’n Kort geskiedenis van moderne Suid-Afrika

VRYDAG 11 JANUARIE 2019

Hier volg ’n kort geskiedenis van moderne Suid-Afrika: Vir ’n lang tyd het wit mense gedink hulle is beter as swart mense, en so opgetree. Meeste swart mense het hierdie optrede waargeneem, en tot die konklusie gekom dat, as die wit mense dink hulle is beter as swart mense, en so optree, is hulle seker beter. Derhalwe het meeste swart mense gedoen wat wit mense vir hulle gesê het om te doen, en opgetree soos wit mense hulle voorgeskryf het.

’n Minderheid van swart mense het egter nie geval vir hierdie storie dat wit mense beter is as swart mense nie. Ook hierdie oortuiging het duidelik geblyk uit die wyse hoe húlle opgetree het. Ander swart mense het dit ook opgelet, en na hierdie mense gekyk as leiers wat dalk vir hulle ’n beter situasie kan bewerkstellig. Wit mense het dit ook gesien, die mense bejeën as bedreigings, en hulle gearresteer, aangekla van wette wat die wit mense geskryf het om hulleself te beskerm en hulle beter posisies in die samelewing te verskans, en – indien die mense nie in die middel van die nag die land verlaat en in ballingskap gegaan het nie – hulle opgesluit vir dekades lank. Toe ’n nuwe generasie nuwe leiers opgelewer het wat ook nie wou val vir die storie dat wit mense beter was as swart mense nie, was hulle lewens ook verontrief: wat hulle kon sê en waarheen hulle kon reis, was byvoorbeeld hewig ingeperk. Indien hulle steeds nie wou luister nie, is hulle eenvoudig doodgemaak.

En so het die moderne geskiedenis van Suid-Afrika voortgegaan deur die jare sewentig, en die jare tagtig, tot politieke verwikkelinge in ander wêrelddele druk op die wit regering geplaas het om radikale veranderings te maak, en die druk van meer en meer swart en bruin mense wat nie meer geglo het wit mense is beter as hulle nie, ook te veel geraak het. Teen die middel negentien-negentigs het ’n nuwe bedeling aan bewind gekom. Aan die hoof van hierdie bedeling was talle van die mans en vrouens van dekades tevore wat tóé al nie geval het vir die wit mense se oortuiging dat hulle beter was as swart mense nie.

* * *

Dit bring ons by vandag. Ek lees op News24 dat rassisme hoogty vier in die Noordwes dorp van Schweizer-Reneke. Een van die onderwysers by ’n laerskool het ’n foto geneem van ’n groepie kinders in ’n klaskamer op die eerste dag van skool. Die foto wys dat ’n paar swart kinders op hul eie by ’n tafel sit, en die wit kinders by ander tafels. Die foto het soos veldbrand versprei op sosiale media. Daar was proteste, ten minste een skorsing, en wydskaalse woede oor wat gesien is as ’n terugkeer na apartheid. [’n Latere verduideliking is gegee dat die kinders wat op hul eie gesit het, nie Engels of Afrikaans kon praat nie, en dat hulle gehelp moes word deur ’n tolk.] [Sien ook die onderhoud met ’n pa van een van die swart kinders in die foto.]

’n Onderwyser van ’n ander skool in die dorp het aan die joernalis gesê dat rassisme nooit sal eindig in die dorp nie, veral nie onder wit mense nie. “We don’t know democracy here,” sê die onderwyser. “Whites think they are superior [to] everyone here.” Die berig spesifiseer nie die ras van die onderwyser nie. Indien die persoon wit is, wonder ek: Is dit ’n uitdrukking van sy of haar eie gevoel jeens ander bevolkingsgroepe? Indien die persoon swart is, hoe weet hy of sy wat die wit mense (in die meervoud) dink?

’n Paar weke gelede lees ek Elaine Hilides se verduideliking van die Drie Beginsels van Sydney Banks. Sy skryf onder meer: “We create our reality moment by moment via thought and then we experience that reality via feeling. We are always, 100%, feeling our thinking. It can look like it’s our circumstances that are causing our feeling, but we are only ever feeling our thinking about our circumstances.”

Die onderwyser in Schweizer-Reneke het verder gegaan in sy of haar gesprek met die joernalis: “They [die witmense] own everything in this town including public schools. This primary school is an example of their behaviour and hatred toward black children.”

* * *

Die storie van wit oorheersing in Suid-Afrika en die onderdrukking van veral swart mense, is ’n storie van een groep mense, wat in die minderheid was, wat ’n betekenisvolle persentasie van ’n groter groep mense oortuig het hulle is beter as die meerderheidsgroep, en dat die meerderheid dit maar net so moet aanvaar. Low and behold, it worked! ’n Kritiese persentasie van die meerderheidsgroep het geval daarvoor!

Nou, in ’n nuwe eeu, en ’n nuwe Suid-Afrika, is hulle kinders en kleinkinders en ander nasate woedend dat wit mense vir so lank weggekom het daarmee. Hulle dring nou aan daarop dat dinge “reggestel” moet word – grond moet weggevat word van die wit groep, en meestal vir lede van die swart groep gegee word. Honderde-duisende werksgeleenthede en duisende besigheidsgeleenthede moet gereserveer word vir lede van die groepe wat voorheen uitgesluit is. Daar word selfs gepraat van wit mense wat nou versigtiger moet wees hoe hulle praat met swart mense, om te verhoed dat laasgenoemde nóg kwater raak.

Gaan dit werk? Gaan alles beter raak oor die volgende paar dekades? Dalk dink vele wit mense nog steeds hulle is beter as swart mense. Uit die aard van die saak is dit absurd om ’n algemene stelling te maak dat jou groep beter is as ’n ander groep, siende dat Persoon X hoogstens beter kan wees as Persoon Y in sekere aspekte van hulle persoon, of vermoëns. Dink vele swart mense diep in hulle binneste steeds dat wit mense eintlik beter is as hulle? Wie kan sê?

