VRYDAG 11 JANUARIE 2019
Hier volg ’n kort geskiedenis van moderne Suid-Afrika: Vir ’n lang tyd het wit mense gedink hulle is beter as swart mense, en so opgetree. Meeste swart mense het hierdie optrede waargeneem, en tot die konklusie gekom dat, as die wit mense dink hulle is beter as swart mense, en so optree, is hulle seker beter. Derhalwe het meeste swart mense gedoen wat wit mense vir hulle gesê het om te doen, en opgetree soos wit mense hulle voorgeskryf het.
’n Minderheid van swart mense het egter nie geval vir hierdie storie dat wit mense beter is as swart mense nie. Ook hierdie oortuiging het duidelik geblyk uit die wyse hoe húlle opgetree het. Ander swart mense het dit ook opgelet, en na hierdie mense gekyk as leiers wat dalk vir hulle ’n beter situasie kan bewerkstellig. Wit mense het dit ook gesien, die mense bejeën as bedreigings, en hulle gearresteer, aangekla van wette wat die wit mense geskryf het om hulleself te beskerm en hulle beter posisies in die samelewing te verskans, en – indien die mense nie in die middel van die nag die land verlaat en in ballingskap gegaan het nie – hulle opgesluit vir dekades lank. Toe ’n nuwe generasie nuwe leiers opgelewer het wat ook nie wou val vir die storie dat wit mense beter was as swart mense nie, was hulle lewens ook verontrief: wat hulle kon sê en waarheen hulle kon reis, was byvoorbeeld hewig ingeperk. Indien hulle steeds nie wou luister nie, is hulle eenvoudig doodgemaak.
En so het die moderne geskiedenis van Suid-Afrika voortgegaan deur die jare sewentig, en die jare tagtig, tot politieke verwikkelinge in ander wêrelddele druk op die wit regering geplaas het om radikale veranderings te maak, en die druk van meer en meer swart en bruin mense wat nie meer geglo het wit mense is beter as hulle nie, ook te veel geraak het. Teen die middel negentien-negentigs het ’n nuwe bedeling aan bewind gekom. Aan die hoof van hierdie bedeling was talle van die mans en vrouens van dekades tevore wat tóé al nie geval het vir die wit mense se oortuiging dat hulle beter was as swart mense nie.
* * *
Dit bring ons by vandag. Ek lees op News24 dat rassisme hoogty vier in die Noordwes dorp van Schweizer-Reneke. Een van die onderwysers by ’n laerskool het ’n foto geneem van ’n groepie kinders in ’n klaskamer op die eerste dag van skool. Die foto wys dat ’n paar swart kinders op hul eie by ’n tafel sit, en die wit kinders by ander tafels. Die foto het soos veldbrand versprei op sosiale media. Daar was proteste, ten minste een skorsing, en wydskaalse woede oor wat gesien is as ’n terugkeer na apartheid. [’n Latere verduideliking is gegee dat die kinders wat op hul eie gesit het, nie Engels of Afrikaans kon praat nie, en dat hulle gehelp moes word deur ’n tolk.] [Sien ook die onderhoud met ’n pa van een van die swart kinders in die foto.]
’n Onderwyser van ’n ander skool in die dorp het aan die joernalis gesê dat rassisme nooit sal eindig in die dorp nie, veral nie onder wit mense nie. “We don’t know democracy here,” sê die onderwyser. “Whites think they are superior [to] everyone here.” Die berig spesifiseer nie die ras van die onderwyser nie. Indien die persoon wit is, wonder ek: Is dit ’n uitdrukking van sy of haar eie gevoel jeens ander bevolkingsgroepe? Indien die persoon swart is, hoe weet hy of sy wat die wit mense (in die meervoud) dink?
’n Paar weke gelede lees ek Elaine Hilides se verduideliking van die Drie Beginsels van Sydney Banks. Sy skryf onder meer: “We create our reality moment by moment via thought and then we experience that reality via feeling. We are always, 100%, feeling our thinking. It can look like it’s our circumstances that are causing our feeling, but we are only ever feeling our thinking about our circumstances.”
Die onderwyser in Schweizer-Reneke het verder gegaan in sy of haar gesprek met die joernalis: “They [die witmense] own everything in this town including public schools. This primary school is an example of their behaviour and hatred toward black children.”
* * *
Die storie van wit oorheersing in Suid-Afrika en die onderdrukking van veral swart mense, is ’n storie van een groep mense, wat in die minderheid was, wat ’n betekenisvolle persentasie van ’n groter groep mense oortuig het hulle is beter as die meerderheidsgroep, en dat die meerderheid dit maar net so moet aanvaar. Low and behold, it worked! ’n Kritiese persentasie van die meerderheidsgroep het geval daarvoor!
Nou, in ’n nuwe eeu, en ’n nuwe Suid-Afrika, is hulle kinders en kleinkinders en ander nasate woedend dat wit mense vir so lank weggekom het daarmee. Hulle dring nou aan daarop dat dinge “reggestel” moet word – grond moet weggevat word van die wit groep, en meestal vir lede van die swart groep gegee word. Honderde-duisende werksgeleenthede en duisende besigheidsgeleenthede moet gereserveer word vir lede van die groepe wat voorheen uitgesluit is. Daar word selfs gepraat van wit mense wat nou versigtiger moet wees hoe hulle praat met swart mense, om te verhoed dat laasgenoemde nóg kwater raak.
