Goeie mense programmeer soms sleg

SATERDAG 20 OKTOBER 2018

Oor die idee van bloudrukke wat mens ontvang van jou ouers (sien Desember 2017 se “Die opgradering van my finansiële intelligensie” en “Om my bloudrukke te konfronteer – en reg te stel”):

1. My bloudruk was nie mislukking nie, dit was sukkel.

2. Soos enige stel aktiewe oortuigings, is hierdie storie van die bloudruk nie net ’n faktor in jou kinderjare nie. As jy aanhou bevestig aan jouself dat “dit” eenvoudig is soos dit is, behou die bloudruk sy houvas op jou. Dit is inderdaad soos godsdienstige oortuigings wat jy nie ontgroei nie. Solank jy aanhou om te glo iets is waar, aanhou om sekere “waarhede” te sien in jou lewe, gaan dit vir jou wáár bly, ongeag hoe oud jy is. [20/11/18: As almal hulle bloudrukke ontgroei het, sou geen volwassenes meer volgelinge gewees het van die godsdiens waaraan hul ouers hulle blootgestel het as kinders nie.]

3. Ek het ’n nuwe bloudruk: Ek, Brand Smit, hoef nie te sukkel nie. Dat ek vir jare geglo het dit is hoe dit moet wees, was ’n fout. My ouers het nooit bedoel om my hierdie spesifieke les te leer nie. Sekere dinge het gebeur, maar ek was nooit bedoel om dit te internaliseer as die Heilige Waarheid nie.

WOENSDAG 24 OKTOBER 2018

Ek is tussen ’n rots en ’n harde plek. Ek het dit ’n gewoonte gemaak die laaste paar dekades om diep in my siel te soek vir allerhande geheime, vir allerhande interessante dinge wat maak dat ek is wie en wat ek is, en doen wat ek doen.

So het ek die afgelope jaar begin dink aan die programmering wat ek ontvang het as kind wat betref verwagtinge oor die volwasse lewe, en meer spesifiek oor geld. Wat ek ontdek het, is dat ek ’n paar lesse ontvang het wat die waarskynlikheid van uiteindelike finansiële sukses korter gemaak het as wat dit dalk kon wees. (Dinge soos dat my lewe deel was van ’n kosmiese spel tussen Goed en Kwaad, en dat ek beperkte beheer gehad het oor my eie sukses, of dat my eie sukses onderhewig was aan hierdie kosmiese spel – as die Kosmiese Spelmeester dit nodig gevind het dat ek ’n volslae mislukking moes wees, was daar nie veel wat ek daaraan kon doen nie.)

Die probleem? Meeste van die lesse het ek geleer by my geliefde ouers.

Hier’s die rots: Ek wil graag dieper grawe, om myself beter te verstaan, en te verstaan wat ek moet verander om beter te kan doen in die toekoms. En die harde plek: Ek mag dalk nog dinge ontdek wat my ouers in ’n slegte lig plaas.

’n Moontlike konklusie: My ouers is net gewone mense. Natuurlik het hulle foute gemaak, soos ook húlle ouers foute gemaak het, en hulle ouers se ouers voor húlle, ensovoorts. Wat belangrik is, is dat hierdie “verkeerde lesse”, hierdie “foutiewe programmering”, bedoel was om te help – en dit kón, as die wêreld anders uitgewerk het.

As ek dus dieper grawe, ontdek ek dalk foute wat my ouers gemaak het, maar al wat dit ontbloot, is dat hulle net gewone mense is wat hulle bes probeer het. Dit is ’n gevolgtrekking waarmee ek, en ek glo my ouers, gelukkig kan wees.

______________________