Wat is die ideologiese basis van hoe jy dink?

MAANDAG 20 APRIL 2020

16:00

Wat is die ideologiese basis van wat jy dink, sê of skryf, of wat jy glo of argumenteer?

Vir sommige mense is dit ’n oortuiging dat ons in ’n ongelyke, onregverdige wêreld woon, en dat dit almal se morele verantwoordelikheid is om alles in hul vermoë te doen om dinge meer gelyk en meer regverdig te maak. Mense wat vanuit hierdie basis argumenteer, deel mense op in groepe: primêre oortreders asook medepligtiges aan onreg; slagoffers van onreg; en mense (soos hulleself) wat voorheen medepligtig was aan onreg, of wat reken dat hulle voordeel getrek het uit onreg, maar wat nou probeer om alles beter te maak – en om op te maak vir die sondes van hul voorgeslagte.

My ideologiese basis is dat volwassenes wat nie ly aan verstandelike gebreke nie, vry agente is wat verantwoordelik is vir hul eie lewens. Dit sluit in die seun van ’n welgestelde industrialis, asook die arm dogter van ’n skoenskoonmaker wat grootgeword het in ’n krotbuurt. Natuurlik het hierdie twee individue grootgeword in radikaal verskillende omgewings, met verskillende programmerings, met verskillende idees en gevoelens oor die wêreld en hulle plek in die wêreld, en oor hulle toekoms. Is die arm persoon ’n slagoffer van omstandighede? Ja, sy is. Het sy steeds die vermoë om elke dag besluite te neem – van klein besluite wat sal akkumuleer tot ’n betekenisvolle verbetering in haar lewe, tot groot besluite wat op die kort-termyn ’n radikale verskil aan haar lewe sal maak? Om te glo dat sy nié hierdie vermoë het nie, is om haar te sien as ’n patetiese kind wat nie sal oorleef as sy nie gehelp word deur mense wat méér het as sy nie.

21:49

Sê ek jy moet jou skouers optrek en vir die persoon in die slegte situasie sê, “Jou saak. Ek het nie vir jou gesê jy moet vlug uit jou stad wat uitmekaar geskeur is deur vegtende groepe nie”? Nee, wat ek sê is dit: Help enige een om uit ’n brandende gebou te kom – geen diskriminasie nie; nie in terme van velkleur, politieke opinie, of godsdiens nie. En as jy uit die gebou is en dis binne my vermoë om bystand te verleen, sal ek vir jou skuiling en kos en water gee, en wat jy ook al nodig het om weer op jou voete te kom.

Maar van Oomblik Nommer Een af gaan ek na jou kyk as ’n volwassene wat in staat is om berge te versit as die wil daar is. En as die wil nie daar is nie, en jy besluit om eerder op die langtermyn afhanklik te wees van ander mense se goedheid, sal ek die argument maak dat beperkte hulpbronne eerder gebruik moet word om ander mense uit brandende geboue te red.

Feit is, ek sien mense as fantastiese kreature wat ongelooflike dinge kan vermag as hulle besluit hulle gaan iets doen. Ek glo dat ons tot ’n groot mate ons eie realiteit skep, en dan hierdie realiteit ervaar en gevoelens het daaroor. Daar is mense wat kyk na sekere individue en hulle sien as patetiese kreature wat gered moet word en na wie daar omgesien moet word. Ek sien mense wat soms uit ’n brandende gebou gehelp moet word, maar dan slegs ondersteun moet word om voort te gaan om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie lewens. En as hulle nie verantwoordelikheid wil neem vir hulle eie lewens nie, is dit hulle saak, nie myne nie.

* * *

As iemand aan my deur klop op ’n besonders koue nag en vra vir skuiling, en ek weet daar is nie ’n fasiliteit vir hierdie doel in die buurt nie, sal ek vir die persoon ’n warm bed aanbied, kos en iets om te drink, en plek in die sitkamer sodat hy saam kan TV kyk. As ek uiteindelik sien dat dit nie vir net een dag gaan wees nie, sal ek verduidelik dat indien die persoon in ons huis gaan aanbly, dit volgens ons huisreëls sal wees. Voorbeelde van reëls sal insluit watter tyd ligte afgesit sal word en almal stil raak, en die volume waarteen musiek geluister kan word. Redelike goed; niks drakonies nie. Indien die persoon die reëls ignoreer – byvoorbeeld deur tot in die vroeë oggendure te sit en TV kyk, of tot na middernag luid gesprekke op die telefoon te voer, sal ek weer die reëls verduidelik. As hy steeds weier om saam te werk, sal ek hom die deur wys. Hoekom? Omdat hy my en my huishouding nie respekteer nie. Omdat hy nie glo dit is sy verantwoordelikheid om sy eie lewe beter te maak nie.

