Die winsgewende periode 2006 tot en met die begin van 2011

DONDERDAG 8 SEPTEMBER 2016

Sedert 2011 al dink ek aan die jare 2006 tot en met die begin van 2011 aan ’n periode van verlies. Wat presies het ek verloor? Tyd, het ek nog die heeltyd gereken – want ek het soveel daarvan gemors om te probeer geld maak op allerhande maniere.

Hier is ’n meer positiewe siening van daai periode. Ek het geleer hoe om my skryfwerk te publiseer – insluitende formattering van manuskripte om gedrukte kopieë te kan maak, die skepping en formattering van elektroniese boeke, die opstel van ’n WordPress webwerf, basiese webontwerp, bemarking; ek het geleer van sportweddenskappe en pryshandel op sportmarkte, en ek het begin leer om geld te maak op die finansiële markte.

En, dames en here, binnekort sal ek kan sê dat die periode 2006 tot en met die begin van 2011 ook opgelewer het ’n projek bestaande uit meer as sewentig stukke oor onder andere die lang en moeilike proses om te probeer geld maak sonder om vir iemand anders te werk – wat die materiaal heelwat anders maak as die materiaal wat dit voorafgegaan het, want dit gaan oor foute maak, op jou gesig val, jouself in die verleentheid stel, misluk keer op keer op keer … en aan die einde besluit jy om meer tyd te spandeer aan dinge wat jou gelukkig maak.

______________________

Sestigs ikoon en simbool van ’n dekade: Edie Sedgwick

WOENSDAG 31 AUGUSTUS 2016

Iets heeltemal anders: Ek het onlangs vir Edie Sedgwick ontdek. Nie net was sy ’n sestigs ikoon nie, sy was ook tot ’n mate ’n simbool van daai dekade.

Sy was bekend vir gedrag wat reeds problematies was teen die tyd wat sy Andy Warhol se binnekring bereik het. Sy was sensueel, aantreklik, vurig, vol lewe, en ’n bietjie gevaarlik. Sy het geesdriftig met dwelms geëksperimenteer en gedrink en gerook asof sy vir ewig sou leef, haarself totaal oorgegee aan mans op wie sy verlief was, en uiteindelik nie heeltemal die impak gemaak wat sy en ander mense gedink het sy sou nie.

Sy het dit gemaak tot in die volgende dekade op die spreekwoordelike een been, en gesterf op die relatiewe jong ouderdom van 28 terwyl sy probeer het om te herstel van al die oormaat en oordadigheid van die voorafgaande paar jare.

Kyk hierdie video wat saamgestel is uit grepe van Andy Warhol se films Poor Little Rich Girl en Beauty No 2:

______________________

Maatskaplike Geregtigheidsvegters, en die doring in my vlees

WOENSDAG 31 AUGUSTUS 2016

Iemand wat ek volg op Twitter het onlangs ’n skakel geplaas na ’n video van ’n jong vrou wat ’n taxi-bestuurder kritiseer vir sy keuse van paneelbord dekorasie.

Om te verstaan waaroor dit gaan, kyk eers die video:

(In kort, nadat die vrou in die motor ingeklim het, sien sy die man se Hawaise kop-pop op sy paneelbord. Sy neem aanstoot en spreek haar verbasing uit dat die man onbesorgd is oor hoe beledigend dit is teenoor die “vasteland van Hawaii”. Sy dring ook aan daarop dat hy die item onmiddellik verwyder.)

* * *

Ek kon maklik een van hierdie sogenaamde “Social Justice Warriors” gewees het. Ek het hierdie soms ononderdrukbare begeerte om vir mense te preek en hulle gedrag te veroordeel. Aan die ander kant is ek baie goed bewus van gru-stories van wat gebeur as een groep hulleself aanstel oor ander mense, wanneer hulle reken hulle het die reg om ander mense te veroordeel omdat hierdie mense nie rein genoeg is nie, of omdat die dinge wat die mense gedink het heel onskuldig is, eintlik aanstootlik is, en konkrete bewys is van diepgesetelde verkeerde houdings oor sekere belangrike sake.

