Dis dan dit vir ou Vet Dier

DONDERDAG 11 NOVEMBER 2021

Ons het gistermiddag, Woensdag 10 November 2021, die laaste keer vir Ou Vet veearts toe gevat.

Hy’t in Augustus erg opgegooi. Ons het gedink dis die einde. Hy’s hierdie jaar vyftien jaar oud, so ons dink al vir ’n geruime tyd hy sal dalk nie nog ’n jaar saam met ons wees nie.

Hy’t egter vinnig herstel, weer op die meubels gespring, sy gewone hoeveelheid kos geëet, en so aan.

Sondag 3 Oktober gooi hy weer op. Dié keer is dit erger. Ons het nie gedink hy gaan die aand uitsien nie. Die volgende oggend sien ek ’n dooie duif op die sypaadjie. “Death is in the air,” dink ek.

Ons het hom die middag veearts toe gevat, en die veearts het na ’n vlugtige fisiese ondersoek en ’n bloedtoets verklaar dat hy nierontsteking het, en dat hy net ’n twintig persent kans het om te herstel daarvan. Ons het hom vir drie dae by die kliniek gelos terwyl hy vloeistowwe gekry het. Daar was geen sekerheid of hy weer huis toe sou kom nie.

Drie dae later het ons hom teruggebring. Hy was onseker op sy bene, en het na ’n paar rondtes deur die woonstel besluit op die vloer aan die linkerkant van die bed in die hoofslaapkamer as sy laaste domein.

Dis waar hy gebly het vir die volgende vyf weke.

Ons het hom elke twee dae teruggeneem veearts toe vir vloeistowwe en so nou en dan ’n vitamieninspuiting.

Sommige dae het hy goed geëet en water gedrink; sommige dae het hy net gelê en voor hom uitgestaar. Die eerste week van November het ek aan die veearts se assistent gesê hy’s stabiel, loop ’n bietjie rond, en dat ek hom ’n paar keer sien eet en drink het. Hy’t dit wel nie altyd gemaak tot by die katsand nie, en hy’t ’n bietjie gelek, so sy lêplek moes gereeld skoongemaak word.

Sondag 7 November 2021 was die eerste keer wat ons bloed in sy ontlasting gesien het. En nie ’n bietjie nie. Dit was sleg.

Teen Dinsdag het hy nie meer geëet nie. Die weer het ook koeler geraak, en gelukkig het hy nie opgestaan en op die koue teëls gaan lê as ons hom op ’n handdoekie gesit het vir gemak met handdoekrol vir higiëne nie.

Ons het hom weer veearts toe gevat, en weer die onderwerp aangeroer van genadedood.

Ons het besluit óf Woensdag, óf Vrydag. ’n Artikel op die Internet het ’n veearts aangehaal wat sê om ’n dier sy finale inspuiting te gee, is een van die maklikste aspekte van sy werk, want hy bring aan ’n terminale siek dier verligting. Hy’t ook gesê dis een van die laaste uitdrukkings van barmhartigheid wat die eienaar kan gee aan ’n geliefde troeteldier.

Teen Dinsdagaand het ek gereken dat ons nie meer moet uitstel nie. Natasja het die volgende oggend vroeg die veearts laat weet.

Ek is bietjie van ’n swakkeling met hierdie sake. Toe ons besluit die uur het gekom, het ek hom van die vloer af opgetel en hom vir oulaas in sy kat-draer gesit. Hy’t net ’n bietjie gemurmureer.

By die veearts het ons hom uitgehaal en op die tafel neergeplaas. Ek het sy kop ’n paar keer gestreel … en toe besluit om weg te staan.

Die veearts het hom ’n slaapmiddel ingegee, en seker drie sekondes daarna toe dip sy kop af. Toe, met ’n groter inspuiting met vloeistof met ’n geel-oranje skynsel in sy hand, vra die veearts ons of ons seker is ons wil voortgaan. Ons het geknik. Toe spuit hy hom in. Ek het weggestap na die wasbak toe.