Hier’s ’n alternatiewe scenario: Ek bied hom skuiling. Teen die einde van die eerste week noem hy dat hy sien ek vat twee keer per week die rommel uit, en hy bied aan om dit van dan af te doen. Of hy merk op dat ek elke dag uitgaan om aandete te gaan koop, en noem dat hy kan kook, en dat as ek vir hom X-hoeveelheid geld gee, hý supermark toe sal gaan om bestanddele te koop en vir almal in die huishouding kos sal kook elke dag. Indien hy ook die huisreëls respekteer, is die kans baie goed dat hy sal kan aanbly tot hy voel dinge is weer van so ’n aard dat hy kan terugkeer waar hy vandaan gekom het, of tot hy gereed is om sy eie plek te kry. Ook dan sal ek hom help waar ek kan – as hy my hulp benodig.

Dit is ook moontlik dat hierdie persoon godsdienstig is. Kom ons sê hy’s ’n Moslem, en ek let op dat hy vyf keer per dag na sy kamer toe gaan, ’n mat ooprol op die vloer, en bid. Ek sal dit respekteer en seker maak ek steur hom nie in daai tyd nie. Indien hy egter aandring dat my vrou en dogter hulle koppe moet bedek wanneer ons almal uitgaan, sal ek dit duidelik maak dat dit nie ons gebruik is nie. As hy antagonisties raak daaroor, kan hy vir hom ander blyplek gaan soek – dieselfde dag nog.

WOENSDAG 22 APRIL 2020

Watse tipe ideologie gee die meeste hoop aan ’n jong man in, sê, El Salvador, of Afganistan? Die ideologie wat sê, jy is verantwoordelik vir jou eie lewe, en dat jy in staat is om jou eie geluk, welstand, en positiewe toekoms te skep … of die ideologie wat die jong man probeer oortuig dat sy dilemma nie sý skuld is nie, dat hy ’n slagoffer is van strukturele rassisme, dat ryk mense, of wit mense, of mense met meer mag as hy, hom geluk, welstand en ’n positiewe toekoms skuld?

As ek daai jong man was, sou ek eersgenoemde ideologie vat enige dag van die week. Ek sou oor die grens probeer sluip in die middel van die nag, en as ek in Texas aangekom het, of in Arizona of Kalifornië, of in Italië, Duitsland of Engeland, sou ek alles in my vermoë doen om uit die moeilikheid te bly; ek sou wegbly van kriminele groepe; ek sou ’n werk probeer kry, en geld spaar. Sou ek ’n vrou ontmoet en ons hou van mekaar, sou ek met haar trou en saam met haar ’n klein besigheid begin. Dit is wat ek sou kon doen as ek geglo het ék is verantwoordelik vir my eie lewe, en dat ek die vermoë het om my eie welstand en welvaart te skep.

Sou daar ontberinge gewees het? Natuurlik. Sou daar struikelblokke gewees het? Ja. Maar ek sou my kop en energie gebruik het om ontberinge te oorleef en struikelblokke te oorkom. Sou ek weer opeindig in El Salvador of Afganistan as die owerhede my vang en my deporteer, soos dit hulle reg is om te doen? Dit sou altyd ’n moontlikheid gewees het. Maar sou ek steeds eerder die kans wou waag om te glo in my eie vermoëns om ’n goeie lewe te skep? Beslis. Sou ek dit verkies eerder as om te glo ander mense skuld my iets en in tussentyd moet ek wag vir politieke drukgroepe om ’n goeie lewe vír my te bewerkstellig? Definitief.

______________________

Kanye West en die debat oor slawerny

VRYDAG 4 MEI 2018

Einde April 2018 het Kanye West die wêreld in oproer gehad oor opmerkings wat hy gemaak het op TMZ. Hy het gesê: “When you hear about slavery for 400 years. For 400 years? That sounds like a choice! Like, you was there for 400 years […]? You know … it’s like, we’re mentally in prison.”