Hier is twee voorbeelde uit die geskiedenis:

* Beginnende in 1966 het die Rooi China-leier Mao Zedong oorgretige, fundamentalistiese studente op die publiek losgelaat om sy politieke agenda te bevorder. Die Rooi Wagte het by huise ingebreek en verskrikte burgers uit die pad gestamp in ’n dolle soektog na enige iets wat kwansuis sou bewys dat die inwoners van die huis “bourgeouis capitalist running dogs” was. Items wat gekonfiskeer is – oënskynlik om te vernietig, maar vele van die items het opgeëindig in die privaatversamelings van Kommunistiese Partylede – het ingesluit boeke, kuns, antieke ware, Westerse musiekinstrumente, en Westerse kledingstukke soos dasse.

* Die Khmer Rouge het hulleself losgelaat op die gewone mense van Phnom Penh en ander plekke in Kambodja in die 1970’s. Vergrype het ingesluit om mense te arresteer en te martel vir die eenvoudige rede dat hulle bril gedra het, wat volgens die dol fanatici net een ding kon beteken: die persoon was ’n middelklas intellektueel wat vir die vyand spioeneer.

* * *

Die vrou in die video het gereken sy was geregtig daarop om vir ’n man te preek oor hoe hy sy kar mag dekoreer, selfs dat sy die reg gehad het om hom te beveel om ’n item te verwyder omdat dit haar aanstoot gee.

Ek reken as sy nie gemaklik was met sy dekorasies nie, of as daar iets erger soos ’n portret van Adolf Hitler teen die agterkant van die voorste sitplek geplak was, moes sy eenvoudig nie ingeklim het nie, of as sy dit eers later opgemerk het, moes sy gevra het om asseblief uitgelaat te word. Wat sy egter gedoen het, was om hom te kritiseer terwyl sy steeds aangedring het daarop dat hy haar na haar bestemming toe vat – sy wou hom kritiseer sonder om die gerief op te offer wat hy haar gebied het.

* * *

Is dit taboe om vir iemand te preek, of jou vinger vir die persoon te swaai en te sê dit ontstel my kwaai as jy dit of dat sê of doen?

Hier is wat my kwaai aanstoot gee: sommige mense in Taiwan bestuur hulle bromponies net met een hand want die ander hand is styf geklem om ’n selfoon, en hulle oë is nie op die pad nie, maar op die foon. Dit vryf my regtig verkeerd op. Wanneer ek langs so ’n imbesiel intrek by ’n verkeerslig, druk ek my toeter genoeg keer tesame met ’n kyk so vuil dat die persoon geen twyfel het daaroor dat ek dink wat hulle doen, verkeerd is nie. Nee, meer as verkeerd – dis fokken onnosel, want dit is net ’n kwessie van tyd voor die een-hand sot homself beseer, of nog erger, voor hy iemand anders beseer.

Het ek dus die reg om dwars in die krop gesteek te wees deur iemand anders se gedrag? Ja, as lewe of ledemaat in gedrang is.

Maar om iemand se keuse van dekorasie of woordkeuse of klere of grappie te kritiseer, is in my opinie om gevaarlik naby te kom aan die gedrag van die fanatiese Rooi Wagte van Mao se China wat skuim om hulle monde gekry het met die blote sig van iemand wat dalk verkeerd gelyk het, of iets besit het wat polities “verkeerd” was, of nie reg gepraat of gedink het nie.

______________________

Die “Human Potential Movement” van die 1960’s en later

MAANDAG 18 JULIE 2016

Nog ’n voorbeeld hoe my eie gedagtes gewortel is in denkskole en bewegings waarvan ek geen direkte kennis gehad het nie:

“The Human Potential Movement (HPM) arose out of the counterculture milieu of the 1960s and formed around the concept of cultivating extraordinary potential that its advocates believe to lie largely untapped in all people. The movement took as its premise the belief that through the development of ‘human potential’, humans can experience an exceptional quality of life filled with happiness, creativity, and fulfilment. As a corollary, those who begin to unleash this assumed potential often find themselves directing their actions within society towards assisting others to release their potential. Adherents believe that the net effect of individuals cultivating their potential will bring about positive social change at large.”