* * *

Wat sal mens dan sê van rassisme, van wit mense wat swart mense dinge toesnou, van wit sokkertoeskouers wat piesangskille gooi op die sokkerveld om ’n swart speler uit te lok?

Verbeel jouself die volgende situasie: Iemand kry ’n onsmaaklike trek op sy gesig, lig sy vinger in jou rigting, en sê:

“Na-na-na-na-na! Jy kan tog nie ’n soufflé bak nie!”

Enigste probleem vir hierdie grapjas is dat jy nie enige ambisies of pretensies het om ’n soufflé te kan bak nie. Hy blaf letterlik by die verkeerde boom op. Jy reageer nietemin.

“Wat het jy gesê?”

“Ek het gesê, na-na-na-na-na …”

“Ja, oukei,” sal jy hom stilmaak, “ek het daai deel gevang. En dan?”

“Jy kan tog nie ’n soufflé bak nie …”

Verbeel jouself nog iets. Een ongeskikte sokkertoeskouer het skielik een dag ’n probleem met sy sig, en sien mense donkerder as wat hulle werklik is (sonder dat hy dit besef). Hy sien ’n swart speler na aan die sitplekke verby draf, en gooi ’n piesangskil op die veld. Om sy punt in te vryf, maak hy ook aapgeluide, en hy spring rond en swaai sy arms.

Wat die toeskouer egter nie besef nie, is dat die speler Hans Christiansen van Swede is – heel waarskynlik die witste speler in die span. Hy sien die piesangskil, en hy sien die man langs die veld wat van een been na die ander spring, met sy arms wat hy bokant sy kop waai. Sal Mnr. Christiansen beledig voel? Dis onwaarskynlik. Hoekom? Vele mense sal uitwys dat hy niks daarvan sal dink nie, omdat daar geen geskiedenis is van wit toeskouers wat wit spelers uittart deur na hulle te verwys as ape nie. Sekerlik sal dit ook help dat hy nie aan homself dink as ’n aap nie. Die belediging sal platval. Die belediger sal absurd voorkom.

Wat gebeur egter wanneer so ’n ongekultiveerde persoon probeer om ’n swart speler uit te lok en te beledig? Die owerhede en die media gaan berserk. Die arme swart speler, sal hulle sê.

Wat sal gebeur as een na die ander swart speler dit moet afmaak as skadelose absurde gedrag – dat hulle immers nie aan hulleself dink as primate nie; dat die koggelry en bedoelde belediging soos water van ’n eend se rug afrol?

Die ou wat my probeer koggel met die feit dat ek nie ’n soufflé kan bak nie, se belediging gaan net werk as ek ’n bietjie van ’n obsessie daaroor het dat ek nie ’n soufflé kan bak nie. Hoe ék dink oor die soufflé besigheid sal inderdaad aan die koggelende ene die mag gee om my te koggel. As ek geen ambisie het om ’n soufflé te kan bak nie, en geen gevoel daaroor het dat ek dit nie kan doen nie, gaan die persoon se pogings so vinnig platval soos ’n poeding met vrot eiers.

Ek weet ek was nog nooit ’n swart sokkerspeler nie, en ek het nog nooit gevoel hoe dit voel as iemand my koggel dat ek minder van ’n mens is as hy nie. Ek het egter ’n sterk vermoede dat min, indien enige, swart atlete soos ape voel. So wie gee dan aan die belaglike een langs die veld die idee dat sy koggelry ’n effek gaan hê?

Dieselfde kan gesê word wanneer ’n wit Suid-Afrikaner op film vasgelê word dat hulle iets kwytraak oor ’n swart Suid-Afrikaner. As daai swart persoon ’n positiewe siening van hom- of haarself het, en die wit ene gaan aan soos ’n besetene met ’n rooi gesig – wie is werklik die een wat ’n aap van hom- of haarself maak?

Ek reken, in stede daarvan om vir almal te sê wat hulle nie mag sê nie, en om te dink aan nuwe maniere om mense te straf wat ander mense sleg oor hulleself laat voel, hoekom nie eerder ’n bietjie meer aandag gee aan hoe mense aan hulleself dink en oor hulleself voel nie?

Daar is sterk aanduidings dat daar steeds mense is wat glo dat hulle beter, of slimmer is as mense wat ’n rooier of bruiner of swarter of geler vel as hulle eie pienk skakering het, en dat hulle derhalwe verdien om beter behandel te word, en voorgetrek moet word as dit kom by geleenthede en toegang tot hulpbronne. Ek reken, as jy voel jy het geen ander manier om jou eie sin van waarde op te bou anders as om ander mense se waardigheid af te breek nie, het jy ’n probleem, en jy kan gerus jouself en almal om jou ’n guns doen deur aspekte van jou persoonlikheid krities onder oë te neem. Maar dit is ook nodig om by te voeg dat indien jy van jou kop af gaan elke keer as iemand onvriendelik is met jou, of plein ongeskik, of doelbewus probeer om jou uit te tart of aanstoot te gee, moet jy dalk begin werk aan jou persepsie van jouself.

______________________

Max du Preez se gevaarlike voorneme

VRYDAG 4 JANUARIE 2019

Vandat ek my eerste Vrye Weekblad gekoop het in die vroeë negentien-negentigs, het ek respek gehad vir Max du Preez. Ek het nog altyd gedink hy is konsekwent in sy beginsels. Hy laat homself ook nooit intimideer deur die magte van die dag nie – en veral in die laat-tagtigs en vroeë negentigs was daar menige pogings om hom te intimideer, of selfs uit die weg te ruim. Na 1994 is hy aanvanklik beloon vir sy bydrae tot die stryd om ’n demokratiese bestel in Suid-Afrika aan bewind te bring, maar dit was nie lank voor sy opinies weer die dominante politieke groepering verkeerd begin opvryf het nie. In die laaste meer as twee dekades het hy voortgegaan om boeke te skryf, en artikels en meningstukke op die internet, steeds geanker in dieselfde beginsels wat hom dertig jaar gelede gedryf het om die Vrye Weekblad te begin. Veral sy meningstukke is soms genadeloos krities. Een van die stukke wat die meeste opspraak gewek het, was sy stuk oor hoe Zuma op ’n een-man missie blyk te wees om Suid-Afrika te vernietig. Soos verwag kon word, het die stuk hom ’n selfs groter vyand gemaak van sommige politici as wat hy reeds was.

