spektrum.

Daar is die ekstreem van onbeplande swangerskap: die dwelmverslaafde vrou wat seks verruil vir dwelms, en geboorte gee aan ’n kind wat van die begin van sy of haar bestaan verslaaf is aan dwelms en amper geen hoop en geen toekoms het nie.

Dan is daar die ekstreem van die beplande swangerskap: die verveelde volwassene wat lus is vir ’n nuwe rol, of wat reken ’n kind sal vir hom of haar iets gee om te doen, of ’n leemte vul wat nie (tans) met iets anders gevul kan word nie. ’n Ontevredenheid met die Huidige Self, en die oortuiging: “Ek het ’n kind nodig.”

______________________

Die 20-voet boelie, die 3-jaar-oue towergees, en ’n verdomde vermorsing

DONDERDAG 21 JANUARIE 2010

Ek sien vanoggend ’n groot houttafel op ’n sypaadjie, die blad vertikaal, bene stokstyf vorentoe, soos ’n bees wat langs die pad gesneuwel het.

Wat ’n vermorsing, dink ek.

Vroeër verby ’n Cadillac gery, ook langs die pad – vol stof, ’n paar krapmerke, wiele effens pap, “For sale!”-bord in die voorruit, soos al die ander verlate karre op daai stuk pad.

Wat ’n vermorsing, het ek ook gedink.

Vanoggend op pad na my woonstel toe, dink ek: Ek het soveel geleer die afgelope paar jaar. Ek is goed met navorsing, leidrade opvolg, inligting versamel, inligting sorteer, opinies opweeg, standpunte formuleer – maar as dit kom by toepassing, kan ek nie lank genoeg by een ding vassteek om ’n sukses daarvan te maak nie.

So, ek kan ook met hierdie saak nie anders nie as om te dink, wat ’n verdomde vermorsing.

DINSDAG 26 JANUARIE 2010

Wie is hierdie 20-voet boelie voor wie ek neerbuig, in wie se aangesig ek my liggaam in die stof neerlê, op my maag, arms eerbiedig na vore gestrek? Sê vir my die naam van die monster wie se kneg ek is, en heel waarskynlik sal bly my hele lewe lank. Sê vir my in wie se naam ek ly. In wie se naam dra ek dieselfde klere as vyf jaar gelede? In wie se naam bedel ek geld, leen ek geld, en bekommer ek my oor geld? Sê vir my – wat is die naam van hierdie gedrog?

DONDERDAG 28 JANUARIE 2010

Hoekom het ek sedert Mei 2006 nie harder probeer om meer teaching jobs te kry om meer geld te maak nie? Hoekom het ek nie harder probeer om saam met ander mense te werk nie?

Die antwoord op beide vrae herinner aan die ou gesegde: “Wees versigtig waarvoor jy wens.”

Dit bevestig ook wat ek gelees het wat iemand gesê het oor die onderbewuste, dat dit soos ’n kragtige towergees is, maar terselfdertyd soos ’n 3-jarige kind.

Een van my oudste begeertes was om uitgelos te word, om alleen te wees, om eenkant op my eie te kan staan en die wêreld te kan aanskou van ’n afstand af.

Dit wil dus blyk asof die vervulling van ’n begeerte die vervulling van ’n droom belemmer het.

______________________

Oor reise, kettings en die Christelike kerk

DINSDAG 3 NOVEMBER 2009

Almal is op hulle eie reise. Almal se stryd is anders, en ewe werklik. Almal weet iets, baklei met iets, sukkel met iets, probeer iets oorleef, of probeer om iets na te streef, waarvan jy niks weet nie. (Dieselfde kan natuurlik oor jou, vir iemand anders gesê word.)

Voor jy jouself vergelyk met iemand anders, vra jouself: Begryp jy die kompleksiteit van die ander persoon se lewe?

DONDERDAG 12 NOVEMBER 2009

Indien jy aanvaar dat jy nooit werklik vry is nie, staan jy voor ’n keuse: óf jy kies jou eie kettings, óf dit word op jou afgedwing.

’n Redelike vraag volg: Indien jy in die relatiewe bevoorregte posisie is om jou eie kettings te kan kies, hoe kies jy?

DONDERDAG 19 NOVEMBER 2009

Om minder veroordelend, en minder krities te wees teenoor ander mense, is ’n goeie ding.

Die laaste veertig-plus maande se gesukkel het my meer beskeie gemaak. En minder gretig om ander mense se swakhede uit te wys.

SATERDAG 28 NOVEMBER 2009

Die Christelike kerk is ’n sosio-kulturele instelling wat die ontwikkeling en handhawing van persoonlike identiteit help fasiliteer. Vir vele mense gee die kerk se teologie [religieuse oortuiginge en teorie] en ideologie [stelsel van idees en ideale] betekenis aan die lewe, asook ’n morele raamwerk om reg van verkeerd te onderskei.

______________________

Vra die regte vrae – selfrespek en geld

SATERDAG 21 NOVEMBER 2009

Die vraag, “Hoe kan ek geld maak?” is problematies. Dit fokus op die een wat geld wil maak, en hoe kan ’n mens verwag dat jy geld gaan maak met iets wat fokus op die een wat die geld nodig het?