My interpretasie: As jy ’n keuse gegee word tussen gewelddadige dood op die plek, of om in kettings geslaan te word, sal meeste mense sekerlik op daai oomblik die kettings kies. Jy word dan weggevoer, op ’n skip gelaai, en na weke se nagmerrie-reis word jy afgelaai op die kus van ’n ander kontinent waar jy verkoop word aan iemand wat van plan is om die maksimum hoeveelheid arbeid uit jou te trek en dan, wanneer jy jouself dood gewerk het, jou in ’n vlak graf te gooi.

Hoeveel keuse het hierdie ongelukkige mense gehad in die hele proses sedert hulle op die skip gelaai is? Sommige gevange mense hét in opstand gekom, en hulle ontvoerders oorrompel. Meeste het heel waarskynlik gereken hulle sal iets waag sodra hulle gearriveer het, en hulle herstel het van die traumatiese reis en voorafgaande ondervinding.

Hoeveel van hierdie gevange mense het uiteindelik wel gerebelleer teen hulle situasie? Duisende (net op die eiland vandag bekend as Kuba alleen was daar opstande opgeteken in die jare 1795, 1798, 1802, 1805, 1812, 1825, 1827, 1829, 1833, 1834, 1835, 1838, 1839–43 en 1844). Hoekom? Sommige gevange en verslaafde mense het nie hulle status aanvaar nie. En hulle was bereid om die verskriklike prys te betaal indien hulle opstand misluk.

Is die feit dat duisende weerstand gebied het ’n oordeel teen die miljoene slawe wat nooit in opstand gekom het nie? As ek net vir myself praat … hoe kan ek hulle oordeel as ek – het die dobbelsteen anders gerol – heel waarskynlik getel sou word onder die miljoene wat hulle nuwe realiteit aanvaar het, en nie in opstand gekom het nie?

* * *

Maak nie saak hoe onaangenaam ’n bepaalde feit is nie, of hoe verskriklik die implikasie nie, as iets waar is, is dit nie ’n leuen nie. In die Karibiese Eilande het die slawe – heelwat van hulle sterk jong mans – die slawe-eienaars oortref tien-teen-een. Weereens: Het van die slawe in opstand gekom? Ja. Het sommige geslaag in hulle rebellie? Ja.

Hoekom het méér slawe nie in opstand gekom nie? Vele faktore het sekerlik ’n rol gespeel, waaronder sielkundige manipulasie, die inkorporasie van slawe in die uitbuiting en onderdrukking van ander slawe deur selektiewe voordele soos ligter werk en beter kos, en ook die begeerte om te bly by geliefdes eerder as om húlle lewens en hul eie lewens in groter gevaar te stel.

Kan slawe se aanvaarding van hulle status en realiteit gesien word as ’n keuse? Dit klink wreed om te sê dit was. Piers Morgan is een van die mense wat argumenteer dat wreedheid aan die kant van slawe-eienaars keuse onmoontlik gemaak het. Maar het duisende slawe nie wél die keuse gemaak om nie meer slawe te wees nie? Het duisende slawe nie daarin geslaag om hulle vryheid terug te wen nie (sien die storie van die Jamaican Maroons)? Die Amerikaanse kunstenaar, will.i.am sê op Twitter: There were lots on slaves that revolted & they were lynched or shot & raped, physically, psychologically with spiritual warfare that is still present today … to say that was their choice is to blame it all on our ancestors & it Disrespects their suffering …”

Ek glo wat Kanye West bedoel het, soos ander mense ook uitgewys het en op sosiale media uitmekaar geskeur is daarvoor, was dat miljoene slawe hulle realiteit en status aanvaar het omdat die patologiese wreedheid van slawe-eienaars en die owerhede van die tyd hulle in ’n “mental prison” gehad het. Kanye West het self in ’n boodskap wat intussen geskrap is, dit soos volg verduidelik: The reason why I brought up the 400 years point is because we can’t be mentally imprisoned for another 400 years. We need free thought now.” Iemand anders op Twitter het gereageer hierop deur te sê: “Saying that if black people had just broke free of ‘mental imprisonment’ they could’ve broken free of physical slavery is disgusting victim blaming. And totally ludicrous, to boot.” Waarop skrywer en spotprenttekenaar Scott Adams geantwoord het: I believe the proposition on the table is that giving yourself a victim identity is less productive than looking forward.”