Max se nuutste rubriek vir News24 steek my egter dwars in die krop. Hy verwys in die stuk na twee insidente waarin hy onlangs betrokke was. Die eerste was toe hy ’n bottel wyn wou koop in ’n winkel in ’n dorp op die Tuinroete. Een van die twee kassiere was besig met ’n gesprek op haar selfoon; die ander een het hom geïgnoreer. Toe hy haar na ’n paar minute vra of hy maar kan betaal, was haar reaksie dat sy nog besig is met ’n ander klant, en gewys na ’n persoon wat by die deur gestaan en gesels het met die sekuriteitswag oor misdaad in die dorp. Nadat hy nog ’n paar minute gewag het, het hy die klant by die ingang genader en haar gevra of sy asseblief haar transaksie kan afhandel – hy is op ’n geel lyn geparkeer. Sy het haarself onmiddellik vervies, hom arrogant genoem, en hom gevra wanneer “you people” gaan besef hulle is nie meer die baas nie.

Max gee toe dat die situasie hom kwaai in die verleentheid gestel het omdat hy gewoonlik die persoon is wat ingryp wanneer ’n wit persoon ongeskik is met ’n swart werknemer in ’n winkel. Hy erken ook dat hy geïrriteerd was met homself omdat hy weet hy sou met aansienlik meer selfvertroue aangedring het daarop dat die ander klant haar transaksie afhandel indien sy blank was.

Hy vertel ook van ’n insident by ’n vulstasie toe ’n ander motoris amper in hom in gejaag het toe hy by die vulstasie uittrek. Hy het sy kar effens teruggetrek, en volgens hom beleefd aan die ander motoris gewys dat hy maar kan voortgaan. Die ander motoris het egter uitgespring, en vir Max gekonfronteer. “Watse gebaar was dit?” het die motoris gevra, vir Max uitgeskel as ’n rassis, en hom gedreig met geweld.

Max reken dat daar ’n groot waarskynlikheid is dat die twee mense ongeskiktheid en rassisme verwag van wit mense vanweë ervaringe in die verlede. Hy kom tot die konklusie dat hy derhalwe hulle bereidwilligheid om hom te konfronteer moet respekteer eerder as om aanstoot te neem.

Hy noem dan dat hy van vaste voorneme is om van nou af meer beskeie en vriendeliker voor te kom wanneer hy interaksie het met swart landsburgers, en ekstra beleefd en ekstra versigtig. Hy wonder of dit nie rassisties en oneerlik sal wees om swart mense anders te hanteer as wit mense nie, maar besluit dan dat dit eenvoudig die realiteit is in Suid-Afrika vandag – dat vele Suid-Afrikaners steeds worstel met die rassekwessie.

Later in die stuk skryf hy ook dat hy gevoel het dat dit onvanpas sal wees vir hom as wit persoon om sy opinie uit die spreek in die openbaar oor die slag van ’n skaap op ’n strand in Clifton.

Mens kry die idee dat Max inderdaad worstel met die korrekte formule vir hoe ’n wit mens moet optree in Suid-Afrika amper drie dekades na die einde van Apartheid. Hy erken dat dit nie goed sal wees as almal katvoet loop om die kwessie van ras nie. Hy reken verder dat hy nie een van die “good whites” is wat glo wit mense moet hulle bekke hou en nie deelneem aan openbare debat nie. Hy spreek wel sy oortuiging uit dat wit mense ’n verantwoordelikheid het om meer respekvol te wees en hulle woorde fyner te kies wanneer dit by hierdie sake kom. Hy hoop dat sy agterkleinkinders, indien hulle wit is, vrygestel sal wees van hierdie las.

Ek moet erken dat ek ietwat uit die veld geslaan is. Dit is oor die algemeen ’n goeie idee om respekvol te wees teenoor enige iemand wat respekvol is teenoor my, om enige persoon wat ek teëkom met beleefdheid te hanteer, en om nie iemand anders te behandel net omdat hulle ’n ander velkleur het, of van ’n ander etniese groep is nie. En vir die rekord: Ek is bereid om eerste beleefd te wees, om eerste te groet, en om eerste vriendelik te wees. Indien die ander persoon positief reageer, goed so. Indien nie, is dit daai persoon se saak. (Ook vir die rekord moet ek noem dat dit nie goed sal uitwerk vir my om nié vriendelik en beleefd te wees teenoor ander rasse nie, siende dat ek een van slegs ’n paar duisend bleekvelle is wat woon en werk tussen 23 miljoen Taiwannese en mense van ander etnisiteite.)

Uit die veld geslaan is ek egter, want hoe lank reken Max dat wit mense in Suid-Afrika ekstra vriendelik en beleefd, en ekstra versigtig moet wees voor dit verwag sal word van hulle? Hoe lank voordat ’n swart ou ’n wit ou ’n klap gaan gee omdat hy nie beskeie genoeg was op straat, of in ’n staatskantoor nie, of nie ekstra versigtig of beleefd nie? Hoe lank voor so ’n persoon sy aksie sal regverdig met die idee dat wit mense teen daai tyd behoort te weet hoe hulle die rassekwessie moet “hanteer” in Suid-Afrika? (En sal hy verbaas wees oor die ondersteuning van bystanders wat sal saamstem met sy optrede?) Hoe lank voor ’n swart leerling kla by sy ouers dat sy wit onderwyser nie beskeie genoeg was in die klaskamer nie, of nie vriendelik en beleefd genoeg was nie, of nie versigtig genoeg was toe die onderwyser die swart leerling berispe het nie? Hoe lank dink Max sal dit wees voor die ouers van swart leerlinge vereis dat wit onderwysers “versigtiger” moet wees hoe hulle swart leerlinge hanteer? En hoe lank voor iemand die idee gaan kry dat bruin en Indiër Suid-Afrikaners immers nie soveel swaargekry het onder Apartheid as swart Suid-Afrikaners nie, en dat dit dalk goed sal wees indien ook húlle meer beskeie en vriendeliker optree wanneer hulle interaksie het met swart landsburgers, en ekstra beleefd en ekstra versigtig? Laastens, watse tipe mens sal verwag dat jy vriendeliker moet wees met hom of haar as met landsburgers van ’n ander velkleur? Watse tipe mens sal verwag dat jy meer beskeie moet wees, meer beleefd, en versigtiger met jou woorde as met iemand van ’n ander etnisiteit? Is dit die tipe wêreld waarin Max du Preez wil leef, en waar hy wil hê sy kinders en kleinkinders, en dalk selfs agterkleinkinders moet leef?

