Bleekbaard doen sy wiskunde

VRYDAG 13 JUNIE 2003

Die vraag van die dag: Oortref my ambisies my finansiële vermoëns? Antwoord: Nie solank ek in Taiwan bly nie.

’n Mens beweeg in die rigting van somme maak. Jy sê: Goed, ek is nou so oud, en ek het al dit en dat gedoen. Ek besit ’n eierklitser en ’n nice asdrom. My gesondheid is sus en so, en ek het nog soveel jare oor voor ek veertig strike, of vyftig.

Jy kyk ook na wat jy nié het nie. Jy kyk na dit wat jy nie besit nie – miskien ’n huis, of ’n karavaan, of ’n mikrogolfoond; dinge wat nog altyd buite jou finansiële bereik was. En jy kyk na wat jy nog nie gedoen het nie, en wat om redes wat net jý kan verduidelik vir jou belangrik is om te doen. Hierdie laaste punt is die een wat ek vir die oomblik wil aanspreek.

Die ding is, mens raak by die jaar ouer, en jy begin dink aan versekering vir die eendag wat een of ander tyd gaan aanbreek as jy … gelukkig is. En die groot vraag, wat mens probeer ontduik tot jy besef jy kan dit nie langer ignoreer nie, is of jy ten minste ’n bietjie van die lewe geniet het terwyl jy opsoek was na al die stukke van die legkaart, al die antwoorde, al die naamplaatjies wat jy wou hang om ervarings, en insidente, en begeertes.

In die beantwoording van hierdie vraag sukkel ’n mens gewoonlik om te lieg – die waarheid neig om selfs van onder die donkerste sonbril weerspieël te word.

Ek het gekies om die naamplaatjie van “Dinge Wat Ek Rêrig Geniet Om Te Doen” te hang om reiservarings. Die lekkerte van om die eerste keer op ’n plek aan te kom, en foto’s van jouself te neem op plekke wat jy voorheen nog net op flieks of CNN gesien het. Dit dra die tipe gewig wat ek op die ander kant van die skaal wil gooi wat ouderdom so laat oorhel.

Daar is ander dinge ook, maar dit behels meestal emosies wat soms handuit ruk. Om ’n gesin te hê – om getroud te wees en kinders te kry … is ook ’n aangename gedagte. Maar dis iets wat hierdie hele bespreking baie meer kompleks sal maak, en wat op sy eie nuwe onsekerheid bring.

’n Ander gedagte druis soms my grysstof binne ten spyte van edel weerstand: Is die odds heeltemal teen ons gelaai in hierdie lewe? Of gaan die lewe nie oor wiskunde en wetenskap nie? Is dit, soos wat ek vir ’n paar jaar al vermoed, ’n stryd wat jy wen solank jy staande bly?

______________________