31 Desember 2001

Dis Maandag 31 Desember 2001 om 23:40. Ek gaan nou poog om in die oorblywende twintig minute ’n opsomming te maak van wat ek hierdie jaar gedoen het, ’n kort opinie daaroor te verwoord, en ook om ’n paar dinge te vermeld wat voorlopig vir my belangrik is vir die jaar wat oor twintig minute gaan begin. (Dit is natuurlik gepas dat ek hierdie jaar uitgaan op dieselfde wyse wat ek soveel duisende ure deurgebring het gedurende die afgelope twaalf maande – agter my Toshiba Satellite 2180 CDT.)

Ek het hierdie jaar voortgebou op wat ek verlede jaar begin het – deur nie meer te praat oor wat ek nog gáán doen nie, maar om te praat oor wat ek besig is om te doen. Of nog beter, om nie eintlik te praat daaroor nie, maar eerder te wys wat ek reeds gedoen het. Ek het hierdie jaar minder geld verdien as wat ek gedink het die geval gaan wees. Aan die ander kant het ek baie meer geskryf, en meer projekte aangepak en klaargemaak as wat ek gedink het ek sou.

Ek het hard gewerk hierdie jaar – aan my eie projekte. Ek het tot vyfuur, sesuur in die oggende in my “kantoor”, of in die sitkamer, of op die stoep gesit en gestaan, en geboorte gegee aan nog meer idees. Soms sou ek ontbyt gaan koop het by McDonald’s, en teen die tyd wat die meeste mense al op kantoor was, het ek eers gaan slaap. Ek het ure, dae, en weke gewerk aan dinge wat uiteindelik in bruin koeverte sou opeindig, uitgesluit uit die projekte waarvoor dit bedoel was. Ek het baie geleer oor myself, en oor dinge wat ek wil doen.

Ek het ook (weereens) besef dat ek ’n werklike belangstelling het in taalstudie. Ek het baie tyd gespandeer om materiaal saam te stel wat ek gebruik om Chinees te leer, en ek het darem opgeëindig met ’n paar ekstra woorde en uitdrukkings in my kop.

In kort, ek is trots op myself. Ek het ’n goeie jaar gehad – en ek het hard gewerk daaraan om dit ’n goeie jaar te maak! (Snaaks dat ek amper lus voel om vir iemand dankie te sê.)

Daar’s nog ses minute oor. Idees vir 2002? Betaal my skuld af, koop ’n huis in Suid-Afrika, word ’n miljoenêr, bemeester Chinees, vlieg om die wêreld in my eie Boeing met ’n dosyn minnaresse om my geselskap te hou, doen ’n meestersgraad in Geskiedenis, koop vir my ouers ’n huis, trou en kry kinders, sien hoe die hare teruggroei op my kop …

Die tyd is op. Ek moet vir my ’n Muskadel gaan skink, en my eerste sigaret van die nuwe jaar gaan rol.

* * *

Oukei, die nuwe jaar is al veertien minute aan die gang. Laat die werk begin!

Brand Smit in sy kantoor agter ’n rekenaar wat hom heeltemal te veel gekos het

______________________

30 Desember 1999

(Icarus joernaal, inskrywing # 22)

Ek sit in kamer 1102 in die New Cathay Hotel in Hong Kong. Dis 30 Desember 1999.

[Nota op 31/07/2022: Eerlikwaar, hierdie stuk teks is nie goed genoeg vir publikasie nie. As ek terugdink aan daai aand, sou ek dit waarskynlik toe al kon voorspel het. Ek het geen motivering gehad nie. Ek het geen inspirasie gehad nie. En ek dink fisies en emosioneel was ek nie op ’n goeie plek nie. Ek het geen selfvertroue gehad om ’n behoorlike stukkie teks te produseer nie. Die redakteur binne my het die skrywer binne my egter gedwing: “Dis die einde van die jaar, én van die dekade! Jy móét eenvoudig iets skryf!” Hierdie afgewaterde bakkie sop is die jammerlike resultaat. Ek sien eerder ’n gaping in die einde-van-die-jaar stukke, as om hierdie power poging die lig te laat sien. Of … hou die eerste paragraaf, en die laaste paragraaf, en sit hierdie verduideliking in die middel.]

Mag die lewe vorentoe mooi wees; en indien nie altyd mooi nie, vrugbaar; en indien nie altyd vrugbaar nie, wel … laat daar ten minste altyd lewe wees!


1999 – Twee dae voor die einde van die wêreld
1999 – Boot in Hong Kong
1999 – Hong Kong in die nag
2000 – Ten minste vyf mans in ’n foto
2000 – Hong Kong, eerste oggend van die nuwe jaar

______________________

Sondag 31 Desember 1995

Ek voel verplig om iets te sê oor 1995. Ek sal dit eenvoudig en kort hou. Dit was ’n jaar van uiterstes. Dae soos Dinsdag 14 Maart toe ek in die koue strate van Parys gesoek het na die woonstel waar ek veronderstel was om af te pak vir ’n paar dae (of weke). Ekstase, en dan … ongetelde, datumlose dae. Dae van vervaagde selfrespek, vae drome, versigtige geluk … Mag alles wat goed is vir my wag in 1996.

* * *

“I know you are sceptical, but […] join in with the ordinary current of life, and it will take you somewhere. Whither, you ask? Have no care on the subject, you will land and take root somewhere yet! Where? I cannot say, I only believe you have yet long to live.”

~ Fyodor Dostoevsky, Crime and Punishment

______________________