In die artikel, “The Fear of White Power”, verwys Remi Adekoya na ’n gesprek wat hy gehad het met ’n swart vriend in Londen oor ’n swart kollega van die vriend. (Ek noem die ras van die mense omdat dit relevant is, en omdat die skrywer dit self genoem het.) Die kollega was blykbaar vinnig om die rassekaart te speel toe hy gestop is deur ’n polisieman nadat hy ’n verkeersreël oortree het. “Why did you stop me?” het die kollega vir die polisieman gevra. “Is it because you saw a black man driving an expensive car?” Die polisieman was dadelik verdedigend, en het iets gemompel dat dit niks met ras te doen het nie. Hy gee toe net vir die bestuurder ’n waarskuwing. Die bestuurder se vriend wat saam met hom in die kar was, vra toe vir hom waarom hy ras opgebring het as hy geweet het hy was verkeerd. “Dude,” kom die reaksie toe, “when in a tough spot with a white person, bring up racism and there’s a 99 percent chance they’ll get defensive and back down.”

Die skrywer van die artikel vertel hoe die gesprek met sy vriend verder verloop het. Hy deel toe sy mening met sy vriend dat hulle swart intellektuele moet aanvat wat “rassisme” roep vir strategiese redes, en wat politieke korrektheid as ’n hefboom gebruik vir sielkundige voordeel. Sy vriend het egter nie met hom saamgestem nie. Hy verduidelik toe dat indien politieke korrektheid in Brittanje nie wit mense in bedwang hou nie, dinge maklik kan terugkeer na die slegte ou dae van ’n paar dekades gelede: In his view, the fear of being called racist is the only thing restraining whites from using their power to dominate us openly.” Hy sluit toe af deur sy vriend, die skrywer, te herinner aan ’n belangrike verskynsel in menslike verhoudings: “It’s not even about white or black, it’s about human nature, how people behave with unchecked power.”

Hierdie gesprek het plaasgevind in Brittanje tussen ’n swart bankier en ’n skrywer wie se ma Pools is en sy pa van Nigerië. Die bankier se opinie was om wit mense se mag in bedwang te hou, want menslike natuur is menslike natuur. In Suid-Afrika is amper 80% van die bevolking swart, net minder as 9% wit, dieselfde persentasie bruin, en omtrent 2.5% Indiër of van ander Asiatiese herkoms. Dit is ’n feit dat die meerderheid swart Suid-Afrikaners steeds in armoede leef. Maar ’n betekenisvolle persentasie van Suid-Afrika se middelklas, en hoër-middelklas, is ook swart. Miljoene swart kinders word deesdae gebore en word groot in mooi, lowerryke middelklas voorstede. En nadat hulle klaarmaak met hoërskool, gaan hulle universiteit toe, waar talle van hulle betrokke raak by politieke bewegings. Wat sal die praktiese gevolge wees indien hulle saamstem met die veteraan politieke skrywer Max du Preez dat wit mense meer beskeie en vriendeliker moet wees in hulle interaksie met swart landsburgers, en ekstra beleefd en ekstra versigtig? Wat sal die praktiese implikasie wees wanneer hierdie jong studente oorgaan in die professionele wêreld? Wat sal die praktiese implikasie wees daarvan wanneer hulle die politieke leisels oorneem by hulle ouers? Gaan die verwagting dat wit mense meer beskeie en vriendeliker, en ekstra beleefd en ekstra versigtig moet wees so deel wees van hulle denke oor rasse-verhoudings dat die verwagting net sowel amptelik gemaak kan word? Wat sal gebeur tien of twintig jaar van nou af indien ’n kritiese persentasie Suid-Afrikaners saamstem met Max du Preez se voorstel, en ’n wit Suid-Afrikaner is nie vriendelik genoeg nie, of nie beleefd genoeg nie, of nie versigtig genoeg met hulle woorde nie? In kort, wat sal gebeur indien ’n wit man of vrou, of ’n wit kind, hulleself nie gedra soos dit van ’n wit mens verwag word in ’n land waar hulle jammer moet wees vir die dade van hul voorgeslagte nie?

Ek het nog altyd respek gehad vir Max du Preez. Ek glo dat sy visie nog altyd was van ’n Suid-Afrika waar mense van verskillende etnisiteite, en verskillende oortuigings en kulture saam kan werk om een nasie te skep. Dit is steeds ’n ideaal om na te streef. Maar ek is bevrees Max se voorneme, en dalk sy voorstel vir wit Suid-Afrikaners tot en met dalk sy agterkleinkinders se geslag, is eenvoudig te gevaarlik om ernstig te oorweeg.

———–

My perspektief op hierdie sake is dalk ietwat anders as talle middelklas blanke Suid-Afrikaners s’n. Ek is nie ’n finansieel gemaklike wit persoon omring deur swart armoede nie; ek is ’n wit persoon met ’n gemiddelde inkomste, omring deur Taiwannese/Chinese mense van wie heel waarskynlik meeste volwassenes meer geld het in die bank as ek. Die dominante groep in hierdie land waar ek al vir amper twintig jaar woon, het ook so te sê ’n monopolie op politieke mag.