Ons het rondgestaan vir ’n paar minute. Die personeel het gepraat. Natasja het gepraat. Die veearts het gepraat. Ek het gevra hoe lank dit sal vat voor dit verby is. Natasja het meer spesifiek gevra hoe lank dit sal vat tot sy hart stop. Die vrou met wie ons die meeste gepraat het, sê toe dat dit reeds verby is. Sy hart het reeds gestop.

Ons het een van sy gunsteling komberse oor hom gedrapeer. Die personeel het sy liggaam oorgeplaas in ’n nuwe kartondoos, en verduidelik wat die proses is met die verassing.

Ons het betaal wat ons moes betaal, en almal bedank vir hulle hulp.

En huis toe gery met die leë kat-draer.

’n Troeteldier is een van daai dinge wat die lewe die moeite werd maak – spesifiek die hartseer, en die alleenheid, en die bekommernisse wat soms deel is van ’n mens se alledaagse bestaan.

Nou ja, dis dan dit.

______________________

Een/nul, en hoekom een beter is

SONDAG 12 OKTOBER 2003

Soms maak iemand ’n keuse, en dit kan net beskryf word as die slegter een van, kom ons sê twee, opsies. Wat betref hierdie persoon se besluit, het ek ook ’n keuse: om óf te probeer verstaan hoekom die persoon die spesifieke keuse gemaak het, óf om nie te probeer verstaan nie.

As ek daarin slaag om te verstaan hoekom iemand die slegter een van twee keuses gemaak het en dit dan so verduidelik aan ’n derde party, is laasgenoemde soms geneig om te sê, “Maar dis nie ’n verskoning nie,” en dat ek die persoon verdedig.

My antwoord is dan dat net omdat ek verstaan hoekom iemand ’n slegte keuse gemaak het, nie skielik die keuse minder sleg maak nie. ’n Slegte keuse is ’n slegte keuse, of jy verstaan wat die persoon gemotiveer het, of nie. Maar ek glo ook dat die keuse om nié te wil verstaan hoekom iemand ’n slegte keuse gemaak het nie, óók die slegter een van twee opsies is.

______________________

Om te ignoreer wat vanselfsprekend is

SATERDAG 27 SEPTEMBER 2003

Buite my voormalige wegkruipplek, terwyl ek die laaste paar plastieksakke vol vuil wasgoed aan my fiets hang, hoor ek ’n jong laitie van oorkant die stegie iets uitroep. Te besig om te reageer, klim ek op die fiets en ry wankelrig weg.

By die verkeerslig dink ek daaraan dat die jong seun my heel waarskynlik beledig het, omdat die klanke wat hy geuiter het baie soortgelyk was (behalwe vir een woord) aan die woorde in die Taiwannese dialek vir “vet, lui vrou”. Vir ’n oomblik was ek spyt dat ek nie iets toepaslik beledigend teruggeblaf het nie. Teen die tyd wat ek by die volgende verkeerslig gekom het, het ek egter my spyt laat vaar met die idee dat ek hom geïgnoreer het, wat ek beskou as ’n groter belediging.

“Hoekom so?” wonder ek toe.

Deur iemand te ignoreer, ontneem jy daai persoon van jou erkenning van sy of haar bestaan. En wie is so seker van hom- of haarself dat hulle nie net ’n bietjie ongemaklik voel as hulle tussen mense is wat nie hulle bestaan erken nie?

Jy kan argumenteer dat die mense tog moet sien dat jy ’n partikulêre spasie in hulle onmiddellike omgewing vul, of dat hulle móét weet jy bestaan, selfs al reageer hulle geensins op jou teenwoordigheid nie.

