Die gesplete persoonlikheid van die regering in Taipei

MAANDAG 17 OKTOBER 2022

Op 10 Oktober 1911 begin ’n reeks opstande wat oor die volgende paar maande lei tot die val van die Qing Dinastie, en die geboorte van die Republiek van China. Na ’n dekade van geweld en politieke toutrekkery was die Chinese Nasionalistiese Party onder leiding van Chiang Kai-shek in beheer van die republikeinse regering.

Die eiland van Formosa is ongeveer 200 kilometer van die Chinese kus. Die eiland is regeer deur Qing China tussen 1683 en 1895, toe dit afgestaan is aan Japan. Enkele weke na Japan se oorgawe in 1945 arriveer ’n handvol amptenare van die Republiek van China in die noorde van Taiwan met ’n Verenigde Nasies mandaat om die eiland te administreer tot ’n finale vredesverdrag onderteken is met Japan.

In sy gesaghebbende verslag van die periode, Formosa Betrayed, vertel George H. Kerr dat die amptenare van die Chinese republiek Taiwan (of die eiland van Formosa) gesien het as ’n winkel met luukshede wat so vinnig as moontlik geplunder moes word. Fabrieke is afgebreek en Sjanghai toe verskeep. Meubels, ornamente, fietse, geld, juweliersware en enige iets anders wat gelyk het asof dit waarde kon hê, is geplunder en geroof óf deur regeringsamptenare, óf deur soldate wat ingebring is om die plaaslike bevolking te terroriseer.

Teen die begin van 1949 was dit duidelik dat die republikeinse regering, toe gebaseer in Chengdu in suidwestelike China, die burgeroorlog gaan verloor teen Mao Zedong se Kommuniste. Tussen Januarie en Desember 1949 word meeste van die republikeinse politici en instansies, heelwat kulturele skatte asook finansiële hulpbronne onder beheer van die Republiek van China verskuif na die eiland van Formosa.

Die ses miljoen inwoners van Taiwan is nie geraadpleeg oor hierdie oorname van hulle eiland deur die Nasionaliste nie. Vir die volgende vier dekades is die bevolking se klagtes oor alles van die ontkenning van menseregte tot die korrupte onteiening van eiendom brutaal stilgemaak.

Teen die begin van die 1990’s het genoeg van die Burgeroorlog-era politici uitgesterf, en ondersteuners van die idee dat die regering in Taipei uiteindelik weer mag sal oorneem in Kontinentale China, het al hoe minder geraak. In 1996 is die eerste Taiwan-gebore persoon gekies as president van … die “Republiek van China”, want om dit te noem wat dit werklik was – die Republiek van Taiwan, was ’n kontroversie wat die missiele sou laat waai oor die Seestraat van Taiwan.

Op 10 Oktober 2022 vier ’n paar honderdduisend mense in Taiwan aktief die herdenking van die stigting van die Republiek van China (miljoene het natuurlik die vakansiedag geniet sonder om enige politieke waarde daaraan te heg). Ook die president van die “Republiek van China”, Tsai Ing-wen, het die dag plegtig gevier met ’n toespraak. Hoewel sy verwys het na Taiwan as die “Republiek van China”, het meeste van die toespraak gehandel oor die eiland van Taiwan.

In ’n toespraak op 4 Augustus 2022 in reaksie op lewendige-vuur-oefeninge deur die Chinese vloot en leër rondom Taiwan, het sy verwys na die bedreiging vir “our nation’s sovereignty”. Die vraag bly staan: Van watter nasie praat sy? Taiwan? China? As sy praat van die eiland van Taiwan met omliggende kleiner eilande onder Taipei se administrasie, en die 24 miljoen Taiwannese (en ander langtermyn bewoners), hoekom dan enigsins die stigting vier van die Republiek van China – wat vir alle praktiese doeleindes ’n ontbinde oorblyfsel is van Chinese geskiedenis? Ek verstaan dat die regering in Beijing dreig om oorlog te maak die oomblik as Taipei amptelik onafhanklikheid verklaar, maar is dit voldoende rede om steeds plegtig partytjie te hou op 10 Oktober elke jaar?