Derhalwe vind ek die idee verregaande dat ’n minderheidsgroep seker moet maak dat hulle vriendelik en beleefd genoeg, en beskeie genoeg en versigtig genoeg moet wees met hulle woorde wanneer hulle omgaan met lede van ’n meerderheidsgroep. Soos ek reeds verduidelik het, vind ek dit selfs gevaarlik, en onverantwoordelik, in ag genome hoe vol die geskiedenis is van hoe mense begin optree indien die skaal van sosiale en politieke mag te swaar na die eenkant toe oorhel.

______________________

Rooi pil, of net redelik? Deel twee

DINSDAG 28 AUGUSTUS 2018

’n Gedagte rol al vir ’n paar dae in my kop rond: Aktivis-joernalis. Dit is alles goed en wel dat jy wil hê jou lewe moet iets beteken, dat jy ’n verskil aan die wêreld wil maak. Miskien stem ek selfs saam met jou politieke sienings en waardeer die tyd wat jy vat om jou standpunte te verpak op maniere wat mense help om die vraagstuk van ’n bepaalde hoek af te sien.

Maar kom ons wees duidelik oor een ding: As jy ’n aktivis-joernalis, of ’n-aktivis-verslaggewer, of ’n aktivis-nuusaanbieder is, kan jy nie vertrou word om die nuus akkuraat te rapporteer nie. Jy kan nie vertrou word om my net te vertel wat aangaan nie, want ek sal altyd aanneem dat jy verdraai wat gebeur sodat dit jou agenda pas.

* * *

Dieselfde geld vir aktivis-akademici. ’n Akademikus is ’n wetenskaplike. ’n Wetenskaplike moet ’n gunsteling hipotese soos ’n warm patat kan los as eksperimente iets anders voorstel as wat hulle geantisipeer het. ’n Aktivis-akademikus vind maniere om die resultate van ’n eksperiment te laat inpas by wat hulle gehoop het. Dis oneerlik. Dis nie wetenskap nie – dis propaganda. So ’n akademikus is ’n wolf in skaapsklere.

DINSDAG 23 OKTOBER 2018

Mense migreer oor die woestyn uit lande in Noord-Afrika, en uit oorloggeteisterde gebiede in die Midde-Ooste en Suidoos-Asië. In vele (meeste?) gevalle praat hulle nie die tale van die lande waarheen hulle op pad is nie. In meeste gevalle is daar aspekte van hulle kultuur wat direk in teenstand is met die dominante kultuur van hulle ideale eindbestemmings.

Waarop stuur dit af? Konflik, en wanorde.

Soek die migrante/vlugtelinge/trekkers konflik en wanorde? Sekerlik nie, siende dat dit presies is waarvan hulle wegvlug in vele gevalle.

Feit is, migrante/vlugtelinge/trekkers eindig nie net op in “Italië” of “Frankryk” of “Swede” nie, maar in die Italiaanse dorp, Ferrara, of in die eens stil Franse dorp, Forges-les-Bains, of in die Sweedse stad Malmö. Is daar werk vir hulle? Is daar genoeg behuising? Is daar genoeg plek in die plaaslike skole vir hulle kinders? Is daar genoeg beddens in die plaaslike hospitale vir wanneer hulle siek raak?

Watse persentasie van die nuwe inwoners is bereid om veranderinge te maak aan hulle kultuur om in te pas in Ferrara, of Forges-les-Bains, of Malmö? Indien hierdie persentasie nie voldoende is nie, sal dit lei tot konflik en wanorde.

Wanneer honderde, of duisende mense arriveer in Ferrara, of Forges-les-Bains, of in Malmö, hoeveel van hulle sê: Dis dit, hierdie is my en my gesin se nuwe tuiste. Hier sal ons nuwe wortels skiet en alles in ons vermoëns doen om in te pas, en by te dra tot die welstand van die gemeenskap. Hoeveel van hulle verwoord iets van hierdie aard? Sewentig persent? Vyftig persent? Tien persent? En indien nie genoeg van die nuwe inwoners bereid is om te verklaar dat ’n plek hulle nuwe tuiste is en dat hulle sal doen wat hulle moet doen om hulleself te bewys aan hul nuwe gemeenskap nie, waarop stuur dit af? Op wanorde en konflik.

Ek van alle mense verstaan hoekom mense van een land na ’n ander land toe wil gaan om beter geleenthede, of ’n beter lewe te soek. Maar ek verstaan ook hoekom mense in Europa toenemend sinies raak wanneer regerings nie gesonde verstand aan die dag wil lê nie.

______________________

Het ek die rooi pil gesluk, of is ek steeds redelik?

[Die “rooi pil” en die teenoorgestelde, die “blou pil”, is populêre kulturele idees – metafore wat die keuse verteenwoordig tussen kennis, vryheid en die brutale waarhede van die werklikheid (rooi pil), en veiligheid, geluk en die gelukkige onkunde van illusie (blou pil).]

MAANDAG 18 JUNIE 2018

Ek verstaan hoekom mense, veral jong mans, wil migreer oor die Mediterreense See na Europa.

Ek verstaan ook hoekom vele Europese mense die massa-migrasie sien as ’n aanslag op hulle leefwyse, welsyn, taal en kultuur – en hoekom hulle bereid is om terug te stoot.

DINSDAG 17 JULIE 2018

(Geïnspireer deur die artikel, Devastation and Denial: Cambodia and the Academic Left”.)

(1)

’n Bepaalde politieke groep beweer iets is besig om te gebeur. Net omdat jy gekant is teen die groep se politiek, is nie te sê dat dit nié besig is om te gebeur nie.