Gaan dit werk? Gaan alles beter raak oor die volgende paar dekades? Dalk dink vele wit mense nog steeds hulle is beter as swart mense. Uit die aard van die saak is dit absurd om ’n algemene stelling te maak dat jou groep beter is as ’n ander groep, siende dat Persoon X hoogstens beter kan wees as Persoon Y in sekere aspekte van hulle persoon, of vermoëns. Dink vele swart mense diep in hulle binneste steeds dat wit mense eintlik beter is as hulle? Wie kan sê?
* * *
Wat sal mens dan sê van rassisme, van wit mense wat swart mense dinge toesnou, van wit sokkertoeskouers wat piesangskille gooi op die sokkerveld om ’n swart speler uit te lok?
Verbeel jouself die volgende situasie: Iemand kry ’n onsmaaklike trek op sy gesig, lig sy vinger in jou rigting, en sê:
“Na-na-na-na-na! Jy kan tog nie ’n soufflé bak nie!”
Enigste probleem vir hierdie grapjas is dat jy nie enige ambisies of pretensies het om ’n soufflé te kan bak nie. Hy blaf letterlik by die verkeerde boom op. Jy reageer nietemin.
“Wat het jy gesê?”
“Ek het gesê, na-na-na-na-na …”
“Ja, oukei,” sal jy hom stilmaak, “ek het daai deel gevang. En dan?”
“Jy kan tog nie ’n soufflé bak nie …”
Verbeel jouself nog iets. Een ongeskikte sokkertoeskouer het skielik een dag ’n probleem met sy sig, en sien mense donkerder as wat hulle werklik is (sonder dat hy dit besef). Hy sien ’n swart speler na aan die sitplekke verby draf, en gooi ’n piesangskil op die veld. Om sy punt in te vryf, maak hy ook aapgeluide, en hy spring rond en swaai sy arms.
Wat die toeskouer egter nie besef nie, is dat die speler Hans Christiansen van Swede is – heel waarskynlik die witste speler in die span. Hy sien die piesangskil, en hy sien die man langs die veld wat van een been na die ander spring, met sy arms wat hy bokant sy kop waai. Sal Mnr. Christiansen beledig voel? Dis onwaarskynlik. Hoekom? Vele mense sal uitwys dat hy niks daarvan sal dink nie, omdat daar geen geskiedenis is van wit toeskouers wat wit spelers uittart deur na hulle te verwys as ape nie. Sekerlik sal dit ook help dat hy nie aan homself dink as ’n aap nie. Die belediging sal platval. Die belediger sal absurd voorkom.
Wat gebeur egter wanneer so ’n ongekultiveerde persoon probeer om ’n swart speler uit te lok en te beledig? Die owerhede en die media gaan berserk. Die arme swart speler, sal hulle sê.
Wat sal gebeur as een na die ander swart speler dit moet afmaak as skadelose absurde gedrag – dat hulle immers nie aan hulleself dink as primate nie; dat die koggelry en bedoelde belediging soos water van ’n eend se rug afrol?
Die ou wat my probeer koggel met die feit dat ek nie ’n soufflé kan bak nie, se belediging gaan net werk as ek ’n bietjie van ’n obsessie daaroor het dat ek nie ’n soufflé kan bak nie. Hoe ék dink oor die soufflé besigheid sal inderdaad aan die koggelende ene die mag gee om my te koggel. As ek geen ambisie het om ’n soufflé te kan bak nie, en geen gevoel daaroor het dat ek dit nie kan doen nie, gaan die persoon se pogings so vinnig platval soos ’n poeding met vrot eiers.
Ek weet ek was nog nooit ’n swart sokkerspeler nie, en ek het nog nooit gevoel hoe dit voel as iemand my koggel dat ek minder van ’n mens is as hy nie. Ek het egter ’n sterk vermoede dat min, indien enige, swart atlete soos ape voel. So wie gee dan aan die belaglike een langs die veld die idee dat sy koggelry ’n effek gaan hê?
Dieselfde kan gesê word wanneer ’n wit Suid-Afrikaner op film vasgelê word dat hulle iets kwytraak oor ’n swart Suid-Afrikaner. As daai swart persoon ’n positiewe siening van hom- of haarself het, en die wit ene gaan aan soos ’n besetene met ’n rooi gesig – wie is werklik die een wat ’n aap van hom- of haarself maak?
Ek reken, in stede daarvan om vir almal te sê wat hulle nie mag sê nie, en om te dink aan nuwe maniere om mense te straf wat ander mense sleg oor hulleself laat voel, hoekom nie eerder ’n bietjie meer aandag gee aan hoe mense aan hulleself dink en oor hulleself voel nie?
Daar is sterk aanduidings dat daar steeds mense is wat glo dat hulle beter, of slimmer is as mense wat ’n rooier of bruiner of swarter of geler vel as hulle eie pienk skakering het, en dat hulle derhalwe verdien om beter behandel te word, en voorgetrek moet word as dit kom by geleenthede en toegang tot hulpbronne. Ek reken, as jy voel jy het geen ander manier om jou eie sin van waarde op te bou anders as om ander mense se waardigheid af te breek nie, het jy ’n probleem, en jy kan gerus jouself en almal om jou ’n guns doen deur aspekte van jou persoonlikheid krities onder oë te neem. Maar dit is ook nodig om by te voeg dat indien jy van jou kop af gaan elke keer as iemand onvriendelik is met jou, of plein ongeskik, of doelbewus probeer om jou uit te tart of aanstoot te gee, moet jy dalk begin werk aan jou persepsie van jouself.
______________________