SATERDAG 9 DESEMBER 2017
Ons TV het uiteindelik die gees gegee, so ek het begin om ’n uur of so se vermaak te soek tydens aandete op Netflix – wat ons kan kyk op die rekenaar. So herontdek ek toe Ricky Gervais en Stephen Merchant se produksie, An Idiot Abroad met Karl Pilkington as die idioot in die titel.
Vir mense wat nooit die program gevolg het nie: Karl Pilkington was ’n vervaardiger op ’n radio-program van Gervais en Merchant, nadat die twee sukses behaal het met die reeks, The Office. Pilkington het bekendheid verwerf nadat hy ’n paar keer genader is vir sy kommentaar op die radio-program. Sy unieke beskouing van die lewe en sy eerlike opinies het ’n populêre deel van die program geword. Uiteindelik het Gervais en Merchant met die idee vorendag gekom om hulle eertydse vervaardiger die aanbieder te maak van ’n reis-program. Pilkington, wat bekend was daarvoor dat hy geen entoesiasme het vir vreemde lande en internasionale reise nie, moes die Sewe Wonders van die Wêreld besoek, met ’n paar ekstra take en ontberinge bygegooi vir die vermaak van die twee vervaardigers, en natuurlik miljoene TV-kykers.
Elke episode van The Idiot Abroad begin met Gervais en Merchant wat vir Pilkington verduidelik waarheen hy volgende gaan reis. Hulle wys gewoonlik vir hom ’n foto van die besienswaardigheid, en wag dan dat hy, altyd in groot erns en opregtheid, begin om opmerkings te maak oor sy komende reis. Gervais gaan gewoonlik histeries aan die lag wanneer Pilkington begin praat, en sal wat Karl gesê het selfs herhaal aan sy vennoot Stephen Merchant, net vir in geval Merchant nie mooi verstaan het hoe snaaks dit is nie.
Ek dink toe, daai situasie lyk vir my alte bekend. My ouer suster reageer gereeld op presies dieselfde wyse op sommige dinge wat ek kwytraak. Sy sal histeries aan die lag gaan, en dan vertaal sodat haar Britse eggenoot wat nie te goed Afrikaans verstaan nie, ook kan deel in die lagfees. Toe tref dit my: My suster dink aan my as haar “idiot brother” – wat toevallig “abroad” woon.
Dit herinner my toe aan die keer toe ek vir ’n langnaweek Hong Kong toe is, ’n paar maande nadat ek in Taiwan aangekom het. My suster wou vir ’n paar vriendinne gaan kuier wat op ’n stadium saam met haar in Londen gewerk het, en het gedink dit sal gaaf wees as ek haar daar kan ontmoet. So gaan ons toe uit die een dag saam met haar vriendinne. Ek het myself heel skaflik gedra die hele middag, en nie te veel te sê gehad nie. Na aandete gaan sit ons toe almal by ’n buitelug kuierplek om iets te drink. Ek is toe seker al moeg my mond gehou, en begin toe om my amateur psigoanalise te verwoord oor van die ander kliënte in ons omtrek. Siende dat my intellek toe “aan” was, het ek opgemerk dat my suster al hoe meer onrustig raak, met ’n gespanne kyk elke nou en dan in die rigting van haar vriendinne.
Ek besef toe ek is besig om “eienaardig” te wees soos sy maar alte goed weet ek kan wees, maar wat sy seker gehoop het ek op hok sal hou terwyl ek saam met haar en haar kollegas sosialiseer. Ek druk toe nietemin deur met my analises en voorspellings van hoe ek dink die res van die aand gaan verloop vir die mense by een tafel. Soos ek vermoed het, het ek uiteindelik die aand bietjie opgekikker vir my suster en haar vriendinne – wat seker uitgepraat geraak het oor werk en die goeie ou dae in Londen.
So twee jaar na die Hong Kong episode, het my suster die man ontmoet met wie sy sou trou. Die eerste paar kere wat ek by hulle aan huis was nadat hulle hulself in Suid-Afrika gevestig het, het ek myself seker goed gedra, want dit was eers tydens die laaste paar besoeke wat ek weer bewus geraak het daarvan dat my suster blykbaar dink ek is snaaks, veral wanneer ek nie probeer wees nie.
Ag nou ja, ek kyk weereens na die blink kant: Ten minste lok my uitlatings so nou en dan ’n semi-histeriese reaksie uit, al is dit meer uit verligting dat ek nie die persoon in die verleentheid stel nie as wat dit regtig vermaaklik is.
______________________