Die sondes van die BRON word besoek …

DINSDAG 16 NOVEMBER 2004

Die mens ontvang die inligting wat aan hom ’n aanvanklike aanduiding gee van wie en wat hy is of veronderstel is om te wees – die boustene waarmee identiteit saamgestel word – van ’n BRON, of dan verskeie “agente” van die BRON.

My vraag is, wat as die BRON om verskeie redes gebrekkig is, of bederf? (Wat sou dit beteken om ’n bron bederf te noem?)

Ook, wat is die doel van die BRON? Is dit nie om die mens in staat te stel om te funksioneer in ’n partikulêre plek en tyd nie? Dan moet die BRON sekerlik volgens hierdie doel beoordeel word.

Wanneer is ’n BRON bederf? Hoeveel mense se programmering en funksionering moet gebrekkig wees tot ’n groot mate as gevolg van die BRON voordat die BRON as fataal bederf geag kan word?

As ’n primêre doel van die BRON is om mense in staat te stel om ’n goeie idee te ontwikkel van wie en wat hulle is en funksionering moontlik te maak, wat is die primêre doel van die mens se bestaan? Om identiteit te bewerkstellig en suksesvol te funksioneer? Wat is “suksesvolle funksionering”? Oorlewing? Ek glo nie.

Ek glo as die BRON bederf is, verlaag dit die waarskynlikheid dat mense hul ware einddoel sal verwesenlik. ’n BRON wat bederf is, is soos ’n kanker wat geïdentifiseer en uitgesny moet word om die liggaam ’n kans te gee om te oorleef.

[Ek het ’n verwysing in die laaste paragraaf na “ware einddoel” laat deurglip. Is daar so iets? Is dit verder moontlik dat ’n “bederfde BRON” steeds kan lei tot ’n goeie lewe wat ’n goeie doel dien, juis as gevolg van die lewensreis waarop ’n persoon geforseer is deur die “bederfde BRON”?]

______________________

Waarheid en woordeskat

SATERDAG 13 NOVEMBER 2004

Waarheid en woordeskat (I)

Wie is jy dan indien wie jy is in reaksie tot jou omgewing en wie jy is ten einde suksesvol te funksioneer in ’n bepaalde tyd en omgewing net ’n deel van jou “storie” is? Wat is dan, by wyse van spreke, jou volle storie? En hoeveel beter en meer volledig sou jou antwoord kon wees op hierdie vraag indien jy ’n duisend tale vlot kon praat?

SONDAG 14 NOVEMBER 2004

Waarheid en woordeskat (II)

Feit is, 5 000 jaar gelede het ons voorouers oor ’n woordeskat beskik van, sê, min of meer 5 000 woorde om uitdrukking te gee aan die ervaring van hul werklikheid, en aan hulle bewussyns-van-self. Hulle bewoording van “waarheid” was dus ook beperk tot min of meer 5 000 woorde.

Nou se dae het ons die voordeel van sê, tien tot rofweg 60 000 woorde om uitdrukking te gee aan die werklikheid, of werklikhede, wat ons beleef, en aan ons bewussyns-van-self – meer werkwoorde, bywoorde, byvoeglike naamwoorde, frases, ensovoorts. Ons “waarhede”, insluitende ons religieuse oortuigings, kan derhalwe ook in meer detail en in meer subtiele skakerings bewoord word.

Mens wonder tog, hoe sou dit die individu se ervaring van die werklikheid beïnvloed indien hy of sy die spreker was van ’n taal wat ’n miljoen woorde bevat het, en indien hy of sy met gemak tien of twintig keer meer woorde geken en gereeld gebruik het as die gemiddelde opgevoede persoon wat vandag se strate bewandel?

Feit is: “god” is ’n woord. So is “mens” en “siel” en “self” en “lewe” en “dood”. Wat lê agter hierdie woorde, wat nie (tans) in woorde uitgedruk kan word nie?

[Die webblad, King James Bible Online, dui aan dat daar amper 15 000 unieke woorde in die Bybel voorkom. Volgens Wikipedia lys The Oxford English Dictionary meer as 250 000 unieke woorde, uitgesluit vele tegniese, wetenskaplike en slang terme.]

______________________

Seksuele begeerte, sosiale verskynings, en die gepaardgaande beskouing van die self

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2004

22:22

Ek het nou net ’n telefoniese gesprek gehad met ’n vriendin, en het enkele van my mees onlangse gedagtes met haar gedeel (oor verskyning, begeerte, verleentheid, mislukking, selfbeskouing, ensovoorts).

Na die oproep dink ek daaraan dat ek moontlik gesê het mense moet eerder selibaat wees. Ek dink nie ek het heeltemal bedoel om te sê selibaatheid is beter as om ’n aktiewe sekslewe te hê nie. Ek wou net aandag vestig op die moontlikheid dat ’n verandering in seksuele begeerte, of seksuele gedrag, of verwagting, jou sosiale verskyning fundamenteel sal beïnvloed, en daarmee saam jou beskouing van jouself, en van ander mense.

22:47

Dit was dan ook so dat ek ’n sensasie ervaar het wat ek as spyt kan beskryf dat ek daai opinies met haar gedeel het.

Haar reaksie het my laat dink sy was omgeboul, en beïndruk deur die “diepheid” daarvan, maar dat sy ook gevoel het asof sy uit haar gemaksone is – en derhalwe haar verskyning moes staak om haar waardigheid te red.

Nodeloos om te sê was ek bewus van die moontlikheid dat ek weereens daarin geslaag het om iemand te vervreem met my sogenaamde insigte.

