Wat is liefde – kruipende grysheid – persoonlike religie

SATERDAG 23 APRIL 2005

Wat is liefde?

Liefde is ’n bereidwilligheid en ’n vryewilskeuse om iemand anders se behoeftes, welstand en belange op die hart te dra*. Romantiese liefde is wanneer hierdie bereidwilligheid gekombineer word met ’n sterk begeerte* om saam met die persoon te wees, om wat jou lewe is, te deel* met hom of haar, en om aan hierdie persoon die geleentheid te gee om sy of haar lewe te deel met jou.

Definisies:

op die hart dra = om iets te ag as van groot belang; om ten minste medeverantwoordelikheid te aanvaar vir iets

sterk begeerte = ’n behoefte wat, indien dit nie vervul word nie, lei tot emosionele ongemak

te deel = om nie wat jou gelukkig maak, of wat vir jou belangrik is, of wat jou hartseer maak, of wat pyn of ander ongemak veroorsaak, vir jouself te hou nie

MAANDAG 25 APRIL 2005

14:17

Ek verstaan nie ALTYD, ONMIDDELIK, ALLES nie …

18:34

Daar’s insidente wat uit die bloute kom, en ’n reaksie ontketen. Dan’s daar die kruipende variasie, ’n grysheid wat van ver af kom, wat weerstand stukkie vir stukkie wegvreet tot jy op ’n Maandag in April weer aan jouself moet erken: Ek is nie altyd ewe oortuig van dinge nie.

* * *

Dis soos dit is: jy werk en jy werk en jy werk, en dan, een oggend, verskyn ’n beeld uit die mis. Jy sien ’n man se gesig, en jy sien hy grinnik, of glimlag oor iets. Jy trek jou skouers op en vra, “Wat?”

Antwoord die man: “Ek sien jy werk jou gat af. Het jy al ooit die moontlikheid oorweeg dat niks ooit gaan kom daarvan nie, dat dit alles verniet is?”

20:28

Ag shame en so aan. Van wanneer gee ek myself oor aan sulke goedkoop slenters?

Plus, ek weet waar dit vandaan kom: van dieselfde brak spruit as waaruit dit verlede April gevloei het.

Oplossing: SKRYF.

DINSDAG 26 APRIL 2005

18:03

“Life in the city is merely a wormlike biological existence where man lives and dies meaninglessly.” ~ Muammar Qaddafi

[Die feit dat hy so geglo het, het dit heel waarskynlik makliker gemaak vir hom om dit die werklikheid te maak vir baie mense in Libiese stede.]

21:23

Om “Brand Smit” te wees, is my persoonlike religie.

As iemand tot “bekering” kom, gaan die gebeurtenis gewoonlik gepaard met gevoelens van euforie, en ’n verbeterde sin van persoonlike welstand en sekuriteit – plek in die kosmos, identiteit, sonde en verlossing, “Ewige Lewe” ensovoorts. Die Nuwe Bekeerde kan egter nie net een Vrydagaand by ’n samekoms tot bekering kom en – voila! – die wonderlike euforie en welstand en sekerheid hou vir ewig nie. Hy of sy moet van Dag Twee af gereeld sekere rituele uitvoer om sy of haar nuwe identiteit en kosmiese status te bevestig.

DINGE MOET GEREELD GEDOEN WORD OM IDENTITEIT EN KOSMIESE STATUS – JOU PERSOONLIKE VERHOUDING MET DIE HOOGSTE REALITEIT – TE BEVESTIG!

Ek kan nie net weet ek is “Brand Smit” nie. Dis doodgewoon nie goed genoeg nie. Die afgelope week of drie se kruipende grysheid het weereens bevestig wat ek ook voorheen besef het: AS EK NIE SKRYF NIE, IS EK NIE WIE EK SÊ EK IS NIE.

______________________

Poging en beloning – persoonlike realiteit

MAANDAG 18 APRIL 2005

’n Amerikaanse ontwikkelingswerker (vrou met die naam van “Marla”) is die naweek oorlede in Irak (bom langs die pad). Sy was heel waarskynlik in vele opsigte ’n doodgewone vrou – net so gewoon soos meeste van ons. Wat wel buitengewoon was aan haar, was haar waarde vir ’n sekere gemeenskap van mense wat vasgevang is in ’n primitiewe stryd om oorlewing. Wat buitengewoon was aan haar, was haar bereidheid om haar lewe te verloor vir hierdie stryd.

DINSDAG 19 APRIL 2005

Ek is op die oomblik, glo dit of nie, besig om ’n sensitiwiteit te ontwikkel oor die korrelasie tussen pogings en beloning wat betref die arbeid wat ek verrig by die huis. Ek meen, ek werk nou al vir hoe lank aan sekere projekte? Wat al hoeveel geld ingebring het? En presies hoeveel mense het al gelees wat ek skryf? En dit help nie dat my fiets enige oomblik in sy tien onderdele gaan dekonstrueer op pad na die treinstasie toe nie, of dat my TV se klank steeds neuk, of dat my rekenaar al hoe stadiger raak, of dat ek nog steeds nie by die tandarts was nie … maar jy bly staande solank jy nie val nie, en die stryd is daagliks. En om te kla oor sulke nonsens is immers middelklas.

