My lewe op die trein

DONDERDAG 1 JULIE 2021

Ek het jare gelede met myself ’n ooreenkoms aangegaan. Soos ’n wese van die buitenste ruim wat hier gelos is deur sy ruimteskip, of soos ’n persoon gestrand op ’n verlate eiland, sal ek die beste maak van my tyd: Ek sal aantekeninge maak oor die ervaring.

VRYDAG 16 JULIE 2021

Feit is, aan die einde keer alles terug tot stof. Meeste kunswerke, meeste meesterstukke van literatuur, beeldhouwerk, argitektuur, musiek, skoonheid en wysheid. En mense, en diere.

En ek sê dit as iemand wat glo dit maak meer sin om optimisties te wees, om te glo jou lewe het waarde en betekenis.

[15/06/22: Stof, in die digitale era waar alles vir altyd onthou en gestoor word? Fisies sal mense en diere, en gedrukte materiaal en geboue en skilderye uiteindelik oplos in die niet, maar oudio- en video-opnames en digitale kopieë en bloudrukke sal voortbestaan. Steeds, jy is meer as ’n versameling foto’s of videogrepe of klankopnames. En sodra ’n gebou gesloop is, sal die bloudruk nie meer ’n plek wees om in te woon nie, of steeds ’n warm of koel en aangename ruimte bied om in te rus of te werk nie.]

DINSDAG 7 SEPTEMBER 2021

Die menslike toestand is soos ’n wegholtrein wat onstuitbaar op pad is na ’n krans wat uitkyk oor ’n stormagtige see [dalk was daar voorheen ’n brug wat intussen weggespoel het].

Jou lewe is om ’n passasier op hierdie trein te wees.

Die trein sál die krans bereik. Dit kan nie gestop word nie. Die einde kan nie vermy word nie.

Maar – dit kan jare neem.

Intussen gaan die lewe voort op die trein. Mense het sosiale omgang, maak nuwe vriende en ontmoet lewensmaats. Hulle paar en maak kinders groot. Soms is hulle hartseer, en soms gelukkig. Meeste vind tot ’n mate doel en betekenis in hul lewens.

Maar steeds gaan die trein voort na sy onvermydelike einde.

Hoe jy op hierdie realiteit reageer, het ’n groot impak op jou lewenskwaliteit, en op die impak wat jy het op die lewens van ander passasiers op hierdie trein.

———-

(Vir jare al dink ek aan die 1985-film, Runaway Train, met Jon Voight en Eric Roberts, as ’n metafoor vir die lewe. Die beeld van die Voight-karakter wat teen die einde van die film voor op die trein staan, wetende dat dit afstuur op ’n rotsagtige dooiepunt, het ’n groot indruk gemaak.)

Runaway Train

______________________