Dis duidelik dat om te kan onderskei tussen die amptelike onafhanklikheid van Taiwan en de facto onafhanklikheid ’n les vereis in politieke dubbel-spraak. Maar dat die regering in Taipei steeds die vlag gebruik van die verloorders van die Chinese Burgeroorlog, die vlag van die plunderaars van Taiwan en die onderdrukkers van vryheid en menswaardigheid, en steeds na sewe dekades aktief die stigting van ’n staat vier wat lankal nie meer bestaan nie, is soms moeilik om te begryp.

Vlag van die Republiek van China, 1912-1928, voor dit vervang is deur die regering van Chiang Kai-Shek met die vlag hieronder
Die vlag van die Republiek van China, 1928-1949, waarna dit as die vlag van die ROC op Taiwan gedien het

* * *

Die onafhanklikheidstrewe van miljoene Taiwannese (nie almal nie, maar ’n groot proporsie van die volwasse bevolking) is te verstane. Selfs in die sewentiende, agtiende en negentiende eeue was Taiwan slegs ’n nagedagte vir die Qing regering in Beijing. Toe vir vyftig jaar was die eiland deel van Japan, en vir die laaste sewentig jaar is dit apart regeer van Kontinentale China. Geslagte Taiwannese is al gebore en het hulle volwasse lewens gelei tot rype ouderdom in die daaglikse realiteit dat die eiland apart regeer word van China.

Aan die ander kant verstaan ek ook Groter China ondersteuners se argument, wat reken die meerderheid van die bevolking van Taiwan is deel van dieselfde etniese familie as die grootste deel van die bevolking van Kontinentale China. Taal en kulturele wortels word ook gedeel. Duisende families in Taiwan het familielede in China wat hulle gereeld besoek.

Ek verstaan ook dat die regering in die Volksrepubliek van China ’n argument het vir hereniging. Hulle sien hulleself as die erfgename van Chinese geskiedenis, met die verantwoordelikheid teenoor die voor- en nageslagte van die Chinese bevolking om heel te maak wat gebreek is teen die einde van die Qing Era.

Of die Volksrepubliek ’n wettige argument kan maak oor jurisdiksie oor Taiwan, vereis ’n diep duik in die troebel waters van verdrae geteken na die Tweede Wêreldoorlog tussen Japan en Amerika, en tussen Japan en die Republiek van China. Dit was byvoorbeeld nêrens uitgespel aan wie Taiwan behoort nadat Japan beheer afgestaan het oor die eilande nie.

Argumente tersyde, wat soms irriteer is die gesplete persoonlikheid van die regering in Taipei. Ek het waardering vir die netelige probleem dat indien onafhanklikheid amptelik uitgeroep word, die regering in Beijing nie veel van ’n keuse sal hê anders as om hulle dekades-lange dreigemente uit te voer nie. Die Taipei regering loop nietemin ’n fyn lyn. Paspoorte word deesdae uitgereik met “Taiwan” in groot Romeinse letters, en “Republiek van China” slegs in Chinese karakters. Stellings word gemaak oor Taiwan se onafhanklikheid, maar onder die naam, “Republiek van China”. Sê President Tsai Ying-wen in ’n onderhoud met die BBC nadat sy verkies is in 2020: “We don’t have a need to declare ourselves an independent state. We are an independent country already and we call ourselves the Republic of China (Taiwan).”

Taiwan paspoort

As Taiwan werklik onafhanklik was, sou die president nie eerder na haar land verwys het as die Republiek van Taiwan nie? En hoeveel maak dit saak dat slegs veertien lande in die wêreld Taiwan amptelik beskou as onafhanklik en sy nie ’n lid is van die Verenigde Nasies nie? Meeste lande handhaaf wel diplomatieke kantore in Taipei, maar meeste van die kantore word nie gesien as amptelik ambassades nie, in eerbied vir die Volksrepubliek wat Taiwan beskou as ’n provinsie van China.

Feit van die saak is, daar is drie akteurs in hierdie toneelspel: Die groep wat hulle beywer vir Taiwannese onafhanklikheid, wat redelike sterk argumente maak; die regering in Beijing (en ondersteuners van hereniging in Taiwan), wat ook punte maak wat nie uit die hand verwerp kan word nie; en dan is daar die regering in Taipei wat amptelik die Een China beleid huldig, maar ook nie aansprake maak daarop dat hulle die wettige regering is van Groter China nie, en – ten minste die laaste twee of drie jaar – ook aanspraak maak daarop dat Taiwan onafhanklik is, maar onder die vaandel van die Republiek van China. Kan enige iemand blameer word daarvoor as hulle verward is?