DONDERDAG 21 APRIL 2005

Walter Reuther (1907-1970), Amerikaanse vakbondleier: “There is no greater calling than to serve your fellow man. There is no greater contribution than to help the weak. There is no greater satisfaction than to have done it well.”

VRYDAG 22 APRIL 2005

12:01

Die vraag is nie of elkeen van ons ’n dwaas is nie, die vraag is wat ons doen met ons lewens ten spyte van die feit.

Die vraag is ook nie of elkeen van ons gaan sterf nie …

14:16

Vir eeue al kontempleer filosowe die vraag na wat realiteit is – wat werklik is, en wat nie.

Tot ’n groot mate aanvaar ek die materiële wêreld soos dit aan my verskyn. As ek iets sien wat ek uit ervaring herken as ’n “tafel”, dan aanvaar ek die objek voor oë as inderdaad ’n tafel. Ek aanvaar ook die geldigheid van die klanke wat verwys na die genoemde objek.

My eie belangstelling lê meer by die individuele “self”. Ek aanvaar dat stellings soos, “Ek weet wie ek is” en “Ek glo in myself”, en terme soos “selfvertroue” slegs relatiewe waarde het – dit is, relatief tot die omgewing waarin die persoon homself bevind. Maak ’n radikale skuif, of ’n radikale verandering aan die omgewing, en skielik “weet” die persoon dalk nie meer so mooi wie hy is nie; hy is moontlik ook nie meer so seker van homself nie, en sy sogenaamde “selfvertroue” kwyn heel moontlik saam met sy selfkennis en gepaardgaande selfgeloof.

Dit, wat waar is vir die persoon rakende sy eie self op ’n gegewe oomblik, dít is wat my aandag hou, nie soseer of ’n tafel of ’n telefoon of ’n sny roosterbrood werklik werklik is nie.

Ek weet slimmer mense kan argumenteer dat daar ’n verband is – en ek glo daar is, filosofies gesproke. Vanweë beperkte tyd kies ek egter om te fokus op wat werklik is vir die individuele persoon, óór hom- of haarself.

[Die waarskynlikheid is sterk dat ek filosowe se werk oor die eeue verkeerd verstaan.]

18:15

Tyd gespandeer in enige plek was die spreekwoordelike moeite werd as jy die tyd aangewend het om positiewe resultate te bewerkstellig. Die idee dat jy moontlik ook op ’n ander plek soortgelyke resultate kon bewerkstellig, is van verbygaande belang en dalk nie eens nodig om genoteer te word nie. Wat belangrik is, is die proses, die doel, die eindresultaat. Die plek is óf bevorderlik, óf nie bevorderlik nie, en moet volgens hierdie maatstaf beoordeel word.

______________________

Frustrasie – English teaching in Taiwan

DONDERDAG 14 APRIL 2005

Ek reken ek kan dit regverdig dat ek tans in ’n slegte bui is. Ek kyk na die hoeveelheid arbeid, die hoeveelheid maande, weke, dae en ure se arbeid wat gedurende die afgelope vier jaar gesaai is op die landery van projekte met finansiële gewin as primêre doelwit.

Ek kyk ook na my huidige finansiële vermoëns.

Laastens kyk ek na uitgawes wat ek graag wil aangaan om my lewenskwaliteit te verbeter en reise wat ek wil onderneem, en dan praatjies wat ek maak oor hierdie twee aangeleenthede; ook die feit dat ek steeds vasgevang is in die “proses”, met vrugte en eindresultate steeds net in teorie op ’n horison altyd net ’n paar dagreise ver.

Ek sê nie ek is moedeloos nie; ek sê bloot ek reken dis oukei as ek ’n bietjie murmureer daaroor …

VRYDAG 15 APRIL 2005

17:59

Be kind to animals, and to ignorant and unenlightened human beings. (Sê een of ander kluisenaar met ’n lang baard; as ek dit sê kom dit oor as arrogant – vir wat dit ook al saak maak.)

20:14

Ek kan sê wat ek wil oor die verveling van ’n Engelse klas (wat ekself aanbied), maar daar is waaragtig ’n paar dinge wat ek nie uit die oog moet verloor nie: English teaching in Taiwan het my rekeninge betaal die afgelope meer as ses jaar, my ’n dak oor my kop gegee, en kos in my maag en klere aan my lyf; dit het my ook in staat gestel om my skuld redelik onder beheer te hou, my water en elektrisiteit aan die gang, en my rekenaar en drukker aan die werk. In kort, English teaching in Taiwan het die organisme wat ek is, aan die lewe gehou die afgelope 75 maande.

______________________

Wat jy nodig het – en waarin jy moet glo

VRYDAG 8 APRIL 2005

Wat het jy nodig?