My lewe, my stryd.

22:53

Sê ek dan mense moet ophou om met mekaar te meng en een-een die woestyn instap, of dan hulle eie privaat woestyne, om te verhoed dat hulle mekaar per ongeluk raakloop?

Nie noodwendig nie.

Al wat ek sê is dat alleenheid, en eensaamheid, mý boom sodanig bevrug het dat dit unieke vrugte opgelewer het.

VRYDAG 12 NOVEMBER 2004

’n Oorsigtelike studie van Europese en Oosterse beskawings openbaar ’n antieke tradisie van mans en vrouens wat hulself afsonder van die res van die samelewing. Die feit dat jy van sommige van hierdie mans en vrouens sal hoor, of sal lees van hulle, impliseer dat hulle afsondering gelei het tot bogemiddelde insigte oor die lewe, en/of dat hulle aksies onderneem het na periodes van afsondering wat hul name verewig het in die anale van die geskiedenis van die mensdom.

______________________

Geagte 18 tot 35-jarige leser …

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2004

Geagte 18 tot 35-jarige leser, jou opsies as werkende volwassene is as volg:

1. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien.

2. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien, en wat genotvol is om te doen.

3. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien, en wat aan jou die indruk gee dat jy ’n waardevolle rol speel in die breë gemeenskap (nie net in die werksplek waar jy jou inkomste verdien nie).

4. Vind ’n werksgeleentheid wat jou van voldoende inkomste voorsien, en wat strook met jou kritiese selfbeskouing – ontwikkel na jy jou Gegewe Self gekonfronteer het, en jou Gekose Self gedefinieer het.

(Nommer vier is meer ingewikkeld. Beroep, of enige werk waarmee mens geld verdien, moet gekies word en word soms benodig lank voor die persoon ’n meer gesofistikeerde idee het van wie hy of sy is anders as, “My naam is Sannie of Koos; ek is gebore in Dorp A of Stad B; ek hou van dit of dat; dit of dat verveel my; dit of dat maak my kwaad; my pa en ma en susters en broers en oupas en oumas en ooms en tannies en neefs en niggies en vriende is sus en so; ek wil eendag in ’n drie of vier of tien slaapkamer huis of woonstel woon in Dorp Y of Stad X; ek wil ’n Porsche of donkiekar of Datsun bakkie ry, en ek wil trou en een of twee of sewe kinders hê.”)

______________________

Stilte. En stemme.

WOENSDAG 10 NOVEMBER 2004

22:59

Ek het geleer dat om nie te verskyn nie, beteken stilte. En dat stilte, indien jy dit kan hanteer, goed is.

23:57

Toe ek jonger was, het dit gevoel asof ek iets verkeerd doen as ek “te veel” tyd op my eie spandeer. Wat nie verbasend is nie, want van jongs af word dit ontmoedig; “Jy moet meer uitkom,” “Spandeer bietjie tyd saam met ander mense,” “Dis nie goed om so alleen te wees die heeltyd nie!” sal mense gereeld hulle goed bedoelde menings uitspreek.

Dit vat soms jare van alleenwees voordat jy alternatiewe insigte kry oor hierdie aangeleentheid, soos dat sosiale verskynings – wat terloops baie meer persoonlike informasie vereis as anonieme verskynings, en selfs verskynings in professionele kapasiteit – baie “geraas” beteken. En hierdie geraas maak stemme stil wat baie mense vrees – en miskien in sommige gevalle nodig het om te vrees.

Hierdie “stemme”, indien jy lank genoeg jou “ore” spits, en lank genoeg nadink oor wat jy “hoor”, openbaar uiteindelik insigte wat net beskore is vir dié wat bereid is om te luister, en wat bereid is om die lugweë skoon te hou ter bevordering van hierdie proses.

———–

[Vele mense in die geskiedenis van die wêreld het al “stemme” gehoor, en gereageer daarop deur aksies te neem wat die rigting van duisende, selfs miljoene mense se lewens beïnvloed het, en steeds doen.

Daar is ook vele mense wat nooit enige tasbare impak sal maak op hulle omgewings nie, wat ook stemme hoor elke dag. Die feit dat baie van hulle in inrigtings opgesluit is, of opgesluit gaan word, spreek van hoe hierdie figure bejeën word deur die gemeenskap – ongeag of dit regverdigbaar is of nie.

Watse “stemme” hoor ek? Hoewel die term ’n handige een is om te gebruik, moet ek noem dat ek nie (meeste van die tyd, in elk geval) werklik stemme hoor nie. Die tye waarna ek verwys wanneer ek kwansuis iets “hoor”, is eerder tye waar my eie stem die lugweë vul soos ek met myself in diepe gesprek verkeer. Dat my self-gesprekke ongeïnhibeerd is – ek probeer niemand beïndruk in ’n sosiale verskyning nie, om een voorbeeld te noem – beteken dat ek die spreekwoordelike tafel vol kaarte kan gooi. Hierdie “kaarte” is moontlike antwoorde op vrae, moontlike oplossings vir probleme waarmee ek gereeld myself teister ongeag of ek op my eie is, anonieme verskynings maak, of as “Brand Smit” verskyn aan die gemeenskap. As hierdie kaarte eers op die tafel is, kan die geldigheid van elkeen op meriete oorweeg word. Geen antwoord of oplossing word uiteindelik blindelings aanvaar omdat een of ander stem dit vir my gedikteer het nie.]

______________________