* * *

Wat sien ek as ’n eerliker situasie as die huidige geskuifel nader aan die afgrond? Ek reken: ’n Koeler verhouding met Amerika – ’n onbetroubare “vriend” in die beste van tye; ’n warmer verhouding met Beijing – al is dit met ’n regering oorheers deur ’n politieke party wat nie deur die Chinese bevolking aangestel is nie, en nie deur die Chinese bevolking verwyder kan word nie behalwe deur ekstreme geweld; en toenemend minder klem op die simbole van, en minder verwysing na, die uitgediende oorblyfsel van die geskiedenis, die Republiek van China.

Naïef en onrealisties? Is seker.

———————-

’n Paar handige skakels:

https://en.wikipedia.org/wiki/Theory_of_the_Undetermined_Status_of_Taiwan: “In 1950 […] United States President Harry S. Truman said that […] ‘the determination of the future status of Formosa must await the restoration of security in the Pacific, a peace settlement with Japan, or consideration by the United Nations.’ This statement of Truman is generally regarded as the origin of the Theory of the Undetermined Status of Taiwan. In 1951, Japan concluded the Treaty of San Francisco with the Allied Powers. It renounced all right, title and claim to Taiwan and the Pescadores without explicitly stating the sovereignty status of the two territories.”

https://en.wikipedia.org/wiki/Treaty_of_San_Francisco: “President Ma expressed that the Treaty of Taipei has voided the Treaty of Shimonoseki”

https://en.wikipedia.org/wiki/Treaty_of_Taipei: “Article 4: It is recognized that all treaties, conventions and agreements concluded before December 9, 1941, between China and Japan have become null and void as a consequence of the war.”

https://en.wikipedia.org/wiki/Taiwan_independence_movement: “The governments of the People’s Republic of China (PRC) and the Republic of China (ROC) oppose Taiwanese independence since they believe that Taiwan and mainland China comprise two portions of a single country’s territory. For the ROC, such a move would be considered a violation of its constitution.”

https://en.wikipedia.org/wiki/Political_status_of_Taiwan: Kyk spesifiek na die seksies oor “Arguments for the Republic of China and/or People’s Republic of China sovereignty claims” en “Arguments for Taiwanese self-sovereignty claims and its legal status”

———————-

Die geboorte van die Republiek van China word gevier op 10 Oktober, en 1911 word gesien as die eerste jaar van die Republikeinse Era. Tog is die Republiek van China nie gestig op 10 Oktober 1911 nie. ’n Vinnige tydlyn:

1894-1895: Oorlog tussen China en Japan

1899-1901: Bokseropstand

14 November 1908: Keiser Guangxu sterf; een dag later sterf sy tannie, die invloedryke Keiserin-weduwee en regentes Cixi (die vermoede is sterk dat sy haar susterskind laat vergiftig het)

2 Desember 1908: Aisin-Gioro Puyi, die tweejarige seun van die Mantsjoe Prins Chun, word gekroon as die Xuantong Keiser, die laaste van die Qing Ryk

10 Oktober 1911: Die Wuchang Opstand lei tot ’n reeks opstande orals oor China

November 1911: veertien van vyftien provinsies in China verwerp die Qing regering

1 Januarie 1912: Die Republiek van China word gestig

12 Februarie 1912: Keiserin-weduwee Longyu teken die Dekreet van Abdikasie namens die nou sesjaaroue Puyi. Daarmee eindig meer as 2 000 jaar van imperiale regering in China.