Ek glo verder dat Kanye West se bedoeling met die opmerking was dat indien jy voortgaan om aan jouself te dink op ’n bepaalde manier, dit jou nie gaan help om vry te wees en jou eie potensiaal te bereik nie.

Wat ’n positiewe en konstruktiewe boodskap is, is verkeerdelik geïnterpreteer as gebrek aan respek vir miljoene mense wat gely het onder ’n brutale stelsel. Maar wat het Marcus Garvey dan bedoel toe hy gesê het, Liberate the minds of men and ultimately you will liberate the bodies of men”? Hy het ook gesê: We are going to emancipate ourselves from mental slavery, for though others may free the body, none but ourselves can free the mind.” En dit is sekerlik ook wat Bob Marley bedoel het toe hy gesing het, “Emancipate yourselves from mental slavery. None but ourselves can free our minds.” Was Marcus Garvey en Bob Marley beskuldig daarvan dat hulle slawe beledig het? Was hulle beskuldig daarvan dat hulle nie sensitief was nie? Was hulle beskuldig van “victim blaming”?

Kanye West kon homself moontlik duideliker uitgedruk het. Die storm wat losgebars het om sy kop dui egter ’n onwilligheid aan om te probeer verstaan wat iemand bedoel, en ’n gretigheid om iemand te demoniseer wat ’n opinie uitspreek wat nie strook met wat beskou word as ’n goeie en korrekte denke nie. Hoekom demoniseer? Hoekom nie net luister en probeer verstaan nie? Hoekom die haas om laer te trek en te begin skiet?

* * *

Maak dit saak hoe jy dink aan jou lewe, aan jouself, en aan jou vermoë om jou eie toekoms te skep? Kan dit gesê word dat sommige mense in ’n “mental prison” is, al is hulle arms en bene nie vasgeketting aan ’n paal nie? Gestel jy is, of was, ’n slagoffer van iets. As jy konstant dink aan jouself as ’n slagoffer, help dit jou om vorentoe te beweeg? Is dit moontlik dat jy uiteindelik ’n slagoffer word van jou manier van dink oor dinge?

Was dit Kanye West se bedoeling om slawe te beledig? Of het hy iets probeer verwoord oor lewensuitkyk? Het hy probeer om te sê dat dit beter is om nie aan jouself te dink as ’n slaaf nie, maar as ’n vry mens met die vermoë om jou eie toekoms te skep?

Sekerlik ’n kontroversiële vraag, maar hoeveel waarheid steek in die idee dat miljoene slawe slawe gebly het, omdat hulle hul status en realiteit aanvaar het? (Dit beteken verseker nie, soos iemand beweer in ’n aanhaling in ’n Huffington Post artikel, dat slawe hulle lot verdien het nie.)

WOENSDAG 6 JUNIE 2018

Wit oppergesag was ’n illusie en gepaardgaande swendelary. Bruin en swart mense, en ander groepe wat onder dit gely het, het nie hul wit meesters uitgedaag met die waarheid nie. Of dalk sou dit meer akkuraat wees om te sê dat sommige swart en bruin mense wél witmense gekonfronteer het met die waarheid, maar nie genoeg van hulle het dit gedoen nie, en wanneer hulle dit wel gedoen het, het hulle nie genoeg ondersteuning gekry nie. (Sien die artikel, “Did African-American Slaves Rebel?”)

VRYDAG 7 DESEMBER 2018

Aan die een kant is daar mense wat reken dat slawe ’n keuse gehad het – ’n verskriklike keuse, maar ’n keuse nietemin, en gekies het om slawe te bly. Aan die ander kant is daar mense wat sê dat slawe géén keuse uitgeoefen het oor hul lewe en status nie. Laasgenoemde is vir my ’n veel verskrikliker gedagte as eersgenoemde. Dit is amper gelyk daaraan om te beweer dat slawe nie soos “gewone” mense was nie. Weereens, ’n onaanvaarbare gedagte, om nie te praat daarvan dat dit in my opinie kan lei tot ongure gevolgtrekkings nie. Maar dit is die posisie wat mense soos Piers Morgan, will.i.am en die skrywer van die Huffington Post artikel inneem. Sê hulle dat hierdie mense nie soos “ander, gewone mense” ’n begeerte gehad het om vry te wees nie? En as hulle ’n begeerte gehad het om vry te wees, hoe is dit dat hulle nie verstaan het van keuse nie?