Die sosioloog, Elizabeth Puttick, het soos volg geskryf oor die Human Potential Movement:

“The human potential movement (HPM) originated in the 1960s as a counter-cultural rebellion against mainstream psychology and organised religion. It is not in itself a religion, new or otherwise, but a psychological philosophy and framework, including a set of values that have made it one of the most significant and influential forces in modern Western society.”

’n Lys van mense wat die beweging beïnvloed het, en ook mense wat beïnvloed is deur die idees gepopulariseer deur die beweging, sluit in die sielkundige Abraham Maslow van hiërargie van behoeftes-faam, Aldous Huxley, skrywer van Brave New World, en die selfhelp-ghoeroe, Anthony Robbins.

Lees meer op Wikipedia: https://en.wikipedia.org/wiki/Human_Potential_Movement

______________________

Hoe sal dit uitwerk as godsdienstige mense eerliker moet wees?

VRYDAG 15 JULIE 2016

Ek was ’n gewoonteroker vir omtrent veertien jaar lank. Ek het geen illusies gehad oor die effek wat dit gehad het op my gesondheid nie. En, soos ander rokers, is ek gereeld gekonfronteer deur mense wat gereken het dit was hulle plig om my in te lig dat dit ongesond is om te rook.

“Weet jy nie dat jy longkanker of emfiseem kan kry nie?” sou hulle vra.

Ek weet, sou ek sê. Spaar my die toespraak. Jy kan my niks vertel nie. Ek gaan nie eers probeer op met jou te argumenteer nie.

“As jy weet,” sou my goed bedoelende vriend of familielid reageer, “hoekom op aarde rook jy dan nog?”

Want, sou ek antwoord, ek het dit nodig.

Ek glo daar is ’n parallel tussen die gesprek wat rokers het met nie-rokers, en die gesprek tussen ateïste en teïste oor laasgenoemde se geloof.

Vele sogenaamde gelowiges spaar geen moeite om agnostici en ateïste te probeer oortuig dat daar meer as genoeg bewys is vir die bestaan van God nie (kan enige goddelike figuur wees, maar kom ons beperk ons vir die oomblik tot die god van die monoteïste, en dan meer spesifiek die Christelike religie – derhalwe die term “God” met ’n hoofletter). Hulle sal wetenskap inspan. Hulle sal beroemde wetenskaplikes soos Albert Einstein aanhaal. Hulle sal verwys na insidente en ervarings in hul eie lewens. Hulle sal ook probeer om hulle teenstanders te betrap met ’n bek vol tande. “Wat sê jy daarvan?” sal hulle vra na een of ander vertelling, en dan hulle arms tevrede vou.

Feit is, in die intellektuele stoeigeveg tussen mense wat glo in die bestaan van God, en mense wat nie glo in die bestaan van God nie, het eersgenoemde die opdraande stryd. Al wat die nie-gelowige hoef te vra, is “Hoe weet jy?”

As iemand beweer water kook teen ’n sekere temperatuur, en iemand anders kyk hom ongelowig aan en vra hoe hy dit weet, kan die een wat die bewering gemaak het eenvoudig ’n pot water op ’n warm plaat sit, ’n termometer daarin druk, en – voila! – na ’n paar minute is die bewering gestaaf. Indien die ander persoon wil argumenteer dat dit ’n vloekskoot was, kan hulle dit weer doen, of nog beter – die “ongelowige” kan dit self probeer, met presies dieselfde resultaat.

“Hoe weet jy God bestaan?” is ’n tameletjie vir gelowiges want hulle kan die bestaan van God nie bewys nie. Hulle sal sê hulle kan dit bewys, maar nie met dieselfde sekerheid wat die waterkoker kan bewys dat water kook teen ’n bepaalde temperatuur nie. Die bestaan van God kan eenvoudig nie bewys word nie. Nie dat die uitdaging baie gelowiges afskrik nie.

Dis op hierdie punt waar ek wil terugkom by die roker wat sê: Ek weet. Jy kan my niks vertel nie.