Keiserin-weduwee en regentes Cixi; die Xuantong Keiser, beter bekend as Puyi; Generalissimo Chiang Kai-shek

______________________

Wat ek nodig gehad het in Februarie 2004

DINSDAG 4 OKTOBER 2022

Ek hersien die Februarie 2004 stukke, “Raad oor kom of bly”, “Slaaf aan die woord” en “Oor vriende, en ander persoonlike redes”. Dis onaangenaam om te lees. Ek het ’n intense begeerte gehad om “huis” toe te gaan (“huis” in aanhalingstekens, want hoekom was Taiwan nie huis nie?). Dit kan simplisties geargumenteer word dat ek bang was om die stap te neem na vyf jaar in Taiwan waar ek vir myself ’n gemaklike lewe en tuiste geskep het. Ek het egter ’n sterk vermoede gehad dat dit ’n verkeerde stap vir my sou gewees het. Ek het gevoel ’n konvensionele lewe met ’n 40-uur per week werk en salaris en huis in ’n voorstad was iets wat nie vir my sou werk nie, selfs al kon ek al die onderdele bymekaar sit. Ek kan sê dat ek nie spesiaal was nie, en indien miljoene van my tydgenote dit onder die knie kon kry en geluk kon vind in so ’n lewe, ek dit sekerlik ook kon doen. Feit van die saak is, mense verskil. Een man word ’n professionele soldaat en sy ou pêl van kinderdae word ’n hoërskool Rekeningkunde onderwyser. Hoekom word albei nie professionele soldate nie? Hoekom nie albei onderwysers nie? Mense verskil.

Die man agter sy rekenaar vroeg in 2004

VRYDAG 7 OKTOBER 2022

Die stukke van begin Februarie 2004 is … vreemd om nou te lees. Die situasie was dat ek voor die einde van die eerste week van Februarie genoodsaak was om te gaan vir ’n mediese ondersoek as vereiste om my werkspermit te verleng. Ek was ook desperaat om Taiwan te verlaat, en om terug te gaan Suid-Afrika toe (dit was nie noodwendig dat die eerste aksie tot die tweede moes lei nie). Ek het geweet as ek nie die mediese toets betyds doen nie, my werkspermit nie hernu sou kon word nie, en dan sou my verblyfspermit nie hernu kon word nie. Ek sou dan geen keuse gehad het anders as om Taiwan te verlaat nie. Die kersie op die koek was dat ek altyd opgesien het daarteen om die medies te gaan doen. Al wat ek dus moes doen om my sin te kon kry – om Taiwan te verlaat, en waarskynlik terug te gaan Suid-Afrika toe – was om nié iets te doen nie waarteen ek in elk geval voorheen geskop het.

Aan die ander kant het die herinneringe bly spook van die vorige keer toe ek in Noordoos-Asië was, met ’n werk en ’n inkomste en ’n blyplek, en ek wat besluit het dat ek eenvoudig ’n skuif moes maak – so gou as moontlik.

As ek die verkeerde besluit maak, so het ek geweet, sou ek dalk vir jare daarvoor betaal het.

Vanaf Maandag 22 Desember 2003 se “Die laaste ballingskap” tot en met die paar paragrawe getiteld, “11 Februarie 2004”, is ’n stukkie persoonlike geskiedenis van ék wat meestal met myself argumenteer.

WOENSDAG 12 OKTOBER 2022

00:57

Die moontlike opheffing van my ballingskap in Februarie 2004 was ’n volslae fokop. Aan die een kant het ek druk op myself geplaas: “As jy wil voel jy behoort êrens, moet jy jou lewe agterlaat wat jy opgebou het in Taiwan, en teruggaan Suid-Afrika toe. Sodoende kan jy braaivleis en poeding saam met jou ouers en jou susters geniet so gereeld as wat jy wil.” En van die ander kant af ’n vermaning: “Jy’t nou al soveel stukke geskryf oor huis toe gaan. As jy nie nou oorgaan tot aksie nie, gaan niemand jou meer glo as jy enige iets sê nie.”

Met ’n persoonlikheid soos myne, plus die regte sielkundige drukpunte, het jy skynbaar nie veel vyande nodig nie.

12:36

Ek skryf in die stuk, “En die antwoord is dus …”: “Die produk [wat ek gepoog het om aan myself te verkoop] is een wat ek nodig het. Dis die pil wat ek moet sluk om te kan voortgaan met my lewe.”

Die implikasie, as jy die stuk lees, is dat die produk is om my lewe in Taiwan op te pak en terug te gaan Suid-Afrika toe – om nader aan my familie te wees, en te voel ek is in ’n plek waar ek behoort.

