Het ek die rooi pil gesluk, of is ek steeds redelik?

[Die “rooi pil” en die teenoorgestelde, die “blou pil”, is populêre kulturele idees – metafore wat die keuse verteenwoordig tussen kennis, vryheid en die brutale waarhede van die werklikheid (rooi pil), en veiligheid, geluk en die gelukkige onkunde van illusie (blou pil).]

MAANDAG 18 JUNIE 2018

Ek verstaan hoekom mense, veral jong mans, wil migreer oor die Mediterreense See na Europa.

Ek verstaan ook hoekom vele Europese mense die massa-migrasie sien as ’n aanslag op hulle leefwyse, welsyn, taal en kultuur – en hoekom hulle bereid is om terug te stoot.

DINSDAG 17 JULIE 2018

(Geïnspireer deur die artikel, Devastation and Denial: Cambodia and the Academic Left”.)

(1)

’n Bepaalde politieke groep beweer iets is besig om te gebeur. Net omdat jy gekant is teen die groep se politiek, is nie te sê dat dit nié besig is om te gebeur nie.

Een voorbeeld: Konserwatiewe, pro-Vrye Mark, pro-kapitalisme politici, veral dié wat in posisies van mag is, het enige geleentheid aangegryp tydens die Koue Oorlog (1945-1990) om te argumenteer dat kommunisme ’n euwel was. (Hulle het ook die gewoonte gehad om hul eie kant se ongeregtighede te ignoreer.) In 1975-1979 het hulle gepraat van honderd-duisende mense wat reeds vermoor is en wat besig was om te sterf van honger en onmenslike behandeling aan die hande van die radikaal kommunistiese Khmer Rouge in Kambodja. Van hulle politieke teenstanders aan die linkerkant het hulle geïgnoreer, met tragiese gevolge. Hierdie mense het vasgeklou aan hul eie ideologiese posisies in stede daarvan om krities te kyk na verslae oor wat aan die gang was in Kambodja. ’n Mens kry die idee dat ooggetuie-verslae ongerieflik was vir hulle, en in stede daarvan om hul eie navorsing te doen, het hulle eerder besluit om die verslae te verwerp, en selfs te kritiseer.

(2)

Net omdat jy kan wys op een geval waar iemand wat aan die teenoorstaande pool van jou op die politieke spektrum is, verkeerd was met tragiese gevolge, is nie te sê hulle is verkeerd op ander posisies wat hulle inneem nie.

Een voorbeeld: Malcolm Caldwell, ’n Britse Marxis, was krities oor Amerikaanse imperialisme en die buitelandse beleid van ander Westerse moondhede in die 1960’s en 1970’s. Hy was ook ’n ondersteuner van die Khmer Rouge – tot hy vermoor is in sy hotelkamer in die hoofstad van Kambodja, Phnom Penh, in 1978. Die feit dat hy verkeerd was oor die Khmer Rouge, beteken egter nie dat hy verkeerd was in sy kritiek oor Amerika en ander Westerse moondhede se aksies en beleid in daai dekades nie.

SONDAG 22 JULIE 2018

00:40

Ek het vanoggend (Saterdag) ’n gesprek op TV gekyk met ’n vrou wat ’n voorstander is van die term “theybies” in stede van “babies”. Die idee is om nie die jong kind te programmeer met een of ander geslag voordat die kind nie ’n kans gehad het om self ’n geslag te kies nie. (Volgens nbcnews.com: “to shield them from gender stereotypes”).

Dink ek: Hoekom stop by geslag? Dis immers slegs een van vele faktore wat uiteindelik bepaal wie en wat jy is, en hoe jy aan jouself dink. Hoekom Engels praat met die kind? Hoekom nie die kind in gelyke grade blootstel aan ’n dosyn tale, en die kind ’n kans gee om self ’n taal te kies nie? So ook met kultuur. Die Amerikaanse ouers van ’n jong kind behoort dan nooit melding te maak van baseball en hot dogs en Independence Day of enige ander aspek van Amerikaanse kultuur in daai eerste paar jare van die kind se ontwikkeling nie. Wat van as die kind kultureel Portugees wil wees, of Russies, of Taiwannees? Dan het daai ouers mos die kind groot skade aangedoen om hom/haar/X te programmeer met ’n kultuur wat die kind nie gekies het nie. Selfde met sosio-ekonomiese elemente van hulle grootwordjare. Hoe durf die ouers net die kind blootstel aan middelklaskultuur? Moet die kind nie ook in gelyke mate blootgestel word aan ten minste werkersklaskultuur, en artistiek-boheems nie? En indien die kind hoofsaaklik blootgestel word aan artistiek-boheems, hoe durf die ouers? Wat van as die kind uiteindelik besef hy/sy/X is petite bourgeois?

11:20

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante met talente en uitstaande vermoëns.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante met positiewe karaktereienskappe.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante wat verdraagsaam en oopkop is.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante wat iets sal bydrae tot hulle gemeenskap.

Wat mense nie wil hê nie, is méér rommel in die straat. (Die land se eie burgers skep reeds genoeg rommel.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg kriminele. (Daar’s reeds genoeg kriminele onder hulle medelandsburgers.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg onverdraagsaamheid. (Daar’s reeds genoeg onverdraagsaamheid onder hul eie landsburgers.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg bendes jong mans wat kwaad is vir mense wat hulle verantwoordelik hou vir hulle eie ellende. (Daar is reeds genoeg bendes nihilistiese jong landsburgers wat gemeenskappe versuur.)

* * *

Ons Suid-Afrikaanse Engelse onderwysers in Taiwan is soos mense van Meksiko en ander lande in Sentraal-Amerika wat Amerika toe wil gaan op soek na ’n beter lewe. Taiwan is ons Amerika. Ons kom hier aan met ’n toeriste visum, wetende dat ons werk gaan soek, en indien ons werk kry, heel waarskynlik hier sal bly vir jare lank. Ons hoop ook op ’n “green card” (APRC plus persoonlike werkspermit) wat ons sal toelaat om wettiglik permanent hier te woon en te werk.

______________________