Een voorbeeld: Konserwatiewe, pro-Vrye Mark, pro-kapitalisme politici, veral dié wat in posisies van mag is, het enige geleentheid aangegryp tydens die Koue Oorlog (1945-1990) om te argumenteer dat kommunisme ’n euwel was. (Hulle het ook die gewoonte gehad om hul eie kant se ongeregtighede te ignoreer.) In 1975-1979 het hulle gepraat van honderd-duisende mense wat reeds vermoor is en wat besig was om te sterf van honger en onmenslike behandeling aan die hande van die radikaal kommunistiese Khmer Rouge in Kambodja. Van hulle politieke teenstanders aan die linkerkant het hulle geïgnoreer, met tragiese gevolge. Hierdie mense het vasgeklou aan hul eie ideologiese posisies in stede daarvan om krities te kyk na verslae oor wat aan die gang was in Kambodja. ’n Mens kry die idee dat ooggetuie-verslae ongerieflik was vir hulle, en in stede daarvan om hul eie navorsing te doen, het hulle eerder besluit om die verslae te verwerp, en selfs te kritiseer.

(2)

Net omdat jy kan wys op een geval waar iemand wat aan die teenoorstaande pool van jou op die politieke spektrum is, verkeerd was met tragiese gevolge, is nie te sê hulle is verkeerd op ander posisies wat hulle inneem nie.

Een voorbeeld: Malcolm Caldwell, ’n Britse Marxis, was krities oor Amerikaanse imperialisme en die buitelandse beleid van ander Westerse moondhede in die 1960’s en 1970’s. Hy was ook ’n ondersteuner van die Khmer Rouge – tot hy vermoor is in sy hotelkamer in die hoofstad van Kambodja, Phnom Penh, in 1978. Die feit dat hy verkeerd was oor die Khmer Rouge, beteken egter nie dat hy verkeerd was in sy kritiek oor Amerika en ander Westerse moondhede se aksies en beleid in daai dekades nie.

SONDAG 22 JULIE 2018

00:40

Ek het vanoggend (Saterdag) ’n gesprek op TV gekyk met ’n vrou wat ’n voorstander is van die term “theybies” in stede van “babies”. Die idee is om nie die jong kind te programmeer met een of ander geslag voordat die kind nie ’n kans gehad het om self ’n geslag te kies nie. (Volgens nbcnews.com: “to shield them from gender stereotypes”).

Dink ek: Hoekom stop by geslag? Dis immers slegs een van vele faktore wat uiteindelik bepaal wie en wat jy is, en hoe jy aan jouself dink. Hoekom Engels praat met die kind? Hoekom nie die kind in gelyke grade blootstel aan ’n dosyn tale, en die kind ’n kans gee om self ’n taal te kies nie? So ook met kultuur. Die Amerikaanse ouers van ’n jong kind behoort dan nooit melding te maak van baseball en hot dogs en Independence Day of enige ander aspek van Amerikaanse kultuur in daai eerste paar jare van die kind se ontwikkeling nie. Wat van as die kind kultureel Portugees wil wees, of Russies, of Taiwannees? Dan het daai ouers mos die kind groot skade aangedoen om hom/haar/X te programmeer met ’n kultuur wat die kind nie gekies het nie. Selfde met sosio-ekonomiese elemente van hulle grootwordjare. Hoe durf die ouers net die kind blootstel aan middelklaskultuur? Moet die kind nie ook in gelyke mate blootgestel word aan ten minste werkersklaskultuur, en artistiek-boheems nie? En indien die kind hoofsaaklik blootgestel word aan artistiek-boheems, hoe durf die ouers? Wat van as die kind uiteindelik besef hy/sy/X is petite bourgeois?

11:20

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante met talente en uitstaande vermoëns.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante met positiewe karaktereienskappe.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante wat verdraagsaam en oopkop is.

’n Land se burgers aanvaar graag nuwe immigrante wat iets sal bydrae tot hulle gemeenskap.

Wat mense nie wil hê nie, is méér rommel in die straat. (Die land se eie burgers skep reeds genoeg rommel.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg kriminele. (Daar’s reeds genoeg kriminele onder hulle medelandsburgers.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg onverdraagsaamheid. (Daar’s reeds genoeg onverdraagsaamheid onder hul eie landsburgers.)

Wat mense nie wil hê nie, is nóg bendes jong mans wat kwaad is vir mense wat hulle verantwoordelik hou vir hulle eie ellende. (Daar is reeds genoeg bendes nihilistiese jong landsburgers wat gemeenskappe versuur.)

* * *

Ons Suid-Afrikaanse Engelse onderwysers in Taiwan is soos mense van Meksiko en ander lande in Sentraal-Amerika wat Amerika toe wil gaan op soek na ’n beter lewe. Taiwan is ons Amerika. Ons kom hier aan met ’n toeriste visum, wetende dat ons werk gaan soek, en indien ons werk kry, heel waarskynlik hier sal bly vir jare lank. Ons hoop ook op ’n “green card” (APRC plus persoonlike werkspermit) wat ons sal toelaat om wettiglik permanent hier te woon en te werk.

______________________

Kanye West en die debat oor slawerny

VRYDAG 4 MEI 2018

Einde April 2018 het Kanye West die wêreld in oproer gehad oor opmerkings wat hy gemaak het op TMZ. Hy het gesê: “When you hear about slavery for 400 years. For 400 years? That sounds like a choice! Like, you was there for 400 years […]? You know … it’s like, we’re mentally in prison.”

My interpretasie: As jy ’n keuse gegee word tussen gewelddadige dood op die plek, of om in kettings geslaan te word, sal meeste mense sekerlik op daai oomblik die kettings kies. Jy word dan weggevoer, op ’n skip gelaai, en na weke se nagmerrie-reis word jy afgelaai op die kus van ’n ander kontinent waar jy verkoop word aan iemand wat van plan is om die maksimum hoeveelheid arbeid uit jou te trek en dan, wanneer jy jouself dood gewerk het, jou in ’n vlak graf te gooi.

Hoeveel keuse het hierdie ongelukkige mense gehad in die hele proses sedert hulle op die skip gelaai is? Sommige gevange mense hét in opstand gekom, en hulle ontvoerders oorrompel. Meeste het heel waarskynlik gereken hulle sal iets waag sodra hulle gearriveer het, en hulle herstel het van die traumatiese reis en voorafgaande ondervinding.