’n Beter reeks vrae kan voorgestel word: Op watse manier kan ek waarde gee aan iemand se lewe wat ook geld in my eie sak gaan sit? Op watter wyses kan ek bydra tot ’n verhoging in iemand se lewenskwaliteit wat ook vir my profyt gaan bring? Op watter wyses kan ek waarde toevoeg tot iets wat iemand reeds produseer of geproduseer het wat ook vir my wins gaan oplewer?

Hierdie is nie die eerste keer wat ek langs hierdie lyne dink nie, maar as ek weer sien, het ek weereens die spoor verloor, en vra ek opnuut: Wat kan ek verkoop? Hoe kan ek geld maak met hierdie projek?

Tensy jy die vermoëns en die kapitaal het om te spekuleer met geld, gaan die antwoord op die vraag na hoe jy geld kan maak, altyd wees deur waarde te voorsien aan mense wat bereid is om te betaal daarvoor.

MAANDAG 23 NOVEMBER 2009

20:46

Ek het net een ding nodig wanneer ek oor drie weke en vyf dae Suid-Afrika toe gaan, en dit is nie ’n klomp geld nie. My enigste versoek is dat ek kalm vertroue in myself sal manifesteer.

Dit is wel so dat geld gewoonlik ’n bron is van oppervlakkige selfvertroue. Vele mense se koppe spin ook van verwarring as jy kalm en selfversekerd is ten spyte van die feit dat jy nie baie geld het nie.

Die vraag is, kan jy jouself respekteer as jou beursie aan die dun kant is? Kan jy regtig kalm vertroue in jouself manifesteer as jy jou sente ’n paar keer moet omdraai voor jy dit spandeer?

Daar is uiteindelik baie redes hoekom iemand nie rol in die geld, of dik in die krediet is nie. As ander mense dit moeilik vind om jou te respekteer as jy nie geld het nie, is dit hulle probleem. As jy steeds jouself kan respekteer al is finansiële hulpbronne skaars, is kontantvloei jou enigste probleem.

21:41

Diere kan vrees ruik, en reageer onwillekeurig daarop. So ook het meeste mense ’n aanvoeling vir gebrek aan selfrespek in ’n ander persoon. Ook dan, is die reaksie onwillekeurig.

______________________

Tyd, mislukkings, en die probleem in vele gemeenskappe

MAANDAG 5 OKTOBER 2009

In die woorde van Koos du Plessis: “Ek het soveel vermoed, geglo, so min bewys.” Of, om Steven Wright aan te haal: “If at first you don’t succeed, destroy all evidence that you tried.”

Nou ja, ek hét baie geglo, en veel gepropageer. Ek hét baie probeer, en probeer steeds, en wat genoem kan word konvensionele sukses ontglip my steeds – net-net, sal ek bysê. Ek glo altyd ek is warm op die spoor.

Laastens, ek dra my mislukkings en my verleentheid soos ’n bokser sy littekens dra – dit is nie wie ek is nie, maar dit sê wel: Ek was al in die kryt. Ek steek nie die bewys daarvan weg nie, en ek dra nie ’n masker nie.

VRYDAG 16 OKTOBER 2009

Hoekom ek nie meer geld maak nie, verduideliking nommer 78:

Van die begin af, vanaf Mei 2006, het ek gefokus op die korttermyn; ek het nooit gefokus daarop om “online brands” en “online properties” te ontwikkel en te “monetize” vir langtermyn-inkomste nie. Ek het gewerk aan dinge wat ek gedink het vinnig sal opmaak vir inkomste wat ek verloor het van klasse wat gekanselleer is tydens my besoek aan Suid-Afrika in April 2006.

Soos ek op ’n stadium opgemerk het, het ek ook sommige dinge onderskat, en ander dinge meer ingewikkeld gemaak as wat dit regtig was.

En dit help seker nie dat ek die tipe persoon is wat sy eie kop moet volg nie, eerder as om te luister na mense wat reeds sukses behaal het in ’n bepaalde area, en dan netjies in hulle voetspore te volg.

DONDERDAG 29 OKTOBER 2009

Baie gebeur in twee jaar – dit wil sê, daar is baie verandering, en die bewussyn is dat twee jaar ’n lang tyd was. Min gebeur in, byvoorbeeld, die laaste 41 maande – dit wil sê, daar is min of geen verandering in woon- en werkomgewings, min of geen nuwe vriende, roetine bly min of meer dieselfde, en die bewussyn ontwikkel dat “die laaste paar jare eenvoudig verbygeskiet het”.

Merk die tyd met verandering, of voel hoe tyd deur jou vingers glip. Een voorbeeld: Om gereeld die stad te verlaat vir ’n naweek elke paar maande, werk gewoonlik soos ’n bom.

VRYDAG 30 OKTOBER 2009

’n Probleem in vele gemeenskappe in veels te veel lande:

– X-hoeveelheid mense met geen geld nie, geen wortels nie, geen hoop nie, en geen belang in die welsyn van die gemeenskap nie.

– Dwelms is vryelik beskikbaar.

– Wapens is maklik bekombaar.

– Meer as genoeg kwesbare teikens.

SATERDAG 31 OKTOBER 2009

Ek het ietwat van ’n obsessie oor die Springsteen reël wat sê, “Down here it’s just winners and losers and don’t get caught on the wrong side of that line.” [uit “Atlantic City” op die Nebraska-album]

______________________