Jy’t ’n maat nodig, iemand wat jou verstaan, wat verstaan waar jy vandaan kom en hoe jou idee van ’n toekoms lyk, wat jou foute en gebreke aanvaar en jou sterk punte en jou beskouing van jouself respekteer; iemand wat jou potensiaal en jou talente herken; iemand wat jou positiewe siening van wie en wat jy is, bevestig. Jy’t ook ’n plek nodig – ’n “huis”, ’n omgewing waar jy jou maatreëls kan laat vaar, waar jy kan ontspan, waar jy kan floreer, waar jy kan groei in wie en wat jy wil wees.

Jy’t eerlike en opregte liefde nodig.

DINSDAG 12 APRIL 2005

Het die afgelope paar ure (weer) bewus geraak van ’n paar dinge:

* die lewe is altyd ’n stryd – aanvanklik (of voortdurend) vir oorlewing, en daarna vir óf die handhawing van ’n goeie bestaan, óf vir iets beters – ’n buitengewone lewe, volgens jou eie beskouing;

* daar is soveel dinge om te vrees dat dit amper ’n wonderwerk is dat ons nie so vreesbevange is die heeltyd dat dit ons funksionering belemmer nie;

* in ag genome die vorige punt kan dit gesê word dat selfvertroue die kenmerk is van ’n dwaas – maar as uitstekende illustrasie van die teenstrydighede van die lewe, sal jy fokkol uitgerig kry as jy nie selfvertroue het nie;

* ek kom absurd voor aan myself in die klaskamer – ek wat by die huis my selfbewussyn en vermoëns aanwend tot produktiewe en meestal interessante arbeid, wat dan skielik verskyn in ’n omgewing met reëls en regulasies en konvensies en ’n hemp wat uitgekies is om by ’n broek te pas, en swak Chinese uitspraak, en opgemaakte “professionele” Engelse aksent.

Ook baie bewus geraak van wat ek nog wil doen, maar nie tans doen nie; wat ek nog wil weet, maar nie tans weet nie; vaardighede wat ek wil bemeester waaroor ek nie tans beskik nie; vrae wat ek het waarop ek nie die antwoorde ken nie – soos, wat die verskil is tussen ’n aartsbiskop en ’n kardinaal (trein arriveer, 21:30).

WOENSDAG 13 APRIL 2005

Mens moet glo dat dit MOONTLIK is
vir JOU
om FINANSIEEL ONAFHANKLIK te wees

en dat dit verder MOONTLIK is
vir JOU
om GELUKKIG te wees

en dat dit verder MOONTLIK is
vir JOU
om ’n POSITIEWE BYDRAE te maak

Te veel mense glo in slegs een ding: dat dit wat vir hulle “gegee” is, insluitende sosio-ekonomiese status en gepaardgaande rol, funksie, en relatiewe waarde vir die gemeenskap, die beste is wat hulle ooit uit die lewe kán en sál kry; dat dit selfs verwaand sal wees om ambisies te koester wat verder as dit strek. Hierdie oortuigings, glo ek, is tot ’n groot mate verantwoordelik daarvoor dat dit hulle werklikheid sal bly.

______________________

Droom van sout, twee vrouens en ’n eier

SATERDAG 2 APRIL 2005

Laasnag het ek ’n droom gehad. Beelde van ’n opgevoerde veldslag uit die Romeinse tyd het deur my brein geflits. Daar was ook ’n oorgrootte dubbelverdieping gebou met klein woonstelletjies.

’n Vrou het skelm in een woonstel moderne kos gaan eet. Na sy weg is, sluip ek toe in, gryp ’n paar handevol rosyntjies en neute uit die kombuis en druk dit in my broeksak. In die sitkamer ontdek ek ’n hardgekookte eier wat ek toe ook saamvat – na ek ’n klomp sout daaroor gegooi het. (Die soutpot het op ’n koffietafel gestaan, met heelwat verspilde sout om die pot.)

Ek loop toe in die oorgrootte gang af waar twee vrouens my konfronteer met die insinuasie dat ek nie altyd dieselfde mens is nie. Hulle peper my met vrae soos, “Hoe word hierdie naam uitgespreek in daai taal?”

Teen die tyd wat ons op die grondvloer gekom het, het my aanvanklik beleefde antwoorde op hulle vrae oorgegaan in ’n driftiger reaksie. “I, myself was given a very ethnic-specific name,” sê ek toe in Engels, “but sometimes you need to express yourself in other ways than those you were given. And sometimes you choose to go beyond what you’ve been given, in order to transform yourself! And maybe you do so for no reason other than as a first step towards, and for the sake of, transforming … the community … in which you live.”

Teen die laaste sin het die twee vrouens al so beangs geraak dat die een agter die ander een begin skuil het. Toe ek my rug op hulle draai en wegstap, het die vrou wat weggekruip het, agter my aangestap en my rug met albei hande begin krap – op ’n katagtige wyse.

Ek onthou toe van die eier waarmee ek uit die woonstel gestap het. Ek druk toe die eier stukkend in my broeksak, draai effens om, leun oor my skouer en druk die gebreekte stukke in haar gesig.

Die laaste sin van my kort toespraak was afgemete. Ek het tot op daai oomblik in ’n harde, dringende stemtoon gepraat, en het toe sagter begin praat om die woorde te beklemtoon – veral omdat hulle moontlik verwag het dat ek sou sê, transforming the world.

______________________