Hoeveel van hierdie gevange mense het uiteindelik wel gerebelleer teen hulle situasie? Duisende (net op die eiland vandag bekend as Kuba alleen was daar opstande opgeteken in die jare 1795, 1798, 1802, 1805, 1812, 1825, 1827, 1829, 1833, 1834, 1835, 1838, 1839–43 en 1844). Hoekom? Sommige gevange en verslaafde mense het nie hulle status aanvaar nie. En hulle was bereid om die verskriklike prys te betaal indien hulle opstand misluk.

Is die feit dat duisende weerstand gebied het ’n oordeel teen die miljoene slawe wat nooit in opstand gekom het nie? As ek net vir myself praat … hoe kan ek hulle oordeel as ek – het die dobbelsteen anders gerol – heel waarskynlik getel sou word onder die miljoene wat hulle nuwe realiteit aanvaar het, en nie in opstand gekom het nie?

* * *

Maak nie saak hoe onaangenaam ’n bepaalde feit is nie, of hoe verskriklik die implikasie nie, as iets waar is, is dit nie ’n leuen nie. In die Karibiese Eilande het die slawe – heelwat van hulle sterk jong mans – die slawe-eienaars oortref tien-teen-een. Weereens: Het van die slawe in opstand gekom? Ja. Het sommige geslaag in hulle rebellie? Ja.

Hoekom het méér slawe nie in opstand gekom nie? Vele faktore het sekerlik ’n rol gespeel, waaronder sielkundige manipulasie, die inkorporasie van slawe in die uitbuiting en onderdrukking van ander slawe deur selektiewe voordele soos ligter werk en beter kos, en ook die begeerte om te bly by geliefdes eerder as om húlle lewens en hul eie lewens in groter gevaar te stel.

Kan slawe se aanvaarding van hulle status en realiteit gesien word as ’n keuse? Dit klink wreed om te sê dit was. Piers Morgan is een van die mense wat argumenteer dat wreedheid aan die kant van slawe-eienaars keuse onmoontlik gemaak het. Maar het duisende slawe nie wél die keuse gemaak om nie meer slawe te wees nie? Het duisende slawe nie daarin geslaag om hulle vryheid terug te wen nie (sien die storie van die Jamaican Maroons)? Die Amerikaanse kunstenaar, will.i.am sê op Twitter: There were lots on slaves that revolted & they were lynched or shot & raped, physically, psychologically with spiritual warfare that is still present today … to say that was their choice is to blame it all on our ancestors & it Disrespects their suffering …”

Ek glo wat Kanye West bedoel het, soos ander mense ook uitgewys het en op sosiale media uitmekaar geskeur is daarvoor, was dat miljoene slawe hulle realiteit en status aanvaar het omdat die patologiese wreedheid van slawe-eienaars en die owerhede van die tyd hulle in ’n “mental prison” gehad het. Kanye West het self in ’n boodskap wat intussen geskrap is, dit soos volg verduidelik: The reason why I brought up the 400 years point is because we can’t be mentally imprisoned for another 400 years. We need free thought now.” Iemand anders op Twitter het gereageer hierop deur te sê: “Saying that if black people had just broke free of ‘mental imprisonment’ they could’ve broken free of physical slavery is disgusting victim blaming. And totally ludicrous, to boot.” Waarop skrywer en spotprenttekenaar Scott Adams geantwoord het: I believe the proposition on the table is that giving yourself a victim identity is less productive than looking forward.”

Ek glo verder dat Kanye West se bedoeling met die opmerking was dat indien jy voortgaan om aan jouself te dink op ’n bepaalde manier, dit jou nie gaan help om vry te wees en jou eie potensiaal te bereik nie.

Wat ’n positiewe en konstruktiewe boodskap is, is verkeerdelik geïnterpreteer as gebrek aan respek vir miljoene mense wat gely het onder ’n brutale stelsel. Maar wat het Marcus Garvey dan bedoel toe hy gesê het, Liberate the minds of men and ultimately you will liberate the bodies of men”? Hy het ook gesê: We are going to emancipate ourselves from mental slavery, for though others may free the body, none but ourselves can free the mind.” En dit is sekerlik ook wat Bob Marley bedoel het toe hy gesing het, “Emancipate yourselves from mental slavery. None but ourselves can free our minds.” Was Marcus Garvey en Bob Marley beskuldig daarvan dat hulle slawe beledig het? Was hulle beskuldig daarvan dat hulle nie sensitief was nie? Was hulle beskuldig van “victim blaming”?

Kanye West kon homself moontlik duideliker uitgedruk het. Die storm wat losgebars het om sy kop dui egter ’n onwilligheid aan om te probeer verstaan wat iemand bedoel, en ’n gretigheid om iemand te demoniseer wat ’n opinie uitspreek wat nie strook met wat beskou word as ’n goeie en korrekte denke nie. Hoekom demoniseer? Hoekom nie net luister en probeer verstaan nie? Hoekom die haas om laer te trek en te begin skiet?

* * *

Maak dit saak hoe jy dink aan jou lewe, aan jouself, en aan jou vermoë om jou eie toekoms te skep? Kan dit gesê word dat sommige mense in ’n “mental prison” is, al is hulle arms en bene nie vasgeketting aan ’n paal nie? Gestel jy is, of was, ’n slagoffer van iets. As jy konstant dink aan jouself as ’n slagoffer, help dit jou om vorentoe te beweeg? Is dit moontlik dat jy uiteindelik ’n slagoffer word van jou manier van dink oor dinge?

Was dit Kanye West se bedoeling om slawe te beledig? Of het hy iets probeer verwoord oor lewensuitkyk? Het hy probeer om te sê dat dit beter is om nie aan jouself te dink as ’n slaaf nie, maar as ’n vry mens met die vermoë om jou eie toekoms te skep?

