DERTIEN MINUTE OP ‘n SATERDAGAAND

Deur 13 - 09 - 2003

Gaan sit by die spieëltafel. Sit die beker Med Lemon op ‘n coaster neer. Trek ‘n stompie uit die metaaldingetjie in die asbak wat ek gemaak het om sigarette in dood te druk. Vou my regterbeen oor my linkerbeen. Tel die beker op en blaas oor die inhoud. Fluister-sing “I’m in hell without you!” Blaas weer twee of drie keer. Slurp. Haal die tweede laaste sigaret uit die pakkie Nat Sherman Naturals, vat die geel lighter, en steek die sigaret op. Blaas die rook uit. Blaas bubbles. Verplaas die sigaret na my linkerhand, vat die beker, blaas oor die inhoud. Slurp twee of drie slukke. Sit die beker neer. Verplaas die sigaret na my regterhand. Trek aan die sigaret. Gooi my kop agteroor en blaas die rook uit. Blaas bubbles. Kyk na my poster van Lenin. Tip die as af in die bakkie. Streel aan my regtervoet. Blaas bubbles. Verplaas die sigaret na my linkerhand. Tel die beker op, blaas oor die inhoud, slurp twee of drie keer. Sit die beker neer. Snuif. Draai my voet anti-kloksgewys in sirkulêre bewegings. Sit terug. Verplaas die sigaret na my regterhand. Trek aan die sigaret. Blaas uit. Blaas bubbles. Streel my voet. Kyk na die Koreaanse poster onder Lenin waarop staan, “Deconstructing Toward Creation”. Trek weer aan die sigaret. Blaas uit. Blaas bubbles. Sluk. Stamp my enkel met my handpalm. Verplaas die sigaret na my linkerhand. Tel die beker op, blaas een keer, slurp twee of drie keer. Sit die beker neer. Blaas bubbles. Kyk na die beeldjie wat ek veronderstel van Confucius is. Verplaas die sigaret na my regterhand. Tip die as af. Trek aan die sigaret. Blaas uit. Blaas bubbles. Streel my voet. Wieg vorentoe en agtertoe. Sê hardop, “Ek dink elke dag aan die dood. Daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie aan die dood dink nie. Charmain sê dit die ander dag vir my, toe lag ek vir haar.” Verplaas die sigaret oor na my linkerhand. Wil ‘n bubble blaas, maar trek dan aan die sigaret. Blaas uit. Blaas bubbles. Tel die beker op, blaas, slurp; slurp weer, sit die beker neer. Verplaas weer die sigaret. Probeer die as liggies afvee aan die metaaldingetjie in die asbak. Tip dan die as af. Sit vorentoe. Tik my voet ritmies op ‘n afwesige wysie. Trek weer aan die sigaret. Blaas uit. Streel weer my voet. Snuif. Sluk. Skuif die sigaret dieper tussen my vingers in, vat die beker aan die oor, vat ‘n sluk. Vat nog ‘n groot sluk. Sit die beker neer. Plaas die sigaret oor na my linkerhand. Sit terug. Wieg heen en weer. Trek aan die sigaret. Blaas uit. Blaas bubbles. Tel die beker op, vat twee slukke, en sit weer die beker neer. Snuif. Blaas bubbles. Tip die as in die asbakkie. Steek my groottoon in die lug op. Beweeg my tone. Vat die laaste… tweede laaste trek van die sigaret. Blaas uit. Tel die beker op en vat ‘n sluk. Sit die beker neer. Krap aan my kop. Breek ‘n wind. Blaas ‘n bubble. Vat die laaste trek van die sigaret. Blaas die rook uit. Druk die sigaret dood in die metaaldingetjie. Vat nog ‘n sluk van my Med Lemon. Stoot my voete in die blou plastieksandale in. Staan op. Stap af na die studeerkamer. Druk die space bar. Gaan sit. Kliek twee keer op die Microsoft Word-icon. Wag tot ‘n dokument getiteld “Document1” op die skerm verskyn. Kliek op die Maximize-knoppie. Plaas my vingers oor die keyboard en tik: “Dertien Minute op ‘n Saterdagaand.”

(Saterdagaand, 13 September 2003)

___________

Hierdie inskrywing dateer: 13 - 09 - 2003 om 22:56 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.