Hierdie gedagte dat iemand in teorie moet weet jy bestaan, is egter nie goed genoeg nie. Wie raak nie geïrriteerd, by tye kwaad, en soms selfs gewelddadig as jou teenwoordigheid, en daardeur jou bestaan, nie erken word nie?

Ons het almal gereelde bevestiging nodig van ander mense (selfs diere, soos ’n hond of ’n kat) dat ons bestaan. Dit hoef niks meer te wees nie as ’n glimlag, die knik van ’n kop, of ’n “verskoon my” as iemand per ongeluk aan jou stamp, al is dit sonder om oogkontak te maak.

Intieme kontak – en selfs beter, gereelde intieme kontak – is die ideale onderdrukker van die sluimerende angs (of onsekerheid?) oor ons bestaan. Sou dit die onderliggende motivering wees agter die begeerte (of instink) om ’n baba te pamperlang – om aan ’n klein mensie wat onlangs eers ’n afsonderlike fisiese entiteit geword het, die versekering te gee van sy of haar bestaan?

Om ’n Westerling te wees in sommige Oosterse lande gee natuurlik ook aan ’n mens meer sigbare erkenning van jou bestaan as wat die geval sou wees in jou eie land. Een voorbeeld is die ongeskikte laitie wat jou beledig in ’n taal wat hy dink jy nie verstaan nie, net omdat hy ’n ooggetuie was van jou poging, as hoogs sigbare buitestander, om jou fiets te balanseer met ’n halfdosyn plastieksakke aan die stuurstang. ’n Ander voorbeeld is die dogtertjie wat agter haar ma skuil in die supermark terwyl sy haar vingertjie na jou toe wys asof jy ’n veraf-neef is van die olifantman. Ook mense wat, lank na jy verby hulle gestap het, nog “Hallo!” in jou rigting skree asof jy beroemd is. Al hierdie insidente bevestig jou bestaan op daai spesifieke oomblik en op daai spesifieke plek, en op wyses wat nie noodwendig die goeie (of slegte) geluk is van die gewone Taiwannees (in my geval) met wie jy die straat of die supermarkgang deel nie.

Sou dit miskien ook die begeerte van sommige mense verduidelik om beroemd of selfs berug te wees – die begeerte dat soveel mense as moontlik hul koppe moet knik in erkenning dat hulle weet van jou bestaan?

Nog ’n vraag: Hoekom groet vreemdelinge mekaar?

Een van die redes is wedersydse erkenning van hulle bestaan.

Hoekom dus, sal iemand jou nié groet nie?

Een van die moontlike redes is dat die persoon jóú erkenning van sy/haar bestaan, op daai spesifieke oomblik, nie nodig het nie, of in sommige gevalle dalk nie as wenslik ag nie.

Redes hoekom iemand nie jou erkenning nodig het nie? Ander mense in die onmiddellike omgewing wat reeds hulle bestaan erken, soos vriende, of ’n kind wat aan die hand vasgehou word?

Dat hulle jou nie groet nie, hoef dus nie noodwendig as beledigend gesien te word nie; dis net dat hulle reeds het wat jy hulle sou gee, naamlik sigbare erkenning van hulle bestaan.

______________________

Foute, insigte, vrae, nuwe woordeskat en advies

SONDAG 3 AUGUSTUS 2003

Twee foute wat ek gemaak het in 1998 [tydens my eksperimentele terugkeer na Suid-Afrika]:

1. My voorbereidings was onvoldoende.

2. Ek het die knie gebuig in ’n oomblik van onsekerheid, gedink dit sal my ’n bietjie sekuriteit gee, en … ’n aanbod vir ’n job aanvaar.

En een insig:

Die rede hoekom baie gewone werkende mense in die geïndustrialiseerde “Eerste Wêreld” nie ryk is nie, is omdat hulle “goeie jobs” het, en tevrede is met wat hulle verdien. Ook omdat hulle leefstyl groei soos hulle inkomste groei, of in baie gevalle selfs hulle inkomste oortref.