In stede daarvan dat gelowiges warm onder die kraag raak en almal van Plato tot Einstein aanhaal en praat van die kompleksiteit van die vlieg se oog en die hitte van die son om te probeer bewys dat God bestaan, wonder ek hoe dit sal uitwerk as die gelowige ook moet terugstaan en sê: “Ek weet. Jy kan my niks vertel nie. Ek het Sam Harris se End of Faith gelees. Ek het Richard Dawkins se God Delusion gelees. Ek het Hawking gelees. Ek het al van daai Christopher Hitchens video’s op YouTube gekyk. Ek weet presies wat jy vir my gaan sê. En ek kan nie regtig veel teen dit sê nie. Ek kan nie die bestaan van God aan jou bewys soos iemand kan bewys dat water kook teen ’n sekere temperatuur nie. Ek meen, ek kan jou vertel van tye wat ek gebid het, en wat sekere dinge gebeur het, wat ek gesien het as bewys dat God my gebed aangehoor het, en besluit het om in te gryp. Maar ek weet jy gaan praat van ‘confirmation bias’ en so aan. Ek moet eerlik wees: Ek sien jou punt. Die onus is definitief op my om te sê hoekom ek aan die bestaan van God glo, en ek kan niks sê wat jou tevrede sal stel nie. Ek verstaan jou argumente ten volle.”

Hoekom glo jy dan, as jy nie kan bewys dat dit waar is nie, sal die nie-gelowige vra.

“Want, ek het nodig om te glo,” sal die gelowige antwoord. “Ek wil glo. Ek hoop regtig van harte dat God bestaan, en dat daar ’n lewe na die dood is.”

Goed en wel, sal die nie-gelowige sê, maar as wat jy sê waar is, as die God van Jesus en Moses en Paulus werklik bestaan, en dat daar lewe na die dood is, wat dink jy sal gebeur met agnostici en ateïste en ander mense wat hulle oortuigings op rede en wetenskap en logika baseer? Wat sal word van mense soos ek?

“Om eerlik met jou te wees,” sal die gelowige begin, “ek weet nie. Ek glo aan ’n genadige god, ’n god wat nie nodig het dat mense moet bevestig dat hy bestaan nie. Die god waaraan ek glo, is nie ’n onseker god nie. So vir al wat ek weet, is ek en jy albei oor honderd jaar in die paradys, besig om land en sand te gesels oor iets anders.”

Hoekom nie? Hoekom is bogenoemde so ’n onwaarskynlike posisie vir vele volgelinge van die Christelike religie om in te neem?

Is dit omdat dit nederigheid sal vereis? Is nederigheid nie ’n Vrug van die Gees nie? En indien ’n persoon wat self-identifiseer as Christen dan so ’n groot probleem het om nederig te wees, kan hy of sy werklik dan beweer dat hulle ’n Christen is – of is dit nie so eenvoudig nie?

Is dit omdat vele Christene glo aan ’n god wat kwaad is? Is dit omdat hulle glo aan ’n god wat wil straf, aan ’n god wat die mens geskep het om ons te toets? En wat die mens straf as hulle faal. Glo, of ek straf jou? Glo reg, of dra die gevolge?

Is dit hoekom gelowiges so kwaad raak vir ateïste – omdat laasgenoemde dit durf waag om nie reg te glo nie?

Hoe sal dit wees as Christene eerliker moet wees, met ander mense en met hulleself? As hulle nie die bose ateïs vrees nie, maar hom of haar sien as net nog ’n weerlose mens wat probeer om sin te maak van sy lewe en die wêreld om hulle? Hoe sal dit werk vir die Christen as hy of sy moet antwoord op vrae van nie-gelowiges met ’n eerlike, “Ek weet nie”? As hulle moet erken dat hulle glo omdat hulle wil glo? As hulle moet erken dat hulle glo omdat hulle nodig het om te glo? As hulle moet toegee dat ’n onpersoonlike kosmos sonder God te eensaam is, en sonder doel en betekenis? As hulle moet erken dat hulle glo omdat hulle hoop dit waarin hulle glo is waar, al kan hulle niks onteenseglik bewys nie?

Is dit nie waar dat die gelowige en die ateïs en al die grade van gelowige en ongelowige tussen in almal maar net mense is wat dit deur nog ’n dag en nag probeer maak nie?

Wat help dit om onredelik te wees? Wie baat daarby?

______________________