Sekerlik ’n kontroversiële vraag, maar hoeveel waarheid steek in die idee dat miljoene slawe slawe gebly het, omdat hulle hul status en realiteit aanvaar het? (Dit beteken verseker nie, soos iemand beweer in ’n aanhaling in ’n Huffington Post artikel, dat slawe hulle lot verdien het nie.)

WOENSDAG 6 JUNIE 2018

Wit oppergesag was ’n illusie en gepaardgaande swendelary. Bruin en swart mense, en ander groepe wat onder dit gely het, het nie hul wit meesters uitgedaag met die waarheid nie. Of dalk sou dit meer akkuraat wees om te sê dat sommige swart en bruin mense wél witmense gekonfronteer het met die waarheid, maar nie genoeg van hulle het dit gedoen nie, en wanneer hulle dit wel gedoen het, het hulle nie genoeg ondersteuning gekry nie. (Sien die artikel, “Did African-American Slaves Rebel?”)

VRYDAG 7 DESEMBER 2018

Aan die een kant is daar mense wat reken dat slawe ’n keuse gehad het – ’n verskriklike keuse, maar ’n keuse nietemin, en gekies het om slawe te bly. Aan die ander kant is daar mense wat sê dat slawe géén keuse uitgeoefen het oor hul lewe en status nie. Laasgenoemde is vir my ’n veel verskrikliker gedagte as eersgenoemde. Dit is amper gelyk daaraan om te beweer dat slawe nie soos “gewone” mense was nie. Weereens, ’n onaanvaarbare gedagte, om nie te praat daarvan dat dit in my opinie kan lei tot ongure gevolgtrekkings nie. Maar dit is die posisie wat mense soos Piers Morgan, will.i.am en die skrywer van die Huffington Post artikel inneem. Sê hulle dat hierdie mense nie soos “ander, gewone mense” ’n begeerte gehad het om vry te wees nie? En as hulle ’n begeerte gehad het om vry te wees, hoe is dit dat hulle nie verstaan het van keuse nie?

Wat sou mense soos Piers Morgan, will.i.am, die skrywer van die Huffington Post artikel, en duisende ander mense op sosiale media wat vir Kanye West gekritiseer het, gesê het vir slawe wat besig was om planne te maak om van ’n plantasie te ontsnap? “Moenie belaglik wees nie – julle is slawe!”? Sou hulle vir Harriet Tubman en Frederick Douglass berispe het dat hulle moet staak met hulle ongehoorsaamheid en moet teruggaan na die plantasie toe? Sou hulle ontsnapte slawe herinner het daaraan dat hulle as slawe nie die vermoë gehad het om te kon kies tussen lewe as ’n slaaf of om moontlik ’n verskriklike dood te sterf indien hulle weer gevange geneem word nie – maar indien hulle wegkom, hulle vry sal wees?

My siening van die saak is dat mense wat drome en begeertes en aspirasies gehad het, en ’n strewe daarna om te leef as vry mense – soos ander mense van húlle tyd, en sekerlik alle tye, gevange geneem is, en weggevoer is as slawe. Omstandighede en uitsonderlike wreedheid van slawe-eienaars en -handelaars het meeste van hierdie mense se drome en begeertes en aspirasies onmoontlik laat blyk, en hulle het gekies om hulle lot te aanvaar. Ook meeste van hulle kinders, en meeste van hulle latere nageslagte, het ook gekies om “normale” drome en begeertes en aspirasies op te gee, en om hulleself onderhewig te maak aan mense wat oor hulle baas gespeel het.

Dit is ’n harde gedagte, maar dit is die enigste manier hoe ’n mens dit dan ook kan insien dat ’n sekere persentasie van gevange mense dit nié aanvaar het nie, en wel gerebelleer het – sommige suksesvol. As húlle nooit ’n keuse gehad het om óf te rebelleer teen hulle status, óf om dit te aanvaar nie, hoe kon hulle dan die stappe geneem het wat geskiedenis bewys duisende wél gedoen het?

Om hulle uitsonderlike braafheid en moed te seëvier, beteken nie dat ’n mens minder simpatie het vir die miljoene mense wat hulle status aanvaar het, en heel waarskynlik bewus was daarvan dat hulle dit gedoen het met die wete dat ander mense dit nié doen nie. Dit is immers – kom ons wees eerlik – wat meeste mense vandag ook doen: Hulle aanvaar hulle lot eerder as om te rebelleer as ’n eerste stap om ’n beter lewe vir hulleself te skep.

WOENSDAG 12 DESEMBER 2018

Vir my lê die werklike belediging in die opinie van mense soos Piers Morgan wat sê die slawe het nie keuse gehad nie, dat hulle nie die vermoë gehad het nie om te kon sien dat hulle opsies ellendig is, maar dat daar wel ’n kans is om dalk weg te kom.

Om te sê, “Nonsens, hulle het geen keuse gehad het, geen bewussyn eens van keuse nie,” is in my opinie om hulle te ontneem van ’n kardinale aspek van hulle mensheid. Dit is amper asof dit dan makliker is om te verstaan hoekom hulle in die eerste plek as slawe aangehou is: “Hierdie mense is nie soos ons nie,” sou ’n slawe-eienaar aan sy seun kon sê op die stoep van hulle opstal op ’n plantasie in die suide van Amerika, of in die Karibiese Eilande in die sewentiende eeu. “Hulle verstaan nie keuse nie. Hulle verstaan nie dat hulle kan weghardloop, en dat ons hulle moontlik nie sal vang nie.” Waarop die seun dalk sou reageer: “Ons sál hulle heel waarskynlik weer vang, en hulle weet wat ons dan met hulle sal doen.” Dan sou sy pa hom vra: “Maar sou jy nie die kans gewaag het as jy ’n jong slaaf was nie? Ek reken ék sou – maar dis omdat ons die konsep van keuse verstaan, en omdat ons onsself sien as vry mense. Hierdie mense dink nie soos ons nie. Hulle is nie in staat om te leef as vry mense soos ek en jy nie.”

Verskriklik, is dit nie? Maar dit is die implikasie van wat Piers Morgan sê, en ander mense wat sy standpunt ondersteun.

______________________