DINSDAG 4 OKTOBER 2022
Ek hersien die Februarie 2004 stukke, “Raad oor kom of bly”, “Slaaf aan die woord” en “Oor vriende, en ander persoonlike redes”. Dis onaangenaam om te lees. Ek het ’n intense begeerte gehad om “huis” toe te gaan (“huis” in aanhalingstekens, want hoekom was Taiwan nie huis nie?). Dit kan simplisties geargumenteer word dat ek bang was om die stap te neem na vyf jaar in Taiwan waar ek vir myself ’n gemaklike lewe en tuiste geskep het. Ek het egter ’n sterk vermoede gehad dat dit ’n verkeerde stap vir my sou gewees het. Ek het gevoel ’n konvensionele lewe met ’n 40-uur per week werk en salaris en huis in ’n voorstad was iets wat nie vir my sou werk nie, selfs al kon ek al die onderdele bymekaar sit. Ek kan sê dat ek nie spesiaal was nie, en indien miljoene van my tydgenote dit onder die knie kon kry en geluk kon vind in so ’n lewe, ek dit sekerlik ook kon doen. Feit van die saak is, mense verskil. Een man word ’n professionele soldaat en sy ou pêl van kinderdae word ’n hoërskool Rekeningkunde onderwyser. Hoekom word albei nie professionele soldate nie? Hoekom nie albei onderwysers nie? Mense verskil.
VRYDAG 7 OKTOBER 2022
Die stukke van begin Februarie 2004 is … vreemd om nou te lees. Die situasie was dat ek voor die einde van die eerste week van Februarie genoodsaak was om te gaan vir ’n mediese ondersoek as vereiste om my werkspermit te verleng. Ek was ook desperaat om Taiwan te verlaat, en om terug te gaan Suid-Afrika toe (dit was nie noodwendig dat die eerste aksie tot die tweede moes lei nie). Ek het geweet as ek nie die mediese toets betyds doen nie, my werkspermit nie hernu sou kon word nie, en dan sou my verblyfspermit nie hernu kon word nie. Ek sou dan geen keuse gehad het anders as om Taiwan te verlaat nie. Die kersie op die koek was dat ek altyd opgesien het daarteen om die medies te gaan doen. Al wat ek dus moes doen om my sin te kon kry – om Taiwan te verlaat, en waarskynlik terug te gaan Suid-Afrika toe – was om nié iets te doen nie waarteen ek in elk geval voorheen geskop het.
Aan die ander kant het die herinneringe bly spook van die vorige keer toe ek in Noordoos-Asië was, met ’n werk en ’n inkomste en ’n blyplek, en ek wat besluit het dat ek eenvoudig ’n skuif moes maak – so gou as moontlik.
As ek die verkeerde besluit maak, so het ek geweet, sou ek dalk vir jare daarvoor betaal het.
Vanaf Maandag 22 Desember 2003 se “Die laaste ballingskap” tot en met die paar paragrawe getiteld, “11 Februarie 2004”, is ’n stukkie persoonlike geskiedenis van ék wat meestal met myself argumenteer.
WOENSDAG 12 OKTOBER 2022
00:57
Die moontlike opheffing van my ballingskap in Februarie 2004 was ’n volslae fokop. Aan die een kant het ek druk op myself geplaas: “As jy wil voel jy behoort êrens, moet jy jou lewe agterlaat wat jy opgebou het in Taiwan, en teruggaan Suid-Afrika toe. Sodoende kan jy braaivleis en poeding saam met jou ouers en jou susters geniet so gereeld as wat jy wil.” En van die ander kant af ’n vermaning: “Jy’t nou al soveel stukke geskryf oor huis toe gaan. As jy nie nou oorgaan tot aksie nie, gaan niemand jou meer glo as jy enige iets sê nie.”
Met ’n persoonlikheid soos myne, plus die regte sielkundige drukpunte, het jy skynbaar nie veel vyande nodig nie.
12:36
Ek skryf in die stuk, “En die antwoord is dus …”: “Die produk [wat ek gepoog het om aan myself te verkoop] is een wat ek nodig het. Dis die pil wat ek moet sluk om te kan voortgaan met my lewe.”
Die implikasie, as jy die stuk lees, is dat die produk is om my lewe in Taiwan op te pak en terug te gaan Suid-Afrika toe – om nader aan my familie te wees, en te voel ek is in ’n plek waar ek behoort.
Kyk ek terug na amper twee dekades, wil ek ’n beter interpretasie waag: Wat ek werklik nodig gehad, was ’n oortuiging dat ek behoort het waar ek myself bevind het op daai oomblik van my lewe – hetsy Taiwan, Suid-Afrika, of enige ander plek in die wêreld. Ek het nodig gehad om oortuig te wees dat waar ek ook al was, reg was vir my – of in sterker terme, dat ek op ’n plek was waar ek veronderstel was om te wees. In Februarie 2004 het ek geglo dat daai plek nié Kaohsiung in die suide van Taiwan was nie, maar eerder in die provinsie in Suid-Afrika waar my ouers en jonger suster op daai stadium gewoon het.
Wat ek nodig gehad het, was om ’n sin te ontwikkel dat Taiwan wél reg was vir my. Maar meer as dit – dat ’n mens kán behoort op ’n plek ver van waar jy gebore en groot geword het, net soos jy verlore kan voel op die einste plek waar jy eerste wortel geskiet het.
______________________