Kyk ek terug na amper twee dekades, wil ek ’n beter interpretasie waag: Wat ek werklik nodig gehad, was ’n oortuiging dat ek behoort het waar ek myself bevind het op daai oomblik van my lewe – hetsy Taiwan, Suid-Afrika, of enige ander plek in die wêreld. Ek het nodig gehad om oortuig te wees dat waar ek ook al was, reg was vir my – of in sterker terme, dat ek op ’n plek was waar ek veronderstel was om te wees. In Februarie 2004 het ek geglo dat daai plek nié Kaohsiung in die suide van Taiwan was nie, maar eerder in die provinsie in Suid-Afrika waar my ouers en jonger suster op daai stadium gewoon het.

Wat ek nodig gehad het, was om ’n sin te ontwikkel dat Taiwan wél reg was vir my. Maar meer as dit – dat ’n mens kán behoort op ’n plek ver van waar jy gebore en groot geword het, net soos jy verlore kan voel op die einste plek waar jy eerste wortel geskiet het.

______________________

Ek skryf om te oorleef

SATERDAG 6 AUGUSTUS 2022

Skryfwerk is gebed/Om te skryf, is om te bid.

(Wanneer ek skryf, glo ek iemand sal dit lees. Wanneer miljoene mense bid, glo hulle iemand sal dit hoor.)

MAANDAG 3 OKTOBER 2022

Ek vertaal die laaste van die Persoonlike Agenda stukke wat ek nie tien jaar gelede vertaal het nie. Dit bring my weer in noue kontak met vraagstukke waarmee ek twintig jaar gelede geworstel het: Wat moet ek doen met my lewe? Watse tipe volwasse lewe wil, of moet, ek vir myself ontwikkel? En: Moet ek Taiwan verlaat op Donderdag 4 Maart 2004?

Om ure elke dag te kon spandeer aan skryfprojekte was ’n belangrike oorweging in my besluitnemingsproses. Dit was ’n belangrike faktor in 2001 toe ek idees ontwikkel het oor watse tipe volwasse lewe ek wou lei, en dit was ’n belangrike oorweging toe ek in die laaste maande van 2003 en die eerste twee maande van 2004 moes besluit of ek sak en pak wou teruggaan Suid-Afrika toe.

Soos ek oor die laaste dekade gewerk het aan die publikasie van my skryfwerk, het ek gewonder hoekom ek nooit méér geskryf het nie. Mens hoor soms van sogenaamde “prolific writers” wat dosyne romans, etlike kortverhaalbundels, artikels, gedigte, en sommer ’n paar toneelstukke ook geskryf het. My gemiddeld die laaste tien tot vyftien jaar was ongeveer 20 000 woorde per jaar (dan tel ek nou nie stukke wat ek beskou as onpubliseerbaar nie).

As ek egter kyk na maande soos September 2003 en Februarie 2004, sien ek dat ek soveel in daai maande geskryf het as wat ek later sou geskryf het oor ’n hele jaar. Hoe werk dit?! En hoekom kon ek nie dit volhou nie?

Feit is, ek skryf net as ek iets het om te sê. As ek nie spesifiek iets wil sê nie, is daar geen inspirasie nie.

Ek het ook in die Februarie 2004 stuk, “Slaaf aan die woord”, geskryf: “Ek glo vas ek sal in ’n bodemlose depressie verval as ek minder begin skryf.” Ek het ook menigmaal oor die jare verwys daarna dat ek op my gelukkigste is wanneer ek besig is om te werk aan een of ander stuk skryfwerk. Soos die maande September 2003 en Februarie 2004 duidelik moes maak, is skryfwerk ’n meganisme wat my help om te oorleef. Dis hoekom ek nog nooit veel moeite gedoen het om my skryfwerk te bemark nie, en hoekom ek nog nooit veel moeite gedoen het om munt te probeer slaan daaruit nie.

Om te skryf help my om sin te maak van dinge. En dit was nog altyd ’n goeie manier om oplossings vir dilemmas uit te werk in die afwesigheid van mense met wie ek kon praat oor sekere sake, of met wie ek dinge kon bespreek soveel as wat ek nodig geag het.

Om op te som: Ek skryf net wanneer ek nodig het om te skryf. Ek skryf om te oorleef.

____________________