Wat sou mense soos Piers Morgan, will.i.am, die skrywer van die Huffington Post artikel, en duisende ander mense op sosiale media wat vir Kanye West gekritiseer het, gesê het vir slawe wat besig was om planne te maak om van ’n plantasie te ontsnap? “Moenie belaglik wees nie – julle is slawe!”? Sou hulle vir Harriet Tubman en Frederick Douglass berispe het dat hulle moet staak met hulle ongehoorsaamheid en moet teruggaan na die plantasie toe? Sou hulle ontsnapte slawe herinner het daaraan dat hulle as slawe nie die vermoë gehad het om te kon kies tussen lewe as ’n slaaf of om moontlik ’n verskriklike dood te sterf indien hulle weer gevange geneem word nie – maar indien hulle wegkom, hulle vry sal wees?

My siening van die saak is dat mense wat drome en begeertes en aspirasies gehad het, en ’n strewe daarna om te leef as vry mense – soos ander mense van húlle tyd, en sekerlik alle tye, gevange geneem is, en weggevoer is as slawe. Omstandighede en uitsonderlike wreedheid van slawe-eienaars en -handelaars het meeste van hierdie mense se drome en begeertes en aspirasies onmoontlik laat blyk, en hulle het gekies om hulle lot te aanvaar. Ook meeste van hulle kinders, en meeste van hulle latere nageslagte, het ook gekies om “normale” drome en begeertes en aspirasies op te gee, en om hulleself onderhewig te maak aan mense wat oor hulle baas gespeel het.

Dit is ’n harde gedagte, maar dit is die enigste manier hoe ’n mens dit dan ook kan insien dat ’n sekere persentasie van gevange mense dit nié aanvaar het nie, en wel gerebelleer het – sommige suksesvol. As húlle nooit ’n keuse gehad het om óf te rebelleer teen hulle status, óf om dit te aanvaar nie, hoe kon hulle dan die stappe geneem het wat geskiedenis bewys duisende wél gedoen het?

Om hulle uitsonderlike braafheid en moed te seëvier, beteken nie dat ’n mens minder simpatie het vir die miljoene mense wat hulle status aanvaar het, en heel waarskynlik bewus was daarvan dat hulle dit gedoen het met die wete dat ander mense dit nié doen nie. Dit is immers – kom ons wees eerlik – wat meeste mense vandag ook doen: Hulle aanvaar hulle lot eerder as om te rebelleer as ’n eerste stap om ’n beter lewe vir hulleself te skep.

WOENSDAG 12 DESEMBER 2018

Vir my lê die werklike belediging in die opinie van mense soos Piers Morgan wat sê die slawe het nie keuse gehad nie, dat hulle nie die vermoë gehad het nie om te kon sien dat hulle opsies ellendig is, maar dat daar wel ’n kans is om dalk weg te kom.

Om te sê, “Nonsens, hulle het geen keuse gehad het, geen bewussyn eens van keuse nie,” is in my opinie om hulle te ontneem van ’n kardinale aspek van hulle mensheid. Dit is amper asof dit dan makliker is om te verstaan hoekom hulle in die eerste plek as slawe aangehou is: “Hierdie mense is nie soos ons nie,” sou ’n slawe-eienaar aan sy seun kon sê op die stoep van hulle opstal op ’n plantasie in die suide van Amerika, of in die Karibiese Eilande in die sewentiende eeu. “Hulle verstaan nie keuse nie. Hulle verstaan nie dat hulle kan weghardloop, en dat ons hulle moontlik nie sal vang nie.” Waarop die seun dalk sou reageer: “Ons sál hulle heel waarskynlik weer vang, en hulle weet wat ons dan met hulle sal doen.” Dan sou sy pa hom vra: “Maar sou jy nie die kans gewaag het as jy ’n jong slaaf was nie? Ek reken ék sou – maar dis omdat ons die konsep van keuse verstaan, en omdat ons onsself sien as vry mense. Hierdie mense dink nie soos ons nie. Hulle is nie in staat om te leef as vry mense soos ek en jy nie.”

Verskriklik, is dit nie? Maar dit is die implikasie van wat Piers Morgan sê, en ander mense wat sy standpunt ondersteun.

______________________