Wat doen jy …

* as jy twee maande agter is met jou huispaaiemente,

* as die water- en elektrisiteitsrekeninge meer as ’n maand agterstallig is,

* as die kombuiskaste leeg is,

* as jou bankrekening uitgeput is,

* as jou motor teruggeneem is deur die bank, of enige tyd in die volgende week of twee teruggeneem gaan word,

* as die helfte van jou meubels reeds teruggeneem is, en

* as die kinders al hoe stiller raak?

Wat is, aan die einde van die dag, werklik jou opsies?

Ek het vandag ’n paar nuwe Engelse woorde geleer:

* atrium – the central court of an ancient Roman house

* niche – a suitable and satisfying role, job, or way of life; an opportunity in business; the conditions in which a species can live successfully

* ethereal – extremely delicate and light, and seeming to be too spiritual or perfect for this world

* translucent – allowing light to pass through but not transparent

en laastens …

* colander – a metal or plastic bowl with many small holes in it, used to drain water from vegetables

En ’n laaste brokkie advies:

Omring jouself met mense. Dis baie makliker om weg te breek van mense vir ’n paar ure of ’n paar dae as jy nodig het om tyd op jou eie te spandeer, as om mense bymekaar te probeer kry as jy na lang periodes van isolasie skielik ’n behoefte aan geselskap het.

______________________

Weer tyd vir wiskunde | Oor aartappels en vrugte

VRYDAG 25 JULIE 2003

Ek het, lief vir somme soos ek is, my vriende in hierdie plek getel: “vier” is die getal waarmee ek vorendag gekom het. Van hierdie vier is twee mans, en twee vrouens. Ek het nie tans kontak met enige van hierdie mense nie.

Dis Vrydagaand, reeds vyf na middernag (Saterdagoggend, dus). ’n Verlate vlakte van ’n naweek staar my in die gesig. Ek reken my gemoed sal teen vroeg môre-aand in sy moer wees. Ek gaan die hele aand video’s wil kyk, terwyl ek deep-fried tofu en calamari in my keel afspoel met koue groen tee. Dan sal ek my metabolisme versnel met die een Nat Sherman na die ander in die vals oortuiging dat dit sal verhoed dat ek vet raak van al die olierige kos.

Ek sal moet weggaan. Stryd vir die Siel. Stryd om Oorlewing. Ek weet ek het ander mense nodig, maar soms is jy genoodsaak om ’n ander plan maak.

Die naweek is nog ’n leë doek, onbevlek met werklike gebeure. Tyd om kreatief te raak, anders raak die werklikheid dalk kreatief met my …

SATERDAG 26 JULIE 2003

Eet aartappels of vrek – dis my enigste twee keuses.

Ons almal weet hoe ’n gebalanseerde dieet lyk – proteïne, suiwelprodukte, ’n verskeidenheid groente en vrugte, ensovoorts. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie of omgewing bevind waar daar net aartappels is? Gaan sit jy op ’n klip en kerm, “Ek wil vrugte hê, en groente, en melk en vis en eiers …”?

Ons almal wil ’n gebalanseerde dieet volg! Ons almal wéét ons het dit nodig! Maar daar is nie nou vis of vrugte of ander groente nie! Daar’s net aartappels! So eet aartappels of vrek!

’n Ander gedagte: As jy ’n miljoenêr is, is die waarskynlikheid groot dat dit die gevolg is van dinge wat jy in jou verbeelding opgewek het, en aksies wat jy geneem het. Meeste “gewone” mense is oortuig daarvan dat hulle maar altyd swaar sal kry. As hulle gelukkig is, behou hulle hul werk tot hulle 65 tref, en tree dan af met hulle skete en pyne, en ’n aftree-polissie of twee. Feit is, as jy jouself die regte dinge voorstel, en die regte aksies neem, kan meer as genoeg geld een van die vrugte wees wat jy sal pluk.

______________________